HOOFSTUK 21
By die sinagoge in Nasaret
-
JESUS LEES UIT DIE BOEKROL VAN JESAJA
-
MENSE VAN NASARET PROBEER JESUS DOODMAAK
Daar is beslis baie opwinding in Nasaret. Voordat Jesus net so bietjie meer as ’n jaar gelede daar weg is om deur Johannes gedoop te word, was hy ’n timmerman in hierdie dorp. Maar nou is hy bekend as ’n man wat kragtige wonderwerke doen. Die plaaslike mense wil graag hê dat hy hier ook sulke wonderwerke doen.
Hulle afwagting neem toe wanneer Jesus, soos gewoonlik, na die plaaslike sinagoge gaan. Tydens so ’n diens word daar gebid en uit die boeke van Moses voorgelees, soos daar “elke sabbat in die sinagoges” gedoen word (Handelinge 15:21). Daar word ook uit die profetiese boeke voorgelees. Wanneer Jesus opstaan om te lees, sien hy waarskynlik baie gesigte wat hy herken omdat hy jare lank na hierdie sinagoge toe gekom het. Iemand gee vir hom die boekrol van die profeet Jesaja aan. Hy vind die gedeelte waar dit praat van die Een wat met Jehovah se gees gesalf is. Vandag vind ons hierdie gedeelte in Jesaja 61:1, 2.
Jesus lees dat hierdie voorspelde Een aan die gevangenes sou bekend maak dat hulle vrygelaat sal word en aan die blindes dat hulle weer sal sien. Hy sou ook die koms van Jehovah se jaar van aanvaarding aankondig. Jesus gee die boekrol terug aan die dienaar en gaan sit. Almal se oë is op hom. Dan begin hy praat, en hy hou waarskynlik ’n lang bespreking wat die volgende belangrike woorde insluit: “Vandag is hierdie Skrifgedeelte wat julle so pas gehoor het, vervul.” – Lukas 4:21.
Die mense is verstom oor “die aangename woorde wat uit sy mond gekom het,” en hulle sê vir mekaar: “Is hy dan nie ’n seun van Josef nie?” Maar Jesus besef dat hulle wil sien hoe hy wonderwerke doen, net soos dié waarvan hulle gehoor het. Daarom sê hy verder: “Julle sal beslis hierdie spreekwoord op my toepas: ‘Dokter, genees jouself. Doen ook hier in jou tuisgebied die dinge wat ons gehoor het in Kapernaum gedoen is’” (Lukas 4:22, 23). Hulle dink waarskynlik dat Jesus eers moet begin deur van sy eie mense, in sy eie omgewing, te genees. Daarom voel hulle miskien dat Jesus hulle nie regverdig behandel het nie.
Omdat Jesus weet wat hulle dink, noem hy party dinge wat in Israel se geskiedenis gebeur het. Hy sê dat daar in Elia se dag baie weduwees in Israel was, maar dat Elia nie na een van hulle toe gestuur is nie. Hy het eerder gegaan na ’n nie-Israelitiese weduwee in Sarfat, ’n dorp naby Sidon, waar Elia ’n lewensreddende wonderwerk gedoen het (1 Konings 17:8-16). En in Elisa se dag was daar baie melaatses in Israel, maar die profeet het net Naäman, die Siriër, genees. – 2 Konings 5:1, 8-14.
Hoe reageer hierdie mense uit Jesus se tuisdorp op hierdie voorbeelde uit die verlede, wat hulle dalk as negatiewe vergelykings beskou wat hulle selfsugtigheid en gebrek aan geloof openbaar? Die mense in die sinagoge staan woedend op en neem Jesus haastig tot buite die stad. Hulle neem hom na die rand van die berg waarop Nasaret gebou is en probeer hom daar afgooi. Maar Jesus kry dit reg om veilig weg te kom. Hy gaan nou na Kapernaum, aan die noordwestelike oewer van die See van Galilea.