Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 74

Jesus word die Messias

Jesus word die Messias

Johannes het gesê: ‘Iemand groter as ek, gaan binnekort kom.’ Toe Jesus omtrent 30 jaar oud was, het hy van Galilea af na die Jordaanrivier toe gekom, waar Johannes besig was om mense te doop. Jesus wou hê dat Johannes hom moet doop, maar Johannes het gesê: ‘Ek moet jou nie doop nie. Jy moet my eerder doop.’ Jesus het vir Johannes gesê: ‘Jehovah wil hê dat jy my moet doop.’ Hulle het toe in die Jordaanrivier ingegaan, en Johannes het Jesus heeltemal onder die water laat sak en hom gedoop.

Nadat Jesus uit die water opgekom het, het hy gebid. Op daardie oomblik het die hemele oopgemaak en God se gees het soos ’n duif op hom gekom. Toe het Jehovah uit die hemel gepraat: ‘Jy is my Seun, die geliefde. Ek het jou goedgekeur.’

Toe Jehovah se gees oor Jesus gekom het, het hy die Christus, of Messias, geword. Hy sou nou die werk begin doen waarvoor Jehovah hom aarde toe gestuur het.

Jesus het onmiddellik ná sy doop in die wildernis ingegaan en 40 dae daar gebly. Toe hy teruggekom het, het hy na Johannes toe gegaan. Toe Johannes vir Jesus sien aankom, het hy gesê: ‘Dit is die Lam van God wat die sondes van die wêreld sal wegneem.’ Deur hierdie woorde te sê, het Johannes die mense laat verstaan dat Jesus die Messias is. Weet jy wat met Jesus gebeur het terwyl hy in die wildernis was? Kom ons vind uit.

“En ’n stem het uit die hemel gekom: ‘Jy is my geliefde Seun. Ek het jou goedgekeur.’”—Markus 1:11