Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Gebalanseerde beskouing van gewilde gebruike

’n Gebalanseerde beskouing van gewilde gebruike

Die Bybel se beskouing

’n Gebalanseerde beskouing van gewilde gebruike

“DAAR IS GEEN DENKBARE GEBRUIK WAT NIE OP DIE EEN OF ANDER TYD EN PLEK VEROORDEEL IS, EN WAT NIE OP ’N ANDER TYD EN PLEK VOORGESKRYF IS AS ’N VERPLIGTING NIE.”

MET hierdie opmerking het die Ierse geskiedskrywer William Lecky die wispelturige aard van mense opgesom. Sy kommentare kan ook van toepassing wees op gebruike en tradisies deur die eeue heen. Trouens, baie gebruike wat vroeër as ’n noodsaaklike deel van die daaglikse lewe beskou is, is later veroordeel. Dit is nie verbasend nie, want soos die Christenapostel Paulus gesê het, is “die toneel van hierdie wêreld . . . aan die verander”.—1 Korintiërs 7:31.

Ja, die mensegemeenskap is voortdurend in ’n toestand van veranderlikheid. Dit word dikwels in groot veranderinge in gesindhede en sosiale gewoontes weerspieël. Christene moet “geen deel van die wêreld” wees nie—dit wil sê, hulle bly afgeskeie van die mensegemeenskap wat van God vervreem is. Die Bybel erken nogtans dat Christene “in die wêreld” is, en dit beveel hulle nie om in afsondering te leef nie. Daarom is dit noodsaaklik om ’n gebalanseerde beskouing van gebruike te hê.—Johannes 17:11, 14-16; 2 Korintiërs 6:14-17; Efesiërs 4:17-19; 2 Petrus 2:20.

Wat is gebruike?

Gebruike is gewoontes wat van toepassing is op die sosiale lewe en wat op ’n spesifieke plek of onder ’n spesifieke klas mense algemeen is. Sommige gebruike, soos tafelmaniere en etiket, het dalk ontstaan uit ’n behoefte om mense se gedrag in groepsaktiwiteite te reguleer en hulle in staat te stel om op ’n beskaafde wyse en met wedersydse respek oor die weg te kom. In sulke gevalle kan sosiale hoflikhede met olie vergelyk word in die sin dat dit die wiele van menseverhoudings olie.

Gebruike is grootliks deur godsdiens beïnvloed. Baie het trouens uit ou bygelowe en nie-Bybelse godsdiensidees ontstaan. Om byvoorbeeld blomme vir bedroefdes te gee, het moontlik uit godsdiensbygelowigheid ontstaan. * Daarbenewens is daar gemeen dat die kleur blou—wat gewoonlik met babaseuntjies geassosieer word—demone wegjaag. Maskara was ’n beskerming teen die bose oog, terwyl lipstiffie gebruik is om te keer dat demone by ’n vrou se mond ingaan en van haar besit te neem. Selfs ’n onskuldige gebruik soos om jou hand voor jou mond te hou wanneer jy gaap, het moontlik ontstaan uit die idee dat ’n mens se siel deur jou oop mond kon ontsnap. Deur die jare heen het die godsdiensassosiasies egter vervaag, en vandag het hierdie gewoontes en gebruike geen godsdienstige betekenis nie.

Die oorweging van Christene

Wanneer ’n Christen moet besluit of hy ’n sekere gebruik gaan volg of nie, moet sy belangrikste oorweging wees: Wat is God se beskouing, soos opgeteken in die Bybel? In die verlede het God sekere gebruike veroordeel wat moontlik in sommige gemeenskappe verdra is. Dit het kinderofferandes, die misbruik van bloed en verskeie seksuele gebruike ingesluit (Levitikus 17:13, 14; 18:1-30; Deuteronomium 18:10). Net so is sekere algemene gebruike van vandag ongetwyfeld nie in ooreenstemming met Bybelbeginsels nie. Hieronder is nie-Bybelse tradisies wat met godsdienstige vakansiedae verband hou, soos Kersfees en Paasfees, of met bygelowige gewoontes wat met spiritisme te doen het.

Maar wat van gebruike wat vroeër aan twyfelagtige gewoontes gekoppel is, maar wat vandag hoofsaaklik as sosiale etiket beskou word? Byvoorbeeld, talle gewilde huweliksgebruike—wat insluit dat ringe gegee en koek geëet word—het moontlik ’n heidense oorsprong. Beteken dit dat Christene verbied word om sulke gebruike te volg? Word daar van Christene verwag om elke gebruik van die gemeenskap noukeurig te ondersoek om te sien of dit iewers of op die een of ander tydstip negatiewe konnotasies gehad het?

Paulus wys op die volgende: “Waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid” (2 Korintiërs 3:17; Jakobus 1:25). God wil hê dat ons hierdie vryheid gebruik, nie as aanleiding vir selfsugtige begeertes nie, maar om ons waarnemingsvermoëns te oefen om tussen reg en verkeerd te onderskei (Galasiërs 5:13; Hebreërs 5:14; 1 Petrus 2:16). Gevolglik maak Jehovah se Getuies nie streng reëls in gevalle waar daar geen definitiewe skending van Bybelbeginsels is nie. Elke Christen moet eerder self die omstandighede oorweeg waarin hy hom bevind en ’n persoonlike besluit neem.

Soek ander se voordeel

Beteken dit dat dit altyd reg is om ’n sekere gebruik te volg solank dit nie ’n direkte skending van Bybelleringe is nie? Nee (Galasiërs 5:13). Paulus het getoon dat ’n Christen nie net sy eie voordeel moet soek nie, “maar dié van die meerderheid”. Hy moet “alles tot heerlikheid van God” doen en nie ’n oorsaak tot struikeling word nie (1 Korintiërs 10:31-33). Daarom sal iemand wat God se goedkeuring wil hê hom afvra: ‘Hoe beskou ander hierdie gebruik? Heg die gemeenskap enige afkeurenswaardige betekenis daaraan? Sal my deelname daaraan impliseer dat ek gewoontes of idees goedkeur wat God mishaag?’—1 Korintiërs 9:19, 23; 10:23, 24.

Hoewel sekere gebruike oor die algemeen onskadelik is, word dit moontlik op maniere beoefen wat strydig met Bybelbeginsels is. By spesifieke geleenthede kan die gebruik om blomme te gee byvoorbeeld ’n spesiale betekenis aanneem wat strydig met Bybelleringe is. Waaroor moet ’n Christen hoofsaaklik besorg wees? Hoewel daar dalk rede is om die oorsprong van ’n spesifieke gebruik te ondersoek, is dit in sommige gevalle belangriker om te kyk wat die gebruik beteken vir mense in die tyd en plek waar jy nou leef. As ’n gebruik gedurende ’n spesifieke tyd van die jaar of onder sekere omstandighede onskriftuurlike of andersins negatiewe konnotasies het, sal dit verstandig wees as Christene besluit om dit op daardie tyd te vermy.

Paulus het gebid dat Christene se liefde steeds oorvloediger sal word met juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë. Deur ’n gebalanseerde beskouing van gewilde gebruike te behou, ‘maak Christene seker van wat die belangriker dinge is, sodat hulle onberispelik kan wees en ander nie laat struikel nie’ (Filippense 1:9, 10). Terselfdertyd sal hulle hulle “redelikheid aan alle mense bekend” laat word.—Filippense 4:5.

[Voetnoot]

^ par. 8 Volgens sommige antropoloë is ruikers soms gebruik as offerandes aan die dooies om te keer dat hulle die lewendes lastig val.

[Prente op bladsy 26]

Sommige eertydse gebruike, soos om jou hand voor jou mond te hou wanneer jy gaap en om blomme vir bedroefdes te gee, het hulle oorspronklike betekenis verloor