Die eerste boek van Konings 20:1-43
20 Koning Ben-Hadad+ van Sirië+ het sy hele leërmag bymekaargemaak, sowel as 32 konings en hulle perde en strydwaens. Hy het Samariʹa+ gaan beleër+ en daarteen geveg.
2 Toe het hy boodskappers na die stad, na koning Agab+ van Israel gestuur en vir hom gesê: “Dít is wat Ben-Hadad sê:
3 ‘Jou silwer en jou goud is myne, en ook jou mooiste vrouens en kinders.’”
4 Die koning van Israel het toe geantwoord: “Goed, my heer die koning. Ek en alles wat myne is, behoort aan u.”+
5 Later het die boodskappers teruggekom en gesê: “Dít is wat Ben-Hadad sê: ‘Ek het ’n boodskap na jou toe gestuur en gesê: “Gee vir my jou silwer, jou goud, jou vrouens en jou kinders.”
6 Maar omtrent hierdie tyd môre sal ek my knegte na jou toe stuur, en hulle sal jou huis en die huise van jou knegte deursoek en hulle sal alles neem wat hulle wil hê.’”
7 Die koning van Israel het toe al die ouermanne van die land geroep en gesê: “Kyk nou net, hierdie man soek moeilikheid, want hy het gesê dat ek vir hom my vrouens, my kinders, my silwer en my goud moet gee, en ek het ingestem.”
8 Toe het al die ouermanne en die hele volk vir hom gesê: “Moet dit nie doen nie, en moenie instem nie.”
9 Daarom het hy vir die boodskappers van Ben-Hadad gesê: “Sê vir my heer die koning: ‘Ek sal alles doen wat u die eerste keer vir u kneg gesê het, maar hierdie ding kan ek nie doen nie.’” Die boodskappers het toe weggegaan en vir hom die boodskap gegee.
10 Ben-Hadad het toe hierdie boodskap aan hom gestuur: “Mag die gode my swaar straf* as daar genoeg stof in Samariʹa oorbly om vir elkeen van die manne wat my volg, ’n hand vol te gee!”
11 Die koning van Israel het geantwoord: “Sê vir hom: ‘Die een wat sy wapenrusting aantrek moenie spog soos iemand wat dit uittrek nie.’”+
12 Toe hy die antwoord hoor, terwyl hy en die konings in hulle tente* gedrink het, het hy vir sy knegte gesê: “Maak gereed om aan te val!” Hulle het hulle toe gereedgemaak om die stad aan te val.
13 Maar ’n profeet het na koning Agab+ van Israel gegaan en gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Het jy hierdie groot skare gesien? Ek gee hulle vandag in jou hand, en dan sal jy weet dat ek Jehovah is.’”+
14 Agab het gevra: “Hoe?” Die profeet het geantwoord: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Deur middel van die jong offisiere onder die bevel van die leiers van die provinsies.’”* Agab het toe gevra: “Wie sal die geveg begin?” Die profeet het gesê: “U!”
15 Agab het toe die jong offisiere onder die bevel van die leiers van die provinsies getel, en daar was 232. Daarna het hy al die manne van Israel getel, en daar was 7 000.
16 Hulle het in die middel van die dag uit die stad uitgegaan terwyl Ben-Hadad en die 32 konings wat hom gehelp het, hulle in die tente* dronk gedrink het.
17 Toe die jong offisiere onder die bevel van die leiers van die provinsies uit die stad uitgaan, het Ben-Hadad dadelik manne uitgestuur om te sien wat aangaan. Hulle het vir hom kom sê: “Daar is manne wat van Samariʹa af gekom het.”
18 Hy het toe gesê: “Of hulle nou in vrede gekom het en of hulle gekom het om te veg, gaan vang hulle en bring hulle lewendig hiernatoe.”
19 Maar toe die jong offisiere wat onder die bevel van die leiers was en die soldate wat hulle gevolg het, uit die stad uitgegaan het,
20 het hulle hulle vyande doodgemaak. Toe het die Siriërs gevlug,+ en die Israeliete het hulle agternagesit. Maar koning Ben-Hadad van Sirië en ’n paar van die perderuiters het op perde gevlug.
21 Die koning van Israel het voortgegaan om die manne op die perde en die strydwaens dood te maak, en hy het die Siriërs verslaan.
22 Later het die profeet+ na die koning van Israel toe gegaan en vir hom gesê: “Gaan versterk u leërmag en dink goed na oor wat u gaan doen,+ want aan die begin van volgende jaar* sal die koning van Sirië u aanval.”+
23 Die knegte van die koning van Sirië het vir hom gesê: “Hulle God is ’n God van berge. Dit is hoekom hulle die oorhand oor ons gekry het. Maar as ons op ’n vlakte teen hulle veg, sal ons die oorhand oor hulle kry.
24 En u moet goewerneurs in die plek van die konings in die geveg laat uitgaan.+
25 Dan moet u ’n leërmag bymekaarmaak* wat net so groot is soos die leërmag wat u verloor het, perd vir perd en strydwa vir strydwa. Laat ons op ’n vlakte teen hulle veg, en ons sal vir seker die oorhand oor hulle kry.” Hy het na hulle raad geluister en het net so gedoen.
26 Aan die begin van die jaar* het Ben-Hadad die Siriërs bymekaargeroep en na Afek+ gegaan om teen Israel te veg.
27 Die Israeliete is ook bymekaargeroep en van die nodige voorsien, en hulle het teen die Siriërs opgetrek. Toe die Israeliete voor hulle kamp opgeslaan het, het hulle soos twee troppies bokke gelyk, terwyl die Siriërs die hele gebied gevul het.+
28 Toe het die man van die ware God na die koning van Israel gegaan en gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Omdat die Siriërs gesê het: “Jehovah is ’n God van berge en nie ’n God van vlaktes nie,” sal ek hierdie groot skare in jou hand gee,+ en julle sal sekerlik weet dat ek Jehovah is.’”+
29 Hulle kampe was sewe dae lank oorkant mekaar, en op die sewende dag het die geveg begin. Die Israeliete het 100 000 Siriese voetsoldate op een dag doodgemaak.
30 En die res het na Afek+ gevlug en in die stad ingegaan. Maar die muur het op 27 000 van die manne wat oorgebly het, geval. Ben-Hadad het ook gevlug en in die stad ingegaan, en hy het in ’n binnekamer weggekruip.
31 Toe het sy knegte vir hom gesê: “Ons het gehoor dat die konings van die huis van Israel genadig is.* Laat ons saklinne om ons heupe en toue om ons koppe vasmaak en na die koning van Israel uitgaan. Miskien sal hy u lewe* spaar.”+
32 Toe het hulle saklinne om hulle heupe en toue om hulle koppe vasgemaak en na die koning van Israel gegaan en gesê: “U kneg Ben-Hadad sê: ‘Laat my asseblief lewe.’” Toe het hy gesê: “Lewe hy nog? Hy is my broer.”
33 Die manne het dit as ’n teken beskou en hulle het geglo dat hy bedoel wat hy sê. Hulle het toe gesê: “Ja, Ben-Hadad is u broer.” En hy het gesê: “Gaan haal hom.” Ben-Hadad het dus na hom toe gegaan, en Agab het hom op sy strydwa laat klim.
34 Ben-Hadad het toe vir hom gesê: “Ek sal die stede teruggee wat my pa van jou pa afgevat het, en jy mag vir jou markte oprig* in Damaskus, net soos my pa in Samariʹa gedoen het.”
Agab het geantwoord: “Op grond van hierdie ooreenkoms* sal ek jou laat gaan.”
Hy het toe ’n ooreenkoms met hom gemaak en hom laat gaan.
35 Op Jehovah se bevel het een van die seuns van die profete*+ vir die man by hom gesê: “Slaan my asseblief.” Maar die man het geweier om hom te slaan.
36 Hy het toe vir hom gesê: “Omdat jy nie na die stem van Jehovah geluister het nie, sal ’n leeu jou doodmaak sodra jy van my af weggaan.” Nadat hy van hom af weggegaan het, het ’n leeu hom aangeval en hom doodgemaak.
37 Hy het ’n ander man gevind en gesê: “Slaan my asseblief.” En die man het hom geslaan en gewond.
38 Toe het die profeet langs die pad vir die koning gaan wag, en hy het hom vermom met ’n verband oor sy oë.
39 Toe die koning verbygaan, het hy na die koning uitgeroep en gesê: “U kneg was in die middel van die geveg toe ’n man ’n gevangene na my toe gebring het en gesê het: ‘Pas hierdie man op. As hy ontsnap, sal jy in sy plek doodgemaak word,+ of anders moet jy ’n talent* silwer betaal.’
40 En terwyl u kneg besig was, het die man verdwyn.” Die koning van Israel het vir hom gesê: “So sal jou oordeel wees. Jy het dit oor jouself gebring.”
41 Hy het die verband toe dadelik van sy oë afgehaal, en die koning van Israel het hom herken en besef dat hy een van die profete is.+
42 Hy het vir hom gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Omdat jy die man laat ontsnap het wat ek gesê het doodgemaak moet word,+ sal jy in sy plek doodgemaak word,+ en jou volk in die plek van sy volk.’”+
43 Daarna het die koning van Israel huis toe gegaan na Samariʹa,+ ontsteld en mismoedig.
Voetnote
^ Lett. “so aan my doen en daarby voeg”.
^ Of “hutte”.
^ Of “regsgebiede”.
^ Of “hutte”.
^ D.w.s. die volgende lente.
^ Lett. “tel”.
^ D.w.s. in die lente.
^ Of “konings van lojale liefde is”.
^ Of “siel”.
^ Of “verbond”.
^ Of “strate toewys”.
^ “Die seuns van die profete” verwys blykbaar na ’n skool vir profete of na ’n vereniging van profete.