Josua 24:1-33
24 Josua het toe al die stamme van Israel in Sigem bymekaar laat kom en het Israel se ouermanne, hoofde, regters en beamptes+ bymekaargeroep, en hulle het voor die ware God gaan staan.
2 Josua het vir die hele volk gesê: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Julle voorvaders,+ insluitende Tera, die pa van Abraham en Nahor, het lank gelede+ aan die ander kant van die Rivier* gewoon, en hulle het ander gode gedien.+
3 “‘Ná verloop van tyd het ek julle voorvader Abraham+ van die ander kant van die Rivier* geneem en hom deur die hele land Kanaän laat trek en sy nageslag* baie laat word.+ Ek het vir hom Isak gegee.+
4 Toe het ek vir Isak Jakob en Esau gegee.+ Later het ek vir Esau die berg Seïr as sy besitting gegee,+ en Jakob en sy seuns het na Egipte afgetrek.+
5 Ek het later vir Moses en Aäron gestuur,+ en ek het Egipte met plae getref,+ en daarna het ek julle uit Egipte uitgelei.
6 Toe ek julle vaders uit Egipte uitgelei het+ en toe julle by die see gekom het, het die Egiptenare julle vaders met strydwaens en perderuiters tot by die Rooisee agternagesit.+
7 Toe het hulle tot Jehovah om hulp begin roep.+ Daarom het ek ’n duisternis tussen julle en die Egiptenare geplaas en die see oor hulle laat kom en hulle bedek,+ en julle oë het gesien wat ek in Egipte gedoen het.+ Daarna het julle baie jare* lank in die wildernis gewoon.+
8 “‘Ek het julle na die land van die Amoriete gebring wat aan die ander kant* van die Jordaanrivier gewoon het, en hulle het teen julle geveg.+ Maar ek het hulle in julle hand gegee sodat julle hulle land in besit kon neem, en ek het hulle voor julle uitgeroei.+
9 Toe het Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, opgestaan en teen Israel geveg. Hy het Biʹleam, die seun van Beor, laat roep om julle te vervloek.+
10 Maar ek het geweier om na Biʹleam te luister,+ en daarom het hy julle herhaaldelik geseën,+ en ek het julle uit sy hand gered.+
11 “‘Toe het julle deur die Jordaanrivier getrek+ en by Jeʹrigo gekom.+ En die leiers* van Jeʹrigo, die Amoriete, die Perissiete, die Kanaäniete, die Hetiete, die Girgasiete, die Hewiete en die Jebusiete het teen julle geveg, maar ek het hulle in julle hand gegee.+
12 Ek het ’n gevoel van hopeloosheid* voor julle uit gestuur, en dit het hulle voor julle verdryf+ – twee konings van die Amoriete. Dit was nie deur middel van julle swaard en boog nie.+
13 Ek het vir julle ’n land gegee waarvoor julle nie hard gewerk het nie en stede wat julle nie gebou het nie,+ en julle het daarin gaan woon. Julle eet van wingerde en olyfboorde wat julle nie geplant het nie.’+
14 “Vrees Jehovah dus nou en dien hom met integriteit* en getrouheid,*+ en raak ontslae van die gode wat julle voorvaders aan die ander kant van die Rivier* en in Egipte gedien het,+ en dien Jehovah.
15 As julle nie bereid is om Jehovah te dien nie, kies dan vandag self wie julle gaan dien:+ die gode wat julle voorvaders aan die ander kant van die Rivier* gedien het+ of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon.+ Maar ek en my huisgesin sal Jehovah dien.”
16 Die volk het toe geantwoord: “Ons sal nie eers daaraan dink om Jehovah te verlaat en ander gode te dien nie.
17 Dit is Jehovah ons God wat ons en ons vaders uit Egipte, uit die huis van slawerny,+ uitgelei het.+ Dit is hy wat hierdie groot tekens voor ons oë gedoen het+ en wat ons op die hele pad en onder al die volke wat ons teëgekom het, beskerm het.+
18 Jehovah het al die volke, insluitende die Amoriete, wat voor ons in die land gewoon het, verdryf. Daarom sal ons ook Jehovah dien, want hy is ons God.”
19 Toe het Josua vir die volk gesê: “Julle kan nie Jehovah dien nie, want hy is ’n heilige God.+ Hy is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis.+ Hy sal nie julle oortredings* en julle sondes vergewe nie.+
20 As julle Jehovah verlaat en vreemde gode dien, sal hy ook teen julle draai en julle vernietig, al het hy goeie dinge vir julle gedoen.”+
21 Maar die volk het vir Josua gesê: “Nee, ons sal Jehovah dien!”+
22 Josua het dus vir die volk gesê: “Julle is getuies teen julleself dat julle uit julle eie gekies het om Jehovah te dien.”+ Toe het hulle gesê: “Ons is getuies.”
23 “Raak dan nou ontslae van die vreemde gode onder julle, en gee julle hart aan Jehovah, die God van Israel.”
24 Toe het die volk vir Josua gesê: “Ons sal Jehovah ons God dien, en ons sal na sy stem luister!”
25 Josua het dus op daardie dag in Sigem ’n verbond met die volk gemaak, en hy het ’n wetsvoorskrif en ’n beslissing vir hulle vasgestel.
26 Toe het Josua hierdie woorde in die boek van God se Wet+ geskryf en ’n groot klip geneem+ en dit opgerig onder die groot boom wat by die heiligdom van Jehovah is.
27 Josua het vir die hele volk gesê: “Kyk! Hierdie klip sal ’n getuie teen ons wees,+ want dit het alles gehoor wat Jehovah vir ons gesê het, en dit sal ’n getuie teen julle wees, sodat julle nie ontrou word aan julle God nie.”
28 Toe het Josua die volk weggestuur, elkeen na sy erfdeel.+
29 Ná hierdie dinge het Josua, die seun van Nun, die kneg van Jehovah, op die ouderdom van 110 gesterf.+
30 Hulle het hom toe begrawe in die gebied van sy erfdeel in Timnat-Serag,+ in die bergstreek van Eʹfraim, noord van die berg Gaäs.
31 Israel het aangehou om Jehovah te dien al die dae van Josua en al die dae van die ouermanne wat nog ná Josua se dood gelewe het en wat geweet het van al Jehovah se dade wat hy vir Israel gedoen het.+
32 Josef se beendere,+ wat deur die Israeliete uit Egipte gebring is, is in Sigem begrawe op die stuk grond wat Jakob vir 100 geldstukke by die seuns van Hemor,+ Sigem se pa, gekoop het,+ en die kinders van Josef het dit as erfdeel ontvang.+
33 Eleaʹsar, die seun van Aäron, het ook gesterf.+ Toe het hulle hom begrawe op die Heuwel van Piʹnehas, sy seun,+ wat in die bergstreek van Eʹfraim aan hom gegee is.
Voetnote
^ Die Eufraatrivier.
^ Die Eufraatrivier.
^ Lett. “saad”.
^ Lett. “dae”.
^ D.w.s. die oostekant.
^ Of moontlik “grondeienaars”.
^ Of moontlik “paniek; vrees”.
^ Of “in waarheid”.
^ Die Eufraatrivier.
^ Die Eufraatrivier.
^ Of “opstandigheid”.