Jy sal dit beslis wil bywoon!
Jy sal dit beslis wil bywoon!
WAT bywoon? Die “Daders van God se Woord”-streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies! Hierdie reeks byeenkomste, wat in November in suidelike Afrika begin, sal gedurende die volgende paar maande in honderde stede oor die hele wêreld gehou word. Op die meeste plekke sal die program Vrydagoggend om 9:30 met musiek begin.
Na ’n inleiding wat ons sal aanmoedig om ag te slaan op wat God se Woord sê, sal die oggendprogram voortgaan met die toesprake “Straal oor die goedheid van Jehovah” en “Bly standvastig asof jy die Onsigbare sien”. Dan sal die oggendprogram afsluit met die byeenkoms se programrede, “Loof Jehovah—Die een wat wonderlike dinge doen”.
Die eerste toespraak van die middagsessie, “Moenie ophou om te doen wat voortreflik is nie”, sal gevolg word deur ’n simposium van drie dele oor hoe om ’n huweliksmaat te kies, ’n geestelike sterk gesin op te bou en kinders te leer om Jehovah lief te hê. Die slottoespraak van die dag, “Hou tred met Jehovah se organisasie”, sal die hedendaagse progressiewe ontwikkeling van ons begrip van God se voornemens hersien.
Die Saterdagoggendprogram sal ’n tweede simposium van drie dele insluit, met die titel “Bedienaars van God se Woord”. Dit sal wenke gee oor hoe ons ons dissipelmaakwerk kan uitvoer. Dan sal die bemoedigende toespraak “Gee God geen rede om hom te skaam nie” gehou word. Dit sal gevolg word deur ’n toespraak oor doop, en daar sal vir diegene wat aan die vereistes voldoen ’n geleentheid wees om gedoop te word.
In die middag sal ’n derde simposium van drie dele die aandag vestig op die tema “Werk hard om geestelikheid aan te kweek”, waartydens praktiese wenke gegee sal word oor hoe om geestelikheid te ontwikkel. Die sessie sal afsluit met die insiggewende toespraak “Wandel in die progressiewe lig van God se Woord”. Dit sal Jesaja hoofstukke 25 en 26 bespreek en sal verduidelik hoe ons hierdie fassinerende Bybelboek beter kan verstaan.
Sondagoggend sal ’n laaste simposium van drie dele insluit met die titel “Sefanja se betekenisvolle profesie vir dié wat God se wil doen”. Dit sal verduidelik watter betekenis hierdie profesie in die ou tyd vir die nasie Juda gehad het en watter betekenis dit in ons dag het, veral vir die godsdienste van hierdie wêreld. Daarna sal jy ’n gekostumeerde drama geniet met die titel “Waarskuwende voorbeelde vir ons dag”, wat sal handel oor die onsedelikheid van die Israelitiese mans net voor Israel die Beloofde Land binnegegaan het. ’n Hoogtepunt van die byeenkoms se laaste sessie Sondagmiddag sal die openbare toespraak wees met die titel “Waarom ons op God se wonderlike werke ag moet gee”.
Beplan nou om al drie dae by te woon. Om uit te vind watter byeenkoms naaste aan jou gaan wees, kan jy by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies navraag doen of aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf.