Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid

Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid

Deel 4

Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid

Die herlewing van die wetenskap deur revolusie

GEDURENDE die tweede helfte van die 18de eeu het revolusies ’n opskudding in die wêreld veroorsaak toe hulle die politieke terrein, eers in Amerika en daarna in Frankryk, verander het. Intussen het ’n ander soort revolusie in Engeland begin, die Industriële Revolusie. Dit het baie te doen gehad met nog ’n ander soort revolusie, ’n wetenskaplike een.

Party sê die herlewing van die wetenskap stam uit die 1540’s, toe die Poolse sterrekundige Nicolaus Copernicus en die Belgiese anatoom Andreas Vesalius boeke uitgegee het wat wetenskaplike denke grootliks beïnvloed het. Ander sê die verandering het vroeër, in 1452, plaasgevind, toe Leonardo da Vinci gebore is. Leonardo, wat voortdurend geëksperimenteer en talle wetenskaplike bydraes gelewer het, het idees ontwikkel wat in sommige gevalle die saadjies was van uitvindings wat eeue later vervolmaak is, soos die vliegtuig, die oorlogstenk en die valskerm.

Maar Ernest Nagel, ’n emeritusprofessor aan die Universiteit Columbia, sê die wetenskap soos ons dit ken, “het eers teen die sewentiende en agtiende eeu as ’n deurlopende instelling in die Westerse gemeenskap goed posgevat”. Toe dit eers posgevat het, het die mens ’n belangrike keerpunt in sy geskiedenis bereik. Die boek The Scientist sê: “Ongeveer tussen 1590 en 1690 het ’n duisternis van genieë . . . ’n bloeityd in navorsing ingelui wat nouliks in enige ander 100-jarige tydperk geëwenaar is.”

Skurke verduister die weg

Skynwetenskappe het ook gefloreer en was soos skurke wie se onjuiste teorieë in die pad van ware wetenskaplike vooruitgang gestaan het. Die flogistonteorie was een hiervan. “Flogiston”, wat uit Grieks afkomstig is, beteken “verbrand”. Dit is in 1702 deur George Ernst Stahl bekend gestel, wat geglo het dat flogiston vrygestel is wanneer brandbare stowwe verbrand is. Hy het dit as ’n beginsel pleks van ’n werklike stof beskou, maar die opvatting dat dit in werklikheid ’n stof was, het deur die jare toegeneem. Hierdie teorie kon eers tussen 1770 en 1790 deur Antoine-Laurent Lavoisier verkeerd bewys word.

The Book of Popular Science erken dat, hoewel die flogistonteorie “heeltemal verkeerd was, dit ’n tyd lank ’n werkende hipotese voorsien het wat klaarblyklik talle natuurlike verskynsels verklaar het. Dit was eenvoudig een van talle wetenskaplike hipoteses wat in die loop van die jare geweeg en te lig bevind is.”

Alchemie was nog ’n skurk. Harrap’s Illustrated Dictionary of Science definieer dit as “’n mengsel van filosofie, mistiek en chemiese tegnologie, wat voor die Christelike era ontstaan het en onderskeidelik daarna gestreef het om onedele metale in goud te verander, die lewe te verleng en die geheim van onsterflikheid vas te stel”. Voor alchemie verwerp is, het dit gehelp om die grondslag vir die moderne chemie te lê, ’n verandering wat teen die einde van die 17de eeu voltooi is.

Hoewel die flogistonteorie en alchemie skurke was, was hulle dus nie heeltemal waardeloos nie. Dieselfde kan egter nie van menslike skurke gesê word wat weens godsdienstige oortuiging antiwetenskaplike denkwyses bevorder het nie. Mededinging tussen die wetenskap en die teologie—wat elkeen beweer dat hy die enigste gesaghebbende op die gebied van vrae oor die heelal is—het dikwels tot openlike konfrontasie gelei.

In die tweede eeu G.J. het die beroemde sterrekundige Ptolemeus byvoorbeeld die geosentriese teorie uitgedink, wat beteken dat terwyl die planete in ’n sirkel wentel die middelpunt van die sirkel, wat die episiklus genoem word, ook op die omtrek van ’n ander sirkel beweeg. Dit was wiskundige vindingrykheid op sy beste en het die son, maan, planete en sterre se skynbare beweging in die lug verduidelik en is tot die 16de eeu algemeen aanvaar.

Copernicus (1473-1543) het ’n ander teorie ontwikkel. Hy het geglo dat die son stilstaan terwyl die planete, waaronder die aarde, om die son draai. As hierdie idee—dat ’n bewegende aarde nie meer die middelpunt van die heelal is nie—waar was, sou dit verreikende gevolge hê. Minder as honderd jaar later het die Italiaanse sterrekundige Galileo Galilei deur middel van teleskope waarnemings gedoen wat hom oortuig het dat die Copernicaanse hipotese van ’n aarde wat om die son draai inderdaad waar is. Maar die Katolieke Kerk het Galileo se idees as kettery verwerp en hom gedwing om dit terug te trek.

Godsdienstige onjuisthede het veroorsaak dat teoloë wetenskaplike waarhede ontken het. Eers byna 360 jaar later het die kerk Galileo van die aanklag van kettery vrygespreek. L’Osservatore Romano het in sy weeklikse nommer van 4 November 1992 erken dat “’n selfwaarneembare oordeelsfout” in die saak teen Galileo begaan is.

Skurke bestaan steeds

In hierdie 20ste eeu toon die godsdienste van die Christendom eweneens ’n soortgelyke minagting vir die waarheid. Hulle doen dit deur ten spyte van wetenskaplike sowel as godsdienswaarhede die voorkeur aan onbewese wetenskaplike teorieë te gee. Die beste voorbeeld hiervan is die onbewysbare evolusieteorie, wat basies die buite-egtelike kind van wetenskaplike “kennis”, wat ernstige tekortkominge het, en valse godsdiensleerstellings is. *

Op 24 November 1859 het Charles Darwin sy boek On the Origin of Species by Means of Natural Selection uitgegee. Maar die evolusie-idee het in werklikheid in voor-Christelike tye ontstaan. Die Griekse filosoof Aristoteles het die mens byvoorbeeld voor in ’n ry uitgebeeld wat uit laer vorme van die dierelewe geëvolueer het. Die geestelikes het Darwin se teorie aanvanklik verwerp, maar The Book of Popular Science sê: “Evolusie het [later] iets meer as ’n wetenskaplike teorie geword . . . Dit het ’n strydkreet en selfs ’n filosofie geword.” Die idee van oorlewing van die geskikste het ingang gevind by mense wat daarna gestreef het om die hoogste sport te bereik.

Die geestelikes se teenkanting het gou verdwyn. The Encyclopedia of Religion sê dat “Darwin se evolusieteorie nie net aanvaar is nie, maar grootliks geprys is” en dat “die nadenkendste en mees welbespraakte geestelikes teen die tyd van sy afsterwe in 1883 tot die slotsom gekom het dat evolusie heeltemal verenigbaar was met ’n verligte begrip van die Skrif”.

Dit ten spyte van die feit dat The Book of Popular Science die volgende erken het: “Selfs die onwrikbaarste ondersteuners van die organiese evolusieleer moes erken dat daar opvallende onjuisthede en leemtes in Darwin se oorspronklike teorie is.” Die boek sê dat “’n groot deel van Darwin se oorspronklike teorie hersien of verwerp is”, maar sê nietemin dat evolusie “’n baie groot invloed op feitlik elke gebied van die mens se werksaamhede gehad het. Die geskiedenis, die argeologie en die volkekunde het as gevolg van die teorie belangrike veranderinge ondergaan.”

Vandag trek talle nadenkende wetenskaplikes die evolusieteorie sterk in twyfel. Sir Fred Hoyle, die stigter van die Cambridge-instituut vir Teoretiese Sterrekunde en ’n meegaande lid van die Amerikaanse Nasionale Akademie vir die Wetenskappe, het ongeveer tien jaar gelede geskryf: “Ek is seker dat toekomstige wetenskaplike geskiedkundiges dit vreemd sal vind dat ’n teorie wat ooglopend onprakties is so algemeen aanvaar word.”

Aangesien die evolusieteorie die kern van die mens se bestaan raak, ontneem dit die Skepper die eer wat hom toekom. Dit weerspreek ook die aanspraak dat dit wetenskaplik is en bevorder nie die mensdom se voortdurende soeke na wetenskaplike waarheid nie. Karl Marx het die evolusieleer en ‘oorlewing van die geskikste’ met graagte aangeneem om die opkoms van Kommunisme te steun. Maar die evolusieteorie is die gemeenste skurk denkbaar.

Wie is die slagoffers?

Enigeen wat mislei word om skynwetenskaplike teorieë te glo, word ’n slagoffer. Maar dit hou selfs gevaar in om wetenskaplike waarhede te glo. Die skitterende wetenskaplike vooruitgang wat uit die wetenskaplike revolusie voortgespruit het, het baie mislei om te glo dat niks nou buite hulle bereik was nie.

Hierdie opvatting is versterk namate wetenskaplike vooruitgang voortgegaan het om weg te doen met die antiwetenskaplike denkwyse wat valse godsdiens vroeër aangemoedig het. Die handel en die politiek het begin besef dat die wetenskap ’n kragtige werktuig is wat gebruik kon word om hulle doelwitte te bereik, hetsy dit ’n geldelike beloning of die verstewiging van hulle politieke mag was.

Dit is duidelik dat die wetenskap stadig ’n god geraak het, wat tot die wetenskapsleer aanleiding gegee het. Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary definieer dit as “’n oordrewe vertroue in die doeltreffendheid van die metodes van die natuurwetenskap wat op alle navorsingsgebiede toegepas word”.

Namate die 19de eeu ten einde geloop het, het mense gewonder wat in die 20ste eeu sou gebeur. Sou die wetenskap die “ware hemel op aarde” tot stand bring wat baie gedink het dit sou kon doen? Of sou sy skurke voortgaan om die revolusionêre slagveld met die verstrengelde liggame van bykomende slagoffers te besaai? “Twintigste-eeuse ‘wonders’” wat in ons volgende nommer verskyn, sal die antwoord verstrek.

[Voetnoot]

^ par. 16 Die fundamentalistiese idee dat die skeppings-“week” waarvan daar in Genesis melding gemaak word ’n reeks letterlike dae van 24 uur is, is een van hierdie leerstellings. Die Bybel toon dat dit in werklikheid tydperke van baie duisende jare was.

[Venster op bladsy 14]

Met die uittrek van ’n prop

TOT so onlangs as vroeg in die 19de eeu is elektrisiteit as ’n interessante verskynsel beskou, maar een wat min praktiese waarde ingehou het. Manne uit verskillende lande en met verskillende agtergronde, waaronder H. C. Ørsted (1777-1851), M. Faraday (1791-1867), A. Ampère (1775-1836) en B. Franklin (1706-90), het egter belangrike ontdekkings gedoen wat die teenoorgestelde bewys en sodoende die fondament vir die hedendaagse wêreld van elektrisiteit gelê het—die wêreld wat met die uittrek van ’n prop tot stilstand kom.

[Prente op bladsy 15]

Nicolaus Copernicus

Galileo Galilei

[Erkenning]

Photos taken from Giordano Bruno and Galilei (German edition)