Die lewe—’n kosbare gawe
Die lewe—’n kosbare gawe
WAT ’n gawe het die mensegesin tog ontvang toe Jehovah God aan hulle die voorreg gegee het om kinders te hê! ’n Pragtige baba sou gebore word en met ope arms ontvang word deur ’n gelukkige egpaar wat mekaar liefhet en gereed is om hierdie kindjie wat die vrug van hulle huwelik is, lief te hê en te versorg. Slegs vreugde sou op die gesin wag namate die kind se lewe ontwikkel.
Maar die sonde van Adam en Eva het tragiese gevolge gehad vir die babas wat deur die mensdom voortgebring is. As straf vir die sonde sou ons eerste moeder haar kinders met angs en fisiese pyn in die wêreld bring. En die sondige omgewing waarin hulle nakomelinge hulle bevind het, het die grootmaak van kinders ’n groot uitdaging gemaak. Gevolglik is dit in vandag se komplekse wêreld nie verbasend dat die verwekking van ’n kind dikwels met allesbehalwe vreugde begroet word nie. Maar hoe beskou die Skepper die ongeborenes? Het hy sy beskouing by die veranderende getye van sedelikheid aangepas? Beslis nie. Sy beskouing van en besorgdheid oor die wêreld se ongebore kinders bly onveranderd.
Die Skrif maak dit duidelik dat ’n unieke, afsonderlike mens in die moeder ontwikkel. Lewe begin met bevrugting. Wanneer ’n kind in die wêreld gebring word, openbaar dit bloot die kind wat God reeds gesien het aan die mens. Esegiël praat van “elke kind wat die baarmoeder open” (Esegiël 20:26, NW). Job praat van “die deure van die moederskoot” en noem miskrame “kinders wat die lig nie gesien het nie”.—Job 3:10, 16.
Ons moet let op Jehovah God se tere besorgdheid oor die brose lewetjie terwyl dit in die baarmoeder ontwikkel. Hy het aan Jeremia gesê: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig” (Jeremia 1:5). Dawid het gesê: “Geen been was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaar geweef is diep in die moederskoot. U het my gesien toe ek nog ongebore was” (Psalm 139:15, 16, NAV). Job noem God “die Een wat my in die buik gemaak het”, wat “ons in die moederskoot berei” het.—Job 31:15, NW.
Maar wat van God se besorgdheid oor die wanhopige swanger vrou wat nie die kind wil hê nie? Die Skepper besef beter as enigiemand anders watter ernstige verantwoordelikhede ouerskap op ’n mens plaas. Sal hy nie ’n swanger vrou se besluit seën as sy uit respek vir Goddelike vereistes en ten spyte van haar moeilike situasie besluit om haar baba te hou nie? ’n Ouer kan en behoort tereg in gebed te vra vir sy hulp om ’n gelukkige kind groot te maak. God het reeds deur middel van sy Woord die beste beskikbare raad oor die grootmaak van kinders gegee. As ’n mens Bybelbeginsels in die gesinslewe toepas, sal dit tot geluk lei. Die vreugdes en beloninge wat dit meebring om godvresende kinders groot te maak, oortref enige opofferinge wat in die loop van die lewe gedoen word, soos enige trotse ouer kan getuig.
Beskou Jehovah sake enigsins anders as die baba die gevolg van verkragting of bloedskande is? Hoewel daar ’n misdaad teenoor die moeder gepleeg is, is dit nie die baba se skuld nie. Om sy lewe te beëindig, sou net beteken dat ’n mens een gewelddaad met ’n ander vergeld. Jehovah besef ongetwyfeld watter emosionele trauma sulke slagoffers deurmaak en kan die moeder en die kind help om die nadraai daarvan op ’n gebalanseerde manier te verwerk.
Sê nou ’n dokter sê vir ’n swanger vrou dat sy haar lewe in gevaar kan stel as sy nie haar swangerskap beëindig nie? Dr. Alan Guttmacher het gesê: “Dit is vandag moontlik om feitlik enige pasiënt lewend deur haar swangerskap te bring tensy sy aan ’n dodelike siekte soos kanker of leukemie ly, en dan sal ’n aborsie haar lewe waarskynlik nie verleng, en beslis nie red, nie.” The Encyclopedia Americana sê: “Aangesien die meeste vroue selfs met ernstige mediese probleme veilig deur ’n swangerskap gebring kan word, is daar min aborsies wat ter wille van die moeder se gesondheid uitgevoer moet word. Die meeste mense wil ’n aborsie hê omdat hulle nie ’n kind wil hê nie.” Sulke situasies kom dus selde voor. Maar as dit wel tydens ’n bevalling gebeur, dan moet die ouers kies tussen die lewe van die moeder en dié van die kind. Dit is húlle besluit.
Is dit enigsins ’n wonder dat die Skepper van die lewe duidelike riglyne oor die gebruik van ons voortplantingsvermoëns neergelê het? In sý oë is dit sonde om ’n lewe te verwek wat ’n mens nie van plan is om te versorg nie, net soos moord sonde is.
Die debat sal ongetwyfeld tot die einde van hierdie stelsel voortduur. Maar vir die Skepper van die lewe, Jehovah God, sowel as vir diegene wat sy wette liefhet, is daar hoegenaamd geen kwessie nie. Die lewe is kosbaar—’n gawe wat van die begin af versorg en gekoester moet word.
[Venster op bladsy 11]
God se beskouing van aborsie
Wat van die meisie wat ’n buite-egtelike kind verwag en glad nie op moederskap voorbereid is nie? Moet sy toegelaat word om ’n baba in die wêreld te bring? God se gevoel teenoor die baba het nie verander net omdat sy moeder onverstandig en onsedelik opgetree het nie. ’n Baba se geboorte kan sy moeder selfs help om te besef wat die natuurlike gevolge van haar onsedelikheid is en sodoende die wysheid van God se wette by haar inskerp. As die gevolge van haar ongeoorloofde geslagsdaad vernietig word, kan dit haar met ’n skuldgevoel laat of haar tot verdere onsedelike dade aanspoor.
As daar nie ’n pa is om die las te help dra nie, sal dit nie maklik wees om die kind groot te maak nie. Maar ’n innige verhouding met ons hemelse Vader kan ’n moeder van die sedelike en emosionele krag, ondersteuning en leiding voorsien om dit te kan doen. Hy het ook die Christengemeente voorsien om enkelouers se las te verlig.