Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 7

Is lewe vir jou so kosbaar as wat dit vir God is?

Is lewe vir jou so kosbaar as wat dit vir God is?

“By u is die bron van die lewe.”—PSALM 36:9.

1, 2. Watter gawe van God is veral vandag kosbaar, en waarom?

ONS hemelse Vader het ons ’n uiters waardevolle besitting gegee—die gawe van lewe as intelligente mense wat in staat is om sy eienskappe te weerspieël (Genesis 1:27). Danksy hierdie kosbare gawe kan ons oor Bybelbeginsels redeneer. As ons dit toepas, kan ons geestelike ryp mense word wat vir Jehovah lief is en wie se “waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is”.—Hebreërs 5:14.

2 Die vermoë om oor Bybelbeginsels te redeneer, is veral vandag belangrik, want die wêreld het so kompleks geword dat daar nooit genoeg wette sal bestaan om elke moontlike situasie in die lewe te dek nie. Die mediese wetenskap lig hierdie punt goed toe, veral met betrekking tot produkte en prosedures wat met bloed verband hou. Almal wat aan Jehovah gehoorsaam wil wees, stel in hierdie belangrike kwessie belang. Maar as ons die Bybelbeginsels verstaan wat daarby betrokke is, behoort ons wyse besluite te kan neem wat nie net ons gewete tevrede sal stel nie, maar wat ons ook in God se liefde sal hou (Spreuke 2:6-11). Kom ons kyk na ’n paar van hierdie beginsels.

LEWE EN BLOED IS HEILIG

3, 4. Wanneer is die heiligheid van bloed vir die eerste keer in die Skrif genoem, en op watter beginsels berus dit?

3 Jehovah het die noue verband tussen lewe en bloed, asook die heiligheid daarvan, vir die eerste keer geopenbaar kort nadat Kain vir Abel vermoor het. “Luister!” het God vir Kain gesê. “Jou broer se bloed roep van die grond af na my toe uit” (Genesis 4:10). In Jehovah se oë het Abel se bloed sy lewe verteenwoordig, wat wreed kortgeknip is. In sekere sin het Abel se bloed dus na God uitgeroep om wraak.—Hebreërs 12:24.

4 Ná die Vloed van Noag se dag het God aan mense toestemming gegee om die vleis van diere te eet, maar nie die bloed nie. God het gesê: “Net vleis met sy siel—sy bloed—mag julle nie eet nie. En daarbenewens sal ek julle bloed van julle siele terugeis” (Genesis 9:4, 5). Hierdie gebod is van toepassing op al Noag se afstammelinge tot in ons dag. Dit herbevestig wat in God se vroeëre woorde aan Kain geïmpliseer is—dat die siel, of lewe, van alle skepsele deur die bloed verteenwoordig word. Daardie bevel bevestig ook dat Jehovah, die Bron van die lewe, alle mense wat ’n gebrek aan respek vir lewe en bloed toon, tot verantwoording sal roep.—Psalm 36:9.

5, 6. Hoe het die Mosaïese Wet getoon dat bloed heilig sowel as kosbaar is? (Sien ook die venster “ Respek vir die lewe van diere.”)

5 Hierdie twee grondwaarhede is in die Mosaïese Wet weerspieël. Levitikus 17:10, 11 sê: “Wat enige man . . . betref . . . wat enige bloed eet—teen die siel wat die bloed eet, sal ek beslis my aangesig rig, en ek sal hom inderdaad uitroei onder sy volk uit. Want die siel van die vlees is in die bloed, en ek het dit vir julle op die altaar geplaas om vir julle siel versoening te doen, want die bloed doen versoening deur die siel wat daarin is.” *—Sien die venster “ Die versoeningskrag van bloed.”

6 As die bloed van ’n geslagte dier nie op die altaar gebruik is nie, moes dit op die grond uitgegiet word. Die lewe is dus op ’n simboliese manier aan die oorspronklike Eienaar daarvan terugbesorg (Deuteronomium 12:16; Esegiël 18:4). Maar let daarop dat daar nie van die Israeliete verwag is om tot uiterstes oor te gaan om die laaste druppeltjie bloed uit die dier se weefsel te verwyder nie. As die dier behoorlik geslag en gebloei is, kon ’n Israeliet dit met ’n skoon gewete eet, aangesien gepaste respek aan die Lewegewer betoon is.

7. Hoe het Dawid respek vir die heiligheid van bloed getoon?

7 Dawid, “’n man na [God se] hart”, het die beginsels agter God se wet oor bloed gesnap (Handelinge 13:22). By een geleentheid toe hy baie dors was, het drie van sy manne die vyand se kamp binnegedring, water uit ’n put geskep en dit na hom toe gebring. Hoe het Dawid gereageer? “Sal ek die bloed drink van die manne wat met gevaar vir hulle siel gegaan het?” het hy gevra. In Dawid se oë was die water as ’t ware die lewensbloed van sy manne. Daarom het hy dit “vir Jehovah uitgegiet”, ongeag hoe dors hy was.—2 Samuel 23:15-17.

8, 9. Het God se beskouing van lewe en bloed verander toe die Christengemeente gestig is? Verduidelik.

8 Sowat 2 400 jaar ná die bevel aan Noag en ongeveer 1 500 jaar nadat die Wetsverbond ingestel is, het Jehovah die bestuursliggaam van die vroeë Christengemeente geïnspireer om te skryf: “Die heilige gees en ons het dit goedgedink om geen verdere las vir julle by te voeg nie, behalwe hierdie noodsaaklike dinge: om julle voortdurend te onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery.”—Handelinge 15:28, 29.

9 Die vroeë bestuursliggaam het klaarblyklik onderskei dat bloed heilig is en dat die misbruik daarvan net so moreel verkeerd is as afgodediens of hoerery. Ware Christene aanvaar vandag daardie standpunt. En omdat hulle in terme van Bybelbeginsels dink, kan hulle Jehovah behaag wanneer hulle besluite neem oor die gebruik van bloed.

DIE MEDIESE GEBRUIK VAN BLOED

Hoe sou ek my besluit aangaande die gebruik van bloedfraksies aan ’n dokter verduidelik?

10, 11. (a) Hoe beskou Jehovah se Getuies die oortapping van heelbloed en primêre bloedkomponente? (b) Op watter gebiede met betrekking tot bloed kan Christene verskillende opinies hê?

10 Jehovah se Getuies besef dat ‘om hulle van bloed te onthou’, beteken dat hulle nie bloedoortappings aanvaar of hulle eie bloed skenk of berg sodat dit oorgetap kan word nie. Uit respek vir God se wet aanvaar hulle ook nie die vier primêre komponente van bloed—rooi selle, wit selle, plaatjies en plasma—nie.

11 Vandag word hierdie komponente dikwels deur verdere prosesse afgebreek in fraksies wat op etlike maniere gebruik word. Kan ’n Christen sulke fraksies aanvaar? Beskou hy dit as “bloed”? Elkeen moet self hieroor besluit. Dit geld ook vir mediese prosedures soos hemodialise, bloedverdunning en selherwinning, waarby ’n mens se eie bloed betrokke is, solank die bloed nie geberg is nie.—Sien die onderwerp in die Aanhangsel, “Bloedfraksies en chirurgiese prosedures.”

12. Hoe moet ons gewetensake beskou en hanteer?

12 Is sake waaroor ’n mens self moet besluit vir Jehovah onbelangrik? Nee, want hy stel intens belang in ons gedagtes en beweegredes (Spreuke 17:3; 21:2; 24:12). Nadat ons dus biddend navorsing gedoen het oor ’n mediese produk of prosedure, moet ons gehoor gee aan ons Bybelopgeleide gewete (Romeine 14:2, 22, 23). Ander moet natuurlik nie hulle gewete op ons afdwing nie, en ons moenie vra: “Wat sou jy doen as jy in my situasie was?” nie. In sulke sake moet elke Christen “sy eie vrag dra”. *Galasiërs 6:5; Romeine 14:12; sien die venster “ Beskou ek bloed as heilig?

JEHOVAH SE WETTE WEERSPIEËL SY VADERLIKE LIEFDE

13. Wat toon Jehovah se wette en beginsels oor hom? Lig toe.

13 Die wette en beginsels wat in die Bybel gevind word, toon dat Jehovah ’n wyse Wetgewer sowel as ’n liefdevolle Vader is wat diep besorg is oor die welsyn van sy kinders (Psalm 19:7-11). Hoewel die gebod om ons “te onthou . . . van bloed” nie as ’n gesondheidsreël gegee is nie, beskerm dit ons wel teen komplikasies wat verband hou met bloedoortappings (Handelinge 15:20). Trouens, baie in die mediese veld beskou bloedlose chirurgie as die “goue standaard” van moderne mediese sorg. Vir ware Christene is sulke ontwikkelinge net ’n bevestiging van Jehovah se onpeilbare wysheid en vaderlike liefde.—Jesaja 55:9; Johannes 14:21, 23.

14, 15. (a) Watter wette het God se liefde vir sy volk weerspieël? (b) Hoe kan jy die beginsels agter hierdie veiligheidsmaatreëls toepas?

14 God se besorgdheid oor die welsyn van sy volk in eertydse Israel is in baie van sy wette weerspieël. Hy het byvoorbeeld vereis dat Israelitiese huise ’n muurtjie om die dak moet hê om ongelukke te voorkom, want baie bedrywighede het op dakke plaasgevind (Deuteronomium 22:8; 1 Samuel 9:25, 26; Nehemia 8:16; Handelinge 10:9). God het ook beveel dat gevaarlike bulle onder bewaking gehou moes word (Eksodus 21:28, 29). As hierdie vereistes geïgnoreer is, het dit ’n growwe gebrek aan respek vir die welsyn van ander getoon en kon dit tot bloedskuld lei.

15 Hoe kan jy die beginsels agter hierdie wette toepas? Dink ’n bietjie aan jou voertuig, jou bestuursgewoontes, jou diere, jou huis, jou werksplek en jou keuse van ontspanning. In party lande is ongelukke die grootste doodsoorsaak onder jongmense, dikwels omdat hulle hulle onnodig aan gevaar blootstel. Maar vir jongmense wat in God se liefde wil bly, is lewe iets kosbaars, en hulle soek nie opwinding in gevaarlike bedrywighede nie. Hulle redeneer nie dwaaslik dat ’n mens niks kan oorkom as jy jonk is nie. Hulle geniet eerder hulle jeug deur onnodige rampspoed van hulle weg te hou.—Prediker 11:9, 10.

16. Watter Bybelbeginsel is van toepassing op aborsie? (Sien ook voetnoot.)

16 Selfs die lewe van die ongeborenes is kosbaar in God se oë. As iemand in eertydse Israel ’n swanger vrou beseer het sodat sy of haar baba as gevolg daarvan gesterf het, het God die skuldige as ’n moordenaar beskou en moes hy “siel vir siel” betaal (Eksodus 21:22, 23). * Stel jou dan voor hoe Jehovah voel wanneer hy sien dat tallose ongebore babas elke jaar opsetlik geaborteer word, baie van hulle bloot ter wille van gerief en seksuele bevryding.

17. Hoe sou jy iemand vertroos wat ’n aborsie gehad het voordat sy van God se standaarde geleer het?

17 Maar sê nou ’n vrou het ’n aborsie gehad voordat sy tot ’n kennis van Bybelwaarheid gekom het? Sal God barmhartigheid aan haar bewys? Beslis! Om die waarheid te sê, iemand wat werklik berou het, kan op grond van Jesus se vergote bloed op Jehovah se vergifnis staatmaak (Psalm 103:8-14; Efesiërs 1:7). Trouens, Christus self het gesê: “Ek het nie gekom om regverdiges tot berou te roep nie, maar sondaars.”—Lukas 5:32.

VERMY KWAADWILLIGE DENKE!

18. Wat sê die Bybel aangaande die onderliggende oorsaak van baie bloedvergieting?

18 Jehovah wil nie net hê dat ons ander nie leed moet aandoen nie; hy wil ook hê dat ons die oorsaak van baie bloedvergieting—haat—uit ons hart moet uitroei. “Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar”, het die apostel Johannes geskryf (1 Johannes 3:15). So ’n persoon is nie net iemand wat nie van sy broer hou nie, maar is iemand wat wens dat hy dood is. Sy vyandskap kom dalk na vore in die vorm van kwaadwillige laster of valse beskuldigings wat, as dit waar sou wees, goddelike veroordeling sal meebring (Levitikus 19:16; Deuteronomium 19:18-21; Matteus 5:22). Hoe belangrik is dit dan dat ons ons inspan om alle kwade gevoelens wat dalk in ons hart is, daaruit te verwyder!—Jakobus 1:14, 15; 4:1-3.

19. Hoe beskou iemand wat deur Bybelbeginsels gelei word, tekste soos Psalm 11:5 en Filippense 4:8, 9?

19 Diegene vir wie lewe so kosbaar is as wat dit vir Jehovah is en wat hulle in sy liefde wil hou, vermy ook alle vorme van geweld. Psalm 11:5 sê: “[Jehovah se] siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet.” Daardie teks is meer as ’n verklaring oor God se persoonlikheid; dit is ’n beginsel waarvolgens ’n mens jou lewe moet rig. Dit beweeg liefhebbers van God om enige vorm van vermaak te vermy wat moontlik ’n liefde vir geweld kan voed. Net so spoor die verklaring dat Jehovah “die God van vrede” is, sy knegte aan om hulle verstande en harte te vul met dinge wat lieflik, deugsaam en lofwaardig is en wat tot vrede lei.—Filippense 4:8, 9.

BLY WEG VAN BLOEDSKULDIGE ORGANISASIES

20-22. Watter standpunt neem Christene ten opsigte van die wêreld in, en waarom?

20 In God se oë is Satan se hele wêreld bloedskuldig. Die politieke stelsels daarvan, wat in die Skrif as wrede diere uitgebeeld word, het tallose miljoene doodgemaak, wat baie van Jehovah se knegte insluit (Daniël 8:3, 4, 20-22; Openbaring 13:1, 2, 7, 8). Die handels- en wetenskapswêreld het met hierdie dieragtige moondhede saamgewerk om van die verskriklikste wapens denkbaar te skep en het terselfdertyd ontsaglike winste gemaak. Hoe waar is dit tog dat “die hele wêreld . . . in die mag van die bose” lê!—1 Johannes 5:19.

21 Omdat Jesus se volgelinge “geen deel van die wêreld” is nie, maar streng neutraal bly wat sy politiek en oorloë betref, vermy hulle persoonlike en gemeenskapsbloedskuld (Johannes 15:19; 17:16). * En in navolging van Christus reageer hulle nie met geweld wanneer hulle vervolg word nie. Hulle betoon eerder liefde aan hulle vyande en bid selfs vir hulle.—Matteus 5:44; Romeine 12:17-21.

22 Bowenal vermy ware Christene dit om betrokke te raak by “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens en die organisasie met die grootste bloedskuld. “In haar”, sê God se Woord, “is die bloed van profete en van heiliges gevind, en van almal wat op die aarde doodgemaak is.” Daarom word ons gewaarsku: “Gaan uit haar uit, my volk.”—Openbaring 17:6; 18:2, 4, 24.

23. Wat beteken dit om uit Babilon die Grote uit te gaan?

23 Om Babilon die Grote te verlaat, verg meer as om ’n mens se naam van ’n lidmaatregister te laat verwyder. Dit sluit ook in dat ’n mens die bose gebruike haat wat deur valse godsdiens geduld of openlik bevorder word—dinge soos onsedelikheid, politieke inmenging en die gierige nastrewing van rykdom (Psalm 97:10; Openbaring 18:7, 9, 11-17). Hoe dikwels lei hierdie bedrywighede tog tot bloedvergieting!

24, 25. (a) Op grond waarvan kan God barmhartigheid bewys aan ’n berouvolle persoon wat bloedskuldig is? (b) Aan watter reëling in Bybeltye laat dit ons dink?

24 Voordat ons ware aanbidding begin beoefen het, het elkeen van ons Satan se stelsel op die een of ander manier ondersteun en het ons sodoende in sekere mate bloedskuldig geword. Maar omdat ons ons weë verander het, geloof in Christus se losprysoffer aangekweek het en ons lewe aan God toegewy het, het ons God se barmhartigheid en geestelike beskerming ontvang (Handelinge 3:19). Hierdie beskerming laat ons dink aan die vrystede in Bybeltye.—Numeri 35:11-15; Deuteronomium 21:1-9.

25 Hoe het hierdie reëling gewerk? As ’n Israeliet per ongeluk die oorsaak van iemand se dood was, moes hy na een van die vrystede vlug. Nadat bekwame regters uitspraak gelewer het in die saak, moes die persoon wat iemand per ongeluk doodgemaak het, tot die dood van die hoëpriester in die vrystad bly. Daarna sou hy vry wees om iewers anders te gaan woon. Wat ’n pragtige voorbeeld van God se barmhartigheid en van die hoë waarde wat hy aan menselewe heg! God se voorsiening, gegrond op Christus se losprysoffer, om ons teen die dood te beskerm omdat ons per ongeluk God se gebod oor die heiligheid van lewe en bloed geskend het, herinner ons aan daardie eertydse vrystede. Waardeer jy hierdie voorsiening? Hoe kan jy jou waardering daarvoor toon? Een manier is om ander te nooi om God se voorsiening vir beskerming te aanvaar, veral met die oog op die vinnig naderende “groot verdrukking”.—Matteus 24:21; 2 Korintiërs 6:1, 2.

TOON DAT LEWE VIR JOU KOSBAAR IS DEUR DIE KONINKRYKSBOODSKAP TE VERKONDIG

26-28. In watter opsig is ons situasie vandag soortgelyk aan dié van die profeet Esegiël, en hoe kan ons ons in God se liefde hou?

26 Die situasie van God se volk in ons dag herinner ons aan die situasie van die eertydse profeet Esegiël, wat Jehovah aangestel het om as ’n geestelike wag vir die huis van Israel op te tree. “Jy [moet my] woord hoor en hulle namens my waarsku”, het God gesê. As Esegiël nagelaat het om sy opdrag uit te voer, sou Jehovah hom persoonlik verantwoordelik hou vir die bloed van diegene wat tereggestel sou word wanneer Jerusalem tot verantwoording geroep word (Esegiël 33:7-9). Maar Esegiël was gehoorsaam en het hom geen bloedskuld op die hals gehaal nie.

27 Vandag staan ons voor die einde van Satan se hele wêreld. Gevolglik beskou Jehovah se Getuies dit as ’n plig sowel as ’n voorreg om God se “dag van . . . wraak” asook die Koninkryksboodskap bekend te maak (Jesaja 61:2; Matteus 24:14). Het jy ’n volle aandeel aan hierdie lewensbelangrike werk? Die apostel Paulus het sy predikingsopdrag ernstig opgeneem. Gevolglik kon hy sê: “Ek [is] rein . . . van die bloed van alle mense, want ek het my nie daarvan weerhou om julle al die raad van God te vertel nie” (Handelinge 20:26, 27). Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons om na te volg!

28 As ons ons in Jehovah se vaderlike liefde wil hou, moet ons natuurlik meer doen as om net lewe en bloed soos Jehovah te beskou. Ons moet ook in sy oë rein, of heilig, bly, soos ons in die volgende hoofstuk sal sien.

^ par. 5 Aangaande God se verklaring “die siel van die vlees is in die bloed” sê die tydskrif Scientific American: “Buiten die metaforiese gebruik is die stelling ook letterlik waar: elke soort bloedsel is noodsaaklik vir lewe.”

^ par. 12 Sien die Ontwaak! van Augustus 2006, bladsye 3-12, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 16 Bybelleksikograwe sê dat die bewoording van die Hebreeuse teks “dit blykbaar onmoontlik maak dat die woorde na die besering van die vrou alleen verwys”. Let ook daarop dat die Bybel glad nie sê dat die ouderdom van die embrio of fetus ’n faktor by Jehovah se oordeel is nie.

^ par. 70 Sien die onderwerp in die Aanhangsel, “Bloedfraksies en chirurgiese prosedures.”, vir breedvoerige inligting.