Vaderlose gesinne—Hoe die kringloop verbreek kan word
Vaderlose gesinne—Hoe die kringloop verbreek kan word
AS DIE huidige tendens voortduur, sal vaderlose gesinne binnekort die norm wees. ’n Verslag deur die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste beweer: “Kinders wat deur ’n enkelouer grootgemaak word, is geneig om laer punte te kry, meer gedragsprobleme te ondervind en chroniese gesondheids- en psigiatriese probleme te hê. . . . Om in ’n enkelmoedergesin grootgemaak te word, gaan gepaard met ’n groter risiko van tienerswangerskap, vroeë skoolverlating [en] tronkstraf.”
’n Mens kan dus verstaan waarom sosioloë, gesinsraadgewers, opvoeders en selfs politici desperaat op soek is na maniere om hierdie vernietigende tendens stop te sit. Groot byeenkomste vir mans is gehou om ’n gevoel van trots in vaderskap aan te wakker en om die belangrikheid van mans se verbintenis tot die gesin te beklemtoon. Die mark is oorlaai met boeke oor vaderskap. Daar is selfs probeer om vaders te dwing om na hulle verantwoordelikhede om te sien. In die Verenigde State is “nikswerd-pa’s” deur regters geroskam, op TV-geselsprogramme veroordeel en selfs in die openbaar verneder. Sulke pogings het egter weinig resultate opgelewer.
Kitsoplossings
’n Kitsoplossing kan eweneens onsekere resultate hê. ’n Geskeide vrou kan byvoorbeeld inderhaas weer trou, in die hoop dat dit haar kinders ’n nuwe vader sal gee. Maar hoewel dit voordele inhou om weer te trou, kan dit probleme skep. Soms wil kinders nie iemand anders as hulle vader aanvaar nie. Soms aanvaar hulle hom nooit nie. Een studie het getoon dat “byna twee derdes van die vroue wat saam met ’n stiefouer gewoon het die huis verlaat het voor hulle 19 was . . . , in vergelyking met 50% van vroue waar die gesin nog bymekaar was”. Selfs in suksesvolle stiefgesinne neem dit soms etlike jare voor die kinders ’n stiefvader aanvaar. *
Daar is ook nie kitsoplossings vir die probleem van tienerswangerskappe nie. Aborsie skend byvoorbeeld God se wet en vereis dat ’n jong vrou die deur van haar tere medelye sluit vir die klein lewetjie wat binne-in haar ontwikkel. (Exodus 20:13; 21:22, 23; Psalm 139:14-16; vergelyk 1 Johannes 3:17.) Hoe is dit moontlik dat dit nie emosionele letsels sal laat nie? Baie voel dat dit mensliker is om ’n kind te laat aanneem, maar ook dit kan emosionele letsels laat—vir die moeder sowel as die kind.
Efesiërs 3:14, 15). Hy weet, meer as enigiemand anders, wat kinders nodig het.
Geen kitsoplossings sal die kringloop van vaderlose gesinne verbreek nie. Die huidige tendense in gesinne sal slegs tot ’n einde kom as mense bereid is om diepgaande veranderinge in hulle denke, hulle gesindhede, hulle gedrag en hulle sedes aan te bring. Mense het meer as hoogdrawende praatjies en populêre sielkunde nodig om gemotiveer te word om sulke ingrypende veranderinge te maak. Wat mense nodig het, word in God se Woord, die Bybel, gevind. Dit is immers God wat die gesinsreëling ingestel het (Bybelbeginsels help gesinne om hulle probleme die hoof te bied
Maar kan kinders wat net een ouer het werklik deur die Bybel gehelp word? Is daar nie reeds onherstelbare skade aangerig nie? Nee! Aan die begin van hierdie artikel het ons ’n Amerikaanse regeringsverslag aangehaal wat baie van die risiko’s noem waarvoor hierdie kinders te staan kom. Hoewel dit hartseer is, het die verslag afgesluit: “Ondanks al hoe meer getuienis van groter risiko het die navorsing ook getoon dat die meeste kinders in enkelouergesinne normaal ontwikkel.” Ja, die gevolge van vaderloosheid kan uitgeskakel of ten minste verminder word. Dit is veral so as Bybelbeginsels toegepas word in die grootmaak van kinders.
Dit vereis harde werk van die enkelouer—’n vooruitsig wat aanvanklik oorweldigend kan lyk. Maar as jy in hierdie situasie is, kan jy leer om ten volle op Jehovah God te vertrou (Spreuke 3:1, 2). Party Christenvroue in Bybeltye het met moeilike situasies te kampe gehad, sommige was byvoorbeeld weduwees. Die Bybel sê aangaande hulle: “Die vrou wat dan nou werklik ’n weduwee is en behoeftig agtergelaat is, het haar hoop op God gestel en hou nag en dag vol met smekinge en gebede” (1 Timoteus 5:5). Onthou, Jehovah noem homself “’n vader van vaderlose seuns” (Psalm 68:5, NW). Jy kan seker wees dat hy ’n godvresende vrou sal steun in haar pogings om haar kinders groot te maak.
As ’n mens jou kinders wil help om gebalanseerde, geestelike ryp volwassenes te word, is dit noodsaaklik om ’n gereelde tuisbybelstudie met hulle te hou (Deuteronomium 6:6-9). Onder Jehovah se Getuies gebruik baie enkelouers Bybelpublikasies wat spesifiek vir jongmense bedoel is, soos Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk. * Die inligting daarin help jongmense om sedelike standaarde te ontwikkel wat hulle kan help om nie hulle ouers se foute te herhaal nie. Namate kinders Jehovah God leer ken, kan hulle begin verstaan dat hulle ’n hemelse Vader het wat diep besorg oor hulle is (Psalm 27:10). Dit kan hulle help om gevoelens van verwerping te verwerk. ’n Britse meisie wie se ouers uitmekaargegaan het, sê: “Deur dit alles heen het my ma die behoefte aan gebed en volkome vertroue op Jehovah by my ingeskerp. Dit het ons gehelp om ons probleme die hoof te bied.”
Hoe om die band tussen ouer en kind te bewaar
Die Bybel maak dit duidelik dat ’n kind sy moeder en sy vader moet eer (Exodus 20:12). En ’n egskeiding verbreek nie die band tussen ’n vader en ’n kind nie. Hoewel die gewese man miskien nie meer saam met die gesin woon nie, kan dit die kinders steeds baat as hulle ’n goeie verhouding met hom het. * Die probleem is dat die moeder moontlik kwaad is vir hom en nie wil hê dat hy enigiets met die kinders te doen moet hê nie. Hoe kan die moeder sulke gevoelens verwerk?
Die Bybel gee goeie raad wanneer dit waarsku: “Pas op dat woede u nie tot kwaadwillige [optrede] verlok nie . . . Wees op u hoede dat u u nie wend tot wat skadelik is nie” (Job 36:18-21, NW). Dit is weliswaar nie maklik om goed te praat van iemand wat jou seergemaak of verlaat het nie. Maar vra jou af: ‘Kan ’n meisie leer om ’n man te vertrou as sy voortdurend hoor hoe sleg haar pa is? Kan ’n seun ’n bestendige, manlike persoonlikheid ontwikkel as daar vir hom gesê word: “Jy is net soos jou pa”? Kan kinders ’n gesonde beskouing van gesag hê as hulle geleer word om hulle vader te verag of ontmoedig word om hom hoegenaamd te sien?’ Dit is duidelik dat dit skadelik is om jou kinders se verhouding met hulle vader te ondermyn.
Dalk sal dit jou verbaas om te weet dat die Bybel nie regverdige verontwaardiging veroordeel nie. “Wees toornig,” sê die Bybel, “en moet nogtans nie sondig nie” (Efesiërs 4:26). Om kwaad te wees, is nie die sonde nie, maar om deur “gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal” beheers te word (Kolossense 3:8). Moet dus nie die vader van jou kinders voor hulle slegsê nie. As jy voel dat jy oor jou frustrasies moet praat, moet jy die Bybel se raad volg om jou “angstige besorgdheid” met iemand te bespreek, maar moenie jou kinders daarmee belas nie—gesels miskien eerder met ’n vriend wat jy vertrou (Spreuke 12:25, NW). Probeer ’n positiewe gesindheid behou en moenie oor die verlede tob nie (Prediker 7:10). As jy dit doen, sal dit baie help om jou woede te stil.
Onthou ten slotte dat die Bybel ’n kind beveel om sy vader te respekteer—selfs as sy vader nie voorbeeldig was nie (Efesiërs 6:2, 3). Probeer jou kinders dus help om hulle vader se tekortkominge in perspektief te sien. Een jong vrou wat in ’n gebroke gesin grootgeword het, sê: “Deur objektief na my pa te kyk—as ’n feilbare, onvolmaakte mens—het ek hom uiteindelik aanvaar soos hy is.” As jy jou kinders aanmoedig om hulle vader te respekteer, help jy hulle om ’n gesonde beskouing van jou ouerlike gesag te ontwikkel!
Dit is ook belangrik dat jy nie die skeidslyn tussen jou en jou kinders laat vervaag nie. Hulle is nog steeds onder die ‘wet van hulle moeder’ (Spreuke 1:8, NW). As daar van seuns verwag word om ‘die man van die huis’ te wees, kan dit hulle met te veel verantwoordelikheid belas. Dogters kan eweneens oorweldig voel as hulle hulle moeder se vertroueling moet wees. Kinders moet die versekering hê dat jy as ouer vir hulle sal sorg—en nie andersom nie. (Vergelyk 2 Korintiërs 12:14.) Hierdie versekering kan hulle veilig laat voel, selfs al is hulle situasie in die gesin nie ideaal nie.
Surrogaatvaders
Maar sê nou daar is glad nie ’n vader nie? Kenners sê dat assosiasie met mans goed vir kinders kan wees. Hoewel ’n oom of ’n buurman se vriendelike belangstelling in ’n kind vir hom goed kan wees, sal hy veral by die heilsame assosiasie van mans in die Christengemeente baat vind. Jesus het beloof dat die gemeente soos ’n ondersteunende gesin sou wees.—Markus 10:29, 30.
In Bybeltye het jong Timoteus sonder die ondersteuning van ’n gelowige vader ’n uitsonderlike kneg van God geword. Volgens die Bybel was dit veral sy liefdevolle moeder en grootmoeder wat ’n rol hierin gespeel het (Handelinge 16:1; 2 Timoteus 1:1-5). Maar hy het ook by assosiasie met ’n Christenman—die apostel Paulus—baat gevind. Paulus het Timoteus sy “geliefde en getroue kind in die Here” genoem (1 Korintiërs 4:17). Vandag word Jehovah se Getuies eweneens aangemoedig om ag te slaan op die Bybel se raad ‘om na wese en weduwees om te sien’ (Jakobus 1:27). Hulle word aangemoedig om ‘vaderlose seuns te red’ deur ’n opregte, gebalanseerde belangstelling in hulle te toon (Job 29:12, NW). ’n Jong vrou met die naam Annette onthou die gesonde belangstelling wat ’n Christen- ouer man in haar getoon het toe sy jonk was en sê: “Hy was die enigste werklike vaderfiguur wat ek ooit gehad het.”
Hoe om die kringloop te verbreek
Hierdie beginsels kan vaderlose kinders help om suksesvol te wees. Ten spyte van hulle geskonde kinderjare kan hulle gebalanseerde, produktiewe volwassenes asook liefdevolle, getroue en toegewyde ouers word. Voorsorg is nietemin baie beter as enige nasorg. En die kringloop van vaderlose gesinne kan slegs verbreek word as mans en vroue vasbeslote is om die Bybel in hulle lewe toe te pas—byvoorbeeld deur ag te slaan op die Bybel se verbod op voorhuwelikse seks en deur die Bybel se standaarde vir mans en vroue na te volg.—1 Korintiërs 6:9; Efesiërs 5:21-33.
Deesdae kan baie kinders wat vaders in die huis het ook vaderloos genoem word. Een kenner op die gebied van gesinsake sê: “Die grootste probleem waarmee . . . kinders vandag te kampe het, is die feit dat hulle ouers hulle nie genoeg tyd en aandag gee nie.” God se Woord gee baie duidelike leiding oor hierdie saak. Dit beveel vaders aangaande hulle kinders: “Gee hulle die onderrigting en die teregwysing wat by ’n Christelike opvoeding pas” (Efesiërs 6:4, New English Bible; Spreuke 24:27, NW). Wanneer vaders die Bybel se raad volg, hoef kinders nie te vrees dat hulle verlaat sal word nie.
Maar is dit realisties om te glo dat mense hulle op groot skaal tot die Bybel sal wend? Hoegenaamd nie (Matteus 7:14). Maar Jehovah se Getuies het miljoene mense gehelp om deur ’n tuisbybelstudieprogram geluk in hulle gesinslewe te vind. * Die Bybel waarsku natuurlik dat alle egpare weens onvolmaaktheid “verdrukking in hulle vlees” sal ly (1 Korintiërs 7:28). Maar diegene wat God se Woord werklik respekteer, probeer hulle probleme oplos, en nie te skei sodra probleme opduik nie. Daar is weliswaar tye wanneer ’n Christen dalk rede sal hê om dit te oorweeg om ’n huweliksmaat te verlaat of selfs van hom of haar te skei (Matteus 5:32). Maar omdat hy of sy weet watter uitwerking dit op die kinders kan hê, sal dit ’n Christen beweeg om maniere te soek om die huwelik te red indien dit enigsins moontlik is.
As jy die Bybel volg, sal jy nie net jou gesin nou red nie. Dit kan dit vir almal van julle moontlik maak om vir ewig te lewe! Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Een van die beste maniere om seker te maak dat jou gesin vir ewig bymekaar sal bly, is om God se Woord te lees en die raad daarin toe te pas.
[Voetnote]
^ par. 5 Inligting om stiefouers te help, het in ons medetydskrif Die Wagtoring van 1 Maart 1999 verskyn.
^ par. 11 Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
^ par. 13 Dit sal nie geld wanneer ’n kind die gevaar loop om fisies of seksueel deur die vader mishandel te word nie.
^ par. 24 Die boek Die geheim van gesinsgeluk (wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word) bevat baie Bybelse raad wat gesinne kan help. Jy kan een kry deur met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking te kom.
[Prent op bladsy 8, 9]
’n Enkelouer kan sy of haar kinders suksesvol grootmaak deur Bybelbeginsels te volg
[Prent op bladsy 10]
Christenmans kan dikwels ‘die vaderlose seun red’ deur ’n opregte en gesonde belangstelling in hom te toon