Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

SIERRA LEONE EN GUINEE

1915-1947 Vroeë dae (Deel 3)

1915-1947 Vroeë dae (Deel 3)

Na die provinsies en verder

Aangevuur deur geesdrif vir die waarheid, het die Freetown-gemeente hulle “intensief met die woord begin besig hou” (Hand. 18:5). Alfred Joseph vertel: “Ek het dikwels ’n karton vol Bybelboeke aan my groot Norton-motorfiets vasgebind. Dan het ek en broer Thomas of Sylvester Grant, wat [as ’n passasier] agterop die fiets gery het, na die platteland en klein dorpies om Freetown gery om mense te werf, soos ons dit genoem het.”

Tot 1927 het die verkondigers meestal in en om Freetown gepreek in ’n gebied wat The Colony genoem is. Maar vanaf 1928 het die gemeente elke jaar voor die reënseisoen ’n bus gehuur en na die provinsies gereis. Diegene wat nie kon saamgaan nie, het help betaal vir die reise, waarop Melbourne Garber die leiding geneem het. Die busgroepe het in klein en groot dorpe gepreek, ooswaarts tot by Kailahun en suidwaarts tot amper by die Liberiese grens. Hulle het die eerste Sondag van elke maand teruggegaan om die belangstelling wat hulle gevind het, te ontwikkel.

Omtrent hierdie tyd het broer Brown die Wes-Indiese Eilande besoek en teruggekeer met ’n motor, een van die eerstes in Sierra Leone. Die motor was toegerus met ’n kragtige klankstelsel wat vir die openbare getuieniswerk ontwerp is. Broer Brown het die motor gewoonlik op ’n openbare plek geparkeer en mooi musiek gespeel om ’n skare te lok. Dan het hy ’n kort toespraak gehou of ’n opname van ’n lesing gespeel en die skare genooi om Bybellektuur te neem. Die sprekende motor—soos dit genoem is—het groot opskudding veroorsaak, en baie mense het saamgedrom om daarna te luister.

Hulle het ’n moedige getuienis gegee

Toe het broer Brown sy aandag gerig op geestelik onaangeraakte gebied—die res van die Engelssprekende Wes-Afrika. Gedurende die laat 1920’s het hy ’n reeks predikingsreise na Gambië, Ghana, Liberië en Nigerië onderneem. Broer Brown het in al hierdie lande belangstelling gevind, maar Nigerië het besonder vrugbaar gelyk. In 1930 het hy en sy gesin van Freetown na Lagos getrek. Daar het hy voortgegaan om toesig te hou oor die Koninkrykswerk in Wes-Afrika.

Vandag dien meer as 500 000 Getuies Jehovah in Wes-Afrika

Toe broer Brown in 1950 weens swak gesondheid na Jamaika moes terugkeer, het hy ’n merkwaardige nalatenskap agtergelaat. In die loop van 27 jaar het hy en sy vrou die aantal Getuies in Wes-Afrika van 2 tot meer as 11 000 sien toeneem. Hulle het letterlik die vervulling van Jesaja se profesie gesien: “Die kleine sal ’n duisend word, en die geringe ’n magtige nasie” (Jes. 60:22). Vandag, net meer as 60 jaar later, dien “’n magtige nasie” van meer as 500 000 Getuies Jehovah in Wes-Afrika.

Standvastig ondanks ’n verbod

Toe die Tweede Wêreldoorlog sy skaduwee oor Afrika gewerp het, het Jehovah se volk in Sierra Leone hulle Christelike neutraliteit gehandhaaf (Miga 4:3; Joh. 18:36). Die Britse owerheid het hulle valslik van ondermyning beskuldig en het dus hulle bedrywighede dopgehou en hulle lektuur verbied. Doeanebeamptes in Freetown het op ’n lektuurbesending beslag gelê en dit verbrand. ’n Paar broers is in hegtenis geneem omdat hulle verbode lektuur besit het, maar hulle is gou weer vrygelaat. *

Die Getuies het ondanks die verbod aangehou preek. Pauline Cole het verduidelik: “’n Broer wat ’n hofmeester was op ’n skip wat gereeld hier aangedoen het, het ons van eksemplare van Die Wagtoring bly voorsien. Ons het dit gebruik om nog eksemplare vir die vergaderinge te tik. Ons het ook pamflette oor Bybelonderwerpe gedruk en dit onder die publiek versprei. En die broers het voortgegaan om openbare toesprake te hou en om opnames van broer Rutherford se radiolesings te speel, veral in die buitedorpies.”

Dit was duidelik dat hierdie pogings, hoewel beskeie, Jehovah se seën geniet het. James Jarrett, wat al lank as ’n ouer man en spesiale pionier dien, vertel: “Gedurende die oorlog het ek as ’n steenhouer gewerk toe ’n bejaarde suster my die boekie Vlugtelinge gegee het. Aangesien baie vlugtelinge in Freetown aangekom het, het die titel my belangstelling geprikkel. Ek het die boekie daardie aand gelees en onmiddellik die waarheid herken. Die volgende oggend het ek die suster gesoek en eksemplare vir my drie broers by haar gekry. Ons al vier het die waarheid aangeneem.”

Toe die oorlog in 1945 tot ’n einde gekom het, was daar 32 verkondigers in die Freetown-gemeente. Die verkondigers het hulle onkreukbaarheid gehandhaaf en geestelik bedrywig gebly. Hulle was gereed en gretig om voort te gaan.

’n Kampanje van openbare vergaderinge

Op 29 Augustus 1945 het die Freetown-gemeente by die weeklikse Diensvergadering ’n nuwe kampanje bespreek wat in die Informant (nou Ons Koninkryksbediening) vir Desember 1944 aangekondig is. Elke gemeente moes ’n reeks van vier openbare vergaderinge in “elke stad, dorp en gehuggie” in hulle gebied adverteer en hou. By elkeen van hierdie vergaderinge moes ’n broer (18 jaar of ouer) wat goed gedoen het op die Teokratiese Bedieningskool, ’n uur lange toespraak hou. Ná die vier vergaderinge moes die broers Bybelstudiegroepe reël om belangstellendes in elke gebied te help.

Hoe het die verkondigers op hierdie nuwe riglyn gereageer? Die notules van die Freetown-gemeente se Diensvergadering bevat die volgende kommentare:

Voorsitter: “Hoe dink julle kan ons hierdie nuwe kampanje aanpak?”

Eerste broer: “Ons moenie dieselfde sukses as in Amerika verwag nie. Die mense hier is anders.”

Tweede broer: “Ek stem saam.”

Derde broer: “Waarom probeer ons dit nie?”

Vierde broer: “Maar dit sal moeilik wees.”

Vyfde broer: “Ons moet nogtans die riglyne van Jehovah se organisasie volg.”

Sesde broer: “Maar dit sal waarskynlik nie in ons land werk nie.”

Eerste suster: “Die riglyne in die Informant is nietemin duidelik. Kom ons probeer dit!”

En hulle het. Van die kus van Freetown tot die stad Bo in die suidooste tot Kabala op die noordelike plato het die broers vergaderinge in klaskamers, op markte en in huise gehou. Hierdie bedrywigheid het die gemeente versterk, en “die woord van Jehovah het bly groei en versprei”.Hand. 12:24.

Die verkondigers het egter nog teokratiese opleiding nodig gehad. En Jehovah het dit voorsien.

^ par. 10 Die verbod is in 1948 opgehef.