Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Eindnotas

Eindnotas

1 JEHOVAH

God se naam is Jehovah, en volgens baie geleerdes beteken dit “Hy laat word”. Jehovah is die almagtige God, en hy het alles geskep. Hy het die mag om enigiets te doen wat hy besluit om te doen.

In Hebreeus is God se naam met vier letters geskryf. In Afrikaans word dit voorgestel deur JHWH of JHVH. God se naam verskyn byna 7 000 keer in die oorspronklike Hebreeuse teks van die Bybel. Mense regoor die wêreld gebruik verskillende vorme van die naam Jehovah, en hulle spreek dit uit op die manier wat algemeen in hulle taal is.

Hfst. 1, par. 15

2 DIE BYBEL IS “DEUR GOD GEÏNSPIREER”

Die Bybel kom van God af, maar hy het mense gebruik om dit te skryf. Dit is soos wanneer ’n sakeman vir sy sekretaresse sê om ’n brief te skryf wat sy gedagtes bevat. God het sy heilige gees gebruik om die Bybelskrywers te lei om sy gedagtes neer te skryf. God se gees het hulle op verskillende maniere gelei. Soms het hy hulle visioene of drome gegee, wat hulle dan neergeskryf het.

Hfst. 2, par. 5

3 BEGINSELS

Dit is basiese waarhede in die Bybel wat ons help om goeie besluite te neem. Byvoorbeeld, die beginsel “slegte assosiasie bederf goeie gewoontes” leer ons dat die mense met wie ons assosieer, ’n goeie of ’n slegte uitwerking op ons kan hê (1 Korintiërs 15:33). En die beginsel “wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes” leer ons dat ons nie die gevolge van ons dade kan vermy nie. – Galasiërs 6:7.

Hfst. 2, par. 12

4 PROFESIE

Dit is ’n boodskap van God af. Dit kan ’n verduideliking wees van God se wil, ’n sedelike riglyn, ’n opdrag of ’n oordeelsboodskap. Dit kan ook ’n boodskap wees oor iets wat in die toekoms sal gebeur. Daar is baie profesieë in die Bybel wat alreeds waar geword het.

Hfst. 2, par. 13

5 PROFESIEË OOR DIE MESSIAS

Al die Bybelprofesieë oor die Messias is deur Jesus vervul. Sien die venster “ Profesieë oor die Messias”.

Hfst. 2, par. 17, vtn.

6 HOEKOM JEHOVAH DIE AARDE GESKEP HET

Jehovah het die aarde geskep om ’n paradystuiste te wees vir die mense wat hom liefhet. Hy wil nog steeds hê dat dit moet gebeur. Binnekort sal God goddeloosheid verwyder en die ewige lewe gee aan dié wat hom aanbid.

Hfst. 3, par. 1

7 SATAN DIE DUIWEL

Satan is die engel wat die opstand teen God begin het. Hy word Satan genoem, wat “teenstander” beteken, want hy veg teen Jehovah. Hy word ook Duiwel genoem, wat “lasteraar” beteken. Hierdie naam is aan hom gegee omdat hy leuens oor God vertel en mense mislei.

Hfst. 3, par. 4

8 ENGELE

Jehovah het die engele geskep lank voordat hy die aarde geskep het. Hulle is geskep om in die hemel te woon. Daar is meer as ’n honderdmiljoen engele (Daniël 7:10). Hulle het name en verskillende persoonlikhede. En lojale engele is nederig en wil nie hê dat mense hulle moet aanbid nie. Sekere engele het groter verantwoordelikhede as ander. Die engele ontvang verskillende toewysings, soos om voor Jehovah se troon te dien, sy boodskappe oor te dra, sy knegte op die aarde te beskerm en te lei, sy oordele te voltrek en die predikingswerk te ondersteun (Psalm 34:7; Openbaring 14:6; 22:8, 9). In die toekoms sal hulle saam met Jesus in die oorlog van Armageddon veg. – Openbaring 16:14, 16; 19:14, 15.

Hfst. 3, par. 5; Hfst. 10, par. 1

9 SONDE

Enigiets wat ons voel, dink of doen wat teen Jehovah of sy wil is, is sonde. Omdat sonde ons verhouding met God skade aandoen, het hy ons wette en beginsels gegee wat ons help om nie opsetlik te sondig nie. In die begin het Jehovah alles volmaak geskep, maar toe Adam en Eva gekies het om ongehoorsaam aan Jehovah te wees, het hulle gesondig en was hulle nie meer volmaak nie. Hulle het oud geword en gesterf, en omdat ons sonde van Adam geërf het, word ons ook oud en sterf ons.

Hfst. 3, par. 7; Hfst. 5, par. 3

10 ARMAGEDDON

Dit is God se oorlog waarin hy Satan se wêreld en alle goddeloosheid sal vernietig.

Hfst. 3, par. 13; Hfst. 8, par. 18

11 GOD SE KONINKRYK

God se Koninkryk is ’n regering wat Jehovah in die hemel opgerig het. Jesus Christus regeer as die Koning daarvan. In die toekoms sal Jehovah die Koninkryk gebruik om van alle goddeloosheid ontslae te raak. God se Koninkryk sal oor die aarde regeer.

Hfst. 3, par. 14

12 JESUS CHRISTUS

God het Jesus geskep voordat hy enigiets anders geskep het. Jehovah het Jesus na die aarde toe gestuur om vir alle mense te sterf. Nadat Jesus doodgemaak is, het Jehovah hom uit die dood opgewek. Jesus regeer nou in die hemel as Koning van God se Koninkryk.

Hfst. 4, par. 2

13 DIE PROFESIE VAN DIE 70 WEKE

Die Bybel het voorspel wanneer die Messias sou verskyn. Dit sou aan die einde van ’n tydperk wees wat die 69 weke genoem word. Hierdie tydperk het in die jaar 455 VHJ begin en in die jaar 29 HJ geëindig.

Hoe weet ons dat dit in 29 HJ geëindig het? Die 69 weke het in die jaar 455 VHJ begin toe Nehemia in Jerusalem aangekom het en die stad begin herbou het (Daniël 9:25; Nehemia 2:1, 5-8). ’n Week bestaan uit sewe dae, maar die weke in hierdie profesie is nie weke van sewe dae nie, maar weke van sewe jaar, volgens die profetiese reël “’n dag vir ’n jaar” (Numeri 14:34; Esegiël 4:6). Dit beteken dat elke week sewe jaar lank is en dat die 69 weke gelyk is aan 483 jaar (69 x 7). As ons vanaf die jaar 455 VHJ tel, bring 483 jaar ons by die jaar 29 HJ. Dit is presies die jaar waarin Jesus gedoop is en die Messias geword het! – Lukas 3:1, 2, 21, 22.

Dieselfde profesie het van nog ’n week gepraat, wat nog sewe jaar is. Gedurende hierdie tydperk, in die jaar 33 HJ, sou die Messias doodgemaak word. En vanaf die jaar 36 HJ sou die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig word aan al die nasies en nie net aan die Jode nie. – Daniël 9:24-27.

Hfst. 4, par. 7

14 DIE VALSE LERING VAN DIE DRIE-EENHEID

Die Bybel leer dat Jehovah God die Skepper is en dat hy Jesus voor alle ander dinge geskep het (Kolossense 1:15, 16). Jesus is nie God die Almagtige nie. Jesus het nooit gesê dat hy aan God gelyk is nie. Hy het eerder gesê: “Die Vader is groter as ek” (Johannes 14:28; 1 Korintiërs 15:28). Maar party godsdienste leer dat God ’n Drie-eenheid is, dat God drie persone in een is: die Vader, die Seun en die heilige gees. Die woord “Drie-eenheid” kom nie in die Bybel voor nie. Dit is ’n valse lering.

Die heilige gees is God se onsigbare, werkende krag. Hy gebruik dit om sy wil te doen. Dit is nie ’n persoon nie. Byvoorbeeld, vroeë Christene is “met heilige gees gevul”, en Jehovah het gesê: ‘Ek sal van my gees op alle soorte mense uitstort.’ – Handelinge 2:1-4, 17.

Hfst. 4, par. 12; Hfst. 15, par. 17

15 DIE KRUIS

Hoekom gebruik ware Christene nie die kruis nie?

  1. Die kruis word al lank in valse godsdiens gebruik. In vroeë tye is die kruis gebruik in natuuraanbidding en in seksrituele van mense wat nie die ware God aanbid het nie. Gedurende die eerste 300 jaar ná Jesus se dood het Christene nie die kruis in hulle aanbidding gebruik nie. Jare later het die Romeinse keiser Konstantyn die kruis ’n simbool van die Christelike godsdiens gemaak. Die simbool is gebruik om die Christelike godsdiens gewilder te probeer maak. Maar die kruis het niks met Jesus Christus te doen gehad nie. Die New Catholic Encyclopedia verduidelik: “Die kruis word in voor-Christelike en in nie-Christelike kulture gevind.”

  2. Jesus het nie aan ’n kruis gesterf nie. Die Griekse woorde wat as “kruis” vertaal word, beteken basies “’n regop paal”, “’n stuk hout” of “’n boom”. The Companion Bible verduidelik: “Daar is niks in die Grieks van die [Nuwe Testament] wat enigsins verwys na twee stukke hout nie.” Jesus het aan ’n regop paal gesterf.

  3. Jehovah wil nie hê dat ons beelde of simbole moet gebruik wanneer ons hom aanbid nie. – Eksodus 20:4, 5; 1 Korintiërs 10:14.

Hfst. 5, par. 12

16 DIE GEDENKMAAL

Jesus het sy dissipels beveel om sy dood te herdenk. Hulle doen dit elke jaar op 14 Nisan, dieselfde datum waarop die Israeliete die Pasga gevier het. Brood en wyn, wat Jesus se liggaam en bloed verteenwoordig, word by die Gedenkmaal omgestuur. Mense wat saam met Jesus in die hemel sal regeer, eet van die brood en drink van die wyn. Mense wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, woon die Gedenkmaal by, maar hulle eet nie van die brood en drink nie van die wyn nie.

Hfst. 5, par. 21

17 SIEL

In die Bybel kan die woord “siel” verwys na (1) ’n persoon, (2) ’n dier of (3) die lewe van ’n persoon of ’n dier. Hier is ’n paar voorbeelde:

  • ’n Persoon. “In Noag se dag [is] ’n paar mense, naamlik agt siele, veilig deur die water gebring” (1 Petrus 3:20). Hier verwys die woord “siele” na mense – Noag en sy vrou, hulle drie seuns en die seuns se vrouens.

  • ’n Dier. “Toe het God gesê: ‘Laat die waters wemel van lewende diere [“siele”, voetnoot], en laat vlieënde diere bo die aarde in die hemel vlieg.’ Toe het God gesê: ‘Laat die aarde lewende diere [“siele”, voetnoot] volgens hulle soorte voortbring: mak diere, kruipende diere en wilde diere van die aarde, volgens hulle soorte.’ En dit was so.” – Genesis 1:20, 24.

  • Die lewe van ’n persoon of ’n dier. Jehovah het vir Moses gesê: “Al die manne wat jou wou doodmaak [“wat jou siel gesoek het”, voetnoot], het gesterf” (Eksodus 4:19). Toe Jesus op die aarde was, het hy gesê: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder gee sy lewe [“siel”, voetnoot] vir die skape.” – Johannes 10:11.

    En wanneer iemand iets met sy “hele siel” doen, beteken dit dat hy dit gewillig doen en dat hy sy bes doen (Matteus 22:37; Deuteronomium 6:5). Die woord “siel” kan ook gebruik word om die begeerte of die eetlus van ’n lewende skepsel te beskryf. ’n Dooie persoon of ’n dooie liggaam kan ook ’n dooie siel genoem word. – Numeri 6:6; Spreuke 23:2; Jesaja 56:11; Haggai 2:13.

Hfst. 6, par. 5; Hfst. 15, par. 17

18 GEES

Die Hebreeuse en Griekse woorde wat in die Nuwe Wêreld-vertaling as “gees” vertaal word, kan verskillende dinge beteken. Maar dit verwys altyd na iets wat mense nie kan sien nie, soos die wind of die asem van mense of diere. Hierdie woorde kan ook verwys na geespersone en na die heilige gees, wat God se werkende krag is. Die Bybel leer nie dat ’n deel van ’n persoon ná sy dood voortleef nie. – Eksodus 35:21; Psalm 104:29; Matteus 12:43; Lukas 11:13.

Hfst. 6, par. 5; Hfst. 15, par. 17

19 GEHENNA

Gehenna is die naam van ’n vallei naby Jerusalem waar vullis verbrand en vernietig is. Daar is geen bewyse dat diere of mense in Jesus se tyd in hierdie vallei gemartel of lewend verbrand is nie. Gehenna simboliseer dus nie ’n onsigbare plek waar mense wat gesterf het, gemartel en vir ewig gebrand word nie. Toe Jesus gepraat het van persone wat in Gehenna gegooi word, het hy van ewige vernietiging gepraat. – Matteus 5:22; 10:28.

Hfst. 7, par. 20

20 DIE ONSE VADER

Dit is die gebed wat Jesus gebruik het om sy dissipels te leer hoe om te bid. Dit word ook die modelgebed genoem. Dit sê byvoorbeeld:

  • “Laat u naam geheilig word”

    Ons bid dat Jehovah sy naam, of reputasie, moet suiwer van al die leuens wat oor hom versprei is. Dan sal almal in die hemel en op die aarde God se naam eer en respekteer.

  • “Laat u Koninkryk kom”

    Ons bid dat God se regering Satan se goddelose wêreld moet vernietig, oor die aarde moet regeer en die aarde ’n paradys moet maak.

  • “Laat u wil plaasvind op die aarde”

    Ons bid dat God se wil vir die aarde vervul moet word sodat gehoorsame, volmaakte mense vir ewig in die Paradys kan lewe. Dit is wat Jehovah wou hê toe hy die mens geskep het.

Hfst. 8, par. 2

21 DIE LOSPRYS

Jehovah het die losprys voorsien om mense van sonde en die dood te red. Die losprys was die prys wat nodig was om die volmaakte menselewe terug te koop wat die eerste man, Adam, verloor het en om die mens se beskadigde verhouding met Jehovah te herstel. God het Jesus na die aarde toe gestuur sodat hy vir alle sondaars kon sterf. As gevolg van Jesus se dood het alle mense die geleentheid om vir ewig te lewe en volmaak te word.

Hfst. 8, par. 21; Hfst. 9, par. 13

22 HOEKOM IS DIE JAAR 1914 SO BELANGRIK?

Uit die profesie in Daniël hoofstuk 4 leer ons dat God sy Koninkryk in 1914 sou oprig.

Die profesie: Jehovah het vir koning Nebukadnesar ’n profetiese droom gegee oor ’n groot boom wat afgekap is. In die droom is ’n band van yster en ’n band van koper om die boomstomp gesit sodat dit “sewe tye” lank nie sou groei nie. Daarna sou die boom weer groei. – Daniël 4:1, 10-16.

Wat die profesie vir ons beteken: Die boom stel God se heerskappy voor. Jehovah het baie jare lank konings in Jerusalem gebruik om oor die nasie Israel te regeer (1 Kronieke 29:23). Maar daardie konings het ongehoorsaam geword, en hulle heerskappy het geëindig. Jerusalem is in die jaar 607 VHJ vernietig. Dit was die begin van die “sewe tye” (2 Konings 25:1, 8-10; Esegiël 21:25-27). Toe Jesus gesê het: “Jerusalem sal deur die nasies vertrap word totdat die vasgestelde tye van die nasies verby is”, het hy van die “sewe tye” gepraat (Lukas 21:24). Die “sewe tye” het dus nie geëindig toe Jesus op die aarde was nie. Jehovah het belowe om ’n Koning aan die einde van die “sewe tye” aan te stel. Die heerskappy van hierdie nuwe Koning, Jesus, sou vir ewig baie seëninge bring vir God se volk regoor die aarde. – Lukas 1:30-33.

Hoe lank is die “sewe tye”? Die “sewe tye” was 2 520 jaar lank. Hoe kom ons by die syfer 2 520 uit? Die Bybel sê dat drie en ’n half tye gelyk is aan 1 260 dae (Openbaring 12:6, 14). “Sewe tye” is dus twee keer so lank, dit wil sê 2 520 dae. Die 2 520 dae is gelyk aan 2 520 jaar as gevolg van die profetiese reël “’n dag vir ’n jaar”. – Numeri 14:34; Esegiël 4:6.

As ons vanaf die jaar 607 VHJ tel, bring 2 520 jaar ons by die jaar 1914. Dit was die jaar toe Jehovah Jesus, die Messias, Koning van God se Koninkryk in die hemel gemaak het.

Hfst. 8, par. 23

23 MIGAEL, DIE AARTSENGEL

Die woord “aartsengel” beteken “hoof van die engele”. Die Bybel noem net een aartsengel, en sy naam is Migael. – Daniël 12:1; Judas 9.

Migael is die Leier van God se leërmag van getroue engele. Openbaring 12:7 sê: ‘Migael en sy engele het teen die draak en sy engele geveg.’ Die boek Openbaring sê dat Jesus die Leier van God se leërmag is. Migael is dus ’n ander naam vir Jesus. – Openbaring 19:14-16.

Hfst. 9, par. 4

24 DIE LAASTE DAE

“Die laaste dae” verwys na die tydperk net voordat God se Koninkryk Satan se wêreld vernietig. Gedurende hierdie tydperk sou betekenisvolle dinge op die aarde plaasvind. Ander uitdrukkings, soos “die einde van die wêreldstelsel” en “die teenwoordigheid van die Seun van die mens”, word in Bybelprofesieë gebruik om na dieselfde tydperk te verwys (Matteus 24:3, 27, 37). “Die laaste dae” het begin toe God se Koninkryk in 1914 in die hemel begin regeer het en sal eindig wanneer Satan se wêreld by Armageddon vernietig word. – 2 Timoteus 3:1; 2 Petrus 3:3.

Hfst. 9, par. 5

25 OPSTANDING

Wanneer God iemand opwek wat gesterf het, word dit ’n opstanding genoem. Nege opstandings word in die Bybel genoem. Elia, Elisa, Jesus, Petrus en Paulus het mense opgewek. Hulle kon dit net doen met behulp van God se krag. Jehovah belowe om “die regverdiges en die onregverdiges” tot lewe op die aarde op te wek (Handelinge 24:15). Die Bybel praat ook van ’n hemelse opstanding. Dit vind plaas wanneer diegene wat deur God gesalf is, dit wil sê gekies is, opgewek word om saam met Jesus in die hemel te lewe. – Johannes 5:28, 29; 11:25; Filippense 3:11; Openbaring 20:5, 6.

Hfst. 9, par. 13

26 DEMONISME (SPIRITISME)

Demonisme of spiritisme is die slegte gebruik om met geeste te probeer kommunikeer. Die kommunikasie kan direk wees of deur iemand anders, soos ’n toordokter of ’n spiritistiese medium, dit wil sê ’n persoon wat sê dat hy met die dooies kan kommunikeer of die toekoms kan voorspel. Mense wat spiritisme beoefen, doen dit omdat hulle die valse lering glo dat die mens se gees ná die dood voortleef en ’n magtige spook word. Die demone probeer mense ook beïnvloed om ongehoorsaam aan God te wees. Astrologie, waarsêery, towery, heksery, bygelowe en die okkulte is ook deel van demonisme. Baie boeke, tydskrifte, sterrevoorspellings, rolprente, plakkate en selfs liedjies laat die demone, toorkuns en soortgelyke bonatuurlike dinge onskadelik of opwindend lyk. Baie begrafnisgebruike, soos offerandes vir die dooies, begrafnisvierings, begrafnisherdenkings, rituele vir weduwees en party rituele tydens lykwake, sluit ook kontak met die demone in. Dikwels gebruik mense dwelms wanneer hulle met die demone in aanraking probeer kom. – Galasiërs 5:20; Openbaring 21:8.

Hfst. 10, par. 10; Hfst. 16, par. 4

27 JEHOVAH SE SOEWEREINITEIT

Jehovah is die almagtige God en hy het die heelal geskep (Openbaring 15:3). Daarom is hy die Eienaar van alles. Jehovah het die volle reg om oor sy skepping te regeer. Ons noem dit sy soewereiniteit (Psalm 24:1; Jesaja 40:21-23; Openbaring 4:11). Hy het wette gemaak vir alles wat hy geskep het. Jehovah het ook die mag en die reg om ander as heersers aan te stel. Ons ondersteun God se soewereiniteit as ons hom liefhet en hom gehoorsaam. – 1 Kronieke 29:11.

Hfst. 11, par. 10

28 ABORSIE

’n Aborsie word opsetlik gedoen om die dood van ’n ongebore kind te veroorsaak. Dit verwys nie na ’n miskraam of die gevolg van ’n ongeluk nie. Van bevrugting af is die kind ’n afsonderlike mens, nie net ’n deel van die ma se liggaam nie.

Hfst. 13, par. 5

29 BLOEDOORTAPPING

Dit is die mediese prosedure waartydens heelbloed of een van die vier hoofkomponente daarvan na ’n persoon se liggaam oorgetap word. Dit kan ’n ander persoon se bloed wees of jou eie bloed wat gebêre is. Die vier hoofkomponente van bloed is plasma, rooibloedselle, witbloedselle en bloedplaatjies.

Hfst. 13, par. 13

30 DISSIPLINE

In die Bybel is die woord vir “dissipline” nie net ’n ander woord vir straf nie. Wanneer ons gedissiplineer word, word ons onderrig, opgevoed en reggehelp. Wanneer Jehovah mense dissiplineer, is hy nooit hard of wreed nie (Spreuke 4:1, 2). Jehovah stel ’n pragtige voorbeeld vir ouers. Die dissipline wat hy gee, is so doeltreffend dat ’n mens eintlik lief kan word vir dissipline (Spreuke 12:1). Jehovah is lief vir sy knegte en hy lei hulle op. Hy gee vir hulle onderrigting wat verkeerde idees regstel en wat hulle help om te dink en op te tree op ’n manier wat hom gelukkig maak. Die dissipline wat ouers hulle kinders gee, sluit in dat hulle hulle help om te verstaan waarom hulle gehoorsaam moet wees. Dit beteken ook dat hulle hulle kinders leer om lief te wees vir Jehovah, sowel as vir sy Woord, die Bybel, en om die beginsels daarin te verstaan.

Hfst. 14, par. 13

31 DEMONE

Hulle is onsigbare, goddelose geesskepsele met bomenslike kragte. Die demone is goddelose engele. Hulle het goddeloos geword toe hulle hulleself vyande van God gemaak het deur ongehoorsaam aan hom te wees (Genesis 6:2; Judas 6). Hulle het Satan se kant gekies en is teen Jehovah. – Deuteronomium 32:17; Lukas 8:30; Handelinge 16:16; Jakobus 2:19.

Hfst. 16, par. 4