Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 4

Waar is ons voorouers?

Waar is ons voorouers?

1, 2. Wat glo baie mense oor dié wat gesterf het?

MILJOENE mense in Afrika glo dat die dood nie die einde van die lewe is nie, maar bloot ’n oorgang na lewe in ’n ander ryk. Baie dink dat hulle afgestorwe voorouers van die sigbare wêreld na die onsigbare wêreld oorgegaan het, van die mensewêreld na die geestewêreld.

2 Daar word geglo dat hierdie voorouers, of voorouergeeste, die voortbestaan en voorspoed van hulle families op die aarde verseker. Volgens hierdie beskouing is die voorouergeeste magtige vriende, wat in staat is om goeie oeste te verseker, welsyn te bevorder en teen die kwaad te beskerm. As hulle geïgnoreer of aanstoot gegee word, bring hulle glo rampspoed—siekte, armoede en onheil.

3. Hoe aanbid party mense hulle voorouers?

3 Die lewendes kom gebruike en rituele na om die voorouergeeste te eer en ’n goeie verhouding met hulle te behou. Hierdie gebruike is veral duidelik wanneer dit by begrafnisgebruike kom, soos lykwake en seremonies ná die begrafnis. Vooroueraanbidding kan ook op ander maniere gesien word. Byvoorbeeld, voordat party mense sterk drank drink, gooi hulle vir die voorouers ’n bietjie daarvan op die grond uit. En nadat ’n ete gekook is, word kos in die pot agtergelaat sodat die voorouers iets sal vind om te eet as hulle sou kom.

4. Wat glo baie mense omtrent die siel?

4 Ander mense glo dat die lewendes ’n onsterflike siel het wat ná die dood van die liggaam voortleef. As iemand ’n goeie lewe gelei het, word daar gesê dat die siel hemel, of paradys, toe gaan, maar as iemand ’n slegte lewe gelei het, word die siel glo tot die hel veroordeel. Mense kombineer dikwels hierdie idee met tradisionele opvattings. Byvoorbeeld, doodsberigte wat kerkbegrafnisdienste aankondig, sal soms ook sê dat die persoon “oorgegaan het” of “na die voorouers gegaan het”. Al hierdie opvattings is gegrond op die idee dat die siel, of gees, ná die dood van die liggaam voortleef. Wat sê die Bybel hieroor?

Siel en gees

5, 6. Wat is die siel volgens die Bybel?

5 Die Bybel toon dat die siel nie iets binne-in ’n persoon is nie; die siel is die persoon self. Byvoorbeeld, toe God vir Adam geskep het, ‘het die mens ’n lewende siel geword’ (Genesis 2:7). Adam is nie ’n siel gegee nie; hy was ’n siel, ’n volwaardige persoon.

6 Gevolglik lees ons dat siele gebore word (Genesis 46:18). Hulle kan eet of vas (Levitikus 7:20; Psalm 35:13). Hulle huil en versmag (Jeremia 13:17; Jona 2:7). Siele kan ontvoer, agtervolg en in ysters geslaan word (Deuteronomium 24:7; Psalm 7:5; 105:18). Sommige Bybels gee die woord uit die oorspronklike taal in daardie verse as “siel” weer, terwyl ander die woorde “wese”, “skepsel” of “persoon” gebruik. Almal beteken dieselfde.

7. Watter Bybelverse toon dat die siel kan sterf?

7 Aangesien die siel die persoon is, sterf die siel wanneer die persoon sterf. Esegiël 18:4 sê: “Die siel wat sondig—dié sal sterf.” En Handelinge 3:23 sê: “Enige siel [of, persoon] wat nie na dié Profeet luister nie, sal heeltemal onder die volk uit vernietig word.” Die siel is dus nie iets wat ná die dood van die liggaam voortleef nie.

8. Wat is die gees in mense?

8 Die gees is nie dieselfde as die siel nie. In mense is die gees die lewenskrag wat hulle in staat stel om lewensbedrywighede uit te voer. Die gees is soos elektrisiteit. Elektrisiteit kan ’n waaier of ’n yskas van krag voorsien, maar op sy eie kan dit nie die lug laat beweeg of dinge koud maak nie. Net so stel ons gees ons in staat om te sien, te hoor en te dink. Maar die gees kan nie een van hierdie dinge sonder die oë, ore of brein doen nie. Daarom sê die Bybel van die mens: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy grond; op daardie dag vergaan sy gedagtes.”—Psalm 146:4.

9. Wat doen die siel en die gees nie?

9 Volgens die Bybel verlaat nie die gees of die siel dus die liggaam by die dood om in die geesteryk voort te leef nie.

Die toestand van die dooies

10. Wat sê die Bybel oor die toestand van die dooies?

10 Wat is dan die toestand van die dooies? Aangesien Jehovah die mens geskep het, weet hy ook wat met ons gebeur wanneer ons sterf. Sy Woord leer dat die dooies leweloos is, dat hulle glad nie kan hoor, sien, praat of dink nie. Die Bybel sê:

  • “Die dooies . . . is bewus van hoegenaamd niks.”—Prediker 9:5.

  • “Hulle liefde en hulle haat en hulle jaloesie het reeds vergaan.”—Prediker 9:6.

  • “Daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in [die graf], die plek waarheen jy gaan nie.”—Prediker 9:10.

11. Wat het Jehovah vir Adam gesê nadat hy gesondig het?

11 Dink aan wat die Bybel sê omtrent ons eerste voorouer, Adam. Jehovah het Adam “uit stof van die aarde” gevorm (Genesis 2:7). As Adam gehoorsaam was aan Jehovah se wet, sou hy vir ewig in geluk op aarde gelewe het. Maar Adam was ongehoorsaam aan Jehovah se wet, en die straf was die dood. Waarheen het Adam gegaan toe hy gesterf het? God het vir hom gesê: “Jy [sal] na die grond terugkeer, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.”—Genesis 3:19.

12. Wat het met Adam gebeur toe hy gesterf het?

12 Waar was Adam voordat Jehovah hom uit die stof geskep het? Nêrens. Hy het nie bestaan nie. Toe Jehovah dus gesê het dat Adam “na die grond [sal] terugkeer”, het Hy bedoel dat Adam weer leweloos sou word, soos die stof. Adam het nie in die geestewêreld voortgeleef nie. Hy het nie “oorgegaan” na die ryk van die voorouergeeste nie. Hy het nie hemel of hel toe gegaan nie. Hy het teruggekeer tot ’n toestand van leweloosheid; hy het ophou bestaan.

13. Wat gebeur met mense sowel as diere wanneer hulle sterf?

13 Is dit wat ook met mense oor die algemeen gebeur? Ja. Die Bybel verduidelik: “[Mense sowel as diere] gaan na een plek. Hulle is almal uit die stof, en hulle keer almal na die stof terug.”—Prediker 3:19, 20.

14. Watter hoop is daar vir die dooies?

14 Die Bybel belowe dat God die dooies tot lewe op ’n paradysaarde sal opwek (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Maar dit sal eers in die toekoms gebeur. Op die oomblik slaap hulle in die dood (Johannes 11:11-14). Ons moet hulle nie vrees of aanbid nie, aangesien hulle ons nie kan help of kwaad kan aandoen nie.

15, 16. Hoe probeer Satan om mense te laat glo dat die dooies nie werklik dood is nie?

15 Die opvatting dat ons nie werklik sterf nie, is ’n leuen wat deur Satan die Duiwel versprei word. Om mense van hierdie leuen te oortuig, probeer hy en sy demone om mense te laat dink dat siekte en ander probleme deur die geeste van die dooies veroorsaak word. Dit is waar dat party probleme deur die demone veroorsaak word. En dit is waar dat party probleme geen bonatuurlike oorsaak het nie. Maar dit is nie waar dat dié wat in die dood slaap, ons kwaad kan aandoen nie.

16 Daar is nog ’n manier waarop die demone probeer om mense te laat dink dat wat die Bybel oor die dood sê, verkeerd is. Hulle mislei mense sodat hulle dink dat hulle die dooies gesien of met hulle gepraat het. Die demone doen dit deur visioene, drome, geestemediums of op ander maniere. Mense kom egter nie in aanraking met die dooies nie, maar met demone wat voorgee dat hulle mense is wat gesterf het. Daarom word geestemediums en diegene wat die dooies raadpleeg, sterk deur Jehovah veroordeel.—Deuteronomium 18:10-12; Sagaria 10:2.