Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

Die predikingswerk word voortgesit

Die predikingswerk word voortgesit

Sendelinge sit die werk ondergronds voort

Met die verbod op die werk het ’n baie moeilike tyd vir die broers begin. ‘Ons Koninkryksale is gesluit, en die werk is verbied’, het die sendeling Alma Parson verduidelik. ‘Die geliefde broers en susters moes baie beproewinge en lyding verduur.’ Party het ook hulle werk verloor, en ander is opgesluit. Maar sy het vertel: ‘Jehovah se leiding en beskerming kon so dikwels duidelik gesien word.’ Die broers het op Jehovah se leiding vertrou en die werk ondergronds voortgesit.

Ons is nie toegelaat om gemeentelike vergaderinge te hou nie. Lennart Johnson het vertel: ‘Groepies broers het in die geheim in huise bymekaargekom. Daar het ons Wagtoring-artikels bestudeer wat met ’n mimeograaf gekopieer is. Al die lojales het die geestelike krag wat Jehovah ons in hierdie klein studiegroepe bly gee het, baie waardeer.’

Roy en Juanita Brandt was onder diegene wat gedurende die verbod in hulle toewysing gebly het

Intussen het die regering die broers al hoe meer dopgehou en vervolg. Maar dit het die broers en susters nie geïntimideer nie. Op 15 September 1950 het minister Hungría aan die President van die Republiek geskryf: “Mnr. Lee Roy Brandt en ander direkteure van die groep Jehovah se Getuies is al herhaaldelik na hierdie kantoor ontbied en gemaan om alle propaganda in verband met hierdie genootskap, wat wetlik in dié Republiek ontbind is, te staak—’n bevel wat hulle klaarblyklik nie gehoorsaam nie. Ons ontvang daagliks berigte uit verskillende dele van die land dat hulle aanhou om hulle propaganda in die geheim te versprei, wat ’n bespotting van regeringsinstellings maak.” Hy het afgesluit deur aan te beveel dat die “vernaamste buitelandse direkteure” van Jehovah se Getuies gedeporteer word.

“’n Bron van krag”

Teen die einde van 1950 het broer Knorr en broer Henschel die land besoek. Daarna is party van die sendelinge na Argentinië, Guatemala of Puerto Rico gestuur. Ander het sekulêre werk gekry sodat hulle in die land kon bly. Broer Brandt het byvoorbeeld vir die elektriese maatskappy gewerk, en ander het mense Engels geleer. ’n Verslag in die 1951 Yearbook sê van hierdie sendelinge: “Hulle blote teenwoordigheid in die land, die feit dat hulle nie gevlug het nie, was ’n bron van krag vir die getroue volgelinge van die Here wat die waarheid by hulle geleer het. Almal waardeer die moed wat hulle aan die dag lê deur hulle werk voort te sit.”

‘Hulle blote teenwoordigheid was ’n bron van krag vir die getroues’

Dorothy Lawrence was een van die sendelinge wat Engelse klasse gegee het. Sy het mense nie net Engels geleer nie, maar het ook Bybelstudies met belangstellendes gehou. Sodoende het sy etlike mense gehelp om die waarheid aan te neem.

Jehovah se lojale aanbidders het ook ander maatreëls getref sodat hulle kon voortgaan om velddiens te doen, al is hulle voortdurend dopgehou. Soms het hulle boeke uitmekaargehaal en ’n paar gevoude bladsye in ’n hempsak of in ’n inkopiesak gehou sodat hulle onopsigtelik kon preek. Die broers het velddiensrapporte soos inkopielyste laat lyk. In plaas van boeke, boekies, tydskrifte, herbesoeke en ure is papajas, bone, eiers, koolkoppe en spinasie op die velddiensrapport gebruik. Gemimeografeerde kopieë van Die Wagtoring is broodwortel genoem, na aanleiding van die kassawe plant, wat algemeen in die streek voorkom.

Die dissipelmaakwerk word voortgesit

Op 16 Junie 1954 het Rafael Trujillo ’n konkordaat met die Vatikaan geteken wat die geestelikes van die Rooms-Katolieke Kerk spesiale voorregte in die Dominikaanse Republiek gegee het. Teen hierdie tyd was die verbod al sowat vier jaar van krag. Nietemin was daar teen 1955 altesaam 478 verkondigers in die Dominikaanse Republiek. Hoe was sulke groei moontlik ten spyte van die moeilike omstandighede? “Die hele geheim tot ons krag is Jehovah se gees”, het die 1956 Yearbook gesê. “Die broers is verenig en het sterk geloof, en hulle gaan moedig voort.”

In Julie 1955 het Trujillo ’n amptelike brief van die wêreldhoofkwartier ontvang. Die brief het die neutrale standpunt van Jehovah se Getuies in besonderhede verduidelik en versoek dat Trujillo ‘die verbod op Jehovah se Getuies en die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap ophef’. Wat was die gevolg?