“Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee”
“JULLE het verniet ontvang, verniet moet julle gee” (Matteus 10:8). Dit is wat Jesus sy apostels beveel het toe hy hulle uitgestuur het om die goeie nuus te gaan verkondig. Het die apostels hierdie opdrag gehoorsaam? Ja, en hulle het voortgegaan om dit te doen selfs nadat Jesus nie meer op die aarde was nie.
Byvoorbeeld, toe die voormalige towenaar, Simon, die wonderdadige kragte sien wat die apostels Petrus en Johannes besit het, het hy hulle geld aangebied sodat hy ook daardie kragte kon ontvang. Maar Petrus het Simon bestraf en gesê: “Mag jou silwer saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die vrye gawe van God deur geld in besit te kry.”—Handelinge 8:18-20.
Die apostel Paulus het ’n soortgelyke gesindheid as Petrus geopenbaar. Paulus kon ’n finansiële las vir sy Christenbroers in Korinte geword het. Maar hy het eerder met sy eie hande gewerk om homself te onderhou (Handelinge 18:1-3). Hy kon dus met vertroue sê dat hy die goeie nuus “kosteloos” aan die Korintiërs verkondig het.—1 Korintiërs 4:12; 9:18.
Ongelukkig het baie wat beweer dat hulle volgelinge van Christus is, nie dieselfde bereidwilligheid getoon om ‘verniet te gee’ nie. Trouens, baie van die godsdiensleiers in die Christendom “onderrig net teen ’n prys” (Miga 3:11). Party godsdiensleiers het hulle selfs verryk met die geld wat hulle by hulle kuddes ingesamel het. In 1989 is ’n Amerikaanse evangelis tot 45 jaar tronkstraf gevonnis. Die rede? Hy het sy “aanhangers van miljoene dollars beroof en van die geld gebruik vir huise, motors, vakansies en selfs ’n lugversorgde hondehok”.—People’s Daily Graphic, 7 Oktober 1989.
Volgens die Ghanaian Times van 31 Maart 1990 het ’n Rooms-Katolieke priester in Ghana geld geneem wat gedurende ’n kerkdiens gekollekteer is en dit na die gemeente teruggegooi. “Sy rede”, sê die koerant, “was dat daar van hulle, as volwassenes, verwag is om groter bydraes te gee.” Dit is geen wonder nie dat baie kerke selfs hulle lede se gierigheid probeer aanwakker deur dobbelbedrywighede en ander projekte ywerig te bevorder om geld in te samel.
In teenstelling hiermee probeer Jehovah se Getuies Jesus en sy vroeë dissipels navolg. Hulle het geen betaalde geestelikeklas nie. Elke Getuie is ’n bedienaar wat die verantwoordelikheid het om die “goeie nuus van die koninkryk” aan ander te verkondig (Matteus 24:14). Daarom is meer as sesmiljoen van hulle regoor die wêreld besig om “die water van die lewe” verniet na mense te bring (Openbaring 22:17). Sodoende kan selfs diegene wat “geen geld het nie”, by die Bybelse boodskap baat vind (Jesaja 55:1). Hoewel hulle wêreldwye werk deur vrywillige bydraes gefinansier word, bedel hulle nooit vir geld nie. As ware bedienaars van God is hulle nie “smouse van die woord van God” nie, maar hulle praat “uit opregtheid, ja, as van God gestuur”.—2 Korintiërs 2:17.
Maar waarom is Jehovah se Getuies bereid om ander te help en doen hulle dit op hulle eie onkoste? Wat motiveer hulle? Beteken die feit dat hulle verniet gee, dat hulle dit geheel en al sonder beloning vir hulle pogings doen?
’n Antwoord op Satan se uitdaging
Ware Christene word vandag hoofsaaklik beweeg deur ’n begeerte om Jehovah te behaag—nie om hulleself te verryk nie. Gevolglik kan hulle ’n antwoord gee op ’n uitdaging wat eeue gelede deur Satan die Duiwel gerig is. Aangaande ’n regverdige man met die naam Job het Satan Jehovah met hierdie vraag uitgedaag: “Is dit verniet dat Job God gevrees het?” Satan het beweer dat Job God slegs dien omdat Hy ’n beskermende heining om hom geplaas het. As Job se materiële besittings van hom af weggeneem word, het Satan aangevoer, sal Job God in sy aangesig vloek!—Job 1:7-11.
Om ’n antwoord op hierdie uitdaging te gee, het God Satan toegelaat om Job op die proef te stel, en gesê: “Alles wat hy het, is in jou hand” (Job 1:12). Wat was die uitslag? Job het Satan ’n leuenaar bewys. Job het lojaal gebly ongeag watter teëspoed hom getref het. “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!” het hy gesê.—Job 27:5, 6.
Ware aanbidders openbaar vandag ’n gesindheid soortgelyk aan dié van Job. Daar is geen materiële beweegredes vir hulle diens aan God nie.
God se vrye gawe van onverdiende goedhartigheid
Nog ’n rede waarom ware Christene bereid is om ‘verniet te gee’, is omdat hulle self ook van God ‘verniet ontvang het’. Die mensdom is in slawerny aan sonde en die dood weens die sonde van ons voorvader Adam (Romeine 5:12). Jehovah het liefdevol gereël dat sy Seun ’n offerdood sterf—iets wat ’n groot opoffering van God geverg het. Die mensdom kan beslis nie hierop aanspraak maak nie. Nee, dit is ’n gawe van God.—Romeine 4:4; 5:8; 6:23.
Soos opgeteken in Romeine 3:23, 24, het Paulus dus vir gesalfde Christene gesê: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God, en dit is as ’n vrye gawe dat hulle deur sy onverdiende goedhartigheid regverdig verklaar word op grond van die bevryding deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is.” Diegene wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, ontvang ook “’n vrye gawe”. Hierdie gawe sluit die voorreg in om regverdig verklaar te word as Jehovah se vriende.—Jakobus 2:23; Openbaring 7:14.
Christus se losprysoffer maak dit ook vir alle Christene moontlik om bedienaars van God te wees. Die apostel Paulus het geskryf: “Ek het ’n bedienaar [van die heilige geheim] geword ooreenkomstig die vrye gawe van die onverdiende goedhartigheid van God” (Efesiërs 3:4-7). Aangesien hulle tot hierdie bediening geroep is deur middel van ’n voorsiening wat hulle nie verdien het nie, kan ware bedienaars van God nouliks verwag om geld te ontvang omdat hulle die nuus van hierdie voorsiening aan ander bekend maak.
Die ewige lewe—’n Selfsugtige dryfveer?
Beteken dit dan dat God van Christene verwag om hom te dien sonder enige hoop op ’n beloning? Nee, want die apostel Paulus het vir sy medegelowiges gesê: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie” (Hebreërs 6:10). Daar is ook geen onreg by Jehovah nie (Deuteronomium 32:4). Inteendeel, Jehovah is “die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Maar bring die belofte van ewige lewe in die Paradys nie die selfsug in ons na vore nie?—Lukas 23:43.
Ware Christene word vandag hoofsaaklik gemotiveer deur ’n begeerte om Jehovah te behaag—nie om hulleself te verryk nie
Glad nie. Om maar een ding te noem, die begeerte om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe, het sy oorsprong by God self. Hy het dit vir die eerste mensepaar in die vooruitsig gestel (Genesis 1:28; 2:15-17). En hy het hierdie vooruitsig weer moontlik gemaak nadat Adam en Eva dit vir hulle nakomelinge verbeur het. God belowe gevolglik in sy Woord dat “die skepping self ook van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê” (Romeine 8:21). Dit is dus heeltemal gepas vir hedendaagse Christene om, soos Moses van ouds, hulle blik “stip op die beloning gerig [te hou]” (Hebreërs 11:26). God gebruik nie hierdie beloning om ons om te koop nie. Hy bied dit aan uit opregte liefde vir diegene wat hom dien (2 Tessalonisense 2:16, 17). In reaksie hierop “het [ons] lief omdat hy ons eerste liefgehad het”.—1 Johannes 4:19.
Dien God met die regte beweegrede
Christene van vandag moet nietemin die beweegredes waarmee hulle God dien, voortdurend ondersoek. In Johannes 6:10-13 lees ons dat Jesus ’n skare van meer as vyfduisend wonderdadig gevoed het. Daarna het party Jesus bloot om selfsugtige redes begin volg. Jesus het vir hulle gesê: “Julle soek my . . . omdat julle van die brode geëet en versadig geword het” (Johannes 6:26). Dekades later het party toegewyde Christene eweneens diens aan God verrig, maar “nie met ’n suiwer beweegrede nie” (Filippense 1:17). Sommige wat ‘nie ingestem het met die gesonde woorde van Jesus Christus nie’, het selfs na maniere gesoek om persoonlik voordeel te trek uit hulle assosiasie met Christene.—1 Timoteus 6:3-5.
As ’n Christen God vandag net dien omdat hy vir ewig in die Paradys wil lewe, dien hy dalk ook met ’n selfsugtige beweegrede. Op die lange duur kan dit tot sy geestelike ondergang lei. Omdat dit lyk of Satan se stelsel van dinge langer voortduur as wat verwag is, word hy dalk “moeg” en voel hy dat die einde uitgestel word (Galasiërs 6:9). Hy word dalk selfs verbitterd oor die materiële opofferings wat hy gemaak het. Jesus herinner ons: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Ja, iemand wat God hoofsaaklik uit liefde dien, stel geen tydgrens aan sy diens nie. Hy is vasbeslote om Jehovah vir ewig te dien! (Miga 4:5). Hy is nie spyt oor enige opofferings wat hy in sy diens aan God gemaak het nie (Hebreërs 13:15, 16). Liefde vir God spoor hom aan om God se belange eerste in sy lewe te stel.—Matteus 6:33.
Vandag is daar meer as sesmiljoen ware aanbidders wat “hulle gewillig aanbied” in Jehovah se diens (Psalm 110:3). Is jy een van hulle? Indien nie, moet jy peins oor wat God jou aanbied: suiwer kennis van waarheid (Johannes 17:3); vryheid van slawerny aan valse godsdiensleerstellings (Johannes 8:32); die hoop om vir ewig te lewe (Openbaring 21:3, 4). Jehovah se Getuies kan jou help om te leer hoe jy al hierdie dinge van God kan ontvang—verniet.