Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK VYFTIEN

“Beweeg deur innige jammerte”

“Beweeg deur innige jammerte”

“Here, laat ons oë geopen word”

1-3. (a) Hoe reageer Jesus wanneer twee blinde bedelaars hom om hulp smeek? (b) Wat word bedoel met die uitdrukking “beweeg deur innige jammerte”? (Sien voetnoot.)

 TWEE blinde mans sit net buite Jerigo langs die pad. Hulle kom elke dag hierheen, vind ’n plek waar mense waarskynlik sal verbygaan en vra aalmoese. Maar vandag gaan hulle iets ondervind wat ’n dramatiese verandering in hulle lewe sal meebring.

2 Skielik hoor die bedelaars ’n lawaai. Omdat hulle nie kan sien wat aangaan nie, vra een van hulle waaroor al die opgewondenheid is, en daar word vir hom gesê: “Jesus die Nasarener gaan verby!” Jesus is vir die laaste keer op pad na Jerusalem. Maar hy is nie alleen nie; groot skares volg hom. Wanneer die bedelaars hoor wie verbykom, veroorsaak hulle ietwat van ’n opskudding deur te skreeu: “Here, wees ons barmhartig, Seun van Dawid!” Dit irriteer die skare, en hulle sê vir die bedelaars om stil te bly, maar die manne is desperaat. Hulle laat hulle nie stilmaak nie.

3 Jesus hoor hulle geskreeu bo die lawaai van die skare. Wat sal hy doen? Daar is baie dinge wat swaar op sy verstand en hart druk. Hy staan op die punt om die laaste week van sy lewe op die aarde te begin. Hy weet dat lyding en ’n wrede dood in Jerusalem op hom wag. Nogtans ignoreer hy nie die aanhoudende geroep nie. Hy gaan staan en vra dat die manne wat so roep, na hom toe gebring word. “Here, laat ons oë geopen word”, smeek hulle. “Beweeg deur innige jammerte” raak Jesus hulle oë aan, en hulle kan weer sien. a Hulle begin Jesus sonder versuim volg.—Lukas 18:35-43; Matteus 20:29-34.

4. Hoe het Jesus die profesie vervul dat hy “jammer [sal] voel vir die geringe”?

4 Dit was nie ’n alleenstaande geval nie. By baie geleenthede en onder baie verskillende omstandighede was Jesus diep geroer en het hy medelye betoon. ’n Bybelprofesie het voorspel dat hy “jammer [sal] voel vir die geringe” (Psalm 72:13). In ooreenstemming met hierdie woorde het Jesus die gevoelens van ander in ag geneem. Hy het die inisiatief geneem om mense te help. Sy medelye was ’n motiverende krag in sy bediening. Kom ons kyk hoe die Evangelies die tere meegevoel agter Jesus se woorde en dade openbaar en bespreek dan hoe ons ook sulke meegevoel kan betoon.

Hy het ander se gevoelens in ag geneem

5, 6. Watter voorbeelde toon dat Jesus ’n man met empatie was?

5 Jesus was ’n mens met groot empatie. Hy het die gevoelens van diegene wat ly, verstaan en het meegevoel gehad daarmee. Al het hy nie in presies dieselfde omstandighede as hulle verkeer nie, het hy werklik hulle pyn in sy hart gevoel (Hebreërs 4:15). Toe hy ’n vrou genees het wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het hy haar kwaal as ’n “ernstige siekte” beskryf en sodoende getoon dat hy bewus was van die groot ontsteltenis en lyding wat dit vir haar veroorsaak het (Markus 5:25-34). Toe hy sien hoe Maria en dié wat by haar was, oor die dood van Lasarus huil, het hulle droefheid hom so diep getref dat hy innerlik ontsteld geraak het. Al het Jesus geweet dat hy Lasarus kort daarna sou opwek, was hy so ontroer dat sy oë vol trane geskiet het.—Johannes 11:33, 35.

6 By ’n ander geleentheid het ’n melaatse Jesus genader en gesmeek: “As u net wil, kan u my rein maak.” Hoe het Jesus, ’n volmaakte man wat nog nooit siek was nie, gereageer? Sy hart het na die melaatse uitgegaan. Ja, hy is “beweeg deur innige jammerte” (Markus 1:40-42). Toe het hy iets buitengewoons gedoen. Hy het goed geweet dat melaatses onrein is onder die Wet en dat hulle nie tussen ander mense moes wees nie (Levitikus 13:45, 46). Jesus was beslis in staat om hierdie man te genees sonder om enige fisiese kontak met hom te hê (Matteus 8:5-13). Maar hy het gekies om sy hand uit te steek en die melaatse aan te raak en te sê: “Ek wil. Word gereinig.” Onmiddellik het die melaatsheid verdwyn. Watter tere empatie het Jesus tog betoon!

Betoon “meegevoel”

7. Wat kan ons help om empatie aan te kweek, en hoe kan hierdie eienskap betoon word?

7 As Christene word daar van ons vereis om Jesus na te volg in die betoning van empatie. Die Bybel spoor ons aan om “meegevoel” te betoon (1 Petrus 3:8). b Dit is dalk nie maklik om die gevoelens te verstaan van diegene wat aan chroniese siektes of depressie ly nie—veral as ons nie al self sulke pyn deurgemaak het nie. Maar onthou dat empatie nie alleenlik moontlik is as ons in dieselfde omstandighede verkeer nie. Jesus het empatie met die siekes betoon al was hy self nooit siek nie. Hoe kan ons dan empatie aankweek? Deur geduldig te luister wanneer dié wat ly, hulle harte uitstort en oor hulle gevoelens praat. Ons kan ons afvra: ‘Hoe sou ek gevoel het as ek in hulle situasie was?’ (1 Korintiërs 12:26). As ons meer bewus raak van ander se gevoelens, sal ons beter toegerus wees om “vertroostend [te praat] met die terneergedrukte siele” (1 Tessalonisense 5:14). Met tye kan empatie nie net met woorde betoon word nie, maar ook met trane. “Huil saam met mense wat huil”, sê Romeine 12:15.

8, 9. Hoe het Jesus die gevoelens van ander in ag geneem?

8 Jesus was bedagsaam teenoor ander, en hy het op maniere opgetree wat hulle gevoelens in ag geneem het. Onthou die keer toe ’n man wat doof was en beswaarlik kon praat, na Jesus gebring is. Jesus het klaarblyklik agtergekom dat hierdie man ongemaklik gevoel het en het iets gedoen wat hy nie gewoonlik gedoen het wanneer hy ander genees het nie: “Hy het [die man] eenkant toe geneem, weg van die skare af.” Toe hulle alleen was, onder die oë van die skare uit, het hy die man genees.—Markus 7:31-35.

9 Jesus het met soortgelyke bedagsaamheid opgetree toe mense ’n blinde man na hom toe gebring het en gevra het dat hy genees word. Jesus “het die blinde man by die hand geneem” en “hom tot buite die dorpie gebring”. Toe het hy die man in stadiums genees. Dit het moontlik die man se brein en oë geleidelik aan die verblindende tonele en kompleksiteite van die sonverligte wêreld om hom gewoond laat raak (Markus 8:22-26). Hoe bedagsaam was Jesus tog!

10. Op watter maniere kan ons die gevoelens van ander in ag neem?

10 Om volgelinge van Jesus te wees, verg dat ons die gevoelens van ander in ag moet neem. Ons let dus op wat ons sê, omdat ons weet dat die ondeurdagte gebruik van die tong ander se gevoelens kan seermaak (Spreuke 12:18; 18:21). Harde woorde, neerhalende aanmerkings en bytende sarkasme het geen plek onder Christene nie, wat bewus is van die gevoelens van ander mense (Efesiërs 4:31). Ouer manne, hoe kan julle die gevoelens van ander in ag neem? Wanneer julle raad gee, moet julle julle woorde met goedhartigheid temper en die luisteraar sodoende toelaat om sy waardigheid te behou (Galasiërs 6:1). Ouers, hoe kan julle die gevoelens van julle kinders in ag neem? Wanneer julle julle kinders dissiplineer, moet julle dit só probeer doen dat dit hulle nie onnodig in die verleentheid stel nie.—Kolossense 3:21.

Neem die inisiatief om ander te help

11, 12. Watter Bybelverslae toon dat Jesus nie gevra moes word voordat hy medelye met ander betoon het nie?

11 Jesus moes nie altyd gevra word om medelye met ander te betoon nie. Medelye is immers nie ’n passiewe eienskap nie, maar ’n aktiewe, positiewe eienskap. Dit is dan nie verbasend dat tere medelye Jesus die inisiatief laat neem het om ander te help nie. Toe ’n groot skare drie dae lank by hom gebly het sonder om iets te eet, moes niemand vir Jesus sê dat die mense honger was of voorstel dat hy iets daaromtrent doen nie. Die verslag sê: “Jesus het sy dissipels na hom toe geroep en gesê: ‘Ek voel innig jammer vir die skare, want dit is al drie dae dat hulle by my bly, en hulle het niks om te eet nie; en ek wil hulle nie wegstuur sonder dat hulle geëet het nie. Anders beswyk hulle miskien op die pad.’” Toe, heeltemal uit vrye wil, het hy die skare wonderdadig gevoed.—Matteus 15:32-38.

12 Dink aan ’n ander verslag. In 31 G.J., toe Jesus naby die stad Nain gekom het, het hy ’n droewige toneel gesien. ’n Begrafnisoptog het die stad verlaat, moontlik op pad na grafte in die heuwels daar naby, om “die enigste seun van . . . ’n weduwee” te begrawe. Kan jy jou die pyn in daardie moeder se hart voorstel? Sy het op die punt gestaan om haar enigste seun te begrawe, en sy het nie ’n man gehad wat in haar smart kon deel nie. Van al die mense in die optog het Jesus die nou kinderlose weduwee raakgesien. Wat hy gesien het, het sy hart geraak—ja, “hy [is] ontroer deur innige jammerte vir haar”. Niemand moes hom smeek nie. Die meegevoel in sy hart het hom aangedryf om die inisiatief te neem. Daarom “het hy nader gegaan en die baar aangeraak”, en toe het hy die jong man opgewek. Wat het daarna gebeur? Jesus het nie die jong man gevra om by die groot skare aan te sluit wat saam met Hom gereis het nie. Jesus het hom eerder “aan sy moeder gegee” sodat hulle weer ’n gesin kon wees en om te verseker dat die weduwee versorg sou word.—Lukas 7:11-15.

Neem die inisiatief om hulp te voorsien aan diegene wat dit nodig het

13. Hoe kan ons Jesus daarin navolg om die gepaste inisiatief te neem om hulp te voorsien aan mense wat dit nodig het?

13 Hoe kan ons Jesus se voorbeeld volg? Ons kan natuurlik nie wonderdadig kos voorsien of die dooies opwek nie. Maar ons kan Jesus navolg deur die inisiatief te neem om hulp te voorsien aan mense wat dit nodig het. ’n Medegelowige ly dalk ’n ernstige finansiële verlies of verloor sy werk (1 Johannes 3:17). Die huis van ’n weduwee het moontlik dringende herstelwerk nodig (Jakobus 1:27). Ons weet miskien van ’n gesin wat iemand deur die dood verloor het en nou vertroosting of praktiese hulp nodig het (1 Tessalonisense 5:11). In gevalle waar hulp werklik nodig is, hoef ons nie te wag om gevra te word voordat ons hulp aanbied nie (Spreuke 3:27). Medelye sal ons beweeg om die gepaste inisiatief te neem en na gelang van ons omstandighede te help. Moet nooit vergeet dat ’n eenvoudige, goedhartige daad of ’n paar vertroostende woorde wat uit die hart kom, ’n kragtige betoning van medelye kan wees nie.—Kolossense 3:12.

Medelye het hom aangespoor om te preek

14. Waarom het Jesus prioriteit gegee aan die werk om die goeie nuus te verkondig?

14 Soos ons in Deel 2 van hierdie boek gesien het, het Jesus ’n voortreflike voorbeeld gestel in die verkondiging van die goeie nuus. Hy het gesê: “Ek [moet] die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Lukas 4:43). Waarom het hy prioriteit gegee aan hierdie werk? Hoofsaaklik weens sy liefde vir God. Maar Jesus het ’n ander beweegrede gehad: Opregte medelye het hom aangespoor om op die geestelike behoeftes van ander te reageer. Van al die maniere waarop hy medelye betoon het, was nie een belangriker as om die geestelike honger van ander te stil nie. Kom ons ondersoek twee gebeurtenisse wat toon watter beskouing Jesus gehad het van die mense vir wie hy gepreek het. Dit kan ons help om ons beweegredes vir deelname aan die openbare bediening te ontleed.

15, 16. Beskryf twee gebeurtenisse wat toon wat Jesus se beskouing was van die mense vir wie hy gepreek het.

15 In 31 G.J., nadat hy hom omtrent twee jaar lank ywerig in die bediening ingespan het, het Jesus sy pogings uitgebrei deur “op ’n reis deur al die stede en dorpies” van Galilea te gaan. Wat hy gesien het, het sy hart geraak. Die apostel Matteus berig: “Toe hy die skare sien, het hy vir hulle innig jammer gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:35, 36). Jesus het meegevoel gehad met die gewone mense. Hy was alte bewus van hulle droewige geestelike toestand. Hy het geweet dat hulle mishandel en heeltemal verwaarloos is deur die persone wat eintlik veronderstel was om hulle as herders te versorg—die godsdiensleiers. Beweeg deur diep medelye het Jesus hard gewerk om die mense met ’n boodskap van hoop te bereik. Daar was niks wat hulle nodiger gehad het as die goeie nuus van God se Koninkryk nie.

16 Iets soortgelyks het ’n aantal maande later gebeur, kort voor Pasgatyd in 32 G.J. By hierdie geleentheid het Jesus en sy apostels in ’n boot geklim en oor die See van Galilea gevaar op soek na ’n stil plekkie om te rus. Maar ’n skare mense het al langs die strand gehardloop en voor die boot by die ander kant gekom. Hoe het Jesus gereageer? “Toe hy uitklim, het hy ’n groot skare gesien, maar hy is ontroer deur innige jammerte vir hulle, want hulle was soos skape sonder ’n herder. En hy het hulle baie dinge begin leer” (Markus 6:31-34). Jesus was weer eens “ontroer deur innige jammerte” weens die slegte geestelike toestand van die mense. Hulle was geestelik uitgehonger, soos “skape sonder ’n herder”, en moes maar vir hulleself sorg. Medelye, nie net pligsgevoel nie, het Jesus aangespoor om te preek.

Getuig met medelye

17, 18. (a) Wat spoor ons aan om aan die bediening deel te neem? (b) Hoe kan ons medelye vir ander aankweek?

17 Wat spoor ons as volgelinge van Jesus aan om aan die bediening deel te neem? Soos ons in Hoofstuk 9 van hierdie boek gesien het, het ons ’n opdrag, ’n verantwoordelikheid, om te preek en dissipels te maak (Matteus 28:19, 20; 1 Korintiërs 9:16). Maar ons beweegrede om aan hierdie werk deel te neem, moet verder gaan as blote pligsgevoel. Bowenal moet liefde vir Jehovah ons aanspoor om die goeie nuus van sy Koninkryk te verkondig. Ons predikingswerk word ook aangedryf deur medelye vir diegene wat nie soos ons glo nie (Markus 12:28-31). Hoe kan ons dan medelye vir ander aankweek?

18 Ons moet mense beskou soos Jesus hulle beskou het—as “gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder”. Stel jou voor dat jy ’n lammetjie vind wat hopeloos verdwaal het. Sonder ’n herder om dit na groen weivelde en water te lei, is die arme dingetjie uitgehonger en dors. Sou jou hart nie uitgaan na daardie lammetjie nie? Sou jy nie jou bes doen om dit iets te gee om te eet en te drink nie? Daardie lammetjie is soos baie mense wat nog nie van die goeie nuus weet nie. Hulle is verwaarloos deur valse godsdiensherders, is geestelik uitgehonger en dors en het geen ware hoop vir die toekoms nie. Ons het wat hulle nodig het: die voedsame geestelike voedsel en verkwikkende water van waarheid wat in God se Woord gevind word (Jesaja 55:1, 2). Wanneer ons nadink oor die geestelike behoeftes van diegene om ons, gaan ons hart na hulle uit. As ons, soos Jesus, medelye met mense het, sal ons alles in ons vermoë doen om hulle van die Koninkrykshoop te vertel.

19. Wat kan ons doen om ’n Bybelstudent wat aan die vereistes voldoen, te help om aan die openbare bediening deel te neem?

19 Hoe kan ons ander help om Jesus se voorbeeld te volg? Sê nou ons wil ’n Bybelstudent wat aan die vereistes voldoen, aanmoedig om aan die openbare predikingswerk deel te neem. Of miskien wil ons ’n onbedrywige persoon help om weer ’n volle aandeel aan die bediening te hê. Hoe kan ons sulke persone help? Ons moet hulle hart probeer bereik. Onthou dat Jesus eers “ontroer [is] deur innige jammerte” vir mense en dat hy hulle daarna geleer het (Markus 6:34). As ons hulle dus kan help om medelye aan te kweek, sal hulle harte hulle heel moontlik beweeg om soos Jesus te wees en ander van die goeie nuus te vertel. Ons kan hulle vra: “Hoe het die feit dat jy die Koninkryksboodskap aangeneem het, jou lewe ten goede verander? Wat van mense wat nog nie hierdie boodskap gehoor het nie—het hulle nie ook die goeie nuus nodig nie? Wat kan jy doen om hulle te help?” Ons sterkste beweegrede om aan die bediening deel te neem, is natuurlik liefde vir God en ’n begeerte om hom te dien.

20. (a) Wat behels dit om ’n volgeling van Jesus te wees? (b) Wat sal in die volgende hoofstuk bespreek word?

20 Om ’n volgeling van Jesus te wees, behels meer as om net sy woorde te herhaal en sy dade na te boots. Ons moet dieselfde “geestesgesindheid” aankweek as wat hy gehad het (Filippense 2:5). Hoe dankbaar kan ons tog wees dat die Bybel aan ons die gedagtes en gevoelens agter Jesus se woorde en dade openbaar! Deur vertroud te raak met “die denke van Christus”, sal ons beter toegerus wees om bedagsaamheid en opregte medelye aan te kweek en sodoende ander te behandel soos Jesus mense behandel het (1 Korintiërs 2:16). In die volgende hoofstuk sal ons die verskillende maniere bespreek waarop Jesus liefde veral aan sy volgelinge betoon het.

a Die Griekse woord wat as “beweeg deur innige jammerte” vertaal word, is al een van die sterkste woorde in Grieks vir die gevoel van medelye genoem. Volgens een naslaanwerk dui hierdie woord “nie net op ’n gevoel van pyn wanneer lyding gesien word nie, maar ook op ’n sterk begeerte om die lyding te verlig en te verwyder”.

b Die Griekse byvoeglike naamwoord wat as “meegevoel” vertaal word, beteken letterlik “om te ly saam met”.