INDONESIË
Vroeë predikingsmetodes
Radio-uitsendings
IN 1933 het die broers gereël dat ’n radiostasie in Djakarta Engelse opnames van broer Rutherford se radiotoesprake uitsaai. Bykomende toesprake in Nederlands is oor die radio gelees deur ’n man wat in die waarheid belanggestel het. Die uitsendings het baie mense se belangstelling gewek en het die broers gehelp om meer lektuur in die veld te versprei.
Toe die radiostasie broer Rutherford se kragtige toespraak “Uitwerking van die heilige jaar op vrede en voorspoed” uitgesaai het, was die Katolieke geestelikes woedend. * Hulle het hulle handlangers gebruik om broer De Schumaker, wat die opname voorsien het, van “laster, bespotting en vyandigheid”, aan te kla. Broer De Schumaker het hom moedig teen die aanklagte verdedig, maar moes ’n boete van 25 gulde * en die regskoste betaal. Drie vername koerante het oor die verhoor verslag gelewer, wat selfs ’n groter getuienis gegee het.
Die Lightbearer
Op 15 Julie 1935 het die Wagtoringgenootskap se 16-meter-lange kaag, die Lightbearer, van Sydney, Australië, in Djakarta aangekom ná ’n reis van ses maande. Aan boord was daar sewe ywerige pioniers wat vasbeslote was om die goeie nuus regoor Indonesië, Singapoer en Maleisië te verkondig.
Die pioniers op die Lightbearer het meer as twee jaar lank groot en klein hawens regoor Indonesië besoek en groot hoeveelhede Bybellektuur versprei. Elke keer dat die boot by ’n hawetjie aangekom het, “het die bemanning die transkripsiemasjien aangesit en een van die toesprake van J.F. Rutherford gespeel, wat destyds die president van die Wagtoringgenootskap was”, het Jean Deschamp vertel. “Stel jou die verbasing van afgesonderde Maleisiese dorpsbewoners voor toe hulle ’n groot seiljag in hulle hawe sien aankom het en ’n harde, kragtige stem hoor praat het. Nie eens ’n vlieënde piering kon soveel aandag getrek het nie.”
Die geestelikes was woedend oor die broers se moedige getuienis en het die owerheid uiteindelik gekry om die Lightbearer toegang tot baie Indonesiese hawens te weier. In Desember 1937 het die Lightbearer na Australië teruggekeer, met ’n uitstekende rekord van sendingbedrywighede in Indonesië.