Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 3

Hoe is Bybelwaarheid herontdek?

Hoe is Bybelwaarheid herontdek?

Bybelstudente, 1870’s

Eerste nommer van Die Wagtoring, 1879

Die Wagtoring vandag

Die Bybel het voorspel dat valse onderrigters ná Christus se dood onder die vroeë Christene sou opstaan en Bybelwaarheid sou verdraai (Handelinge 20:29, 30). Dit is presies wat later gebeur het. Hulle het Jesus se leringe met heidense godsdiensidees vermeng, en ’n valse vorm van die Christelike godsdiens het ontstaan (2 Timoteus 4:3, 4). Hoe kan ons seker wees dat ons vandag ’n juiste begrip het van wat die Bybel werklik leer?

Die tyd het aangebreek vir Jehovah om die waarheid te openbaar. Hy het voorspel dat ‘die ware kennis gedurende die tyd van die einde oorvloedig sal word’ (Daniël 12:4). In 1870 het ’n groepie waarheidsoekers besef dat baie kerkleerstellings nie Bybels is nie. Hulle het dus ’n poging begin aanwend om die Bybel se oorspronklike leringe te verstaan, en Jehovah het hulle met geestelike insig geseën.

Opregte mense het die Bybel noukeurig bestudeer. Hierdie ernstige Bybelstudente, ons voorgangers, het ’n studiemetode gevolg wat ons vandag nog gebruik. Hulle het die Bybel onderwerp vir onderwerp bespreek. Wanneer hulle op ’n Skrifgedeelte afgekom het wat moeilik is om te verstaan, het hulle ander verse gesoek wat dit verklaar. Wanneer hulle tot ’n gevolgtrekking gekom het wat met die res van die Skrif ooreenstem, het hulle dit neergeskryf. Deur die Bybel toe te laat om homself uit te lê, het hulle die waarheid oor God se naam en sy Koninkryk, sy voorneme vir die mensdom en die aarde, die toestand van die dooies en die opstandingshoop herontdek. Hulle soeke het hulle bevry van ’n menigte valse opvattings en gebruike.—Johannes 8:31, 32.

Teen 1879 het die Bybelstudente onderskei dat die tyd aangebreek het om die waarheid oral bekend te maak. In daardie jaar het hulle dus die tydskrif begin druk wat ons vandag nog uitgee, Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan. Nou verkondig ons Bybelwaarhede aan mense in meer as 240 lande en in meer as 750 tale. Nog nooit tevore was ware kennis so oorvloedig nie!

  • Wat het ná die dood van Christus met Bybelwaarheid gebeur?

  • Wat het ons in staat gestel om die waarheid van God se Woord te herontdek?