Esegiël 46:1-24
46 “Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê: ‘Die poort van die binneste voorhof wat oos kyk,+ moet gedurende die ses werksdae+ gesluit bly,+ maar op die Sabbatdag en op die dag van die nuwemaan moet dit oopgemaak word.
2 Die hoofman moet deur die portaal van die poort inkom,+ en hy moet by die deurpos van die poort gaan staan. Die priesters moet sy heelbrandoffer en sy vrede-offers* offer, en hy moet by die ingang van die poort neerbuig, en dan moet hy uitgaan. Maar die poort moet eers teen die aand gesluit word.
3 Die volk van die land moet ook op die Sabbatte en op die nuwemane by die ingang van hierdie poort voor Jehovah neerbuig.+
4 “‘Die heelbrandoffer wat die hoofman op die Sabbatdag vir Jehovah moet aanbied, moet uit ses ramlammers sonder gebrek en ’n skaapram sonder gebrek bestaan.+
5 As ’n graanoffer moet hy ’n efa* meel vir die skaapram gee en wat hy ook al vir die ramlammers kan gee, sowel as ’n hin* olie vir elke efa meel.+
6 Op die dag van die nuwemaan moet die offerande bestaan uit ’n jong bul uit die beeste, ses ramlammers en ’n skaapram. Hulle moet almal sonder gebrek wees.+
7 As ’n graanoffer moet hy ’n efa meel vir die jong bul bring, sowel as ’n efa meel vir die skaapram en wat hy ook al vir die ramlammers kan bekostig. En hy moet ’n hin olie vir elke efa meel offer.
8 “‘Wanneer die hoofman inkom, moet hy deur die portaal van die poort inkom, en hy moet weer daardeur uitgaan.+
9 En wanneer die volk van die land gedurende die feeste voor Jehovah inkom,+ moet dié wat deur die poort aan die noordekant+ inkom om te aanbid, deur die poort aan die suidekant+ uitgaan, en dié wat deur die poort aan die suidekant inkom, moet deur die poort aan die noordekant uitgaan. Niemand mag teruggaan deur die poort waardeur hy ingekom het nie, want hulle moet deur die oorkantste poort uitgaan.
10 Die hoofman wat by hulle is, moet inkom wanneer hulle inkom, en hy moet uitgaan wanneer hulle uitgaan.
11 Gedurende die feeste en die feestye moet die graanoffer bestaan uit ’n efa meel vir die jong bul, ’n efa meel vir die skaapram en wat hy ook al vir die ramlammers kan gee, saam met ’n hin olie vir elke efa meel.+
12 “‘As die hoofman ’n heelbrandoffer+ of vrede-offers* as ’n vrywillige offer aan Jehovah bring, moet die poort wat oos kyk vir hom oopgemaak word, en hy moet sy heelbrandoffer en sy vrede-offers* voorsien soos hy op die Sabbatdag doen.+ Nadat hy uitgegaan het, moet die poort gesluit word.+
13 “‘Jy moet elke dag ’n ramlam sonder gebrek in sy eerste jaar as ’n heelbrandoffer aan Jehovah bring.+ Jy moet dit elke oggend doen.
14 Dan moet jy ook elke oggend ’n sesde van ’n efa meel as ’n graanoffer voorsien, en ’n derde hin olie om op die fynmeel te sprinkel as ’n gereelde graanoffer aan Jehovah. Dit is ’n permanente wetsbepaling.
15 Hulle moet die ramlam, die graanoffer en die olie elke oggend as ’n gereelde heelbrandoffer voorsien.’
16 “Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê: ‘As die hoofman ’n erfdeel aan elkeen van sy seuns as ’n geskenk gee, sal dit die eiendom van sy seuns word. Dit is hulle erfdeel.
17 Maar as hy uit sy erfdeel ’n geskenk aan een van sy knegte gee, sal dit syne wees tot die jaar van vrylating.+ Daarna sal dit weer aan die hoofman behoort. Net sy seuns se erfdeel sal permanent aan hulle behoort.
18 Die hoofman mag niks van die erfdeel van die volk neem deur hulle van hulle eiendom te beroof nie. Hy moet uit sy eie eiendom vir sy seuns ’n erfdeel gee, sodat niemand onder my volk van sy eiendom af weggedryf word nie.’”
19 Toe het hy my deur die ingang+ gebring wat langs die poort was wat gelei het na die priesters se heilige eetkamers,* wat noord kyk,+ en ek het ’n plek gesien aan die agterkant, wat wes kyk.
20 Hy het vir my gesê: “Dit is die plek waar die priesters die skuldoffer en die sonde-offer moet kook en waar hulle die graanoffer moet bak,+ sodat hulle niks na die buitenste voorhof dra en heiligheid aan die volk oordra nie.”+
21 Hy het my na die buitenste voorhof geneem en my verby die vier hoeke van die voorhof gelei, en ek het ’n voorhof by elke hoek van die buitenste voorhof gesien.
22 By die vier hoeke van die voorhof was daar klein voorhowe, 40 el* lank en 30 el breed. Al vier* was ewe groot.
23 Daar was ’n rand* om elkeen van die vier voorhowe, en onder die rande was kookplekke vir die offers gebou.
24 Toe het hy vir my gesê: “Dit is die huise waar die dienaars van die tempel die offerande van die volk kook.”+
Voetnote
^ Of “gemeenskapsoffers”.
^ Of “gemeenskapsoffers”.
^ Of “gemeenskapsoffers”.
^ Of “vertrekke”.
^ Of “Al vier met hulle hoekbousels”.
^ Of “rye”.