Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Brief van die Bestuursliggaam

’n Brief van die Bestuursliggaam

Aan ons dierbare broers en susters

Vanaf die heel eerste nommer van die publieke uitgawe van Die Wagtoring, 1 Januarie 2008, het ’n fassinerende nuwe reeks artikels verskyn met die titel “Volg hulle geloof na”. Tot ons groot vreugde is daar sedertdien elke drie maande ’n nuwe artikel in hierdie reeks gepubliseer!

Wat was die reaksie op die reeks? Nadat ’n leser die artikel oor Marta gelees het, het sy geskryf: “Ek het gelag toe ek dit gelees het, want ek is net soos sy—ek wil altyd ’n goeie gasvrou asook besig wees, maar ek vergeet soms dat ek moet ophou werk en met die vriende moet assosieer.” ’n Tiener het hierdie interessante afleiding gemaak nadat sy die verhaal van Ester gelees het: “Ek kon my vereenselwig met die gedagte dat ons behep kan wees met klere en die jongste modes. Ons moet wel netjies wees, maar ons moenie tot uiterstes gaan nie.” Sy het bygevoeg: “Vir Jehovah is dit belangrik wat ons innerlik is.” En ’n artikel oor die apostel Petrus het hierdie geesdriftige reaksie by ’n Christensuster uitgelok: “Ek is heeltemal meegevoer deur die verslag. Dit het gelewe! Ek het my verbeelding gebruik om die dinge te ervaar waarop daar net gesinspeel is.”

Hierdie lesers—en baie ander wat geskryf het om hulle waardering vir die reeks uit te spreek—bevestig wat die apostel Paulus lank gelede geskryf het: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf” (Rom. 15:4). Ja, Jehovah het hierdie verhale in die Bybel laat insluit om ons waardevolle lesse te leer. Ons almal, ongeag hoe lank ons al die waarheid ken, kan daaruit leer.

Ons spoor julle hartlik aan om hierdie boek so gou moontlik te lees. Sluit dit in by julle program vir Gesinsaanbidding—die kinders sal dit terdeë geniet! Wanneer die gemeente die materiaal gedurende die Gemeentelike Bybelstudie studeer, moet julle nie ’n enkele week oorslaan nie! Moenie haastig deur die materiaal gaan nie; lees dit aandagtig. Gebruik jou verbeelding; leef jou in die verhale in. Probeer voel wat daardie Bybelkarakters gevoel het en probeer sien wat hulle gesien het. Vergelyk hoe hulle in ’n sekere situasie gereageer het met hoe jy waarskynlik sou gereageer het.

Dit verskaf ons groot vreugde om hierdie publikasie aan julle beskikbaar te stel. Mag dit ’n seën wees vir julle en julle gesinne. Met innige liefde wens ons julle alles van die beste toe.

Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies