’n Veganistiese leefstyl – Wat sê die Bybel?
Regoor die wêreld stel baie mense belang in veganisme.
Veganisme is ’n manier waarop mense dink en lewe waar hulle alles probeer doen om te keer dat diere seergemaak of gebruik word vir kos, klere of enige ander doel. – The Vegan Society.
Party mense word veganiste nie net omdat hulle vir diere omgee nie, maar ook omdat hulle die omgewing of hulle gesondheid wil verbeter, of as gevolg van godsdiensredes.
Veganisme is verskillend van die meeste ander diëte omdat mense dit beskou as ’n oortuiging, ’n sedelike besluit en ’n manier hoe elke persoon die wêreld in ’n beter plek kan verander. – Britannica Academic.
Is veganisme die weg tot ’n beter toekoms vir die planeet? Wat sê die Bybel?
Ons Skepper se beskouing van mense en van diere
Die Bybel wys dat ons Skepper, Jehovah God, a mense hoër as diere beskou en dat hy mense die mag gegee het om oor hulle te heers (Genesis 1:27, 28). Later het God mense die reg gegee om diere te eet (Genesis 9:3). Maar hy keur nie die mishandeling van diere goed nie. – Spreuke 12:10.
Volgens die Bybel is dit ’n persoonlike keuse of ons vleis wil eet of nie. b Ons keuse maak ons nie beter mense in God se oë nie (1 Korintiërs 8:8). Niemand moet ’n ander persoon kritiseer oor die keuse wat hy maak oor wat hy wil eet nie. – Romeine 14:3.
Die weg tot ’n beter toekoms
Die Bybel wys dat die manier waarop ons kies om te lewe nie die probleme in die wêreld sal regmaak nie. Baie probleme word veroorsaak deur die politieke, sosiale en ekonomiese stelsels van hierdie wêreld, en dit kan deur niemand reggemaak word nie. Die Bybel sê:
“Wat krom is, kan nie reguit gemaak word nie.” – Prediker 1:15.
Ons Skepper sal die probleme wat ons vandag het, oplos. Die Bybel gebruik figuurlike taal om te beskryf wat hy sal doen.
“En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die vorige hemel en die vorige aarde was nie meer daar nie, en die see was ook nie meer daar nie.” – Openbaring 21:1.
God sal menseregerings, of “die vorige hemel”, met “’n nuwe hemel”, sy hemelse Koninkryksregering, vervang. Sy Koninkryk sal “die vorige aarde”, diegene wat goddeloos is, verwyder en dan sal dit heers oor “’n nuwe aarde”, of diegene wat God se gesag gewilliglik aanvaar.
Slegs onder die heerskappy van God se Koninkryk sal mense leer hoe om in vrede met diere te lewe en die omgewing te respekteer. – Jesaja 11:6-9.
a Jehovah is die persoonlike naam van God. – Psalm 83:18.
b Die Bybel beveel ons om ons ‘van bloed te weerhou’ (Handelinge 15:28, 29). Dit beteken dat ons nie bloed moet drink of vleis moet eet wat nie gebloei is nie of enige kos eet waar bloed bygevoeg is nie.