HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD
Konstruksie wat ons help om te preek
20 OKTOBER 2023
Die Bestuursliggaam wil baie graag geboue voorsien wat ons help om die Koninkrykspredikingswerk te doen. Byvoorbeeld, gedurende die 2023-diensjaar het regsentiteite wat deur die takkantore van Jehovah se Getuies gebruik word, omtrent R9 miljard spandeer om Koninkryksale en Byeenkomssale regoor die wêreld te koop, te bou, op te knap en te onderhou. Hierdie bedrag is bo en behalwe die geld wat gemeentes regoor die wêreld spandeer om na hulle Koninkryksale om te sien.
Verder word bydraes ook gebruik vir die bou en instandhouding van takfasiliteite, wat help om die predikingswerk wêreldwyd te organiseer en te ondersteun. Ons het die werk wat ons by takkantore doen, vereenvoudig sodat ons van hierdie geld kan gebruik om die bou en opknapping van Koninkryksale en Byeenkomssale te ondersteun. Maar dit kos nog steeds baie geld om takfasiliteite te herstel, op te knap of te verskuif. Hoekom is hierdie projekte belangrik? Hoe ondersteun takkantore die belangrike werk in die veld? Kom ons vind uit.
Opknapping gee nuwe lewe
Baie takkantore is meer as 30 of 40 jaar oud! Nicholas, van die Wêreldkantoor vir Ontwerp en Konstruksie, verduidelik: “Selfs ’n gebou wat goed in stand gehou word, raak ouer en gaan mettertyd agteruit. Wanneer ons ’n gebou opknap, gee ons nuwe lewe daaraan.”
Bethelkomplekse moet ook aanpas om by te hou met die organisasie se behoeftes. Wêreldwyd het die aantal verkondigers aansienlik gegroei vandat baie van die takkantore gebou is. Om hierdie groei te ondersteun, het ons meer vrywilligers nodig gehad om by hierdie kantore te werk. As gevolg hiervan is Bethelgeboue wat eers groot genoeg was, nou te klein!
Veiligheid is ook baie belangrik. Omdat ons in die laaste dae van hierdie wêreldstelsel lewe, ondervind ons al hoe meer lewensgevaarlike natuurrampe (Lukas 21:11). Deur die nuutste boumetodes gedurende ’n opknapping te gebruik, help ons om die fasiliteite veiliger te maak vir dié wat daar werk. Hierdie verbeteringe maak dit makliker vir die broers om hierdie geboue te gebruik om noodlenigingspogings te organiseer. Hulle kan ook aanhou om die werk in die veld te ondersteun nadat ’n natuurramp plaasgevind het.
“Jehovah het hierdie besluit geseën”
Onder leiding van die Bestuursliggaam is belangrike bouwerk by 43 takfasiliteite gedurende die 2023-diensjaar gedoen. Dit beteken dat daar die een of ander tipe konstruksiewerk by amper die helfte van alle Bethelfasiliteite regoor die wêreld gedoen is. Kyk asseblief na ’n paar voorbeelde wat wys hoe waardevol die werk is wat gedoen word.
Angola. Matt, ’n lid van die Takkomitee in Angola, sê: “Ons het die voorreg om te sien hoe die profesie in Haggai 2:7 op ’n spesiale manier vervul word. In net tien jaar het ons ’n vermeerdering van 60 persent in die aantal verkondigers gehad! Om hierdie verkondigers te ondersteun, het ons drie keer soveel Betheliete nodig gehad as wat ons nou het. Maar as gevolg van die grootte van ons Bethelgeboue kon ons nie so baie mense nooi as wat ons nodig gehad het om hier te werk nie. So baie Betheliete moes harder werk asook baie oortyd werk.”
Broers was toegewys om te kyk wat gedoen kon word om die takkantoor uit te brei. Hulle het aanvanklik gedink dat dit ’n vinnige en praktiese oplossing sou wees om die huidige takkantoorgebou op te knap. Maar nadat hulle baie navorsing gedoen het, het hulle besef dat om die gebou op te knap, nie die beste manier sou wees om bydraes te gebruik nie. Hulle het eerder voorgestel om ’n gebou wat daar naby was, te koop en op te knap. Matt sê: “Toe die opsie om ’n bestaande gebou te koop en op te knap eers aan die Takkomitee voorgestel is, was ons bekommerd dat dit nie vir ons so goed sou werk soos ’n fasiliteit wat ons self gebou het nie. Maar nou sien ons hoe goed hierdie gebou in ons behoeftes voorsien. Jehovah het hierdie besluit geseën.”
Die takkantoor in Angola sal heel waarskynlik in die toekoms meer plek nodig hê. Maar die nuwe gebou, asook akkommodasie op die Bethelperseel wat later aangepas kan word en gehuurde woonstelle wat nie op die perseel is nie, het die takkantoor in staat gestel om aan te hou om die geweldige groei in die veld te ondersteun.
Japan. Die hoofgeboue by die takkantoor is amper 40 jaar gelede gebou, en daar is nog nooit groot opknappingswerk aan die meeste van hulle gedoen nie. Baie is gedoen om die fasiliteit in stand te hou, maar al het die broers hard gewerk om dit te doen, het ons hierdie geboue baie langer gebruik as wat bedoel was. Daarom is ’n groot opknappingsprojek op die oomblik aan die gang.
Die lewe by Bethel het ook oor die jare verander. Voor 2015 was alle maaltye vir die Bethelgesin gemaak. So baie Bethelkamers in Japan was ontwerp met ’n klein “kombuisie”. Maar nou maak Betheliete self die meeste van hulle maaltye. Die opknappingswerk het ingesluit dat ’n groter kombuis by die Bethelkamers gevoeg word, wat dit vir die Betheliete makliker maak om maaltye in hulle eie kamers te kook. Kumiko, ’n suster wat by die takkantoor in Japan dien, sê: “Die kombuis laat my baie tuis voel, en dit help my om die nuwe Bethelreëlings ten volle te ondersteun.”
Die werk wat gedoen word by die takkantoor in Japan, speel ’n baie belangrike rol in die wêreldwye werk (Matteus 28:19, 20). Japan is een van net twee takkantore wat die volledige Bybel druk. So een aspek van die konstruksieprojek is om ’n stelsel te installeer wat die afvalstukkies en stof bymekaarmaak om dié wat in die drukkery werk, te beskerm. Die koop en installering van hierdie stelsel kos omtrent R18,4 miljoen, maar dit verseker dat die takkantoor kan aanhou om geestelike voedsel te druk en aan te stuur.
Die broers het seker gemaak dat hulle kon voortgaan om Bybels te druk gedurende die konstruksie. Trey, ’n lid van die Takkomitee in Japan, sê: “Gedurende konstruksie het ons organisasie meer Bybelvertalings vrygestel, en die aanvraag vir Bybels het wêreldwyd toegeneem. Verskillende afdelings en die kontrakteur moes saam werk om te beplan wanneer die nuwe toerusting geïnstalleer kon word en wanneer ons die lektuur kon druk.” Ten spyte van hierdie uitdagings is amper 220 000 Bybels elke maand tussen Maart en Augustus 2023 gedruk terwyl die grootste deel van die konstruksieprojek in die drukkery aan die gang was. Al hierdie werk is voltooi sonder om die koste van die konstruksie te vermeerder.
Om krag te bespaar is nog ’n belangrike deel van die opknappingsprojek. Ons sal nuwe sonpanele installeer wat elektrisiteitskoste elke jaar met ongeveer R2,2 miljoen sal verminder. Ons sal vensters installeer wat drie panele glas het en wat ons sal help om minder krag te gebruik. Dit sal ongeveer R184 000 elke jaar bespaar. Al hierdie dinge is duur, maar daar word geskat dat dit omtrent R64,3 miljoen sal bespaar gedurende die tyd wat ons dit sal gebruik. Dit sal ook die impak wat die geboue op die omgewing het, verminder.
“Daar is nog baie wat gedoen moet word”
Hierdie projekte by die twee takkantore wys hoeveel werk gedoen moet word om te verseker dat ons Bethelfasiliteite aan die behoeftes van die veld voldoen. Maar die werk is nog nie klaar nie. Aaron, van die Wêreldkantoor vir Ontwerp en Konstruksie, sê: “Die broers het al baie gedoen, maar daar is nog baie wat gedoen moet word.” Hoe sal hierdie werk gedoen word? Hy sê verder: “Behalwe vir die vrygewige bydraes wat help met die koste van hierdie belangrike projekte, waardeer ons ook die vrywillige gees van almal wat in die verlede gewerk het. Ons waardeer ook dié wat besig is om hulle sake so te reël dat hulle ons in die toekoms kan help. Die fisiese en finansiële ondersteuning van die broers is ’n duidelike bewys dat Jehovah hierdie werk seën.” – Psalm 110:3.
Al ons konstruksie en opknappingswerk word deur vrywillige bydraes ondersteun, waarvan baie deur middel van donate.dan124.com gemaak word. Baie dankie vir julle volgehoue vrygewigheid.