Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AANHANGSEL

Die Bybel se beskouing van egskeiding en skeiding

Die Bybel se beskouing van egskeiding en skeiding

Jehovah verwag dat diegene wat getroud is, aan hulle huweliksgelofte getrou moet bly. Toe Jehovah die eerste man en vrou in die huwelik verenig het, het hy gesê: “’n Man . . . sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word.” Later het Jesus Christus dié stelling herhaal en bygevoeg: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Genesis 2:24; Matteus 19:3-6). Jehovah en Jesus beskou dus die huwelik as ’n lewenslange verbintenis wat slegs eindig wanneer een maat sterf (1 Korintiërs 7:39). Aangesien die huwelik ’n heilige instelling is, moet egskeiding nie ligtelik opgeneem word nie. Trouens, Jehovah haat egskeidings wat geen skriftuurlike grondslag het nie.—Maleagi 2:15, 16.

Wat is ’n skriftuurlike grondslag vir egskeiding? Wel, Jehovah haat egbreuk en hoerery (Genesis 39:9; 2 Samuel 11:26, 27; Psalm 51:4). Trouens, hoerery is vir hom so veragtelik dat hy egskeiding op grond daarvan toelaat. (Vir ’n bespreking van wat hoerery behels, sien Hoofstuk 9, paragraaf 7, waar dit verduidelik word.) Jehovah gee aan onskuldige maats die reg om te besluit of hulle by die skuldige maat sal bly of ’n egskeiding wil kry (Matteus 19:9). Die onskuldige maat wat besluit om ’n egskeiding te kry, doen dus nie iets wat Jehovah haat nie. Die Christengemeente moedig egter niemand aan om te skei nie. Trouens, die onskuldige maat sal dalk in sekere omstandighede besluit om by die skuldige maat te bly, veral as hy of sy opreg berouvol is. Maar uiteindelik moet diegene wat ’n skriftuurlike grondslag vir egskeiding het, hulle eie besluit neem en enige moontlike gevolge daarvan aanvaar.—Galasiërs 6:5.

In sekere uiterste gevalle het party Christene besluit om hulle huweliksmaat te verlaat of van hom of haar te skei, al het die ander persoon nie hoerery gepleeg nie. In so ’n situasie sê die Bybel dat die een wat weggaan, ‘ongetroud moet bly of weer versoen moet raak’ met sy of haar huweliksmaat (1 Korintiërs 7:11). So ’n Christen is nie vry om met iemand anders ’n verhouding aan te knoop met die oog op ’n huwelik nie (Matteus 5:32). Kom ons kyk na ’n paar uitsonderlike situasies wat party beskou het as gronde om uitmekaar te gaan.

Opsetlike versuim om die gesin te onderhou. ’n Gesin word dalk behoeftig en kom die basiese lewensbenodigdhede kort omdat die man versuim om vir hulle te sorg, al is hy in staat om dit te doen. Die Bybel sê: “As iemand vir . . . lede van sy huisgesin . . . nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). As so ’n man weier om te verander, sal sy vrou moet besluit of sy haar welsyn en dié van haar kinders moet beskerm deur hom te verlaat. Christen- ouer manne moet natuurlik ’n beskuldiging dat ’n Christen weier om sy gesin te onderhou, noukeurig ondersoek. As iemand weier om vir sy gesin te sorg, kan dit tot uitsetting lei.

Uitermatige fisiese mishandeling. ’n Huweliksmaat is dalk so gewelddadig dat die mishandelde maat se gesondheid en selfs lewe in gevaar is. As die gewelddadige maat ’n Christen is, moet die gemeentelike ouer manne die beskuldigings ondersoek. Woedeuitbarstings en ’n patroon van gewelddadige gedrag is ’n grondslag vir uitsetting.—Galasiërs 5:19-21.

Algehele ingevaarstelling van geestelikheid. Een huweliksmaat probeer dalk voortdurend keer dat die ander een ware aanbidding beoefen of probeer hom of haar dalk selfs dwing om God se bevele op die een of ander manier te skend. In so ’n geval moet die bedreigde maat besluit of hy of sy alleenlik as hulle uitmekaargaan, ‘aan God as heerser gehoorsaam sal kan wees, eerder as aan mense’.—Handelinge 5:29.

In al sulke uiterste situasies, soos dié wat pas bespreek is, moet niemand druk uitoefen op die onskuldige maat om sy of haar maat te verlaat of by hom of haar te bly nie. Hoewel geestelike ryp vriende en ouer manne ondersteuning en Bybelraad kan gee, dra hulle beslis nie kennis van alles wat tussen ’n man en sy vrou gebeur nie. Net Jehovah kan dit sien. ’n Christenman of -vrou sou natuurlik nie God of die huweliksreëling eer as hulle die erns van hulle gesinsprobleme oordryf om te regverdig waarom hulle nie bymekaar bly nie. Jehovah is bewus van enige gekonkel agter so ’n skeiding, ongeag hoe ’n mens dit probeer wegsteek. Trouens, “alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee” (Hebreërs 4:13). Maar as ’n uiters gevaarlike situasie voortduur, moet niemand ’n Christen kritiseer wat, as ’n laaste uitweg, besluit om sy of haar huweliksmaat te verlaat nie. Uiteindelik “sal [ons] almal voor die regterstoel van God staan”.—Romeine 14:10-12.