HOOFSTUK 8
Ander is hoër as ons
EK IS seker jy sal saamstem dat ander hoër, of groter en sterker, as ek en jy is. Wie sou jy sê is hoër as ons?— Jehovah God. Wat van sy Seun, die Groot Onderwyser? Is hy hoër as ons?— Natuurlik is hy.
Jesus het by God in die hemel gewoon. Hy was ’n geesseun, of engel. Het God ander engele, of geesseuns, gemaak?— Ja, hy het miljoene en miljoene van hulle gemaak. Hierdie engele is ook hoër en baie sterker as ons.—Psalm 104:4; Daniël 7:10.
Onthou jy die naam van die engel wat met Maria gepraat het?— Dit was Gabriël. Hy het vir Maria gesê dat haar baba God se Seun sou wees. God het die lewe van sy geesseun binne-in Maria gesit sodat Jesus as ’n baba op die aarde gebore kon word.—Lukas 1:26, 27.
Glo jy dat daardie wonderwerk gebeur het? Glo jy dat Jesus by God in die hemel gewoon het?— Jesus het gesê hy het. Hoe het Jesus van hierdie dinge geweet? Wel, toe hy ’n seuntjie was, het Maria sekerlik vir hom vertel wat Gabriël gesê het. Josef het moontlik ook vir Jesus vertel dat God sy regte Vader is.
Toe Jesus gedoop is, het God selfs uit die hemel gepraat en gesê: “Dit is my Seun” (Matteus 3:17). En die aand voor sy dood het Jesus gebid: “Vader, verheerlik my naas uself met die heerlikheid wat ek naas u gehad het voordat die wêreld was” (Johannes 17:5). Ja, Jesus het gevra om teruggeneem te word om weer by God in die hemel te lewe. Hoe kon hy daar lewe?— Net as Jehovah God hom weer ’n onsigbare geespersoon, of engel, sou maak.
Nou wil ek vir jou ’n belangrike vraag vra. Is alle engele goed? Wat dink jy?— Wel, eens op ’n tyd was almal van hulle goed. Dit was omdat Jehovah hulle geskep het, en alles wat hy maak, is goed. Maar toe het een van die engele sleg geword. Hoe het dit gebeur?
Om die antwoord te kry, moet ons teruggaan na die tyd toe God die eerste man en vrou, Adam en Eva, gemaak het. Party mense sê dat die verhaal oor hulle nie waar is nie. Maar die Groot Onderwyser het geweet dat dit waar is.
Toe God Adam en Eva gemaak het, het hy hulle in ’n pragtige tuin gesit in ’n plek wat Eden genoem is. Dit was ’n park, ’n paradys. Hulle kon baie kinders, ’n groot gesin, gehad het en vir ewig in die Paradys gelewe het. Maar daar was ’n belangrike les wat hulle moes leer. Dit is een waaroor ons alreeds gepraat het. Kom ons kyk of ons dit onthou.
Jehovah het vir Adam en Eva gesê hulle kon soveel vrugte as wat hulle wou van die bome in die tuin eet. Maar daar was een boom waarvan hulle nie mag geëet het nie. God het vir hulle gesê wat sou Genesis 2:17; 3:3). Wat was die les wat Adam en Eva moes leer?—
gebeur as hulle daarvan eet. Hy het gesê: ‘Julle sal sekerlik doodgaan’ (Dit was die les van gehoorsaamheid. Ja, lewe hang af van gehoorsaamheid aan Jehovah God! Dit was nie genoeg dat Adam en Eva net gesê het dat hulle aan hom gehoorsaam sou wees nie. Hulle moes dit wys deur wat hulle gedoen het. As hulle aan God gehoorsaam was, sou hulle wys dat hulle hom liefhet en wil hê dat hy hulle Heerser moet wees. Dan sou hulle vir ewig in die Paradys kon lewe. Maar wat sou dit wys as hulle van daardie boom eet?—
Dit sou wys dat hulle nie regtig dankbaar was vir wat God vir hulle gegee het nie. Sou jy aan Jehovah gehoorsaam gewees het as jy daar was?— Adam en Eva was aan die begin. Maar toe het iemand wat hoër as hulle was, Eva bedrieg. Hy het haar gekry om aan Jehovah ongehoorsaam te wees. Wie was dit?—
Die Bybel sê ’n slang het met Eva gepraat. Maar jy weet mos ’n slang kan nie praat nie. Hoe het hy dan gepraat?—
’n Engel het dit laat lyk asof die slang praat. Maar dit was eintlik die engel wat gepraat het. Die engel het slegte dinge begin dink. Hy wou hê Adam en Eva moet hom aanbid. Hy wou hê hulle moet die dinge doen wat hý sê. Hy wou God se plek inneem.Daarom het die slegte engel verkeerde gedagtes in Eva se kop gesit. Deur die slang het hy vir haar gesê: ‘God het nie vir julle die waarheid vertel nie. Julle sal nie doodgaan as julle van daardie boom eet nie. Julle sal so wys soos God word.’ Sou jy geglo het wat daardie stem gesê het?—
Eva het begin om iets te begeer wat God nie vir haar gegee het nie. Sy het van die vrugte van die verbode boom geëet. Toe het sy vir Adam daarvan gegee. Adam het nie geglo wat die slang gesê het nie. Maar sy begeerte om saam met Eva te wees, was sterker as sy liefde vir God. Daarom het hy ook van die boom geëet.—Genesis 3:1-6; 1 Timoteus 2:14.
Wat het toe gebeur?— Adam en Eva het onvolmaak geword, oud geword en doodgegaan. En omdat hulle onvolmaak was, was al hulle kinders ook onvolmaak en het hulle uiteindelik oud geword en doodgegaan. Romeine 5:12). Die Bybel sê vir ons die engel wat vir Eva gelieg het, word Satan die Duiwel genoem, en ander engele wat sleg geword het, word demone genoem.—Jakobus 2:19; Openbaring 12:9.
God het nie ’n leuen vertel nie! Lewe hang beslis af van gehoorsaamheid aan hom (Kan jy nou verstaan hoekom die goeie engel wat God gemaak het, sleg geword het?— Dit was omdat hy slegte dinge begin dink het. Hy wou die belangrikste wees. Hy het geweet God het vir Adam en Eva gesê om kinders te hê, en hy wou hê almal van hulle moet hom aanbid. Die Duiwel wil hê almal moet aan Jehovah ongehoorsaam wees. Daarom probeer hy om slegte gedagtes in ons verstand te sit.—Jakobus 1:13-15.
Die Duiwel sê dat niemand Jehovah regtig liefhet nie. Hy sê dat ek en jy God nie liefhet nie en dat ons nie regtig wil doen wat God sê nie. Hy sê dat ons net aan Jehovah gehoorsaam is solank alles gebeur soos wat ons dit wil hê. Is die Duiwel reg? Is ons so?
Die Groot Onderwyser het gesê dat die Duiwel ’n leuenaar is! Jesus het bewys dat hy Jehovah regtig liefhet deur aan Hom gehoorsaam te wees. En Jesus was nie net aan God gehoorsaam wanneer dit maklik was nie. Hy was altyd gehoorsaam, selfs wanneer ander mense dit vir hom moeilik gemaak het. Hy het tot sy dood toe getrou gebly aan Jehovah. Dit is hoekom God hom opgewek het om vir ewig te lewe.
Wie sal jy dan sê is ons grootste vyand?— Ja, dit is Satan die Duiwel. Kan jy hom sien?— Natuurlik nie! Maar ons weet dat hy bestaan en dat hy hoër en sterker is as ons. Maar wie is hoër as die Duiwel?— Jehovah God. Daarom weet ons dat God ons kan beskerm.
Lees oor die Een wat ons moet aanbid: Deuteronomium 30:19, 20; Josua 24:14, 15; Spreuke 27:11 en Matteus 4:10.