Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Seilskip-extravaganza

’n Seilskip-extravaganza

’n Seilskip-extravaganza

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK

IN JULIE 1999 HET BAIE VAN DIE MOOISTE SEILSKEPE IN DIE WÊRELD IN ROUEN, IN DIE NOORDE VAN FRANKRYK, SAAMGEKOM VIR ’N SKOUSPELAGTIGE FEES WAT DIE ARMADA VAN DIE EEU GENOEM IS. DERTIG REUSESEILSKEPE WAS LANGS DIE SEWE KILOMETER LANGE KAAI GEANKER WAT VIR DIE GELEENTHEID GEREED GEMAAK IS.

Die gebeurtenis is geadverteer as “die seevaart-extravaganza van die millennium”. Konserte, vuurwerk, wedvaarte en uitstallings van skilderye en foto’s oor skeepvaart is gedurende die gebeurtenis gereël.

Vrydag, 9 Julie, het die seilskepe in al hulle glorie daar aangekom. Gedurende die volgende tien dae het miljoene besoekers van Frankryk en ander Europese lande na die kaai gestroom.

Party van die skepe—soos die Dar Młodziezy (Pole), die Khersones (die Oekraïne), die Statsraad Lehmkuhl (Noorweë) en die Libertad (Argentinië)—is reuse van die see met ’n lengte van 100 meter en waarvan die hoogste mas 50 meter bo die watervlak is.

Daar was seilskepe uit 16 lande, waaronder België, Duitsland, Ierland, Portugal, Rusland, Uruguay en Venezuela. Nederland was met ses skepe die land wat die beste verteenwoordig is. Onder hulle was die pragtige driemas-bark genaamd Europa en die ou Oosterschelde, ’n topseil-skoener met drie maste wat in 1918 te water gelaat is, en wat gebruik is om hout, gesoute haring, klei, graan, hooi en vrugte tussen Afrika, die lande van die Middellandse See en noordelike Europa te vervoer.

Die Armada het ’n besonderse geleentheid vir besoekers gebied om hulle nuuskierigheid te bevredig. Die loopplanke is laat sak, en almal kon gratis op die dekke rondloop.

Party van die skepe het al in rolprente verskyn. Die Noorweegse skip Christian Radich het byvoorbeeld ’n hoofrol gespeel in die 1958-film Windjammer. Die ou Kaskelot (“potvis” in Deens) wat van hout gemaak is, was in verskeie rolprente, waaronder die Franse film Beaumarchais l’insolent en ’n nuwe weergawe van Treasure Island.

Die Poolse driemaster Iskra is uniek in die sin dat sy drie maste se takelwerk verskillend is. Die voorseilmas se takelwerk is vierkantig, die hoofmas het ’n gaffelvormige (trapesoïdale) takelwerk en die agtermas het ’n Bermuda-seil (driehoekig).

Van die ou skepe in Rouen is uit ’n watergraf gered. Vasbeslote entoesiaste het byvoorbeeld die Uruguaanse Capitán Miranda gered deur die pragtige vaartuig te restoureer. Die Étoile Molène, wat in die vroeë 1980’s in die hawe van Douarnenez, Bretagne, gesink het, is na die oppervlak gebring en danksy baie liefdevolle aandag ’n nuwe lewe gegee.

’n Plaaslike vereniging van amateurradio-operateurs het besluit om gedurende die fees ’n radioverbinding tussen die skip Mir en die wentelende Russiese ruimtestasie, Mir, tot stand te bring. Uiteindelik, om 10:27 nm., op 17 Julie, is die verbinding gemaak tussen die driemaster en haar “susterskip” in die ruimte. Kaptein Zorochof kon met kommandeur Afanassief praat, wat in die ruimtestasie sowat 350 kilometer bokant hom was.

Die Armada het sy hoogtepunt Sondag, 18 Julie, bereik met ’n optog al langs die Seine, van Rouen na die see. Honderdduisende mense het al langs die 120 kilometer lange roete gestaan en vir die bemanningslede op die skepe gewaai terwyl hulle verby die ou Normandiese dorpe, kloosters en kastele gevaar het.

Toe dit verby was, het van die pragtige seilskepe vertrek na ’n regatta, ander na ’n film of die een of ander extravaganza in ’n verafgeleë hawe. Dinge op die kaai het weer na normaal teruggekeer. Maar Rouen sal onthou dat dit, ten minste tien dae lank, die saamtrekpunt van die wêreld se seilvaart-entoesiaste was.

[Kaart op bladsy 10]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Honfleur

Die Seine

Rouen

[Erkenning]

Kaarte op bladsye 10, 17 en 31: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 10]

Die Mexikaanse driemas-bark “Cuauhtemoc”

[Prent op bladsy 10]

Die grasieuse “Étoile Molène” is uit ’n watergraf gered

[Erkenning]

© GAUTHIER MARINES/ Photo Jo Gauthier

[Prent op bladsy 10]

’n Skildery van die hawe van Rouen uit 1855, toe seilskepe nog die Seine bevaar het

[Erkenning]

Charles-Louis Mozin, Port de Rouen, vue générale © Rouen, Musée des Beaux-Arts

[Prent op bladsy 11]

Rouen, “die stad van eenhonderd kerktorings”, het ’n woud van maste geword

[Erkenning]

© GAUTHIER MARINES/ Photo Jo Gauthier