UIT ONS ARGIEF
’n Kulturele organisasie wat mense Bybelwaarheid geleer het
Die Internasionale Bybelstudente, wat later as Jehovah se Getuies bekend gestaan het, het in 1917 begin om op ’n georganiseerde manier vir die gasvrye mense van Mexiko te preek. Honderde opregte mense het Jehovah in die jare daarna begin aanbid. Maar gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die regering van Mexiko ’n probleem gehad met die plekke en geboue waar ons gepreek het en ons vergaderinge gehou het.
Gedurende daardie tyd het die Mexikaanse wet gesê dat alle openbare aanbidding moet plaasvind in geboue wat deur die regering besit is. Dit was ’n probleem omdat ons streekbyeenkomste in openbare plekke gehou is, ons weeklikse vergaderinge dikwels in die huise van Jehovah se Getuies gehou is en ons op die straat en van deur-tot-deur gepreek het.
Om gehoorsaam te wees aan die wet, is ons in 1943 as ’n niewinsgewende burgerlike en kulturele assosiasie geregistreer wat opvoeding tot voordeel van die publiek bevorder het. Dit het beteken dat ons toe die regte van ’n kulturele organisasie gehad het eerder as van ’n godsdiens. As gevolg hiervan was dit nie meer vir ons nodig om in geboue wat deur die regering besit is, bymekaar te kom of te preek nie.
Ons bedrywighede het programme ingesluit wat kultureel en opvoedkundig was. Daarom was ons ten volle gehoorsaam aan die regering se wetlike vereistes vir burgerlike en kulturele organisasies (Romeine 13:1). Ons doelwit was natuurlik nog altyd om mense te help deur hulle Bybelwaarheid te leer (Jesaja 48:17, 18). Ons het gou gesien dat Jehovah hierdie nuwe reëling seën. Dit het die grondslag gelê vir uitsonderlike groei, soos baie Getuies vandag duidelik onthou.
Veranderinge aan hoe ons gepreek het
Ons belangrikste werk in Mexiko was nog altyd om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Maar, soos die apostel Paulus, het ons ons benadering in die bediening verander om by die omstandighede aan te pas (1 Korintiërs 9:20-23). Byvoorbeeld, toe Paulus met die manne van Atene in die Areopagus gepraat het, het hy nie direk na die Skrif verwys nie (Handelinge 17:22-31). Net so, toe ons gepreek het, het ons nie die Bybel saam met ons gedra of daarna verwys wanneer ons gesprekke met mense begin het nie.
Isabel sê: “Ons het onsself voorgestel as verteenwoordigers van ’n kulturele en opvoedkundige gemeenskap. Dikwels het ek gefokus op artikels in die Ontwaak! wat nie direk na die Bybel verwys het nie.” Wat as die huisbewoner in geestelike dinge belanggestel het? Dan het ons Bybelwaarheid met hulle gedeel. Aurora verduidelik: “Omdat ons nie Bybels by ons gehad het nie, moes ons baie tekste memoriseer.” Huisbewoners het ook goed gereageer wanneer ons hulle kopie van die Bybel gebruik het.
Ons verdedig ons deur-tot-deur-bediening
Ons was voorbereid om ’n verduideliking te gee as enige iemand gevra het of ons werk wetlik erken word (Filippense 1:7). Dokumente wat deur die regering goedgekeur is, het baie gehelp. a María onthou: “Ons het altyd ’n identifikasiekaart wat deur die Minister van Buitelandse Sake geteken is, by ons gedra.” Samuel sê: “Wanneer die owerhede ons gestop het en ons gevra het wat ons doen, het ons ons kaart vir hulle gewys.”
Ons identifikasiekaart het ons gehelp om teenstand te oorkom. Byvoorbeeld, Jesús, wat in die staat Jalisco gedien het, sê: “In 1974 het mense wat deur ’n priester opgestook is, my en ’n Getuie-paartjie na die plaaslike owerhede geneem om ons werk stop te sit. Ons het ons identifikasiekaarte vir die owerhede gewys, en dit het almal laat bedaar. Nadat ons wetlike hulp ontvang het, kon ons aanhou om belangstellendes in die gebied te help. Vandag is daar ’n hele paar gemeentes wat in daardie stad floreer.”
Bybelstudie en lees-en-skryf-klasse
As ’n burgerlike assosiasie wat opvoeding bevorder het, het ons gratis lees-en-skryf-klasse vir die publiek aangebied. b Ariel sê: “Hierdie reëling het net op die regte tyd gekom. Gedurende daardie jare het baie mense nie skool toe gegaan nie, maar hulle wou baie graag die Bybel lees. Ons het hulle geleer om te lees en skryf, en nie lank daarna nie het baie die Bybel met ons begin studeer.”
Ruth sê: “Wanneer hulle eers begin leer het hoe om te spel, kon niks hulle keer nie. Om te leer lees en skryf, het hulle laat voel dat hulle iets belangriks bereik het en het hulle gelukkig gemaak. Daarna het ons gesien hoe hulle nader aan Jehovah gekom het.”
Jehovah se Getuies is tussen 1943 en 1993 as ’n burgerlike en kulturele assosiasie geregistreer. Gedurende daardie tyd het ons meer as 127 000 mense gehelp om te leer lees en skryf en meer as 37 000 mense gehelp om beter te lees en skryf. Regeringsamptenare het ons geprys vir ons bydrae tot geletterdheid (Romeine 13:3). Byvoorbeeld, in 2010 het hulle ons spesiale erkenning gegee vir ons “harde werk oor die jare om mense te help om te leer lees en skryf. Dit het duisende Mexikaanse mense gehelp om hulle lewe te verbeter in die staat Mexiko en in die hele land.”
Ons vergaderinge
As gevolg van ons wetlike registrasie was ons vergaderingplekke soos klaskamers opgestel en Sale vir Kulturele Studie genoem. Dit is waar ons ons vergaderinge en lees-en-skryf-klasse gehou het.
Ángel verduidelik: “Hierdie sale was dikwels in die huise van broers, en baie van hierdie families het nie baie gehad nie. Ek het hulle altyd bewonder. Hulle was bereid om op mekaar te bly in een deel van hulle huis sodat vergaderinge in die ander deel van die huis gehou kon word.”
Sulke opofferings was nodig. Ángel sê oor gemeentelike vergaderinge: “Soms was daar soveel mense wat dit bygewoon het dat baie van ons buite gestaan het. Ons moes deur die vensters loer om te antwoord. Maar ons het altyd die vergaderinge geniet.”
Om probleme te voorkom, het ons nie gesing of hardop gebid by ons vergaderinge nie. Edmundo onthou: “Gedurende die Kulturele toespraak, wat nou die openbare toespraak genoem word, het sprekers die praktiese waarde van die Bybel se raad beklemtoon om mense wat daar was, te help om hulle kultuur en lewens te verbeter.” Mettertyd het ons selfs opgehou om die name van die boeke van die Bybel te gebruik. Hoe het die gehoor geweet na watter teks die spreker verwys het? Manuel gee vir ons ’n voorbeeld: “In plaas daarvan om na Openbaring hoofstuk 21, vers 3 en 4 te verwys, het ons iets gesê soos: ‘Boek 66, 21, 3 en 4.’” ’n Ander Getuie, Moises, voeg by: “Dit het beteken dat ons die nommers moes leer wat ooreenstem met die boeke van die Bybel om die tekste te vind.”
Lesse uit ons geskiedenis in Mexiko
Oor die algemeen het ons organisasie in Mexiko op dieselfde manier gewerk as in ander dele van die wêreld. Alhoewel ons aanbidding beperk was, was dit duidelik dat Jehovah ons werk geseën het. Toe ons in 1943 as ’n burgerlike assosiasie geregistreer is, was daar 1 565 verkondigers in Mexiko. Ons het in 1993 wetlike erkenning as ’n godsdiens gekry. Daardie jaar was die gemiddelde aantal verkondigers 366 177. En die werk wat hierdie verkondigers gedoen het, het tot selfs groter groei gelei. Teen 2021 het die gemiddelde aantal verkondigers in Mexiko tot 864 633 gestyg. Watter lesse kan ons leer uit hierdie geskiedkundige verslag?
Pas aan wanneer daar uitdagings is. Omdat ons dit gedoen het, het ons werk 50 jaar lank wetlike erkenning in Mexiko gehad. Mario sê: “Soms het ek gewonder hoekom ons nie party van dieselfde teokratiese reëlings het as wat in ander lande is nie. Maar ek het nooit gehoor dat enige iemand die leiding van die organisasie bevraagteken nie. Ons het altyd geglo dat Jehovah sy volk lei. Daarom was ons baie gehoorsaam.”
Fokus op Jehovah se werk. Guadalupe verduidelik: “Ons was so besig met die dissipelmaakwerk dat ons nie oor enige iets anders bekommerd was nie. Net om Jehovah te dien het ons baie gelukkig gemaak. Dit was vir ons die heel belangrikste.”
Bly na aan mede-Christene. Anita verduidelik: “Wat ons nie by die Saal vir Kulturele Studie kon doen nie, soos om by vergaderinge te sing, het ons by ons huise gedoen. Ons het verenig gebly en gereeld bymekaar gekuier. By ons sosiale geleenthede het ons altyd oor geestelike dinge gepraat wat ons aangemoedig het.”
Florentino sê oor hierdie tyd: “Wanneer ek terugkyk, besef ek dat alles wat gebeur het, ’n doel gedien het en ons iets belangriks geleer het. Dit is vir my duidelik dat Jehovah deur dit alles, ten spyte van teenstand, sake gerig het.”
a Hierdie kaart was net gebruik om ons te identifiseer. Die Bybel sê nie dat Christene ’n wetlike permit nodig het om Bybelwaarheid met ander te deel nie. In onlangse tye het individue wat Jehovah se Getuies is, nie probeer om sulke dokumente of registrasies te kry nie.
b Volgens deskundiges kon die helfte van die bevolking van Mexiko in die 1940’s en die 1950’s nie lees of skryf nie.
Getuie-families in Chihuahua, Mexiko, kom bymekaar voor hulle Christelike vergaderingplek. Die teken in Spaans sê: “Saal vir Kulturele Studie”, 1952
’n Groep Getuies by die takkantoor in Mexikostad met ’n teken in Spaans wat sê: “Die Wagtoring, Burgerlike Assosiasie”, 1947
Twee Getuies bied ’n Spaanse kopie van Die Wagtoring aan in die platteland van Hidalgo, Mexiko, 1959
Getuies het ’n identifikasiekaart van die regering gekry wat hulle in die predikingswerk kon gebruik as dit nodig was
In 2010 het die Minister van Openbare Onderwys in Mexiko spesiale erkenning aan Jehovah se Getuies gegee vir hulle harde werk om mense te leer lees en skryf
Die Getuies se wetlike status as ’n kulturele organisasie het hulle toegelaat om groot byeenkomste te hou, soos hierdie Internasionale Kulturele Byeenkoms in 1969