HOOFSTUK TWEE
“Die weg en die waarheid en die lewe”
1, 2. Waarom sou dit onmoontlik wees om Jehovah op ons eie te nader, en wat het Jesus Christus in hierdie verband vir ons gedoen?
HET jy al ooit verdwaal? Jy onthou dalk ’n keer toe jy op pad was om by ’n vriend of familielid te gaan kuier en jy nie die pad kon vind nie. Het jy, terwyl jy op ’n onbekende pad gery het, stilgehou en by iemand aanwysings gevra? Stel jou voor hoe jy sou gevoel het as ’n vriendelike persoon, pleks van net vir jou te sê hoe om daar te kom, gesê het: “Volg my net. Ek sal jou daarheen neem.” Hoe verlig sou jy tog gewees het!
2 In sekere sin doen Jesus Christus so iets vir ons. Op ons eie sou dit vir ons onmoontlik wees om God te nader. As gevolg van oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid het die mensdom as ’t ware verdwaal, is hulle “vervreemd . . . van die lewe wat tot God behoort” (Efesiërs 4:17, 18). Ons het hulp nodig om ons pad te vind. Jesus, ons liefdevolle Voorbeeld, gee nie net raad en aanwysings nie; hy doen meer. Soos ons in Hoofstuk 1 gesien het, nooi Jesus ons: “Kom word my volgeling” (Markus 10:21). Maar hy gee ons ook ’n dwingende rede om daardie uitnodiging te aanvaar. By een geleentheid het Jesus gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Kom ons bespreek ’n paar redes waarom ons die Vader slegs deur die Seun kan nader. Dan, met daardie redes in gedagte, sal ons bespreek hoe Jesus beslis “die weg en die waarheid en die lewe” is.
’n Noodsaaklike plek in Jehovah se voorneme
3. Waarom moet ons God deur Jesus nader?
3 In die eerste plek moet ons God deur Jesus nader omdat Jehovah dit goedgedink het om aan sy Seun die allerbelangrikste rol te gee. a Die Vader het hom die sentrale, of belangrikste, figuur in die verwesenliking van al Sy voornemens gemaak (2 Korintiërs 1:20; Kolossense 1:18-20). Om die noodsaaklike rol van die Seun te verstaan, moet ons kyk na wat gebeur het in die tuin van Eden, waar die eerste mensepaar by Satan aangesluit het in sy opstand teen Jehovah.—Genesis 2:16, 17; 3:1-6.
4. Watter geskil het as gevolg van die opstand in Eden ontstaan, en wat het Jehovah besluit om te doen sodat die geskil besleg kon word?
4 Die opstand in Eden het ’n geskil van universele belang laat ontstaan: Oefen Jehovah God sy heerskappy oor sy skepsele op ’n behoorlike manier uit? Om hierdie uiters belangrike geskil te besleg, het Jehovah besluit dat ’n volmaakte geesseun na die aarde toe moes gaan. Die sending wat hierdie seun sou onderneem, kon nie belangriker gewees het nie—hy sou sy lewe gee om Jehovah se soewereiniteit te regverdig en om as ’n losprys te dien tot redding van die mensdom. Deur tot die dood getrou te bly, sou die gekose seun dit moontlik maak om al die probleme op te los wat deur Satan se opstand veroorsaak is (Hebreërs 2:14, 15; 1 Johannes 3:8). Maar Jehovah het miljoene der miljoene volmaakte geesseuns (Daniël 7:9, 10). Watter een het hy gekies om hierdie allerbelangrikste toewysing uit te voer? Jehovah het sy “enigverwekte Seun” gekies, die een wat later as Jesus Christus bekend geword het.—Johannes 3:16.
5, 6. Hoe het Jehovah getoon dat hy vertroue in sy Seun het, en waarop is hierdie vertroue gegrond?
5 Moet ons verbaas wees oor Jehovah se keuse? Glad nie! Die Vader het die grootste vertroue in sy enigverwekte Seun gehad. Eeue voordat sy Seun na die aarde toe gekom het, het Jehovah voorspel dat hierdie Seun lojaal sou bly ten spyte van al die lyding wat hy sou verduur (Jesaja 53:3-7, 10-12; Handelinge 8:32-35). Dink aan die implikasies hiervan. Soos alle ander intelligente wesens, het die Seun wilsvryheid gehad en kon hy self besluit wat hy gaan doen. En tog het Jehovah soveel vertroue in hom gehad dat hy voorspel het dat sy Seun getrou sou bly. Waarop is daardie vertroue gegrond? Kortom, op kennis. Jehovah het intieme kennis van sy Seun en weet hoe graag sy Seun Hom tevrede wil stel (Johannes 8:29; 14:31). Die Seun het sy Vader lief, en op sy beurt het Jehovah Sy Seun lief (Johannes 3:35). Die liefde wat die Vader en die Seun vir mekaar het, smee ’n onverbreeklike band van eenheid en vertroue tussen hulle.—Kolossense 3:14.
6 As ons dink aan die belangrike rol wat die Seun beklee, die vertroue wat die Vader in hom het en die liefde wat die Vader en die Seun saambind, is dit dan enigsins verbasend dat ons God slegs deur Jesus kan nader? En tog is daar ’n ander rede waarom net die Seun ons na die Vader kan lei.
Net die Seun ken die Vader ten volle
7, 8. Waarom kon Jesus tereg sê dat niemand “behalwe die Seun” die Vader ten volle ken nie?
7 Daar is vereistes waaraan ons moet voldoen as ons toegang tot Jehovah wil verkry (Psalm 15:1-5). Wie weet beter as die Seun wat dit verg om aan God se standaarde te voldoen en om Sy goedkeuring te geniet? Jesus het gesê: “Alles is deur my Vader aan my oorgegee, en niemand ken die Seun ten volle nie, behalwe die Vader, en ook ken niemand die Vader ten volle nie, behalwe die Seun en enigeen aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar” (Matteus 11:27). Kom ons kyk waarom Jesus, tereg en sonder oordrywing, kon sê dat niemand “behalwe die Seun” die Vader ten volle ken nie.
8 As “die eersgeborene van die hele skepping” het die Seun ’n unieke intimiteit met Jehovah (Kolossense 1:15). Stel jou die hegtheid van die Vader-Seun-verhouding voor wat gedurende die tallose eeue ontwikkel het toe dit net hulle twee was—van die daeraad van die skepping af totdat ander geesskepsele in aansyn gebring is (Johannes 1:3; Kolossense 1:16, 17). Dink net aan die kosbare geleentheid wat die Seun gehad het toe hy by sy Vader was, die geleentheid om met sy Vader se gedagtes oor sake vertroud te raak en om van Sy wil, standaarde en weë te leer. Dit is waarlik geen oordrywing om te sê dat Jesus sy Vader beter ken as wat enigiemand anders hom ken nie. Hierdie hegtheid het Jesus sekerlik in staat gestel om sy Vader op maniere te openbaar waarop niemand anders dit kon doen nie.
9, 10. (a) Op watter maniere het Jesus sy Vader geopenbaar? (b) Wat moet ons doen om Jehovah se goedkeuring te geniet?
9 Die leringe van Jesus het getoon dat hy deeglik bewus is van hoe Jehovah dink en voel en van wat Hy van Sy aanbidders vereis. b Jesus het sy Vader op nog ’n belangrike manier geopenbaar. Jesus het gesê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Johannes 14:9). In alles wat Jesus gesê en gedoen het, het hy sy Vader volmaak nagevolg. Wanneer ons dus in die Bybel van Jesus lees—die kragtige en innemende woorde wat hy in sy onderrigting gebruik het, die medelye wat hom beweeg het om ander te genees en die empatie wat hom trane laat stort het—kan ons ons indink dat Jehovah presies dieselfde dinge sou gesê en gedoen het (Matteus 7:28, 29; Markus 1:40-42; Johannes 11:32-36). Die weë en wil van die Vader word volmaak geopenbaar in die woorde en dade van die Seun (Johannes 5:19; 8:28; 12:49, 50). Om Jehovah se goedkeuring te geniet, moet ons dus gehoor gee aan Jesus se leringe en sy voorbeeld volg.—Johannes 14:23.
10 Aangesien Jesus Jehovah intiem ken en hom volmaak navolg, is dit glad nie verbasend dat Jehovah bepaal het dat die Vader deur middel van die Seun genader moet word nie. Noudat ons verstaan waarom ons Jehovah alleenlik deur Jesus kan nader, kom ons bespreek die betekenis van Jesus se woorde: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.”—Johannes 14:6.
“Ek is die weg”
11. (a) Waarom kan ons alleenlik deur middel van Jesus ’n goedgekeurde verhouding met God verkry? (b) Hoe beklemtoon die woorde wat in Johannes 14:6 opgeteken staan, die uniekheid van Jesus se posisie? (Sien voetnoot.)
11 Ons het reeds geleer dat ons God slegs deur Jesus kan nader. Dink meer spesifiek aan wat dit vir ons beteken. Jesus is “die weg” in die sin dat ons alleenlik deur middel van hom ’n goedgekeurde verhouding met God kan verkry. Waarom is dit die geval? Jesus het, deur tot die dood getrou te bly, sy lewe as ’n losprysoffer gegee (Matteus 20:28). Sonder hierdie voorsiening van die losprys sou dit vir ons onmoontlik wees om toegang tot God te hê. Sonde skep ’n versperring tussen mense en God, want Jehovah is heilig en kan sonde dus nooit goedkeur nie (Jesaja 6:3; 59:2). Maar die offerande van Jesus het die versperring verwyder; dit het die nodige dekking, of versoening, vir sonde voorsien (Hebreërs 10:12; 1 Johannes 1:7). As ons God se voorsiening deur Christus aanvaar en geloof daarin stel, kan ons Jehovah se guns verkry. Daar is eenvoudig geen ander manier waarop ons “met God versoen” kan raak nie. c—Romeine 5:6-11.
12. In watter opsigte is Jesus “die weg”?
12 Jesus is “die weg” wanneer dit by gebed kom. Dit is alleenlik deur Jesus wat ons Jehovah in gebed kan nader met die versekering dat ons opregte versoeke verhoor sal word (1 Johannes 5:13, 14). Jesus het self gesê: “As julle die Vader enigiets vra, sal hy dit vir julle in my naam gee. . . . Vra en julle sal ontvang, dat julle vreugde volkome gemaak kan word” (Johannes 16:23, 24). Dit is gepas dat ons Jehovah in die naam van Jesus in gebed kan nader en Hom “ons Vader” kan noem (Matteus 6:9). Jesus is ook in ’n ander opsig “die weg”—deur sy voorbeeld. Soos ons vroeër genoem het, het Jesus sy Vader volmaak nagevolg. Jesus se voorbeeld wys ons dus hoe om te lewe sodat ons Jehovah tevrede kan stel. Om Jehovah te nader, moet ons dan in Jesus se voetstappe wandel.—1 Petrus 2:21.
“Ek is . . . die waarheid”
13, 14. (a) In watter opsigte was Jesus se woorde altyd die waarheid? (b) Wat moes Jesus doen om “die waarheid” te wees, en waarom?
13 Jesus het altyd die waarheid gepraat oor sy Vader se profetiese woord (Johannes 8:40, 45, 46). Geen bedrog is ooit in Jesus se mond gevind nie (1 Petrus 2:22). Selfs sy teenstanders het erken dat hy “die weg van God in ooreenstemming met die waarheid” leer (Markus 12:13, 14). Maar toe Jesus gesê het “ek is . . . die waarheid”, het hy nie bloot verwys na die feit dat hy die waarheid bekend gemaak het deur sy woorde, prediking en onderrigting nie. Meer—baie meer—as woorde was daarby betrokke.
14 Onthou dat Jehovah Bybelskrywers eeue vroeër geïnspireer het om talle profesieë oor die Messias, of Christus, op te teken. Hierdie profesieë het besonderhede oor sy lewe, bediening en dood voorspel. Daarbenewens het die Mosaïese Wet skaduwees, of profetiese patrone, bevat wat na die Messias gewys het (Hebreërs 10:1). Sou Jesus tot die dood getrou bly en sodoende alles vervul wat oor hom voorspel is? Slegs dan sou daar onteenseglik bewys word dat Jehovah die God van ware profesie is. Daardie geweldige gewig het op Jesus se skouers gerus. Deur die manier waarop hy gelewe het—elke woord wat hy gesê het en elke daad wat hy gedoen het—het Jesus die profetiese patrone ’n werklikheid gemaak (2 Korintiërs 1:20). Jesus was dus “die waarheid”. Dit was asof die waarheid van Jehovah se profetiese woord in Jesus gestalte gekry het.—Johannes 1:17; Kolossense 2:16, 17.
“Ek is . . . die lewe”
15. Wat beteken dit om geloof in die Seun te beoefen, en waartoe kan dit lei as ons dit doen?
15 Jesus is “die lewe”, want dit is alleenlik deur hom dat ons die lewe—dit wil sê “die werklike lewe”—kan kry (1 Timoteus 6:19). Die Bybel sê: “Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe; hy wat aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die gramskap van God bly op hom” (Johannes 3:36). Wat beteken dit om geloof in die Seun van God te beoefen? Dit beteken dat ons oortuig is dat ons nie sonder hom die lewe kan kry nie. Wat meer is, dit beteken dat ons ons geloof deur werke bewys, aanhou om by Jesus te leer en ons bes doen om sy leringe en voorbeeld te volg (Jakobus 2:26). As ons geloof in die Seun van God beoefen, lei dit dus tot die ewige lewe—onsterflike geeslewe in die hemel vir ’n “klein kuddetjie” geesgesalfde Christene en volmaakte menselewe op ’n aardse paradys vir “’n groot menigte” “ander skape”.—Lukas 12:32; 23:43; Openbaring 7:9-17; Johannes 10:16.
16, 17. (a) Hoe sal Jesus selfs vir dié wat gesterf het, “die lewe” wees? (b) Watter vertroue kan ons hê?
16 Wat van dié wat reeds gesterf het? Jesus is ook vir hulle “die lewe”. Kort voordat hy sy vriend Lasarus uit die dode opgewek het, het Jesus vir Marta, die suster van Lasarus, gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy” (Johannes 11:25). Jehovah het “die sleutels van die dood en van Hades” aan sy Seun toevertrou, waardeur hy hom die mag gegee het om die dooies op te wek (Openbaring 1:17, 18). Met daardie sleutels sal die verheerlikte Jesus die poorte van Hades oopsluit en sodoende almal wat in die mensdom se gemeenskaplike graf gevange gehou word, vrylaat.—Johannes 5:28, 29.
17 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”—met hierdie eenvoudige verklaring het Jesus die doel van sy lewe en bediening op die aarde opgesom. Hierdie woorde het vandag vir ons groot betekenis. Onthou dat Jesus ná hierdie verklaring gesê het: “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Jesus se woorde is vandag nog net so toepaslik as toe hy hulle gesê het. Ons kan dus die volle vertroue hê dat ons nooit sal verdwaal as ons Jesus volg nie. Hy, en hy alleen, sal ons die weg “na die Vader” wys.
Hoe sal jy reageer?
18. Wat is daarby betrokke om ware volgelinge van Jesus te wees?
18 Met die oog op Jesus se noodsaaklike rol en sy intieme kennis van die Vader, het ons goeie rede om die Seun te volg. Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, is dade daarby betrokke om ware volgelinge van Jesus te wees, nie net woorde of gevoelens nie. Om Christus te volg, behels dat ons ons lewe na sy leringe en voorbeeld skik (Johannes 13:15). Die studiehulp wat jy nou lees, kan jou hiermee help.
19, 20. Wat bevat hierdie studiehulp wat jou kan help in jou poging om Christus te volg?
19 In die hoofstukke wat volg, sal ons ’n sorgvuldige studie van Jesus se lewe en bediening maak. Hierdie hoofstukke word in drie dele verdeel. Eerstens sal ons ’n oorsig van sy eienskappe en weë kry. Tweedens sal ons sy ywerige voorbeeld in die predikings- en onderrigtingswerk ondersoek. Derdens sal ons bespreek hoe hy liefde betoon het. Vanaf Hoofstuk 3 is daar ’n onderrigvenster met die titel “Hoe kan jy Jesus volg?” Die tekste en vrae daarin is bedoel om ons te help om te peins oor hoe ons Jesus in woord en daad kan volg.
20 Met Jehovah God se hulp hoef jy nie verdwaal te wees, vervreemd van hom as gevolg van oorgeërfde sonde nie. Hoewel dit ’n groot opoffering van hom geverg het, het Jehovah uit liefde sy Seun gestuur om vir ons die weg te wys om in ’n goedgekeurde verhouding met God te kom (1 Johannes 4:9, 10). Mag jy beweeg, ja aangevuur, word om hierdie groot liefde te beantwoord deur Jesus se uitnodiging “Word my volgeling” te aanvaar en daarvolgens op te tree.—Johannes 1:43.
a Die rol van die Seun is so belangrik dat die Bybel hom ’n aantal profetiese name en titels gee.—Sien die venster op bladsy 23.
b Sien byvoorbeeld Jesus se woorde wat in Matteus 10:29-31; 18:12-14, 21-35 en 22:36-40 opgeteken staan.
c In Johannes 14:6 beklemtoon die gebruik van die persoonlike voornaamwoord “ek” asook die bepaalde lidwoord, “die”, dat Jesus se posisie uniek is, dat hy die weg is, die enigste een deur wie ons die Vader kan nader.