Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Lektuurtrollies “as ’n getuienis vir al die nasies”

Lektuurtrollies “as ’n getuienis vir al die nasies”

1 APRIL 2023

 Lektuurtrollies is al meer as tien jaar lank ’n deel van ons bediening wat mense se aandag trek. Die trollies is regoor die wêreld maklik herkenbaar. Die ontwerp van die trollies lyk nie net aantreklik nie, maar is ook prakties. Jy stem heel moontlik saam met Asenata, ’n suster in Pole, wat sê: “Die trollies lyk dalk eenvoudig, maar is ook mooi. Hulle is maklik om te gebruik en om te skuif.”

 Het jy al ooit gewonder hoe die trollie ontwerp en gemaak is?

’n Doeltreffende ontwerp

 In 2001, met die goedkeuring van die Bestuursliggaam, het ons broers en susters in Frankryk begin om verskillende metodes van openbare getuieniswerk uit te toets, insluitende die gebruik van trollies. Hulle het verskillende ontwerpe probeer. Byvoorbeeld, hulle het bagasie- en inkopietrollies aangepas om lektuur te adverteer en daarin te stoor. Uiteindelik het die takkantoor in Frankryk ’n ontwerp gekies, wat verkondigers jare lank gebruik het.

Een van die eerste lektuurtrollies in Frankryk, 2005

 Die broers in Frankryk was baie bly oor die resultate van hulle eksperiment in die openbare getuieniswerk. So in 2011 het die Bestuursliggaam ’n proefprogram van openbare getuieniswerk in die stad New York, VSA, goedgekeur om trollies en tafels te gebruik. Die pioniers wat aan die program deelgeneem het, het gou besef dat die trollies baie voordele inhou, insluitende die feit dat hulle maklik is om te skuif. Die pioniers het ook praktiese voorstelle gemaak oor hoe om die ontwerp van die trollies te verbeter. Die eerste handgemaakte houttrollies was nogal swaar, wat dit moeilik gemaak het om dit by trappe op en af te neem. Daarom is hulle herontwerp om ligter te wees, maar nie so lig dat dit in die wind sou omval nie. Die nuwe ontwerp het ook groter en stewiger wiele gehad, wat dit makliker gemaak het om die trollie op ongelyke oppervlaktes te stoot. Die nuwe trollies het ook ’n klein houer gehad waarin ekstra lektuur gehou kon word.

 Die proefprogram was ’n sukses! So in 2012 het die Bestuursliggaam dit goedgekeur dat lektuurtrollies wêreldwyd gebruik kan word. Die broers het ’n vervaardiger gekry wat die trollies in grootmaat kon maak deur ligte en duursame materiaal te gebruik.

 Oor die jare was klein verbeteringe aan die trollies gemaak. Byvoorbeeld, in 2015 is ’n reënbedekking met ’n voorkant van deurskynende plastiek bygevoeg. Dina, wat in die land Georgië woon, hou baie van hierdie kenmerk. Sy sê: “Dit is asof die trollie sy eie ‘reënjas’ het om die publikasies te beskerm.” In 2017 is magnetiese plakkate in party tale beskikbaar gemaak. Tomasz, ’n broer in Pole, sê: “Dit was moeilik om die vorige plakkate met gom te verander. Die magnetiese plakkate was ’n wonderlike oplossing.” In 2019 is nog verbeteringe aan die materiaal en die vervaardiging van die trollies gemaak sodat dit langer sal hou.

Die vervaardiging van lektuurtrollies

 Een vervaardiger maak al die lektuurtrollies, en dit word dan na gemeentes regoor die wêreld gestuur. Op die oomblik kos een trollie omtrent R800, wat nie die versending en ander koste insluit nie. Tot nou toe is amper R300 miljoen aan trollies gespandeer, en meer as 420 000 is na gemeentes regoor die wêreld gestuur.

 Om die beste gebruik van bydraes te maak, word die lektuurtrollies in grootmaat bestel. Gemeentes kan nou ook ekstra dele van die trollie bestel om dit reg te maak eerder as om dit te vervang.

Trollies word gebruik om ’n getuienis te gee

 Verkondigers regoor die wêreld geniet dit om lektuurtrollies te gebruik. Martina, van Ghana, sê: “In die meeste vorme van ons bediening gaan ons na mense toe. Wat ek van die trollie-getuieniswerk hou, is dat mense na ons toe kom. Selfs mense wat net by die trollie verbyloop, kry ’n getuienis.”

 In nog ’n Afrikaland het ’n man na die trollie toe gekom en lektuur in sy eie taal gekry. Hy het ’n week later teruggekom en gesê: “Ek het al die lektuur gelees. Die inligting is baie belangrik. Ek gaan dit met my familie deel wat in my dorpie bly”, wat omtrent 500 kilometer daarvandaan is. Hy het twee maande later teruggekom en gesê: “Die mense in my dorpie het al die lektuur gelees, en hulle was baie gelukkig oor wat hulle gelees het. Hulle wil Jehovah se Getuies word. Maar hulle het vrae. Byvoorbeeld, hulle verstaan dat hulle in die water onderdompel moet word om gedoop te word. Maar daar is nie ’n rivier naby ons dorpie nie. Moet ons hiernatoe kom om gedoop te word?” Die verkondigers het ’n pionier wat die man se taal praat, gevra om hom te kontak. Die twee geniet nou gereelde besprekings.

 Dit is opwindend om te sien hoe lektuurtrollies gebruik word om te preek “oor die hele bewoonde aarde . . . as ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Hoe betaal ons vir die vervaardiging van die trollies? Deur donasies aan die wêreldwye werk waarvan baie deur middel van donate.dan124.com gemaak word. Dankie vir julle vrygewigheid.