Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK VYF

“Al die skatte van wysheid”

“Al die skatte van wysheid”

1-3. Waar hou Jesus op ’n lentedag in 31 G.J. ’n toespraak, en waarom is sy toehoorders verstom?

 DIT is ’n lentedag in 31 G.J. Jesus Christus is naby Kapernaum, ’n besige stad aan die noordwestelike oewer van die See van Galilea. Jesus het die hele nag lank bo-op ’n berg daar naby alleen gebid. Wanneer die dag breek, roep hy sy dissipels en kies 12 onder hulle uit, wat hy apostels noem. Intussen het groot skares mense—waarvan party ver gekom het—Jesus hierheen gevolg, en hulle kom by ’n gelykte op die berg bymekaar. Hulle is gretig om te hoor wat hy te sê het en om van hulle kwale genees te word. Jesus stel hulle nie teleur nie.—Lukas 6:12-19.

2 Jesus kom na die skare toe en genees al die siekes. Eindelik, wanneer niemand onder hulle meer die pyn van ernstige siekte ervaar nie, gaan sit hy en begin hy hulle leer. a Sy woorde op daardie lentedag moes sy toehoorders sekerlik verbaas het. Hulle het immers nog nooit iemand hoor onderrig soos hy dit doen nie. Hy haal nie mondelinge tradisies of bekende Joodse rabbi’s aan om sy leringe meer gewig te laat dra nie. Hy haal eerder herhaaldelik uit die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte aan. Sy boodskap is maklik verstaanbaar, sy woorde eenvoudig, sy bedoeling duidelik. Wanneer hy klaar gepraat het, is die skare verstom. En hulle behoort dit ook te wees. Hulle het so pas geluister na die wysste man wat nog geleef het!—Matteus 7:28, 29.

“Die skare was verstom oor die manier waarop hy geleer het”

3 Daardie toespraak en baie ander dinge wat Jesus gesê en gedoen het, is in God se Woord opgeteken. Dit sal goed wees as ons ondersoek instel na wat die geïnspireerde verslag oor Jesus sê, want in hom is “al die skatte van wysheid” (Kolossense 2:3). Waar het hy sulke wysheid—die vermoë om kennis en begrip prakties toe te pas—vandaan gekry? Hoe het hy wysheid aan die dag gelê, en hoe kan ons sy voorbeeld volg?

“Waar het hierdie man hierdie wysheid . . . vandaan gekry?”

4. Watter vraag het Jesus se toehoorders in Nasaret geopper, en waarom?

4 Gedurende een van sy predikingsreise het Jesus Nasaret, die dorp waar hy grootgeword het, besoek, en hy het in die sinagoge daar begin leer. Baie van sy toehoorders was verstom en het gewonder: “Waar het hierdie man hierdie wysheid . . . vandaan gekry?” Hulle het sy gesin—sy ouers en broers en susters—geken en het geweet dat hy uit ’n nederige agtergrond gekom het (Matteus 13:54-56; Markus 6:1-3). Hulle het ongetwyfeld ook geweet dat hierdie welsprekende timmerman nie enige van die hoogaangeskrewe rabbynse skole bygewoon het nie (Johannes 7:15). Hulle vraag het dus logies geklink.

5. Wat het Jesus gesê is die bron van sy wysheid?

5 Die wysheid wat Jesus geopenbaar het, was nie bloot weens sy volmaakte verstand nie. Later in sy bediening, toe hy in die openbaar in die tempel geleer het, het Jesus gesê dat sy wysheid uit ’n veel hoër bron gekom het. “Wat ek leer, is nie myne nie”, het hy gesê, “maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Johannes 7:16). Ja, die Vader, wat die Seun gestuur het, was die ware bron van Jesus se wysheid (Johannes 12:49). Maar hoe het Jesus wysheid van Jehovah gekry?

6, 7. Op watter maniere het Jesus wysheid van sy Vader gekry?

6 Jehovah se heilige gees was aan die werk in Jesus se hart en verstand. Jesaja het aangaande Jesus as die beloofde Messias voorspel: “Op hom sal die gees van Jehovah rus, die gees van wysheid en van begrip, die gees van raad en van mag, die gees van kennis en van die vrees van Jehovah” (Jesaja 11:2). Aangesien Jehovah se gees op Jesus gerus en sy denke en besluite gerig het, is dit dan enigsins verbasend dat sy woorde en dade van buitengewone wysheid getuig het?

7 Jesus het op nog ’n betekenisvolle manier wysheid van sy Vader gekry. Soos ons in Hoofstuk 2 gesien het, het Jesus gedurende sy voormenslike bestaan, wat oor tallose eeue heen gestrek het, die geleentheid gehad om te leer wat sy Vader se beskouing van sake is. Ons kan ons eenvoudig nie indink hoeveel wysheid die Seun aan sy Vader se sy verwerf het nie, terwyl hy hom ingespan het as God se “meesterwerker” gedurende die skepping van alle ander dinge, lewend sowel as nielewend. Dit is dus met goeie rede dat die Seun in sy voormenslike bestaan as die verpersoonliking van wysheid beskryf word (Spreuke 8:22-31; Kolossense 1:15, 16). Deur sy hele bediening heen kon Jesus gebruik maak van die wysheid wat hy verwerf het terwyl hy by sy Vader in die hemel was (Johannes 8:26, 28, 38). b Daarom behoort ons glad nie verbaas te wees oor die omvang van kennis en diepte van begrip wat weerspieël word in Jesus se woorde of oor die gesonde oordeel waarvan elkeen van sy dade getuig nie.

8. Hoe kan ons, as volgelinge van Jesus, wysheid verkry?

8 As volgelinge van Jesus moet ons ook op Jehovah vertrou as die bron van wysheid (Spreuke 2:6). Jehovah gee natuurlik nie op ’n wonderdadige manier aan ons wysheid nie. Maar hy verhoor wel ons opregte gebede vir die nodige wysheid om die uitdagings van die lewe suksesvol die hoof te bied (Jakobus 1:5). Om daardie wysheid te verkry, verg baie inspanning van ons. Ons moet daarna bly soek “soos [na] verborge skatte” (Spreuke 2:1-6). Ja, ons moet aanhou om diep te delf in God se Woord, waarin sy wysheid geopenbaar word, en ons moet ons lewe in ooreenstemming bring met wat ons leer. Die voorbeeld van Jehovah se Seun is besonder nuttig om ons te help om wysheid te verkry. Kom ons ondersoek ’n paar gebiede waarop Jesus wysheid aan die dag gelê het en leer hoe ons hom kan navolg.

Woorde van wysheid

God se wysheid word in die Bybel geopenbaar

9. Wat het Jesus se leringe so wys gemaak?

9 Mense het in groot getalle na Jesus toe gestroom net om hom te hoor praat (Markus 6:31-34; Lukas 5:1-3). En geen wonder nie, want wanneer Jesus sy mond oopgemaak het, het woorde van voortreflike wysheid daaruit gekom! Sy leringe het ’n grondige kennis van God se Woord weerspieël asook ’n onoortreflike vermoë om tot die kern van ’n saak deur te dring. Sy leringe vind by alle mense byval en is in alle tye toepaslik. Kyk na ’n paar voorbeelde van die wysheid wat gevind word in die woorde van Jesus, die voorspelde “Wonderlike Raadgewer”.—Jesaja 9:6.

10. Watter positiewe eienskappe spoor Jesus ons aan om aan te kweek, en waarom?

10 Die Bergpredikasie, wat aan die begin genoem is, is die grootste versameling van Jesus se leringe wat nie onderbreek word deur ’n vertelling of die woorde van ander nie. In hierdie toespraak sê Jesus nie net vir ons om regte spraak en gedrag na te streef nie. Sy raad gaan veel verder as dit. Aangesien Jesus alte goed geweet het dat gedagtes en gevoelens aanleiding gee tot woorde en dade, spoor hy ons aan om positiewe eienskappe van die verstand en hart aan te kweek, soos saggeaardheid, ’n honger na regverdigheid, ’n neiging tot barmhartigheid en vredeliewendheid, asook liefde vir ander (Matteus 5:5-9, 43-48). Wanneer ons sulke eienskappe in ons hart aankweek, sal die resultaat heilsame spraak en gedrag wees wat nie net Jehovah se hart bly maak nie, maar wat ook goeie verhoudings met ons medemens bevorder.—Matteus 5:16.

11. Hoe dring Jesus deur tot die kern van die saak wanneer hy raad gee oor sondige gedrag?

11 Wanneer Jesus raad gee oor sondige gedrag, dring hy deur tot die kern van die saak. Hy sê nie net vir ons om nie by gewelddade betrokke te raak nie. Hy waarsku ons eerder om nie toe te laat dat woede in ons hart smeul nie (Matteus 5:21, 22; 1 Johannes 3:15). Hy verbied nie net egbreuk as sodanig nie. Hy waarsku eerder teen die hartstog wat in die hart begin en tot daardie verraderlike daad lei. Hy vermaan ons om nie toe te laat dat ons oë ongepaste begeertes en wellus by ons aanwakker nie (Matteus 5:27-30). Jesus praat van oorsake, nie net simptome nie. Hy wys op die gesindhede en begeertes wat tot sondige dade aanleiding gee.—Psalm 7:14.

12. Hoe beskou volgelinge van Jesus sy raad, en waarom?

12 Watter wysheid lê tog opgesluit in die woorde van Jesus! Dit is geen wonder dat “die skare verstom was oor die manier waarop hy geleer het” nie (Matteus 7:28). As sy volgelinge beskou ons sy wyse raad as ’n riglyn waarvolgens ons moet lewe. Ons probeer om die positiewe eienskappe aan te kweek wat hy aanbeveel het—onder andere barmhartigheid, vredeliewendheid en liefde—in die wete dat ons sodoende ’n fondament vir godvrugtige gedrag lê. Ons probeer die negatiewe gevoelens en begeertes waarteen hy gewaarsku het, soos bitter toorn en onsedelike begeertes, met wortel en tak uit ons hart uitroei, in die wete dat dit ons sal help om sondige gedrag te vermy.—Jakobus 1:14, 15.

’n Lewenswyse wat deur wysheid gerig word

13, 14. Wat toon dat Jesus goeie oordeel aan die dag gelê het in die keuse van sy lewenswyse?

13 Jesus het nie net in sy woorde wysheid geopenbaar nie, maar ook in sy dade. Sy hele lewenswyse—sy besluite, sy beskouing van homself en sy optrede teenoor ander—het bewys gelewer van wysheid in al sy pragtige fasette. Kyk na ’n paar voorbeelde wat toon dat Jesus deur “praktiese wysheid en denkvermoë” gerig is.—Spreuke 3:21.

14 Wysheid sluit gesonde oordeel in. Jesus het goeie oordeel aan die dag gelê in die keuse van sy lewenswyse. Kan jy jou voorstel watter soort lewe hy kon gehad het—die huis wat hy kon gebou het, die besigheid wat hy kon opgebou het of die wêreldse aansien wat hy kon geniet het? Jesus het geweet dat ’n lewe wat aan hierdie strewes gewy is, “nietigheid en ’n gejaag na die wind” is (Prediker 4:4; 5:10). So ’n weg is dwaasheid, die teenoorgestelde van wysheid. Jesus het gekies om sy lewe eenvoudig te hou. Hy het nie daarin belanggestel om geld te maak of materiële besittings op te gaar nie (Matteus 8:20). In ooreenstemming met wat hy ander geleer het, het hy sy oog gerig gehou op ’n enkele doel—om God se wil te doen (Matteus 6:22). Jesus het sy tyd en energie wyslik aan Koninkryksbelange gewy, wat baie belangriker en lonender is as materiële dinge (Matteus 6:19-21). Hy het dus ’n navolgenswaardige voorbeeld agtergelaat.

15. Hoe kan volgelinge van Jesus toon dat hulle hulle oog eenvoudig hou, en waarom is dit die wyse weg?

15 Hedendaagse volgelinge van Jesus sien hoe wys dit is om hulle oog eenvoudig te hou. Daarom belas hulle hulle nie met onnodige skuld en met wêreldse strewes wat te veel aandag en energie in beslag neem nie (1 Timoteus 6:9, 10). Baie het stappe gedoen om hulle lewe te vereenvoudig sodat hulle meer tyd aan die Christelike bediening kan wy, moontlik selfs deur as voltydse Koninkryksverkondigers te dien. Daar is geen wyser weg om te volg nie, want om Koninkryksbelange hulle regmatige plek te gee, lei tot die grootste geluk en tevredenheid.—Matteus 6:33.

16, 17. (a) Op watter maniere het Jesus getoon dat hy beskeie en realisties was in wat hy van homself verwag het? (b) Hoe kan ons toon dat ons beskeie en realisties is in wat ons van onsself verwag?

16 Die Bybel verbind wysheid met beskeidenheid, wat insluit dat ons bewus is van ons beperkings (Spreuke 11:2). Jesus was beskeie en realisties in wat hy van homself verwag het. Hy het geweet dat hy nie almal wat sy boodskap hoor, sou bekeer nie (Matteus 10:32-39). Hy het ook besef dat hy net ’n beperkte aantal mense persoonlik sou kon bereik. Daarom het hy die dissipelmaakwerk wyslik aan sy volgelinge toevertrou (Matteus 28:18-20). Hy het met beskeidenheid erken dat hulle “groter werke” as hy sou doen, want hulle sou meer mense in ’n groter gebied en oor ’n langer tydperk bereik (Johannes 14:12). Jesus het ook erken dat hy soms hulp nodig gehad het. Hy het die hulp aanvaar van engele wat gekom het om hom in die wildernis te bedien en van die engel wat gekom het om hom in Getsemane te versterk. Toe hy hulp die nodigste gehad het, het die Seun van God om hulp geroep.—Matteus 4:11; Lukas 22:43; Hebreërs 5:7.

17 Ons moet ook beskeie en realisties wees in wat ons van onsself verwag. Ons wil beslis heelhartig wees en ons kragtig inspan in die predikings- en dissipelmaakwerk (Lukas 13:24; Kolossense 3:23). Terselfdertyd moet ons onthou dat Jehovah ons nie met mekaar vergelyk nie, en ons moet dit ook nie doen nie (Galasiërs 6:4). Praktiese wysheid sal ons help om realistiese doelwitte te stel in ooreenstemming met ons vermoëns en omstandighede. Daarbenewens sal wysheid diegene in verantwoordelike posisies help om te erken dat hulle beperkings het en dat hulle van tyd tot tyd hulp en ondersteuning nodig het. Beskeidenheid sal sulke persone help om die hulp met dankbaarheid te aanvaar en te erken dat Jehovah ’n medegelowige kan gebruik om vir hulle “’n versterkende hulp” te word.—Kolossense 4:11.

18, 19. (a) Wat toon dat Jesus redelik en positief was in sy handelinge met sy dissipels? (b) Waarom het ons goeie rede om positief en redelik te wees in ons handelinge met mekaar, en hoe kan ons dit doen?

18 “Die wysheid van bo is . . . redelik”, sê Jakobus 3:17. Jesus was redelik en positief in sy handelinge met sy dissipels. Hy was terdeë bewus van hulle foute, en tog het hy na die goeie in hulle gesoek (Johannes 1:47). Hy het geweet dat hulle hom in die steek sou laat op die nag dat hy in hegtenis geneem sou word, maar hy het nie aan hulle lojaliteit getwyfel nie (Matteus 26:31-35; Lukas 22:28-30). Petrus het drie keer ontken dat hy Jesus selfs ken. Nogtans het Jesus ’n smeekbede ten behoewe van Petrus gedoen en vertroue in sy getrouheid uitgespreek (Lukas 22:31-34). Op die laaste nag van sy aardse lewe het Jesus in gebed tot sy Vader nie op sy dissipels se foute gefokus nie. Hy het eerder positief gepraat van hulle lewenswandel tot op daardie nag en gesê: “Hulle het u woord bewaar” (Johannes 17:6). Ten spyte van hulle onvolmaakthede het hy die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk in hulle hande geplaas (Matteus 28:19, 20). Die vertroue en geloof wat hy in hulle uitgespreek het, het hulle ongetwyfeld versterk om die werk uit te voer wat hy hulle beveel het om te doen.

19 Volgelinge van Jesus het rede om sy voorbeeld in hierdie verband na te volg. As die volmaakte Seun van God geduldig was met sy onvolmaakte dissipels, hoeveel te meer moet ons as sondige mense redelik wees in ons handelinge met mekaar! (Filippense 4:5). Dit sal goed wees as ons nie op die tekortkominge van ons medeaanbidders fokus nie, maar eerder na die goeie in hulle soek. Dit sal wys wees as ons onthou dat Jehovah hulle getrek het (Johannes 6:44). Hy moet tog sekerlik iets goeds in hulle sien, en ons moet ook. ’n Positiewe gees sal ons nie net help om “oortreding oor te sien” nie, maar ook om dinge te soek waarvoor ons ander kan prys (Spreuke 19:11). Wanneer ons vertroue in ons Christenbroers en -susters openbaar, help ons hulle om hulle bes te doen in Jehovah se diens en om vreugde daaruit te put.—1 Tessalonisense 5:11.

20. Wat moet ons doen met die skatkamer van wysheid wat ons in die Evangelieverslae vind, en waarom?

20 Die Evangelieverslae van Jesus se lewe en bediening is waarlik ’n skatkamer van wysheid! Wat moet ons met hierdie kosbare gawe doen? Aan die einde van die Bergpredikasie het Jesus sy gehoor aangespoor om nie net sy wyse woorde te hoor nie, maar om dit ook te doen, of toe te pas (Matteus 7:24-27). As ons ons gedagtes, beweegredes en dade volgens Jesus se wyse woorde en dade vorm, sal dit ons help om nou die beste moontlike lewe te vind en op die weg na die ewige lewe te bly (Matteus 7:13, 14). Daar is sekerlik geen beter of wyser weg wat ons kan volg nie!

a Die toespraak wat Jesus daardie dag gehou het, staan nou bekend as die Bergpredikasie. Soos dit in Matteus 5:3–7:27 opgeteken staan, dek dit 107 verse en sal dit waarskynlik in omtrent 20 minute voorgedra kan word.

b Blykbaar is die herinnering aan sy voormenslike bestaan aan Jesus teruggegee toe ‘die hemele geopen is’ met sy doop.—Matteus 3:13-17.