Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

SIERRA LEONE EN GUINEE

1991-2001 ’n “Smeltoond van ellende”—Jes. 48:10 (Deel 2)

1991-2001 ’n “Smeltoond van ellende”—Jes. 48:10 (Deel 2)

Bethel word aangeval!

In Februarie 1998 het regeringsoldate en troepe van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikaanse lande se ingrypingsmag (ECOMOG) ’n volskaalse aanval geloods om die rebellemagte uit Freetown te verdryf. Ongelukkig is ’n broer gedurende die verwoede geveg deur skrapnel gedood.

Omtrent 150 verkondigers het skuiling gaan soek by die Kissy- en Cockerill-sendinghuise. Laddie Sandy, een van Bethel se twee nagwagte, vertel: “Laat een nag, terwyl ek en Philip Turay aan diens was, het twee gewapende RUF-rebelle by Bethel opgedaag en geëis dat ons die glasportaaldeure oopmaak. Ek en Philip het na veiligheid gespring toe hulle die deurslot herhaaldelik begin skiet het. Dit het verbasend genoeg nie gebreek nie, en hulle het nie daaraan gedink om die glasruite uit te skiet nie. Hulle is gefrustreerd daar weg.

“Twee nagte later het die rebelle met sowat 20 vasbeslote, swaar gewapende metgeselle teruggekeer. Ons het die Bethelgesin gou gewaarsku en na ’n voorafgereëlde skuilplek in die kelderverdieping gehardloop. Daar was sewe van ons wat bewend van vrees in die donkerte agter twee groot vate weggekruip het. Die rebelle het die deur oopgeskiet, en die slot het in die proses gesmelt. ‘Soek daardie Getuies van Jehovah en sny hulle kele af’, het een rebel geskreeu. Ons het tjoepstil gesit en wag terwyl hulle die gebou sewe uur lank geplunder het. Toe hulle uiteindelik tevrede was met die skade wat hulle aangerig het, is hulle daar weg.

“Ons het ons persoonlike besittings gegryp en gehardloop na die Cockerill-sendinghuis—die vorige Bethelhuis—net ’n entjie daarvandaan. Op pad is ons deur ’n ander groep rebelle beroof. Ons het doodbang by die sendinghuis aangekom, maar ons was dankbaar dat ons nog gelewe het. Nadat ons ’n paar dae gerus het, het ons na Bethel teruggekeer om op te ruim.”

Twee maande later, nadat die ECOMOG-magte beheer oor die stad oorgeneem het, het die sendelinge uit Guinee begin terugkeer. Maar min het hulle geweet dat hulle verblyf van korte duur sou wees.

Operasie Geen Oorlewendes

Agt maande later, in Desember 1998, het honderde byeenkomsgangers die “God se weg van die lewe”-streekbyeenkoms by Freetown se nasionale stadion geniet. Skielik het hulle ’n dowwe gedreun gehoor, en ’n rookwolk het bo die heuwels opgestyg. Die rebelleleër het teruggekeer!

In die daaropvolgende dae het die situasie in Freetown versleg. Die Takkomitee het ’n klein vliegtuig gehuur en 12 sendelinge, 8 buitelandse Betheliete en 5 konstruksievrywilligers na Conakry laat neem. Drie dae later, op 6 Januarie 1999, het rebellemagte ’n wrede uitwissingsveldtog geloods wat Operasie Geen Oorlewendes genoem is. Met skrikwekkende geweld het hulle Freetown verwoes en sowat 6 000 burgerlikes doodgemaak. Die rebelle het mense se arms en bene na willekeur afgesny, honderde kinders ontvoer en duisende geboue vernietig.

’n Baie geliefde broer, Edward Toby, is wreed vermoor. Meer as 200 getraumatiseerde verkondigers is by Bethel of die Cockerill-sendinghuis gehuisves. Ander het in hulle huise weggekruip. Die Getuies wat by die Kissy-sendinghuis, aan die oostekant van die stad, skuiling gaan soek het, het medisyne dringend nodig gehad. Maar dit was baie gevaarlik om deur die stad te reis. Wie sou dit waag? Laddie Sandy en Philip Turay, die onverskrokke Bethelnagwagte, het onmiddellik aangebied om dit te doen.

“Die stad was in chaos”, vertel Philip. “Rebellesoldate het baie kontrolepunte beman en mense na willekeur mishandel. ’n Streng aandklokreël het van die middel van die middag tot die middel van die oggend gegeld, wat dit vir ons moeilik gemaak het om te reis. Twee dae nadat ons ons reis begin het, het ons die Kissy-sendinghuis bereik, maar dit was geplunder en afgebrand.

“Toe ons in die omgewing rondgesoek het, het ons een van ons broers, Andrew Caulker, gevind, wat verskriklike kopbeserings gehad het. Rebelle het hom vasgebind en herhaaldelik met ’n byl geslaan. Verbasend genoeg het hy dit oorleef en daarin geslaag om weg te kom. Ons het hom gou na die hospitaal geneem, waar hy stadigaan herstel het. Later het hy as ’n gewone pionier gedien.”

(Links na regs) Laddie Sandy, Andrew Caulker en Philip Turay

Ander Getuies het beserings of die dood vrygespring danksy hulle reputasie as neutrale Christene. ’n Broer vertel: “Die rebelle het geëis dat ons wit bandanas dra en in die straat dans ter ondersteuning van hulle saak. ‘As julle weier, sal ons een van julle arms of bene afkap of julle doodmaak’, het hulle vir ons gesê. Ek en my vrou het vreesbevange eenkant gaan staan en stilletjies tot Jehovah gebid om ons te help. ’n Jong buurman wat met die rebelle saamgewerk het, het ons dilemma gesien en vir die rebelleleier gesê: ‘Dit is ons “broer”. Hy raak nie by die politiek betrokke nie, en daarom sal ons namens hom dans.’ Die leier het tevrede omgedraai, en ons het ons huis toe gehaas.”

Toe ’n vreemde kalmte oor die stad neergedaal het, het die broers omsigtig begin om weer vergaderinge te hou en velddiens te doen. Verkondigers het byeenkomslapelkaarte gedra om hulle by kontrolepunte te identifiseer. Broers wat in lang toue by kontrolepunte moes wag, het bedrewe daarin geraak om Bybelgesprekke te begin.

Toe allerhande tekorte in die stad ontstaan het, het die takkantoor in Brittanje 200 kartonne noodlenigingsvoorraad per vliegtuig gestuur. Billie Cowan en Alan Jones het van Conakry na Freetown gevlieg om die besending deur ’n reeks kontrolepunte te neem. Die besending het Bethel kort voor die aandklokreël bereik. James Koroma het dikwels as ’n koerier na Conakry gereis om lektuur en ander noodsaaklike voorraad te gaan haal. Van hierdie geestelike voedsel is na afgesonderde verkondigers in Bo en Kenema gestuur.

Noodlenigingsvoorraad kom in Freetown aan

Op 9 Augustus 1999 het die sendelinge in Conakry na Freetown begin terugkeer. Die volgende jaar het ’n Britse gewapende ekspedisiemag die rebelle uit Freetown verdryf. Sporadiese gevegte het nog ’n ruk lank voortgeduur, maar teen Januarie 2002 was die oorlog amptelik verby. Gedurende die 11 jaar lange konflik is 50 000 mense om die lewe gebring, 20 000 vermink, 300 000 huise vernietig en 1,2 miljoen mense ontwortel.

Hoe het Jehovah se organisasie gevaar? Dit is duidelik dat Jehovah dit beskerm en geseën het. Gedurende die konflik is omtrent 700 mense gedoop. Hoewel honderde Getuies uit die oorlogsone gevlug het, het die aantal verkondigers in Sierra Leone met 50 persent toegeneem. Die verkondigers in Guinee het met meer as 300 persent toegeneem! Nog belangriker, God se volk het hulle onkreukbaarheid gehandhaaf. In ’n “smeltoond van ellende” het hulle onbreekbare Christelike eenheid en liefde geopenbaar en het hulle “sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus . . . bekend te maak”.Jes. 48:10; Hand. 5:42.