Levitikus 11:1-47
-
Rein en onrein diere (1-47)
11 Toe het Jehovah vir Moses en Aäron gesê:
2 “Sê vir die Israeliete: ‘Dít is die diere van die aarde* wat julle mag eet:+
3 Elke dier waarvan die hoewe heeltemal gesplete is en wat herkou, mag geëet word.
4 “‘Maar die volgende diere wat herkou of wat gesplete hoewe het, mag julle nie eet nie: die kameel, want dit herkou, maar het nie gesplete hoewe nie. Dit is vir julle onrein.+
5 Ook die klipdassie,+ want dit herkou, maar het nie gesplete hoewe nie. Dit is vir julle onrein.
6 Ook die haas, want dit herkou, maar het nie gesplete hoewe nie. Dit is vir julle onrein.
7 Ook die vark,+ want dit het hoewe wat heeltemal gesplete is, maar dit herkou nie. Dit is vir julle onrein.
8 Julle mag nie van hulle vleis eet of aan hulle dooie liggaam raak nie. Hulle is vir julle onrein.+
9 “‘Van alles wat in die waters is, mag julle die volgende eet: Enigiets in die waters wat vinne en skubbe het, of dit nou in die see of in die riviere is – dit mag julle eet.+
10 Maar van al die diere waarvan die waters wemel en van elke ander dier wat in die waters is, is enigiets in die see en in die riviere wat geen vinne en skubbe het nie, vir julle iets walgliks.
11 Ja, hulle moet vir julle walglik wees, en julle mag nie van hulle vleis eet nie,+ en julle moet hulle dooie liggaam verafsku.
12 Alles in die waters wat geen vinne en skubbe het nie, is vir julle iets walgliks.
13 “‘Julle moet die volgende vlieënde diere verafsku, en hulle mag nie geëet word nie, want hulle is walglik: die arend,+ die visvalk, die swartaasvoël,+
14 die rooiwou en elke soort swartwou,
15 elke soort kraai,
16 die volstruis, die uil, die meeu, elke soort valk,
17 die steenuil, die kormorant, die langooruil,
18 die swaan, die pelikaan, die aasvoël,
19 die ooievaar, elke soort reier, die hoep-hoep en die vlermuis.
20 Elke insek* met vlerke wat op vier pote loop, is vir julle iets walgliks.
21 “‘Van al die insekte* met vlerke wat op vier pote loop, mag julle slegs dié eet wat ’n stel bene het waarmee hulle kan spring.*
22 Van hulle mag julle die volgende eet: verskeie soorte treksprinkane, ander eetbare sprinkane,+ krieke en veldsprinkane.
23 Alle ander insekte* met vlerke en vier pote is vir julle iets walgliks.
24 Deur hulle sal julle julle onrein maak. Elkeen wat aan so ’n insek* raak wat dood is, sal tot die aand toe onrein wees.+
25 Enigiemand wat so ’n insek* optel wat dood is, moet sy klere was,+ en hy sal tot die aand toe onrein wees.
26 “‘Enige dier met gesplete hoewe maar waarvan die hoewe nie heeltemal gesplete is nie en wat nie herkou nie, is vir julle onrein. Elkeen wat aan hulle raak, sal onrein wees.+
27 Elke vierpotige dier wat op kussingpote loop, is vir julle onrein. Elkeen wat aan hulle dooie liggaam raak, sal tot die aand toe onrein wees.
28 Die persoon wat hulle dooie liggaam dra, moet sy klere was,+ en hy sal tot die aand toe onrein wees.+ Hulle is vir julle onrein.
29 “‘Die volgende kruipende diertjies van die aarde is vir julle onrein: die molrot, die muis,+ elke soort akkedis,
30 die geitjie, die groot akkedis, die watersalmander, die sandakkedis en die verkleurmannetjie.
31 Hierdie kruipende diertjies is vir julle onrein.+ Elkeen wat aan hulle dooie liggaam raak, sal tot die aand toe onrein wees.+
32 “‘En enigiets waarop hulle val wanneer hulle doodgaan, sal onrein wees, of dit nou ’n houtvoorwerp, ’n kleed, ’n vel of ’n stuk saklinne is. Enigiets wat gebruik word, moet in water gedompel word, en dit sal tot die aand toe onrein wees. Daarna sal dit rein wees.
33 As hulle in ’n kleihouer val, moet julle dit stukkend breek, en enigiets wat daarin was, sal onrein wees.+
34 Enige soort voedsel wat in kontak kom met water uit so ’n houer, sal onrein wees, en enige drinkbare vloeistof in so ’n houer sal onrein wees.
35 Enigiets waarop hulle dooie liggaam val, sal onrein wees. Of dit nou ’n oond of ’n klein stoof is, dit moet stukkend gebreek word. Hulle is onrein, en hulle sal vir julle onrein bly.
36 Maar ’n fontein en ’n put waar water opgevang word, sal rein bly, maar elkeen wat aan hulle dooie liggaam raak, sal onrein wees.
37 As hulle dooie liggaam op ’n plantsaad val wat gesaai moet word, is dit rein.
38 Maar as daar water op ’n saad gegooi word en ’n deel van hulle dooie liggaam daarop val, is die saad vir julle onrein.
39 “‘En as enige dier wat vir julle as voedsel dien, doodgaan, sal enigiemand wat aan die dooie liggaam raak, tot die aand toe onrein wees.+
40 Enigiemand wat van die dooie liggaam eet, moet sy klere was, en hy sal tot die aand toe onrein wees.+ Enigiemand wat die dooie liggaam wegdra, moet sy klere was, en hy sal tot die aand toe onrein wees.
41 Elke kruipende diertjie van die aarde is iets walgliks.+ Dit mag nie geëet word nie.
42 Julle mag geen dier wat op sy maag seil, geen diertjie wat op vier pote loop of geen kruipende diertjie van die aarde met ’n groot aantal pote eet nie, want hulle is iets walgliks.+
43 Moet julle nie walglik maak deur enige van die diere wat op die aarde wemel nie, en moet julle nie onrein maak en deur middel van hulle onrein word nie.+
44 Want ek is Jehovah julle God,+ en julle moet julle heilig en julle moet heilig word,+ want ek is heilig.+ Daarom mag julle julle nie onrein maak deur enige dier wat op die aarde kruip nie.
45 Want ek is Jehovah, wat julle uit Egipte uitgelei het sodat ek aan julle kan bewys dat ek God is,+ en julle moet heilig wees,+ want ek is heilig.+
46 “‘Dit is die wet oor die diere, die vlieënde diere, elke dier wat deur die waters beweeg en aangaande elke dier wat op die aarde wemel,
47 om ’n onderskeid te maak tussen wat onrein en wat rein is en tussen die diere wat geëet mag word en dié wat nie geëet mag word nie.’”+
Voetnote
^ Of “die landdiere”.
^ Of “diertjie”.
^ Of “diertjies”.
^ Lett. “met gelitte bene wat bo hulle pote is en waarmee hulle op die grond kan spring”.
^ Of “diertjies”.
^ Of “diertjie”.
^ Of “diertjie”.