Bybelbeginsels wat jou kan help as jy jou werk verloor
As jy jou werk verloor, kan dit nie net ’n uitwerking op jou finansies hê nie, maar ook op jou gesinslewe. Dit kan jou ook ontstel en bekommerd laat voel. Die volgende voorstelle, wat op wyse Bybelbeginsels gebaseer is, kan jou help as jy jou werk verloor.
Praat met ander oor hoe jy voel.
Wat die Bybel sê: “’n Ware vriend betoon altyd liefde.” – Spreuke 17:17.
As jy jou werk verloor het, kan jy hartseer, kwaad of verlore voel, of jy sal dalk voel dat jy ’n mislukking is. Wanneer jy vir jou familielede en goeie vriende sê hoe jy voel, kan hulle jou emosioneel ondersteun. Hulle kan jou ook praktiese raad gee wat jou kan help om ’n ander werk te kry.
Probeer om jou nie te veel te bekommer nie.
Wat die Bybel sê: “Moet . . . nooit bekommerd wees oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie bekommernisse hê.” – Matteus 6:34.
Die Bybel moedig ons aan om vooruit te beplan (Spreuke 21:5). Maar dit raai ons ook aan om ons nie te veel oor die toekoms te bekommer nie. Ons is dikwels angstig oor dinge wat dalk nooit sal gebeur nie. Dit is beter om dinge een dag op ’n slag te neem.
Die Bybel gee ook goeie raad oor hoe jy die stres kan hanteer wat jy dalk nou het. Lees die artikel “Hoe om stres te hanteer” om meer uit te vind.
Verander die manier hoe jy geld spandeer.
Wat die Bybel sê: “Ek weet hoe dit is om min te hê en ek weet hoe dit is om ’n oorvloed te hê.” – Filippense 4:12.
Pas aan by jou huidige situasie en verander die manier hoe jy geld spandeer. Dit sal insluit dat jy nie meer geld spandeer as wat jy het nie. Probeer om nie onnodige skuld te maak nie. – Spreuke 22:7.
Vir meer voorstelle oor hoe om aan te pas by jou huidige finansiële situasie, sien die artikel “Hoe om met minder geld klaar te kom”.
Maak goed gebruik van jou tyd.
Wat die Bybel sê: “Hou aan om julle op ’n wyse manier te gedra . . . , en gebruik julle tyd op die beste manier moontlik.” – Kolossense 4:5.
Selfs al het jy nie meer ’n vaste tyd wanneer jy gaan werk nie, moet jy nog steeds by ’n goeie roetine bly. Dit sal jou help om ’n georganiseerde en stabiele lewe te hê en om beter oor jouself te voel.
Wees aanpasbaar.
Wat die Bybel sê: “Elke soort harde werk hou voordele in.” – Spreuke 14:23.
Wees bereid om enige soort werk te doen, al is dit anders as die soort werk wat jy voorheen gedoen het. Jy moet dalk werk aanvaar wat eenvoudig is en waarop daar neergekyk word. Of dalk moet jy werk aanvaar waar jy minder geld verdien as wat jy voorheen gekry het.
Moenie opgee nie.
Wat die Bybel sê: “Saai jou saad in die oggend en moenie jou hand laat rus voordat dit aand is nie, want jy weet nie watter een sal groei nie.” – Prediker 11:6.
Hou aan om na werk te soek en vertel vir ander daarvan. Praat met familielede, mense wat jy ken, vorige werksmaats en bure. Kontak agentskappe wat mense help om werk te kry, kyk na advertensies vir werke en besoek webwerwe van maatskappye wat werkers soek. Wees bereid om vir baie onderhoude te gaan en om by baie plekke vir werk aansoek te doen.