Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 25

“Die genade wat ons God so liefdevol betoon”

“Die genade wat ons God so liefdevol betoon”

1, 2. (a) Hoe reageer ’n ma natuurlikerwys wanneer haar baba huil? (b) Watter gevoel is selfs sterker as ’n ma se genade, of medelye?

 IN DIE middel van die nag huil ’n baba. Die ma is onmiddellik wakker. Vandat haar baba gebore is, slaap sy nie meer so vas soos vroeër nie. Sy het geleer om te onderskei tussen die baba se verskillende maniere van huil. Sy weet dus dikwels of haar pasgebore baba gevoed of bietjie geliefkoos moet word en of hy iets anders nodig het. Maar ongeag waarom die baba huil, die ma reageer daarop. Haar hart laat haar nie toe om die behoeftes van haar kind te ignoreer nie.

2 Die genade, of medelye, wat ’n ma voel vir die kind wat sy in die lewe gebring het, is van die teerste gevoelens wat die mens ken. Daar is egter ’n gevoel wat oneindig sterker is – die genade wat ons God, Jehovah, so liefdevol betoon. ’n Ondersoek van hierdie mooi eienskap kan ons nader aan Jehovah laat kom. Laat ons dan bespreek wat genade is en hoe ons God dit openbaar.

Wat is genade?

3. Wat beteken die Hebreeuse werkwoord wat met “genade betoon” of “jammer voel” weergegee word?

3 In die Bybel is daar ’n noue verband tussen genade en medelye. ’n Aantal Hebreeuse en Griekse woorde dra die gedagte van innige medelye oor. Kyk byvoorbeeld na die Hebreeuse werkwoord ra·chamʹ, wat dikwels met “genade betoon” of “jammer voel” weergegee word. Een naslaanwerk verduidelik dat die werkwoord ra·chamʹ “’n diepe en tere gevoel van medelye uitdruk, soos wat gewek word wanneer ons sien dat dié wat vir ons dierbaar is of ons hulp nodig het, swak is of ly”. Hierdie Hebreeuse term, wat Jehovah op homself toepas, is verwant aan die woord vir “baarmoeder” en kan as “’n ma se medelye” beskryf word. a – Eksodus 33:19; Jeremia 33:26.

‘Kan ’n vrou haar kind aan wie sy geboorte gegee het, vergeet?’

4, 5. Hoe gebruik die Bybel die gevoelens wat ’n ma vir haar baba het om ons van Jehovah se genade te leer?

4 Die Bybel gebruik die gevoelens wat ’n ma vir haar baba het om ons te leer wat Jehovah se genade beteken. In Jesaja 49:15 lees ons: “Kan ’n vrou haar eie baba vergeet en haar nie ontferm [ra·chamʹ] oor haar kind aan wie sy geboorte gegee het nie? Selfs al sou ’n vrou haar kind vergeet, sal ek jou nooit vergeet nie.” Hierdie aangrypende beskrywing beklemtoon hoe diep Jehovah se medelye met sy volk is. Hoe so?

5 ’n Mens kan jou nouliks voorstel dat ’n ma sal vergeet om haar baba te voed en te versorg. ’n Baba is immers hulpeloos; hy het sy ma se aandag en liefde dag en nag nodig. Maar ongelukkig is ’n ma se verwaarlosing niks vreemds nie, veral in hierdie “swaar tye” wat deur ’n gebrek aan “natuurlike liefde” gekenmerk word (2 Timoteus 3:1, 3). “Maar”, sê Jehovah, “ek [sal] jou nooit vergeet nie.” Die genade wat Jehovah so liefdevol teenoor sy knegte betoon, is onfeilbaar. Dit is oneindig sterker as die teerste natuurlike gevoel wat ons ons kan voorstel – die medelye wat ’n ma gewoonlik vir haar baba voel. Geen wonder nie dat een kommentator van Jesaja 49:15 gesê het: “Dit is een van die sterkste, indien nie dié sterkste uitdrukking van God se liefde in die Ou Testament nie.”

6. Hoe het talle onvolmaakte mense medelye beskou, maar waarvan verseker Jehovah ons?

6 Is medelye wat liefdevol betoon word ’n teken van swakheid? Talle onvolmaakte mense het dit so beskou. Die Romeinse filosoof Seneka, wat ’n tydgenoot van Jesus en ’n vooraanstaande intellektuele figuur in Rome was, het byvoorbeeld gesê dat “ontferming ’n swakheid van die verstand is”. Seneka was ’n voorstander van die Stoïsisme, ’n filosofie wat kalmte sonder enige gevoel beklemtoon het. ’n Wyse persoon kan mense help wat hulp nodig het, het Seneka gesê, maar hy moet nooit toelaat dat hy medelye voel nie, want so ’n gevoel sal hom sy kalmte ontneem. Hierdie selfsugtige lewensbeskouing het geen plek gelaat vir innige medelye nie. Maar Jehovah is heeltemal anders! Jehovah verseker ons in sy Woord dat hy “baie liefdevol en genadig [letterlik, “medelydend”] is” (Jakobus 5:11). Soos ons sal sien, is medelye nie ’n swakheid nie maar ’n sterk, uiters belangrike eienskap. Kom ons kyk hoe Jehovah, soos ’n liefdevolle ouer, dit openbaar.

Toe Jehovah genade teenoor ’n nasie betoon het

7, 8. Hoe het die Israeliete in eertydse Egipte gely, en hoe het Jehovah op hulle lyding gereageer?

7 Jehovah se genade kan duidelik gesien word in die manier waarop hy die nasie Israel behandel het. Teen die einde van die 16de eeu VHJ was miljoene Israeliete slawe in eertydse Egipte, waar hulle swaar onderdruk is. Die Egiptenare “het hulle lewe moeilik gemaak deur hulle baie hard te laat werk. Hulle het hulle messelklei en stene laat maak . . . en het hulle allerhande slawewerk laat doen” (Eksodus 1:11, 14). In hulle benoudheid het die Israeliete tot Jehovah om hulp geroep. Hoe het die God wat genade so liefdevol betoon, gereageer?

8 Jehovah se hart is geraak. Hy het gesê: “Ek het gesien hoe swaar my volk in Egipte kry, en ek het gehoor hoe hulle uitroep as gevolg van dié wat hulle dwing om te werk. Ek is bewus van hoe hulle ly” (Eksodus 3:7). Jehovah kon nie die lyding van sy volk aanskou of hulle geroep hoor sonder om medelye vir hulle te voel nie. Soos ons in Hoofstuk 24 van hierdie boek gesien het, is Jehovah ’n God van empatie. En empatie – die vermoë om ander se pyn te voel – is nou verwant aan medelye. Maar Jehovah het nie net medelye vir sy volk gevoel nie; hy is beweeg om ten behoewe van hulle op te tree. Jesaja 63:9 sê: “Omdat hy vir hulle lief was en vir hulle jammer gevoel het, het hy hulle teruggekoop.” Jehovah het die Israeliete met “’n magtige hand” uit Egipte gered (Deuteronomium 4:34). Daarna het hy wonderdadig voedsel aan hulle voorsien en hulle in ’n vrugbare land ingebring wat aan hulle sou behoort.

9, 10. (a) Waarom het Jehovah die Israeliete herhaaldelik verlos nadat hulle hulle in die Beloofde Land gevestig het? (b) Van watter onderdrukking het Jehovah die Israeliete in die dae van Jefta verlos, en wat het hom beweeg om dit te doen?

9 Jehovah se medelye het nie daar opgehou nie. Nadat Israel hulle in die Beloofde Land gevestig het, het hulle herhaaldelik in ontrouheid verval en gevolglik gely. Maar dan het die volk tot besinning gekom en Jehovah aangeroep. Hy het hulle keer op keer verlos. Waarom? “Want hy het jammer gevoel vir sy volk.” – 2 Kronieke 36:15; Rigters 2:11-16.

10 Dink aan wat in die dae van Jefta gebeur het. Aangesien die Israeliete valse gode begin aanbid het, het Jehovah toegelaat dat hulle 18 jaar lank deur die Ammoniete onderdruk word. Uiteindelik het die Israeliete berou gehad. Die Bybel vertel ons: “Hulle het ontslae geraak van hulle vreemde gode en het Jehovah gedien, en daarom kon hy nie meer verdra dat Israel so ly nie” (Rigters 10:6-16). b Nadat sy volk opregte berou getoon het, kon Jehovah dit nie meer verduur om hulle te sien ly nie. Daarom het die God wat genade so liefdevol betoon Jefta die krag gegee om die Israeliete uit die hand van hulle vyande te verlos. – Rigters 11:30-33.

11. Wat leer ons omtrent medelye uit Jehovah se handelinge met die Israeliete?

11 Wat leer Jehovah se handelinge met die nasie Israel ons omtrent innige medelye? In die eerste plek sien ons dat dit meer is as net ’n simpatieke bewustheid van die ontberinge wat mense verduur. Dink weer aan die voorbeeld van ’n ma wie se medelye haar beweeg om op die gehuil van haar baba te reageer. So ook sluit Jehovah nie sy ore vir die geroep van sy volk nie. Sy innige medelye beweeg hom om hulle lyding te verlig. Daarbenewens leer ons uit die manier waarop Jehovah met die Israeliete gehandel het dat medelye geensins ’n swakheid is nie, want hierdie liefdevolle eienskap het hom beweeg om kragtig en daadwerklik ten behoewe van sy volk op te tree. Maar betoon Jehovah medelye net met sy knegte as ’n groep?

Jehovah se medelye met individue

12. Hoe het die Wet Jehovah se medelye met individue weerspieël?

12 Die Wet wat God aan die nasie Israel gegee het, het sy medelye met individue geopenbaar. Kyk byvoorbeeld na sy besorgdheid oor die armes. Jehovah het geweet dat daar onvoorsiene omstandighede kon ontstaan wat ’n Israeliet in armoede kon dompel. Hoe moes armes behandel word? Jehovah het die Israeliete streng beveel: “Moet . . . nie jou hart verhard of jou hand toehou vir jou arm broer nie. Jy moet vryelik aan hom gee, en jy moenie teësinnig aan hom gee nie, want dan sal Jehovah jou God jou seën in al jou werk en in alles wat jy aanpak” (Deuteronomium 15:7, 10). Jehovah het verder beveel dat die Israeliete nie die rande van hulle landerye heeltemal moes afoes of enige oorblyfsels moes optel nie. Hierdie oorblyfsels was vir die minderbevoorregtes (Levitikus 23:22; Rut 2:2-7). Wanneer die nasie hierdie bedagsame wet ten behoewe van die armes onder hulle nagekom het, was dit nie vir armes in Israel nodig om kos te bedel nie. Was dit nie ’n weerspieëling van Jehovah se liefdevolle medelye nie?

13, 14. (a) Hoe verseker Dawid se woorde ons dat Jehovah diep besorg is oor ons as individue? (b) Hoe kan dit toegelig word dat Jehovah naby dié is wie se “hart gebreek” of wat “mismoedig” is?

13 Ons liefdevolle God is ook vandag diep besorg oor ons as individue. Ons kan seker wees dat hy deeglik bewus is van enige lyding wat ons verduur. Die psalmis Dawid het geskryf: “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore luister na hulle geroep om hulp. Jehovah is naby dié wie se hart gebreek is. Hy red dié wat mismoedig is” (Psalm 34:15, 18). ’n Bybelkommentator het oor dié wat met hierdie woorde beskryf word, gesê: “Hulle het ’n gebroke hart en ’n verslae gees, dit wil sê, hulle is verootmoedig weens sonde en het geen selfrespek nie; hulle het ’n swak selfbeeld en geen vertroue in hulle eie waarde nie.” Sulke persone voel dalk dat Jehovah ver van hulle is en dat hulle so onbelangrik is dat hy nie vir hulle sal omgee nie. Maar dit is nie die geval nie. Dawid se woorde verseker ons dat Jehovah nie mense met “’n swak selfbeeld” verlaat nie. Ons medelydende God weet dat ons hom gedurende sulke tye nodiger het as ooit, en hy is naby.

14 Beskou ’n ondervinding. ’n Ma in die Verenigde State moes met haar tweejarige seuntjie na die hospitaal jaag omdat hy ’n ernstige kroepaanval gehad het. Nadat die dokters die kind ondersoek het, het hulle die ma meegedeel dat hulle hom oornag in die hospitaal sou moes hou. Waar het die ma die nag deurgebring? In ’n stoel in die hospitaalkamer, reg langs haar kind se bed! Haar seuntjie was siek en sy moes eenvoudig naby hom wees. Ons kan beslis selfs meer van ons liefdevolle hemelse Vader verwag! Ons is immers na sy beeld gemaak (Genesis 1:26). Die roerende woorde van Psalm 34:18 sê vir ons dat Jehovah, soos ’n liefdevolle ouer, ‘naby is’ – altyd vol medelye en gereed om te help – wanneer ons “hart gebreek” of ons “mismoedig” is.

15. Op watter maniere help Jehovah ons as individue?

15 Hoe help Jehovah ons dan as individue? Hy verwyder nie noodwendig die oorsaak van ons lyding nie. Maar Jehovah het ’n oorvloed voorsienings beskikbaar gestel vir dié wat tot hom om hulp roep. Sy Woord, die Bybel, bied praktiese raad wat ’n verskil kan maak. In die gemeente voorsien Jehovah geestelik bekwame opsieners, wat probeer om sy genade te weerspieël wanneer hulle medegelowiges help (Jakobus 5:14, 15). As die “Hoorder van gebed” gee hy “heilige gees . . . vir dié wat hom vra” (Psalm 65:2; Lukas 11:13). Hierdie gees kan ons “krag wat bo die normale is”, gee sodat ons kan volhard totdat God se Koninkryk alle spanningsvolle probleme uit die weg ruim (2 Korintiërs 4:7). Is ons nie dankbaar vir al hierdie voorsienings nie? Laat ons nie vergeet dat hulle blyke van Jehovah se liefdevolle medelye is nie.

16. Wat is die grootste voorbeeld van Jehovah se medelye, en hoe raak dit ons as individue?

16 Die grootste voorbeeld van Jehovah se medelye is natuurlik dat hy die Een wat vir hom die dierbaarste is, as ’n losprys vir ons gegee het. Dit was ’n liefdevolle opoffering van Jehovah se kant, en dit het die weg gebaan vir ons redding. Onthou, daardie losprysvoorsiening is ten behoewe van ons as individue gemaak. Sagaria, die pa van Johannes die Doper, het tereg voorspel dat hierdie voorsiening “die genade wat ons God so liefdevol betoon” verheerlik het. – Lukas 1:78.

Wanneer Jehovah nie genade betoon nie

17-19. (a) Hoe toon die Bybel dat Jehovah se genade perke het? (b) Wat het veroorsaak dat Jehovah se medelye vir sy volk tot ’n einde gekom het?

17 Moet ons dink dat Jehovah se genade wat hy so liefdevol betoon geen perke het nie? Inteendeel, die Bybel toon duidelik dat Jehovah tereg nie genade betoon aan mense wat hulle teen sy regverdige weë verset nie (Hebreërs 10:28). Om te sien waarom hy so optree, kan ons aan die voorbeeld van die nasie Israel dink.

18 Hoewel Jehovah die Israeliete herhaaldelik van hulle vyande verlos het, het sy genade uiteindelik tot ’n einde gekom. Hierdie hardkoppige volk het afgodediens beoefen en het selfs hulle walglike afgode tot in Jehovah se tempel gebring! (Esegiël 5:11; 8:17, 18). Ons word verder ingelig: “Hulle het die boodskappers van die ware God bly spot, en hulle het sy woorde geïgnoreer en sy profete uitgelag, totdat Jehovah vir sy volk woedend geword het en daar geen hoop was dat hulle genees kon word nie” (2 Kronieke 36:16). Die Israeliete het ’n stadium bereik waar daar nie meer ’n gepaste grondslag vir genade was nie, en hulle het Jehovah se regverdige woede gewek. Met watter gevolg?

19 Jehovah kon nie meer medelye vir sy volk voel nie. Hy het verklaar: “Ek sal nie medelye hê of jammer voel of enige genade aan hulle betoon nie. Niks sal my keer om hulle te vernietig nie” (Jeremia 13:14). Jerusalem en sy tempel is dus vernietig, en die Israeliete is as gevangenes na Babilon weggevoer. Hoe tragies is dit tog wanneer sondige mense so opstandig raak dat daar geen Goddelike medelye meer vir hulle oor is nie! – Klaagliedere 2:21.

20, 21. (a) Wat sal gebeur wanneer Goddelike medelye in ons dag tot ’n einde kom? (b) Watter medelydende voorsiening van Jehovah sal in die volgende hoofstuk bespreek word?

20 Wat van vandag? Jehovah het nie verander nie. Uit medelye het hy sy Getuies die opdrag gegee om die “goeie nuus van die Koninkryk” oor die hele bewoonde aarde te verkondig (Matteus 24:14). Wanneer opregte mense gehoor gee, help Jehovah hulle om die Koninkryksboodskap te verstaan (Handelinge 16:14). Maar hierdie werk sal nie vir ewig voortduur nie. Dit sou nouliks medelydend wees as Jehovah hierdie goddelose wêreld, met al sy ellende en lyding, onbepaald sou laat voortduur. Wanneer Goddelike medelye tot ’n einde kom, sal Jehovah kom om oordeel aan hierdie stelsel van dinge te voltrek. Selfs dan sal hy uit medelye optree – medelye met sy “heilige naam” en met sy toegewyde knegte (Esegiël 36:20-23). Jehovah sal goddeloosheid uit die weg ruim en ’n regverdige nuwe wêreld tot stand bring. Jehovah sê van die goddeloses: “Ek sal nie jammer voel nie, en ek sal ook nie medelye betoon nie. Ek sal hulle die gevolge van hulle dade laat dra.” – Esegiël 9:10.

21 Tot dan voel Jehovah medelye vir mense, selfs vir dié wat vernietiging in die gesig staar. Sondige mense wat opreg berouvol is, kan baat vind by een van Jehovah se mees medelydende voorsienings – vergifnis. In die volgende hoofstuk sal ons van die pragtige illustrasies in die Bybel bespreek wat die volkomenheid van Jehovah se vergifnis toelig.

a Dit is egter interessant dat die Hebreeuse werkwoord ra·chamʹ in Psalm 103:13 verwys na die genade, of medelye, wat ’n pa aan sy kinders betoon.

b Die uitdrukking “kon hy nie meer verdra” nie, beteken letterlik “sy siel is verkort; sy geduld was op”. The New English Bible sê: “Hy kon dit nie meer verduur om die Israeliete se benarde toestand te sien nie.” Tanakh—A New Translation of the Holy Scriptures gee dit soos volg weer: “Hy kon nie die ellende van Israel verduur nie.”