Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Afvalligheid—’n Versperring op die weg na God

Afvalligheid—’n Versperring op die weg na God

Hoofstuk 11

Afvalligheid—’n Versperring op die weg na God

1, 2. (a) Waarom is die eerste 400 jaar van die Christendom se geskiedenis belangrik? (b) Watter waarheid het Jesus oor keuses uitgespreek?

WAAROM is die eerste 400 jaar van die Christendom se geskiedenis so belangrik? Om dieselfde rede as wat die eerste paar jaar van ’n kind se lewe belangrik is—omdat dit die vormingsjare is wanneer die grondslag van die persoon se toekomstige persoonlikheid gelê word. Wat toon die Christendom se vroeë eeue?

2 Voordat ons daardie vraag beantwoord, moet ons ’n waarheid onthou wat Jesus Christus uitgespreek het: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” Die weg van gerief is wyd; dié van regte beginsels is smal.—Mattheüs 7:13, 14.

3. Tussen watter twee weë kon mense ná die stigting van die Christelike godsdiens kies?

3 Toe die Christelike godsdiens gestig is, kon diegene wat daardie ongewilde geloof aangeneem het tussen twee weë kies—hulle kon bly by die leringe en beginsels van Christus en die Skrif, wat geen kompromis toegelaat het nie, of saam met die destydse wêreld oorhel na die wye en gemaklike weg van kompromisse. Soos ons sal sien, toon die geskiedenis van die eerste 400 jaar watter weg die meerderheid uiteindelik gekies het.

Die verleidelikheid van filosofie

4. Hoe het heidense Rome volgens geskiedskrywer Durant die vroeë kerk beïnvloed?

4 Geskiedskrywer Will Durant verduidelik: “Die Kerk het party godsdiensgebruike en-formaliteite oorgeneem wat algemeen in voor-Christelike [heidense] Rome voorgekom het—die stola en ander kledingstukke van heidense priesters, die gebruik van wierook en heilige water in reiniging, die brand van kerse en ’n ewige lig voor die altaar, die aanbidding van die heiliges, die argitektuur van die basilika, die wet van Rome as ’n grondslag van kerkreg, die titel Pontifex Maximus vir die Pous, en, in die vierde eeu, die Latynse taal . . . Spoedig sou die biskoppe, in plaas van die Romeinse prefekte, die bron van orde en die setel van mag in die stede wees; die metropoliete, of aartsbiskoppe, sou die provinsiale goewerneurs bystaan, en miskien selfs verdring; en die sinode van biskoppe sou die provinsiale vergadering opvolg. Die Roomse Kerk het die voetspore van die Romeinse staat gevolg.”—The Story of Civilization: Part III—Caesar and Christ.

5. Hoe vorm die neiging om kompromisse met die heidense Romeinse wêreld aan te gaan ’n teenstelling met vroeë Christelike geskrifte?

5 Hierdie gesindheid van kompromisse met die Romeinse wêreld vorm ’n skerp teenstelling met die leringe van Christus en die apostels. (Sien venster, bladsy 262.) Die apostel Petrus se vermaning was: “Geliefdes . . . ek [wil] deur herinnering julle suiwere gesindheid opwek, sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here van die Verlosser. Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit julle eie vastigheid nie.” Paulus het onomwonde gesê: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? . . . Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem.”—2 Petrus 3:1, 2, 17; 2 Korinthiërs 6:14-17; Openbaring 18:2-5.

6, 7. (a) Hoe het Griekse filosofie vroeë “kerkvaders” beïnvloed? (b) In watter leerstellings was die Griekse invloed besonder duidelik? (c) Watter waarskuwing het Paulus oor filosofie gegee?

6 Ondanks hierdie duidelike vermaning het afvallige Christene van die tweede eeu die versierings van die heidense Romeinse godsdiens aangeneem. Hulle het hul suiwer Bybelse oorsprong agtergelaat en eerder heidense Romeinse klere en titels aangeneem en van Griekse filosofie deurtrek geword. Professor Wolfson van Harvard-Universiteit verduidelik in The Crucible of Christianity dat “heidene met ’n filosofiese opleiding” in die tweede eeu in die Christelike godsdiens ingestroom het. Hulle het die wysheid van die Grieke bewonder en gemeen dat daar ooreenkomste tussen Griekse filosofie en die leringe van die Skrif is. Wolfson sê voorts: “Soms gee hulle op verskillende maniere te kenne dat filosofie ’n spesiale gawe van God aan die Grieke deur middel van menslike redenasie is soos die Skrif sy gawe aan die Jode deur middel van regstreekse openbaring is.” Hy sê verder: “Die Kerkvaders . . . het begin met hulle sistematiese poging om te toon dat die eenvoudige taal van die Skrif filosowe se verskuilde leringe bevat wat ingeklee is in die vae tegniese terme wat in hul Akademie, Lyceum en Portaal [sentrums vir filosofiese bespreking] gesmee is.”

7 Hierdie gesindheid het die weg gebaan vir Griekse filosofie en terminologie om in die Christendom se leringe in te sypel, veral op die gebied van die Trinitariese leerstelling en die geloof in ’n onsterflike siel. Soos Wolfson sê: “Die [kerk-]Vaders het in die filosofiese terminologie begin soek na twee goeie tegniese terme, waarvan een gebruik sou word om die werklikheid van die afsonderlikheid van elke lid van die Drie-eenheid as ’n individu aan te dui en die ander gebruik sou word om hul onderliggende gemeenskaplike eenheid aan te dui.” En tog moes hulle erken dat “die konsep van ’n drie-enige God ’n verborgenheid is wat nie deur die menslike rede opgelos kan word nie”. In teenstelling hiermee was Paulus baie bewus van die gevaar van sulke besmetting en ‘verdraaiing van die evangelie’ toe hy aan die Christene in Galasië en Kolosse geskryf het: “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte [Grieks, phi·lo·so·phiʹas] en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Galasiërs 1:7-9; Kolossense 2:8; 1 Korinthiërs 1:22, 23.

Die opstanding nietig verklaar

8. Met watter raaisel het die mens geworstel, en hoe het die meeste godsdienste probeer om dit op te los?

8 Soos ons tot dusver in hierdie boek gesien het, het die mens nog altyd geworstel met die raaisel van sy kort en beperkte bestaan wat in die dood eindig. Soos Duitse skrywer Gerhard Herm in sy boek The Celts—The People Who Came Out of the Darkness gesê het: “Godsdiens is onder andere ’n manier om mense te laat berus in die feit dat hulle eendag moet sterf, hetsy deur die belofte van ’n beter lewe anderkant die graf, wedergeboorte, of albei.” Feitlik elke godsdiens berus op die opvatting dat die menslike siel onsterflik is en dat dit ná die dood na ’n lewe hiernamaals reis of dat dit na ’n ander skepsel verhuis.

9. Watter gevolgtrekking het Spaanse geleerde Miguel de Unamuno aangaande Jesus se opvatting oor die opstanding gemaak?

9 Bykans al die hedendaagse godsdienste van die Christendom hang ook daardie opvatting aan. Miguel de Unamuno, ’n vooraanstaande 20ste-eeuse Spaanse geleerde, het aangaande Jesus geskryf: “Hy het eerder, volgens die Joodse manier, in die opstanding van die vlees [soos in Lasarus se geval (sien bladsye 249-52)] geglo, nie in die onsterflikheid van die siel, volgens die [Griekse] Platoniese manier nie. . . . Die bewyse hiervan kan in enige eerlike boek oor vertolking gesien word.” Hy het die gevolgtrekking gemaak: “Die onsterflikheid van die siel . . . is ’n heidense filosofiese dogma” (La Agonía Del Cristianismo [Die Lyding van die Christelike godsdiens]). Daardie “heidense filosofiese dogma” het die Christendom se lering ingesypel al was dit duidelik dat Christus nie hierdie mening gehuldig het nie.—Mattheüs 10:28; Johannes 5:28, 29; 11:23, 24.

10. Wat was party gevolge van geloof in ’n onsterflike siel?

10 Die subtiele invloed van Griekse filosofie was ’n sleutelfaktor by die afvalligheid wat op die dood van die apostels gevolg het. Die Griekse leerstelling oor die onsterflike siel het beteken dat daar verskeie bestemmings vir die siel moet wees—die hemel, helse vuur, vaevuur, paradys, Limbus. * Deur sulke leerstellings te manipuleer, het dit vir ’n priesterlike klas maklik geword om hulle kuddes onderdanig te hou, hulle die Hiernamaals te laat vrees en om geskenke en bydraes van hulle te kry. Dit bring ons by nog ’n vraag: Hoe het die Christendom se afsonderlike priesterlike geestelikeklas ontstaan?—Johannes 8:44; 1 Timotheüs 4:1, 2.

Hoe die geestelikeklas gevorm is

11, 12. (a) Watter ander teken van afvalligheid het verskyn? (b) Watter rol het die apostels en ouere manne in Jerusalem gespeel?

11 Nog ’n aanduiding van afvalligheid was die afskaffing van die algemene bediening van alle Christene, soos Jesus en die apostels geleer het, en die ontwikkeling van die eksklusiewe priesterdom en hiërargie in die Christendom (Mattheüs 5:14-16; Romeine 10:13-15; 1 Petrus 3:15). Gedurende die eerste eeu, ná Jesus se dood, het sy apostels, saam met ander geestelik bekwame Christen- ouere manne in Jerusalem, die Christengemeente raad gegee en gelei. Niemand was die ander se meerdere nie.—Galasiërs 2:9.

12 In die jaar 49 G.J. was dit nodig dat hulle in Jerusalem byeenkom om vrae te beantwoord wat die Christene oor die algemeen geraak het. Die Bybelverslag deel ons mee wat na die openhartige bespreking gebeur het: “Toe het die apostels en die ouderlinge [pre·sbyʹte·roi] saam met die hele gemeente besluit om manne uit hulle te kies en na Antiochië te stuur saam met Paulus en Barnabas, . . . en hulle het deur hul bemiddeling dít geskrywe: Die apostels en die ouderlinge en die broeders aan die broeders uit die heidene in Antiochië en Sirië en Cilicië: Groete!” Die apostels en ouere manne was blykbaar ’n administratiewe bestuursliggaam vir die wydverspreide Christengemeentes.—Handelinge 15:22, 23.

13. (a) Watter reëling was daar vir die onmiddellike toesig oor elk van die vroeë Christengemeentes? (b) Wat was die vereistes vir gemeentelike ouere manne?

13 Maar as daardie bestuursliggaam in Jerusalem die vroeë Christelike reëling vir algemene toesig van alle Christene was, watter stelsel van bestuur het hulle in elke gemeente, op die plaaslike vlak, gehad? Paulus se brief aan Timotheüs verduidelik dat die gemeentes opsieners gehad het (Grieks, e·piʹsko·pos, bron van die woord “episkopaals”) wat geestelike ouere manne (pre·sbyʹte·roi) was, manne wat op grond van hulle gedrag en hulle geestelikheid bekwaam was om hulle mede-Christene te onderrig (1 Timotheüs 3:1-7; 5:17). In die eerste eeu het hierdie manne nie ’n afsonderlike geestelikeklas uitgemaak nie. Hulle het nie kenmerkende klere gedra nie. Hulle geestelikheid het hulle onderskei. Trouens, elke gemeente het ’n liggaam van ouere manne (opsieners) gehad, nie ’n monargale eenmansheerskappy nie.—Handelinge 20:17; Filippense 1:1.

14. (a) Hoe is Christelike opsieners uiteindelik deur die Christendom se biskoppe verdring? (b) Wie het na voorrang onder die biskoppe gestrewe?

14 Dit was eers na verloop van tyd dat die woord e·piʹsko·pos * (opsiener, superintendent) in “biskop” verander is, dit wil sê ’n priester met regsmag oor ander geestelikes in sy bisdom. Soos die Spaanse Jesuïet Bernardino Llorca verduidelik: “Aanvanklik is daar nie ’n groot genoeg onderskeid tussen die biskoppe en die presbiters gemaak nie en is daar net aan die betekenis van die woorde aandag geskenk: biskop is die ekwivalent van superintendent; presbiter is die ekwivalent van ouere man. . . . Maar die onderskeid het gaandeweg duideliker geword en die naam biskop is vir die belangriker superintendente gebruik wat die hoogste priesterlike gesag gehad het en die hande kon oplê en die priesterskap kon oordra” (Historia de la Iglesia Católica [Geskiedenis van die Katolieke Kerk]). Trouens, biskoppe het veral van die begin van die vierde eeu af in ’n min of meer monargale stelsel begin werk. ’n Hiërargie, of heersende liggaam van geestelikes, is gestig, en mettertyd het baie die biskop van Rome, wat beweer het dat hy ’n opvolger van Petrus is, as die hoogste biskop en pous erken.

15. Watter kloof is daar tussen die vroeë Christelike leierskap en dié van die Christendom?

15 Vandag is die posisie van biskop in die verskillende kerke van die Christendom ’n posisie van aansien en mag waarvoor ’n goeie besoldiging gewoonlik ontvang word en wat dikwels met die elite- heersende klas van elke nasie gelykgestel kan word. Maar hulle trotse en verhewe situasie verskil hemelsbreed van die eenvoudige organisasie onder Christus en die ouere manne, of opsieners, van die vroeë Christengemeentes. En wat kan ons sê van die kloof tussen Petrus en sy sogenaamde opvolgers, wat teen die weelderige agtergrond van die Vatikaan geregeer het?—Lukas 9:58; 1 Petrus 5:1-3.

Pouslike mag en aansien

16, 17. (a) Hoe weet ons dat die vroeë gemeente in Rome nie deur ’n biskop of pous beheer is nie? (b) Hoe het die gebruik van die titel “pous” ontwikkel?

16 Die gemeente in Rome, waar die Christelike waarheid waarskynlik ná Pinkster 33 G.J. verkondig is, was een van die vroeë gemeentes wat die leiding van die apostels en ouere manne in Jerusalem aanvaar het (Handelinge 2:10). Dit het soos enige ander destydse Christengemeente ouere manne gehad, wat as ’n liggaam van opsieners gedien het sonder dat enigeen die voorrang geniet het. Nie een van die eerste opsieners in die gemeente in Rome is deur hul tydgenote as biskoppe of as ’n pous beskou nie, want die monargale bisdom in Rome het toe nog nie ontwikkel nie. Dit is moeilik om te bepaal wanneer die monargale, of eenmansbisdom, ontstaan het. Die getuienis dui aan dat dit in die tweede eeu begin ontwikkel het.—Romeine 16:3-16; Filippense 1:1.

17 Die titel “pous” (uit die Grieks paʹpas, vader) is nie in die eerste twee eeue gebruik nie. Voormalige Jesuïet Michael Walsh verduidelik: “Dit lyk asof ’n Biskop van Rome in die derde eeu vir die eerste keer ‘Pous’ genoem is, en die titel is aan pous Callistus gegee . . . Teen die einde van die vyfde eeu het ‘Pous’ gewoonlik verwys na die Biskop van Rome en niemand anders nie. Maar dit was eers in die elfde eeu dat ’n Pous daarop kon aandring dat die titel net op hom toegepas word.”—An Illustrated History of the Popes.

18. (a) Wie was een van die eerste biskoppe van Rome wat sy gesag laat geld het? (b) Waarop berus die pouslike aanspraak op primaatskap? (c) Wat is die regte vertolking van Mattheüs 16:18, 19?

18 Een van die eerste biskoppe van Rome wat sy gesag laat geld het, was pous Leo I (pous, 440-461 G.J.). Michael Walsh verduidelik voorts: “Leo het hom die vroeër heidense titel Pontifex Maximus toegeëien, wat vandag nog deur die pouse gebruik word en wat tot aan die einde van die vierde eeu deur Romeinse Keisers gebruik is.” Leo I het sy dade gebaseer op die Katolieke vertolking van Jesus se woorde in Mattheüs 16:18, 19. (Sien venster, bladsy 268.) Hy “het gesê dat omdat St. Petrus die vernaamste onder die Apostels was, St. Petrus se kerk voorrang onder die kerke moet geniet” (Man’s Religions). Deur hierdie optrede het Leo I dit duidelik gestel dat hoewel die keiser wêreldlike mag in Konstantinopel in die Ooste gehad het, hý geestelike mag vanuit Rome in die Weste uitgeoefen het. Hierdie mag is verder toegelig toe pous Leo III in 800 G.J. Karel die Grote as keiser van die Heilige Romeinse Ryk gekroon het.

19, 20. (a) Hoe word die pous in ons tyd beskou? (b) Wat is party van die pous se amptelike titels? (c) Watter teenstelling is daar tussen die gedrag van pouse en dié van Petrus?

19 Sedert 1929 het wêreldlike regerings die pous van Rome as die heerser van ’n afsonderlike soewereine staat, die Vatikaanstad, beskou. Gevolglik is die Rooms-Katolieke Kerk die enigste godsdiensorganisasie wat diplomatieke verteenwoordigers, nuntiusse, na die regerings van die wêreld kan stuur (Johannes 18:36). Die pous word met baie titels vereer, onder andere Stedehouer van Jesus Christus, Opvolger van die Prins van die Apostels, Pous van die Universele Kerk, Patriarg van die Weste, Primaat van Italië, Soewerein van die Vatikaanstad. Hy word met prag en praal rondgedra. Hy word soos ’n staatshoof vereer. Let in teenstelling hiermee op hoe Petrus, kwansuis die eerste pous en biskop van Rome, gereageer het toe die Romeinse hoofman oor honderd Cornelius aan sy voete neergeval het om hom hulde te bewys: “Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ’n mens.”—Handelinge 10:25, 26; Mattheüs 23:8-12.

20 Die vraag is nou: Hoe het die afvallige kerk van daardie vroeë eeue ooit soveel mag en aansien verkry? Hoe is die eenvoud en nederigheid van Christus en die vroeë Christene in die trots en vertoon van die Christendom verander?

Die Christendom se fondament

21, 22. Watter groot verandering het kwansuis in die lewe van Konstantyn plaasgevind, en hoe het hy dit uitgebuit?

21 Die keerpunt vir hierdie nuwe godsdiens in die Romeinse Ryk was 313 G.J., die jaar toe keiser Konstantyn hom kwansuis tot “die Christelike godsdiens” bekeer het. Hoe het hierdie bekering plaasgevind? In 306 G.J. het Konstantyn sy vader opgevolg en uiteindelik, saam met Licinius, medeheerser van die Romeinse Ryk geword. Hy is deur sy moeder se toegewydheid aan die Christelike godsdiens en sy eie geloof in goddelike beskerming beïnvloed. Voordat hy in 312 G.J. by die Milviese Brug naby Rome in die stryd getree het, het hy beweer dat hy in ’n droom beveel is om die “Christelike” monogram—die Griekse letters khi en rho, die eerste twee letters van Christus se naam in Grieks—op sy soldate se skilde te verf. * Met hierdie ‘heilige gelukbringer’ het Konstantyn se troepe sy vyand Maxentius verslaan.

22 Kort nadat Konstantyn die slag gewen het, het hy beweer dat hy ’n gelowige geword het, hoewel hy eers kort voor sy dood, sowat 24 jaar later, gedoop is. Toe het hy die steun van die verklaarde Christene in sy ryk verkry deur “die [Griekse letters] Chi-Rho [ ] as sy embleem aan te neem . . . Die Chi-Rho is egter reeds voorheen in heidense sowel as Christelike konteks as ’n koppelletter gebruik.”—The Crucible of Christianity, geredigeer deur Arnold Toynbee.

23. (a) Wanneer het die Christendom volgens een kommentator begin? (b) Waarom kan ons sê dat Christus nie die Christendom gestig het nie?

23 Gevolglik is die fondament van die Christendom gelê. Soos Britse omroeper Malcolm Muggeridge in sy boek The End of Christendom geskryf het: “Die Christendom het met keiser Konstantyn begin.” Maar hy het ook die insigryke kommentaar gemaak: “Jy kan selfs sê dat Christus self die Christendom afgeskaf het voordat dit begin het deur te sê dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie—een van sy verreikendste en belangrikste verklarings.” En een wat die meeste geïgnoreer word deur die Christendom se godsdiens- en politieke leiers.—Johannes 18:36.

24. Watter verandering het ná Konstantyn se “bekering” in die kerk plaasgevind?

24 Vanweë Konstantyn se steun het die Christendom se godsdiens die amptelike staatsgodsdiens van Rome geword. Elaine Pagels, ’n professor in godsdiens, verduidelik: “Christenbiskoppe, wat vroeër gearresteer, gemartel en tereggestel is, is nou van belasting vrygestel en het geskenke uit die keiserlike skatkis, aansien en selfs invloed aan die hof ontvang; hulle kerke het nuwe rykdom, mag en vernaamheid verkry.” Hulle het vriende van die keiser, vriende van die Romeinse wêreld, geword.—Jakobus 4:4.

Konstantyn, kettery en ortodoksie

25. (a) Watter teologiese debat is in Konstantyn se tyd gevoer? (b) Watter situasie het voor die vierde eeu met betrekking tot die begrip van Christus se verhouding tot sy vader geheers?

25 Waarom was Konstantyn se “bekering” so betekenisvol? Omdat hy as keiser ’n groot invloed op die aangeleenthede van die leerstellig verdeelde “Christelike” kerk gehad het, en hy wou eenheid in sy ryk hê. Op daardie tydstip het die Grieks- en Latynsprekende biskoppe ’n debat gevoer oor “die verhouding tussen die ‘Woord’ of ‘Seun’ van ‘God’ wat in Jesus beliggaam was, en ‘God’ self, wat nou ‘die Vader’ genoem is—aangesien sy naam, Jahweh, oor die algemeen vergeet is” (The Columbia History of the World). Party was ten gunste van die Bybelse beskouing dat Christus, die Loʹgos, geskep is en derhalwe ondergeskik aan die Vader is (Mattheüs 24:36; Johannes 14:28; 1 Korinthiërs 15:25-28). Onder hulle was Arius, ’n priester in Alexandrië, Egipte. Trouens, R. P. C. Hanson, ’n professor in die teologie, sê: “Daar is geen teoloog in die Oostelike of die Westelike Kerk voordat die Ariaanse Geskil in die [vierde eeu] uitgebreek het, wat die Seun nie in sekere sin as ondergeskik aan die Vader beskou nie.”—The Search for the Christian Doctrine of God.

26. Wat was die situasie teen die begin van die vierde eeu wat die Drie-eenheidsleer betref?

26 Ander het gemeen dat daardie beskouing van Christus se ondergeskiktheid kettery is en was meer geneig om Jesus as die “vleesgeworde God” te aanbid. Tog sê professor Hanson dat die tydperk onder bespreking (die vierde eeu) “nie ’n geskiedenis was van hoe ’n ooreengekome en gevestigde [Trinitariese] ortodoksie teen die aanvalle van openlike kettery [Arianisme] verdedig is nie. Daar was tot op daardie tydstip geen ortodokse leerstelling oor die hoofonderwerp van bespreking nie.” Hy sê voorts: “Elke kant het gemeen dat die gesag van die Skrif hulle steun. Elk het die ander as onortodoks, ontradisioneel en onskriftuurlik bestempel.” Die godsdiensgeledere was baie verdeeld oor hierdie teologiese geskil.—Johannes 20:17.

27. (a) Wat het Konstantyn gedoen om die debat oor Jesus se natuur te probeer afhandel? (b) In watter mate het die Konsilie van Nicea die kerk verteenwoordig? (c) Het die Niceense Geloofsbelydenis die geskil oor die ontwikkelende Drie-eenheidsleer bygelê?

27 Konstantyn wou eenheid in sy ryk hê, en in 325 G.J. het hy ’n konsilie van sy biskoppe belê in Nicea, wat in die Oostelike, Griekssprekende gebied van sy ryk geleë was, aan die anderkant van die Bosporus en oorkant die nuwe stad Konstantinopel. Daar word gesê dat 250 tot 318 biskoppe, net ’n minderheid van die totaal, dit bygewoon het, en die meeste van die aanwesiges was uit die Griekssprekende gebied. Selfs pous Sylvester I was afwesig. * Na ’n hewige debat het daardie onverteenwoordigende konsilie die Niceense Belydenis, met sy sterk partydigheid vir Trinitariese denke, geformuleer. Maar dit het nie die leerstellige geskil bygelê nie. Dit het nie die rol van God se heilige gees in die Trinitariese teologie verklaar nie. Debatte is dekades lank gevoer, en nog konsilies, die gesag van verskillende keisers en die gebruik van verbooie was nodig om uiteindelik gelykvormigheid te bereik. Dit was ’n oorwinning vir die teologie en ’n nederlaag vir diegene wat by die Skrif gebly het.—Romeine 3:3, 4.

28. (a) Wat was party van die gevolge van die Drie-eenheidsleer? (b) Waarom is daar geen Bybelse grondslag vir die verering van Maria as die “Moeder van God” nie?

28 Deur die eeue heen was een gevolg van die leerstelling oor die Drie-eenheid dat die een ware God, Jehovah, in die moeras van die Christendom se God-Christus-teologie verberg is. * Die volgende logiese gevolg van daardie teologie was dat as Jesus werklik die vleesgeworde God was, sy moeder, Maria, uiteraard die “Moeder van God” was. Dit het deur die jare heen meegebring dat Maria op talle maniere vereer word, en dít ondanks die feit dat Maria nooit as ’n besonder belangrike persoon in die Bybel gemeld word nie, maar net as die nederige biologiese moeder van Jesus * (Lukas 1:26-38, 46-56). Die Rooms-Katolieke Kerk het die leerstelling oor die Moeder van God deur die eeue heen ontwikkel en versier, sodat baie Katolieke Maria met veel meer ywer vereer as waarmee hulle Jehovah God aanbid.

Skeuringe in die Christendom

29. Teen watter ontwikkeling het Paulus gewaarsku?

29 Nog ’n kenmerk van afvalligheid is dat dit verdeeldheid en versplintering veroorsaak. Die apostel Paulus het voorspel: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.” Paulus het die Korinthiërs duidelike raad gegee toe hy gesê het: “Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.” Ondanks Paulus se vermaning het afvalligheid en verdeeldheid gou wortelgeskiet.—Handelinge 20:29, 30; 1 Korinthiërs 1:10.

30. Watter situasie het gou in die vroeë kerk ontwikkel?

30 Binne ’n paar dekades ná die dood van die apostels was daar reeds skeuringe onder die Christene. Will Durant sê: “Celsus [’n tweede-eeuse teenstander van die Christelike godsdiens] het sarkasties opgemerk dat Christene ‘in talle faksies verdeel is omdat elke persoon sy eie party wil hê’. Omstreeks 187 [G.J.] het Irenaeus twintig vertakkinge van die Christelike godsdiens aangegee; omstreeks 384 [G.J.] het Epiphanes tagtig getel.”—The Story of Civilization: Part III—Caesar and Christ.

31. Hoe het ’n groot skeuring in die Katolieke Kerk ontstaan?

31 Konstantyn het die Oostelike, Griekse, deel van sy ryk begunstig deur ’n groot nuwe hoofstad te laat bou in wat vandag Turkye is. Hy het dit Konstantinopel (hedendaagse Istanbul) genoem. Die gevolg was dat die Katolieke Kerk deur die eeue heen deur taal sowel as geografie gepolariseer en verdeel is—Latynsprekende Rome in die Weste teenoor Griekssprekende Konstantinopel in die Ooste.

32, 33. (a) Wat was verdere oorsake van verdeeldheid in die Christendom? (b) Wat sê die Bybel oor die gebruik van beelde in aanbidding?

32 Verdelende debatte oor aspekte van die ontwikkelende Drie-eenheidsleerstelling het verdere beroering in die Christendom veroorsaak. Nog ’n konsilie is in 451 G.J. in Chalcedon belê om die karakter van Christus se “nature” te definieer. Hoewel die Weste die belydenis aanvaar het wat deur hierdie konsilie uitgereik is, het Oostelike kerke nie daarmee saamgestem nie. Dit het gelei tot die stigting van die Koptiese Kerk in Egipte en Abessinië en die “Jakobitiese” kerke van Sirië en Armenië. Die eenheid van die Katolieke Kerk is voortdurend bedreig deur verdeeldheid oor duister teologiese aangeleenthede, veral aangaande die definisie van die Drie-eenheidsleer.

33 Nog ’n oorsaak van verdeeldheid was die verering van beelde. Gedurende die agtste eeu het die Oostelike biskoppe teen hierdie afgodediens in opstand gekom en hulle sogenaamd ikonoklastiese, of beeldbrekende, tydperk binnegegaan. Hulle het later weer ikone begin gebruik.—Exodus 20:4-6; Jesaja 44:14-18.

34. (a) Wat het tot ’n groot skeuring in die Katolieke Kerk gelei? (b) Wat was die eindresultaat van hierdie skeuring?

34 Nog ’n groot toets het ontstaan toe die Westelike kerk die Latynse woord filioque (“en van die Seun”) by die Niceense Geloofsbelydenis gevoeg het om aan te dui dat die Heilige Gees van die Vader sowel as die Seun uitgaan. Hierdie sesde-eeuse tekswysiging het uitgeloop op ’n skeuring toe “’n sinode [van biskoppe] die pous in 876 in Konstantinopel veroordeel het weens sy politieke bedrywighede sowel as die feit dat hy nie die kettery van die filioque-klousule reggestel het nie. Hierdie daad was ’n deel van die Ooste se algehele verwerping van die pous se aanspraak op universele regsmag oor die Kerk” (Man’s Religions). In 1054 het die pous se verteenwoordiger die patriarg van Konstantinopel geëkskommuniseer, en hý weer het die pous vervloek. Dié skeuring het uiteindelik gelei tot die stigting van die Oosters-Ortodokse Kerke—Griekse, Russiese, Roemeense, Poolse, Bulgaarse, Serwiese en ander selfbesturende kerke.

35. Wie was die Waldense, en hoe het hulle opvattings van dié van die Katolieke Kerk verskil?

35 ’n Ander beweging het ook beroering in die kerk begin veroorsaak. In die 12de eeu het Petrus Waldus, van Lyon, Frankryk, “’n paar geleerdes in diens geneem om die Bybel in die langue d’oc [’n streektaal] van Suid-Frankryk te vertaal. Hy het die vertaling ywerig bestudeer en tot die gevolgtrekking gekom dat Christene soos die apostels moet lewe—sonder persoonlike eiendom” (The Age of Faith, deur Will Durant). Hy het ’n predikingsbeweging gestig wat as die Waldense bekend geword het. Hulle het die Katolieke priesterdom, aflate, die vaevuur, transsubstansiasie en ander tradisionele Katolieke gebruike en opvattings verwerp. Hulle het na ander lande versprei. Die Konsilie van Toulouse het hulle in 1229 probeer stuit deur die besit van skriftuurlike boeke te verbied. Slegs liturgiese boeke is toegelaat en dan alleenlik in die dooie taal Latyn. Maar verdere godsdiensverdeeldheid en -vervolging het voorgelê.

Die vervolging van die Albigense

36, 37. (a) Wie was die Albigense, en wat het hulle geglo? (b) Hoe is die Albigense onderdruk?

36 Nog ’n beweging is in die 12de eeu in die suide van Frankryk gestig—die Albigense (ook bekend as Kathare), vernoem na die dorp Albi, waar hulle baie volgelinge gehad het. Hulle het hul eie selibaat-geestelikeklas gehad, wat verwag het dat die mense hulle met eerbied groet. Hulle het geglo dat Jesus tydens sy laaste aandmaal beeldspraak gebruik het toe hy van die brood gesê het: “Dit is my liggaam” (Mattheüs 26:26). Hulle het die leerstellings oor die Drie-eenheid, die Maagdelike Geboorte, helse vuur en vaevuur verwerp. Hulle het dus daadwerklik twyfel laat ontstaan oor die leerstellings van Rome. Pous Innocentius III het die vervolging van die Albigense gelas. Hy het gesê: “Onderwerp hulle indien nodig met die swaard.”

37 ’n Kruistog is teen die “ketters” op tou gesit, en die Katolieke kruisvaarders het 20 000 mans, vroue en kinders in Béziers, Frankryk, afgemaai. Na baie bloedvergieting het vrede in 1229 gekom toe die Albigense verslaan is. Die konsilie van Narbonne “het leke verbied om enige deel van die Bybel te besit”. Die wortel van die probleem vir die Katolieke Kerk was blykbaar die bestaan van die Bybel in die volkstaal.

38. Wat was die Inkwisisie, en hoe het dit gewerk?

38 Die kerk se volgende stap was die stigting van die Inkwisisie, ’n geregshof wat kettery moes onderdruk. Daar was reeds ’n gees van onverdraagsaamheid onder die mense, wat bygelowig was en baie gewillig was om “ketters” te lynch en te vermoor. Die toestande in die 13de eeu het die kerk se magsmisbruik in die hand gewerk. Maar “ketters wat deur die Kerk veroordeel is, moes aan die ‘wêreldlike mag’—die plaaslike owerheid—oorgelewer word en dan verbrand word” (The Age of Faith). Deur die eintlike teregstellings aan die wêreldlike owerheid oor te laat, sou die kerk oënskynlik vry wees van bloedskuld. Die Inkwisisie het ’n tydperk van godsdiensvervolging ingelui wat uitgeloop het op misbruike, valse en anonieme aanklagte, moord, diefstal, marteling en die stadige dood van duisende wat dit gewaag het om anders as die kerk te glo. Godsdiensvryheid is onderdruk. Was daar enige hoop vir mense wat na die ware God gesoek het? Hoofstuk 13 sal daardie vraag beantwoord.

39. Watter godsdiensbeweging het in die sewende eeu ontstaan, en hoe?

39 Terwyl al hierdie dinge in die Christendom gebeur het, het een Arabier in die Midde-Ooste standpunt ingeneem teen die godsdiensonverskilligheid en afgodediens van sy eie volk. Hy het in die sewende eeu ’n godsdiensbeweging gestig waaraan feitlik eenmiljard mense hulle vandag in gehoorsaamheid onderwerp. Daardie beweging is die Islām. Ons volgende hoofstuk sal die geskiedenis van sy profeet-stigter ondersoek en party van sy opvattings en die bron daarvan verduidelik.

[Voetnote]

^ par. 10 Die uitdrukkings “onsterflike siel”, “helse vuur”, “vaevuur” en “Limbus” kom nêrens in die oorspronklike Hebreeus en Grieks van die Bybel voor nie. In teenstelling daarmee verskyn die Griekse woord vir “opstanding” (a·naʹsta·sis) 42 keer.

^ par. 14 Die Griekse woord e·piʹsko·pos beteken letterlik ‘iemand wat toesig hou’. In Latyn het dit episcopus geword, wat uiteindelik in Afrikaans in “biskop” verander is.

^ par. 21 ’n Gewilde legende lui dat Konstantyn ’n visioen van ’n kruis met die Latynse woorde “In hoc signo vinces” (In hierdie teken sal jy oorwin) gesien het. Party geskiedskrywers sê dat dit heel waarskynlik in Grieks was: “En toutoi nika” (Oorwin hierin). Sommige geleerdes trek die legende in twyfel omdat dit anachronismes bevat.

^ par. 27 The Oxford Dictionary of Popes sê aangaande Sylvester I: “Hoewel hy die pous was gedurende byna twee-en-twintig jaar van Konstantyn die Grote se heerskappy (306-37), ’n tydvak van dramatiese ontwikkelinge in die kerk, het hy blykbaar ’n onbelangrike rol gespeel in die groot gebeure wat plaasgevind het. . . . Konstantyn het beslis biskoppe in sy vertroue geneem en sy kerkbeleid saam met hulle geformuleer; maar [Sylvester] was nie een van hulle nie.”

^ par. 28 Sien die brosjure met 32 bladsye Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, wat in 1989 deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee is, vir ’n uitvoerige bespreking van die debat oor die Drie-eenheid.

^ par. 28 Maria, die moeder van Jesus, word in 24 tekste in die vier Evangelies en een keer in Handelinge by name of as sy moeder gemeld. Sy word in geen apostoliese brief gemeld nie.

[Studievrae]

[Venster op bladsy 262]

Vroeë Christene en heidense Rome

“Namate die Christelike beweging binne die Romeinse Ryk na vore gekom het, het dit ook vir heidense bekeerlinge ’n uitdaging gebied om hulle gesindhede en gedrag te verander. Baie heidene wat grootgemaak is met die beskouing dat die huwelik in wese ’n maatskaplike en ekonomiese reëling is, dat homoseksuele verhoudings ’n verwagte element van manlike opvoeding is, dat manlike en vroulike prostitusie gebruiklik sowel as wettig is en dat egskeiding, aborsie, geboortebeperking en die vermoording van ongewenste babas aangeleenthede van praktiese raadsaamheid is, het tot verbasing van hulle gesinne die Christelike boodskap aangeneem, wat teen hierdie gebruike gekant was.”—Adam, Eve, and the Serpent, deur Elaine Pagels.

[Venster op bladsy 266]

Die Christelike godsdiens versus die Christendom

Porphyrius, ’n derde-eeuse filosoof van Tirus en ’n teenstander van die Christelike godsdiens, het die vraag geopper “of volgelinge van Jesus, eerder as Jesus self, verantwoordelik was vir die kenmerkende struktuur van die Christelike godsdiens. Porphyrius (en Julianus [vierde-eeuse Romeinse keiser en teenstander van die Christelike godsdiens]) het op grond van die Nuwe Testament getoon dat Jesus homself nie God genoem het nie en dat hy nie oor homself gepreek het nie, maar oor die een God, die God van almal. Dit was sy volgelinge wat sy lering verwerp het en hul eie nuwe weg ingevoer het waarin Jesus (nie die een God nie) aanbid en vereer is. . . . [Porphyrius] het sy vinger op ’n geskil gelê wat Christendenkers kwel: berus die Christelike geloof op die prediking van Jesus of op die menings wat sy dissipels in die geslagte na sy dood gevorm het?”—The Christians as the Romans Saw Them.

[Venster op bladsy 268]

Petrus en die pousdom

In Mattheüs 16:18 het Jesus vir die apostel Petrus gesê: “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus [Grieks, Peʹtros], en op hierdie rots [Grieks, peʹtra] sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” Op grond hiervan beweer die Katolieke Kerk dat Jesus sy kerk gebou het op Petrus, wat volgens hulle die eerste van ’n ononderbroke lyn van biskoppe van Rome was, en op Petrus se opvolgers.

Wie was die rots wat Jesus in Mattheüs 16:18 gemeld het, Petrus of Jesus? Die konteks toon dat die identifikasie van Jesus as “die Christus, die Seun van die lewende God”, ter sprake was, soos Petrus self bely het (Mattheüs 16:16). Dit is derhalwe logies dat Jesus self daardie vaste rotsfondament van die kerk sou wees, en nie Petrus wat Christus later drie keer sou verloën nie.—Mattheüs 26:33-35, 69-75.

Hoe weet ons dat Christus die hoeksteen is? Deur Petrus se eie getuienis, toe hy geskryf het: “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is . . . daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ’n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.” Paulus het ook gesê: “[Julle is] gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is.”—1 Petrus 2:4-8; Efesiërs 2:20.

Daar is geen getuienis in die Skrif of geskiedenis dat Petrus die voorrang onder sy portuurs geniet het nie. Hy meld dit nie in sy eie briewe nie, en die ander drie Evangelies—waaronder dié van Markus (wat Petrus blykbaar aan Markus vertel het)—meld nie eens Jesus se woorde aan Petrus nie.—Lukas 22:24-26; Handelinge 15:6-22; Galasiërs 2:11-14.

Daar is nie eens enige absolute bewys dat Petrus ooit in Rome was nie (1 Petrus 5:13). Toe Paulus Jerusalem besoek het, “het Jakobus en Cefas [Petrus] en Johannes, wat as pilare geag is”, hom gehelp. Petrus was dus destyds een van ten minste drie pilare in die gemeente. Hy was nie ’n “pous” nie en hy was nie bekend as sodanig of as ’n “aartsbiskop” in Jerusalem nie.—Galasiërs 2:7-9; Handelinge 28:16, 30, 31.

[Prent op bladsy 264]

Die Christendom se driehoek van die verborge Drie-eenheid

[Prent op bladsy 264]

Die Vatikaan (vlag hieronder) stuur diplomate na die wêreld se regerings

[Prente op bladsy 275]

Die Konsilie van Nicea het die grondslag gelê vir wat later die Drie-eenheidsleer sou wees

[Prente op bladsy 277]

Die verering van Maria met ’n kind, in die middel, is ’n nabootsing van die veel ouer aanbidding van heidense godinne—links: Egipte se Isis en Horus; regs: Rome se Mater Matuta

[Prente op bladsy 278]

Oosters-Ortodokse kerke—Sveti Nikolaj, Sofia, Bulgarye, en, onder, St. Wladimir, New Jersey, VSA

[Prent op bladsy 281]

“Christelike” kruisvaarders is georganiseer nie net om Jerusalem van die Islām te bevry nie, maar ook om “ketters”, soos die Waldense en die Albigense, uit te delg

[Prente op bladsy 283]

Tomás de Torquemada, ’n Dominikaanse monnik, het die wrede Spaanse Inkwisisie gelei, waartydens martel- instrumente gebruik is om bekentenisse af te pers