Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

SIERRA LEONE EN GUINEE

1945-1990 ‘Baie word tot regverdigheid gebring’—Dan.12:3. (Deel 4)

1945-1990 ‘Baie word tot regverdigheid gebring’—Dan.12:3. (Deel 4)

Die stryd teen ongeletterdheid

Vroeg in 1963 het Milton Henschel, gedurende sy tweede besoek aan Sierra Leone, aandag geskenk aan ’n behoefte waarin die takkantoor al ’n geruime tyd probeer voorsien het. Hy het die broers aangespoor om ’n groter poging aan te wend om geletterdheid te bevorder.

Party gemeentes het lees-en-skryf-klasse in Engels gehou. Maar ná broer Henschel se besoek het die broers begin om studente in hulle moedertaal te leer lees en skryf. Party gemeentes het klasse in twee of drie tale aangebied. Hierdie klasse was so gewild dat ’n derde van die verkondigers in die land daarvoor ingeskryf het.

In 1966 het broers in Liberië ’n geïllustreerde leesboek in die Kisi-taal saamgestel. Toe hulle die leesboek vir die Liberiese regeringsamptenare gewys het, was die amptenare so beïndruk dat hulle besluit het om die boekie te laat druk en dit gratis te versprei. Die leesboek is in Guinee, Liberië en Sierra Leone versprei, en dit het honderde Kisi-sprekendes gehelp om te leer lees en skryf. Later is leesboeke saamgestel of aangepas vir ander taalgroepe, wat nog baie mense gehelp het om te leer lees en skryf.

Sia het swart en rooi toutjies gebruik om rekord te hou van haar getuieniswerk

Die lees-en-skryf-klasse het mense nie net gehelp om geletterd te word nie, maar ook om geestelike vooruitgang te maak. Neem byvoorbeeld Sia Ngallah, ’n 50-jarige ongedoopte verkondiger wat ongeletterd was. Sia het swart en rooi toutjies gebruik om rekord te hou van haar getuieniswerk. Nadat sy ’n uur lank gepreek het, het sy ’n knoop in die swart toutjie gemaak. Nadat sy ’n herbesoek gedoen het, het sy ’n knoop in die rooi toutjie gemaak. Sia het die lees-en-skryf-klasse bygewoon, wat haar gehelp het om beter rekord te hou van haar bediening. Sy het ook tot doop gevorder en ’n doeltreffender verkondiger en onderrigter geword.

Baie gemeentes in Sierra Leone en Guinee hou vandag nog lees-en-skryf-klasse. ’n Senior regeringsamptenaar in Sierra Leone het vir die broers by die takkantoor gesê: “Bo en behalwe julle Bybelonderrigtingswerk doen julle ’n prysenswaardige werk deur mense in hierdie gemeenskap te leer lees en skryf.”

“Klippe” roep uit

Namate meer mense uit verskillende etniese groepe leer lees het, het die behoefte aan lektuur in hulle taal toegeneem. Die meeste stamlede het min, indien enige, sekulêre lektuur in hulle taal gehad. Geletterde mense in Sierra Leone het Engels gelees, terwyl dié in Guinee Frans gelees het. Wat kon gedoen word om Bybellektuur in hulle moedertaal te voorsien?

In 1959 het twee Gileadgegradueerdes ’n traktaat en ’n boekie in Mende vertaal, maar slegs ’n beperkte aantal eksemplare is versprei. Tien jaar later is die boekies “Hierdie goeie nuus van die koninkryk” en Lewe in hoop op ’n regverdige nuwe wêreld in Kisi vertaal. Omtrent 30 000 van hierdie boekies is versprei en gebruik om Bybelstudies te hou.

In 1975 het die takkantoor Wagtoring-studieartikels in Kisi begin uitgee. Die Kisi-verkondigers was verheug! ’n Broer het geskryf: “Jehovah het ’n groot wonderwerk vir ons verrig. Nie een van ons het skoolgegaan nie. Ons was soos klippe—ons kon nie praat nie. Dit is hoe ons was, maar noudat ons Die Wagtoring in Kisi het, kan ons oor Jehovah se groot dade praat” (Luk. 19:40). Etlike ander publikasies is ook in Kisi vertaal.

Vandag lees die meeste mense in Sierra Leone en Guinee nog steeds ons publikasies in Engels of Frans, die tale wat by gemeentelike vergaderinge gebruik word. Maar die aantal publikasies in plaaslike tale het onlangs grootliks toegeneem. Bybellektuur is nou beskikbaar in Guerze, Kisi, Krio, Maninkakan, Mende, Pular en Susu. Die brosjures Luister na God en lewe vir ewig en Listen to God is nou in al hierdie tale beskikbaar. Hierdie eenvoudige onderrigmiddele help baie mense wat nie goed kan lees nie, om die Bybel se wonderlike boodskap te verstaan en te waardeer.

’n Takkantoor word gebou

Gedurende die vroeë 1960’s het die broers in Freetown grond gesoek waarop hulle ’n nuwe takkantoor kon bou. Uiteindelik, in 1965, het hulle ’n stuk grond in Wilkinsonstraat verkry. Dit is in een van die stad se beste woongebiede, met ’n uitsig oor die see.

Die finale bouplan het voorsiening gemaak vir ’n Koninkryksaal, ’n sendinghuis en kantore in een aantreklike gebou. Gedurende die bouwerk het die verkeer op die besige Wilkinsonstraat dikwels byna tot ’n stilstand gekom omdat bestuurders en passasiers beter wou sien wat aangaan. Die gebou is op 19 Augustus 1967 toegewy. Byna 300 mense het die program bygewoon, insluitende plaaslike hooggeplaastes en ’n hele paar verkondigers wat al in 1923 deur “Bible” Brown gedoop is.

Takkantoor en sendinghuis in Freetown (1965-1997)

Danksy die nuwe takkantoor het baie mense groter agting vir die werk van Jehovah se Getuies gekry. Dit het ook ’n antwoord voorsien op die bewering van party godsdienskritici dat die Getuies nie lank in Sierra Leone bedrywig sou wees nie. Die nuwe gebou het dit duidelik gemaak dat Jehovah se Getuies gekom het om te bly.

Ywerige sendelinge bevorder groei

’n Groep in die veldbediening loop deur ’n modderige rysland

Vanaf die middel-1970’s het ’n bestendige stroom Gileadopgeleide sendelinge die werk in Sierra Leone en Guinee bevorder. Party het in ander Afrikalande gedien en het gou aan die plaaslike toestande gewoond geraak. Ander was nog nooit in Afrika nie. Hoe sou hulle in die “witman se begraafplaas” vaar? Kyk wat party van hulle gesê het.

“Die mense was nederig en geestelik honger. Dit het my groot bevrediging verskaf om te sien hoe die waarheid hulle lewens verbeter.”Hannelore Altmeyer.

“Die tropiese klimaat en siektes was ’n groot uitdaging. Maar die vreugde wat dit meebring om opregtes van hart te help om Jehovah te dien, het dit die moeite werd gemaak.”Cheryl Ferguson.

“Ek het geleer om geduldig te wees. Toe ek ’n suster gevra het wanneer haar besoekers sou kom, het sy gesê: ‘Dalk vandag. Dalk môre. Of dalk oormôre.’ Ek het seker geskok gelyk, want sy het my verseker: ‘Maar hulle sal kom!’”Christine Jones.

“Veertien sendelinge uit verskillende etniese en kulturele agtergronde het in die Freetown-sendinghuis gewoon. Ons het twee toilette, een stort, een wasmasjien en een kombuis gedeel. Die kos was min en van swak gehalte. Daar was dikwels kragonderbrekings—wat soms dae geduur het. Die meeste van ons het malaria en ander tropiese siektes opgedoen. Hoewel dit miskien soos ’n resep vir mislukking klink, het ons geleer om as ’n groep saam te woon, om te vergewe en om iets snaaks in moeilike situasies te sien. Die predikingswerk was ’n genot, en die sendelinge het hegte vriendskapsbande gesmee.”Robert en Pauline Landis.

Pauline Landis hou ’n Bybelstudie

“Ons tyd in Sierra Leone was een van die beste tye in ons lewe. Ons is nie spyt oor enigiets nie en ons het geen klagtes nie. Ons verlang net baie na daardie dae.”Benjamin en Monica Martin.

“Ons het eenkeer by ’n belangstellende vrou gebly wat ons ’n vreemde ete aangebied het. ‘Dis adder’, het sy gesê. ‘Ek het die giftande uitgehaal. Wil julle hiervan hê?’ Ons het dit taktvol van die hand gewys, maar sy het daarop aangedring dat ons dit eet. Ondanks sulke uitdagings het ons die hartlike gasvryheid van ons gashere waardeer en hulle baie liefgekry.”Frederick en Barbara Morrisey.

“Gedurende my 43 jaar van sendingdiens het ek saam met meer as 100 ander sendelinge gewoon. Wat ’n voorreg was dit tog om soveel mense te leer ken, almal met verskillende persoonlikhede maar met dieselfde oogmerk! En wat ’n vreugde is dit tog om God se medewerker te wees en om mense Bybelwaarheid te sien aanneem!”Lynette Peters.

“Wat ’n vreugde is dit tog om God se medewerker te wees en om mense Bybelwaarheid te sien aanneem!”

Sedert 1947 het 154 sendelinge in Sierra Leone gedien, en 88 in Guinee. Baie ander Getuies het ook met die predikingswerk kom help. Vandag is daar 44 sendelinge in Sierra Leone en 31 in Guinee. Hulle onvermoeide pogings en onselfsugtige toegewydheid het die lewens van tallose mense geraak. Alfred Gunn, wat al lank op die Takkomitee dien, sê: “Ons dink met groot liefde aan hulle.”