Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 5

Die waarheid omtrent die toorkuns en heksery

Die waarheid omtrent die toorkuns en heksery

1. Hoe wydverspreid is geloof in die toorkuns en heksery?

“IN Afrika is dit nutteloos om te begin met die vraag of hekse bestaan of nie,” sê die boek African Traditional Religion, en dit voeg by dat “heksery vir Afrikane van elke klas ’n dringende werklikheid is”. Diegene wat in die toorkuns en heksery glo, sluit ongeletterde sowel as hooggeleerde mense in. Godsdiensleiers van Islam en die Christendom glo ook daarin.

2. Waar kom toorkrag volgens volksgeloof vandaan?

2 Volgens volksgeloof in Afrika bestaan daar ’n mistieke, geestelike mag, of krag. God het beheer daaroor. Geeste en voorouers kan dit gebruik. En party mense weet ook hoe om dit te kry en te gebruik, hetsy ten goede (wit toorkuns) of ten kwade (swart toorkuns).

3. Wat is swart toorkuns, en wat glo mense kan dit doen?

3 Swart toorkuns word teen vyande gerig. Daar word gesê dat diegene wat dit gebruik, die krag het om vlermuise, voëls, vlieë en ander diere te stuur om mense aan te val. Talle glo dat swart toorkuns verantwoordelik is vir gevegte, onvrugbaarheid, siekte en selfs die dood.

4. Wat glo baie omtrent hekse, en wat het party gewese hekse bely?

4 Iets wat ten nouste daarmee verband hou, is heksery. Daar word beweer dat hekse snags hulle liggaam verlaat en wegvlieg, om ander hekse te ontmoet of om die lewe van hulle slagoffers uit te suig. Aangesien die hekse se liggaam op hulle bed bly slaap, word hierdie stories hoofsaaklik ondersteun deur die belydenis van mense wat heksery laat vaar het. Een Afrikatydskrif haal byvoorbeeld gewese hekse (meestal tienderjarige meisies) aan: “Ek het 150 mense doodgemaak deur motorongelukke te veroorsaak.” “Ek het vyf kinders doodgemaak deur al hulle bloed uit te suig.” “Ek het drie van my kêrels doodgemaak omdat hulle my afgesê het.”

5. Wat is wit toorkuns, en hoe word dit beoefen?

5 Wit toorkuns is bedoel om beskerming teen boosheid te bied. Diegene wat wit toorkuns beoefen, dra towerringe of -armbande. Hulle drink beskermende medisyne of smeer dit aan hulle lyf. Hulle steek voorwerpe wat glo beskermingskrag het, in hulle huise of in die grond weg. Hulle vertrou op amulette wat tekste uit die Koran of die Bybel bevat.

Leuens en bedrog

6. Wat het Satan en sy demone in die verlede gedoen, en hoe moet ons hulle krag beskou?

6 Dit is waar dat Satan en sy demone gevaarlike vyande van mense is. Hulle het die krag om die verstand en lewe van mense te beïnvloed, en in die verlede het hulle selfs in mense en diere ingevaar en hulle in besit geneem (Matteus 12:43-45). Hoewel ons nie hulle krag moet onderskat nie, moet ons ook nie hierdie krag oorskat nie.

7. Wat wil Satan hê moet ons glo, en hoe kan dit toegelig word?

7 Satan is ’n aartsbedrieër. Hy verlei mense om te dink dat hy meer krag het as wat hy werklik het. Ter toeligting: Gedurende onlangse gevegte in ’n Afrikaland het soldate klanktoerusting gebruik om hulle vyande met skrik te vervul. Voordat die soldate aangeval het, het hulle luide opnames van grofgeskut en geweervuur gespeel. Hulle wou hê dat die vyand moet dink dat hulle deur ’n leër met ’n groot hoeveelheid kragtige wapens aangeval word. Net so wil Satan hê dat mense moet glo dat sy krag onbeperk is. Sy doel is om mense so bang te maak dat hulle sy wil en nie Jehovah se wil doen nie. Kom ons kyk nou na drie leuens wat Satan wil hê mense moet glo.

8. Wat is een leuen wat Satan bevorder?

8 Een leuen wat Satan bevorder, is: Niks skadeliks gebeur per toeval nie; alle slegte dinge wat nie direk deur iemand veroorsaak word nie, vind plaas deur mistieke krag. Gestel byvoorbeeld dat ’n kind aan malaria sterf. Sy moeder weet dalk dat malaria ’n siekte is wat deur muskiete oorgedra word. Maar sy glo dalk ook dat iemand heksery gebruik het om ’n muskiet te stuur om haar kind te byt.

Partykeer gebeur slegte dinge net

9. Hoe toon die Bybel dat Satan nie elke probleem veroorsaak nie?

9 Hoewel Satan die krag het om party probleme te veroorsaak, is dit verkeerd om te glo dat hy die krag het om elke probleem te veroorsaak. Die Bybel sê: “Die vinniges [het] nie die wedloop . . . nie en die sterkes ook nie die geveg nie, en . . . die wyses ook nie die voedsel . . . nie en dié met begrip ook nie die rykdom nie, en . . . selfs dié wat kennis het, nie die guns . . . nie; want tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal” (Prediker 9:11). Een hardloper in ’n wedloop is dalk vinniger as die ander, maar hy wen miskien nie. ’n “Onvoorsiene gebeurtenis” veroorsaak moontlik dat hy verloor. Miskien struikel en val hy of word hy siek of verrek hy ’n spier. Hierdie dinge kan met enigeen gebeur. Dit word nie noodwendig deur Satan of heksery veroorsaak nie; dit gebeur net.

10. Wat word van hekse gesê, en hoe weet ons dat dit ’n leuen is?

10 ’n Tweede leuen wat Satan bevorder, is: Hekse verlaat hulle liggaam en reis deur die nag om ander hekse te ontmoet of om die lewe van hulle slagoffers uit te suig. Vra jou nou af: ‘As hekse dit kan doen, wat verlaat nou eintlik die liggaam?’ Soos ons gesien het, is die siel die persoon, nie iets wat die persoon kan verlaat nie. Daarbenewens is die gees die lewenskrag wat die liggaam krag gee maar niks sonder die liggaam kan doen nie.

Hekse kan nie hulle liggaam verlaat nie

11. Waarom weet ons dat hekse nie hulle liggaam kan verlaat nie, en glo jy dit?

11 Nie die siel of die gees kan die liggaam verlaat om enigiets, goed of sleg, te doen nie. Hekse kan dus nie hulle liggaam verlaat nie. Hulle doen nie werklik die dinge wat hulle beweer hulle doen of dink hulle gedoen het nie.

12. Hoe laat Satan mense glo dat hulle dinge gedoen het wat hulle nie gedoen het nie?

12 Hoe kan ons die bewerings van diegene wat by heksery betrokke is, verklaar? Satan kan mense laat glo dat hulle dinge beleef het wat hulle nie beleef het nie. Deur middel van visioene kan Satan mense laat dink dat hulle dinge gesien, gehoor en gedoen het wat nie die geval was nie. Op hierdie manier hoop Satan dat hy mense van Jehovah kan afkeer en hulle kan laat dink dat die Bybel verkeerd is.

13. (a) Is wit toorkuns goed? (b) Wat sê die Skrif aangaande die toorkuns?

13 ’n Derde leuen is: Wit toorkuns—toorkuns wat bedoel is om swart toorkuns teë te werk—is goed. Die Bybel tref nie ’n onderskeid tussen swart toorkuns en wit toorkuns nie. Dit veroordeel alle vorme van toorkuns. Beskou die wette wat Jehovah aan die nasie Israel gegee het aangaande die toorkuns en diegene wat dit beoefen:

  • “Julle mag geen toorkuns beoefen nie.”—Levitikus 19:26.

  • “Wat ’n man of vrou betref in wie daar ’n mediumistiese of ’n voorspellende gees is, hulle moet vir seker doodgemaak word.”—Levitikus 20:27.

  • “Daar mag niemand onder jou gevind word wat . . . die toorkuns beoefen of voortekens soek of wat ’n towenaar is nie, of wat ’n towerspreuk oor ander uitspreek of ’n geestemedium . . . raadpleeg nie.”—Deuteronomium 18:10-14.

14. Waarom het Jehovah wette teen die toorkuns gemaak?

14 Hierdie wette het dit duidelik gemaak dat God nie wou hê dat sy volk die toorkuns moes beoefen nie. Jehovah het hierdie wette aan sy volk gegee omdat hy hulle liefgehad het en nie wou hê dat hulle slawe van vrees en bygelowigheid moes word nie. Hy wou nie hê dat hulle deur die demone onderdruk moes word nie.

15. Hoe toon die Bybel dat Jehovah kragtiger is as Satan?

15 Hoewel die Bybel nie in besonderhede vertel wat demone kan en nie kan doen nie, toon dit wel dat Jehovah God baie kragtiger is as Satan en sy demone. Jehovah het Satan uit die hemel laat werp (Openbaring 12:9). Let ook op dat Satan toestemming gevra het om Job op die proef te stel en God se waarskuwing gehoorsaam het dat hy Job nie mag doodmaak nie.—Job 2:4-6.

16. Op wie moet ons vertrou vir beskerming?

16 Spreuke 18:10 sê: “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.” Ons moet dus op Jehovah vertrou vir beskerming. God se knegte vertrou nie op amulette of toorgoed om hulle teen die bose dade van Satan en die demone te beskerm nie, en hulle vrees ook nie die towerspreuke van towenaars nie. God se knegte glo wat die Bybel sê: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is.”—2 Kronieke 16:9.

17. Waarvan verseker Jakobus 4:7 ons, maar wat moet ons doen?

17 Jy kan ook hierdie vertroue hê as jy Jehovah dien. Jakobus 4:7 sê: “Onderwerp julle dan aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.” As jy die ware God dien en jou aan hom onderwerp, kan jy seker wees dat Jehovah jou sal beskerm.