Die soeke na die “onsterflikheidsgeen”
Die soeke na die “onsterflikheidsgeen”
TALLE beskawings het verhale en fabels wat probeer verduidelik waarom die mens sterf. In Afrika is daar byvoorbeeld een legende wat vertel dat God ’n verkleurmannetjie gestuur het om onsterflikheid vir die mensdom te bring, maar hy het so stadig geloop dat ’n akkedis wat die boodskap van dood gedra het eerste daar aangekom het. Die liggelowige mensdom het daardie akkedis se boodskap aanvaar en so onsterflikheid verloor.
Filosowe het deur die eeue heen ook die vraag probeer beantwoord: Waarom sterf die mens? In die vierde eeu v.G.J. het die Griekse filosoof Aristoteles geleer dat die voortsetting van ’n mens se lewe afhang van die liggaam se vermoë om hitte en koue in ewewig te hou. Hy het gesê: “Dit is altyd weens die een of ander verlies aan hitte dat die dood intree.” Plato het daarenteen geleer dat die mens ’n onsterflike siel het wat die dood van die liggaam oorleef.
Ondanks verbasende vooruitgang in die moderne wetenskap is bioloë se vrae oor waarom ons oud word en sterf nog steeds vandag grotendeels onbeantwoord. The Guardian Weekly van Londen het gesê: “Een van die groot raaisels van die mediese wetenskap is nie waarom mense aan hart- en vaatsiektes of kanker sterf nie: dit is waarom hulle sterf selfs wanneer daar hoegenaamd niks fout is nie. Waarom hou menslike selle skielik op om hulleself te repliseer as hulle hulleself sowat 70 jaar lank deur verdeling hernieu?”
In hulle pogings om die verouderingsproses te verstaan, het genetici en molekulêre bioloë die sel bestudeer. Baie wetenskaplikes meen dat die sleutel tot langer lewe in hierdie mikroskopiese eenhede gevind kan word. Party voorspel byvoorbeeld dat genetiese manipulering wetenskaplikes binnekort in staat sal stel om kanker en hartsiektes te genees. Maar hoe na is die wetenskap aan die verwesenliking van die mensdom se droom om vir ewig te lewe?
Die geheime van die sel word ontsluit
In die verlede het wetenskaplikes die geheime van die sel probeer ontsluit, maar hulle het nie die nodige instrumente gehad om dit te doen nie. Dit was eers gedurende die afgelope eeu dat wetenskaplikes die vermoë gehad het om in ’n sel te kyk en baie van sy basiese komponente waar te neem. Wat het hulle gevind? “Die sel”, sê die wetenskapskrywer Rick Gore, “is eintlik ’n mikroheelal.”
Om ’n idee te kry van die verstommende kompleksiteit van ’n sel, moet ’n mens in ag neem dat elke sel uit biljoene veel kleiner eenhede bestaan wat molekules genoem word. Maar wanneer wetenskaplikes die struktuur van ’n sel bestudeer, vind hulle merkwaardige orde en bewys van ontwerp daarin. Philip Hanawalt, assistentprofessor van genetika en molekulêre biologie aan Stanford-universiteit, sê: “Die normale groei van selfs die eenvoudigste lewende sel vereis dat tienduisende chemiese reaksies op ’n gekoördineerde wyse plaasvind.” Hy sê ook: “Die geprogrammeerde
prestasies van hierdie klein chemiese fabrieke oortref verreweg die vermoëns van die wetenskaplike in sy laboratorium.”Stel jou dus die ontsaglike taak voor om die mens se lewensduur deur biologiese middele te probeer verleng. Dit sal nie net ’n grondige begrip van die basiese boustene van lewe vereis nie, maar ook die vermoë om daardie boustene te manipuleer! Kom ons kyk vir ’n oomblik binne-in ’n menslike sel om toe te lig voor watter uitdaging bioloë te staan kom.
Alles in die gene
Elke sel bevat ’n komplekse beheersentrum wat ’n selkern genoem word. Die selkern beheer die sel se funksies deur ’n stel gekodeerde instruksies te volg. Hierdie instruksies word in die chromosome geberg.
Ons chromosome bestaan hoofsaaklik uit proteïen en deoksiribonukleïensuur, of kortweg DNS. * Hoewel wetenskaplikes al sedert die laat 1860’s van DNS weet, is die molekulêre struktuur daarvan eers in 1953 verstaan. Selfs toe het dit byna nog ’n dekade geneem voordat bioloë die “taal” begin verstaan het wat die DNS-molekules gebruik om genetiese inligting te dra.—Sien die venster, bladsy 22.
In die 1930’s het genetici uitgevind dat elke chromosoom ’n kort DNS-reeks aan sy punt het wat help om die chromosoom te stabiliseer. Hierdie deeltjies DNS, wat telomere genoem word, van die Grieks teʹlos (punt) en meʹros (deel), werk baie soos die beskermende punt van ’n veter. Sonder telomere sou ons chromosome geneig wees om uit te rafel en in klein segmente op te breek, aan mekaar vas te kleef of andersins onstabiel te word.
Navorsers het egter later opgemerk dat die telomere in die meeste soort selle korter geword het ná elke opeenvolgende verdeling. Ná ongeveer 50 verdelings was die sel se telomere dus verkort tot klein knoppies, en die sel het opgehou verdeel en uiteindelik gesterf. Die waarneming dat selle blykbaar net ’n beperkte aantal kere verdeel voordat hulle sterf, is eers in die 1960’s deur dr. Leonard Hayflick bekend gemaak. Gevolglik noem baie wetenskaplikes die verskynsel nou die Hayflick-grens.
Het dr. Hayflick die sleutel tot selveroudering ontdek? Party het so gedink. In 1975 het Nature/Science Annual gesê dat die pioniers op die gebied van veroudering geglo het dat “alle lewende skepsele binne-in hulle ’n presies ingestelde selfvernietigingsmeganisme het, ’n verouderingshorlosie wat lewenskragtigheid agteruit laat gaan”. Trouens, mense het hernieude hoop gekry dat wetenskaplikes uiteindelik die oorsake van die verouderingsproses sou isoleer.
In die 1990’s het navorsers wat menslike kankerselle bestudeer nog ’n belangrike leidraad in verband met hierdie “sellulêre horlosie” ontdek. Hulle het gevind dat kwaadaardige selle op die een of ander manier geleer het om hulle “sellulêre horlosie” te neutraliseer en vir ’n onbepaalde tyd te verdeel. Hierdie ontdekking het bioloë na ’n uiters ongewone ensiem teruggelei, wat eers in die 1980’s ontdek is en in die
meeste soort kankerselle aangetref is. Hierdie ensiem word telomerase genoem. Wat doen dit? Eenvoudig gestel, telomerase kan met ’n sleutel vergelyk word wat ’n sel se “horlosie” terugstel deur sy telomere te verleng.Die einde van veroudering?
Telomerase het gou een van die gewildste gebiede in molekulêre biologie geword. Die idee was dat veroudering miskien gekeer of ten minste aansienlik vertraag kan word as bioloë telomerase kan gebruik om die verkorting van telomere teë te werk wanneer normale selle verdeel. Dit is interessant dat Geron Corporation News berig dat navorsers wat in die laboratorium met telomerase eksperimenteer reeds gewys het dat normale menslike selle gewysig kan word om “’n oneindige repliseringsvermoë” te hê.
Ten spyte van hierdie vooruitgang is daar min rede om te verwag dat bioloë in die nabye toekoms ons lewensduur aansienlik sal verleng met telomerase. Waarom nie? Een rede is dat daar baie meer by veroudering betrokke is as telomere wat agteruitgaan. Neem byvoorbeeld die kommentaar van dr. Michael Fossel, skrywer van die boek Reversing Human Aging: “As ons veroudering kan uitskakel soos ons dit vandag ken, sal ons nog steeds op een of ander nuwe, minder gewone manier verouder. As ons ons telomere onbepaald verleng, sal ons dalk nie die siektes kry wat ons nou met bejaardheid assosieer nie, maar ons sal steeds uiteindelik agteruitgaan en sterf.”
Trouens, daar is waarskynlik ’n aantal biologiese faktore wat tot die verouderingsproses bydra. Maar die antwoorde is tans nog buite die bereik van wetenskaplikes weggesluit. Leonard Guarente van Massachusetts se Instituut vir Tegnologie sê: “Op die oomblik is veroudering beslis nog ’n raaisel.”—Scientific American, Herfs van 1999.
Terwyl bioloë en genetici voortgaan om die sel te ondersoek om te verstaan waarom die mens oud word en sterf, openbaar God se Woord die werklike rede. Dit sê eenvoudig: “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde, en die dood [het] só tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het” (Romeine 5:12). Ja, die mens gaan dood as gevolg van ’n toestand wat die wetenskap nooit sal kan genees nie—oorgeërfde sonde.—1 Korintiërs 15:22.
Daarenteen belowe ons Skepper om die gevolge van oorgeërfde sonde deur middel van Christus se losprysofferande ongedaan te maak (Romeine 6:23). Ons kan seker wees dat ons Skepper weet hoe om veroudering en die dood tot niet te maak, want Psalm 139:16 (NW) sê: “U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe.” Ja, Jehovah God het die genetiese kode ontwerp en dit as ’t ware opgeskrywe. Op sy bestemde tyd sal hy dus toesien dat ons gene ewige lewe toelaat vir diegene wat aan sy vereistes gehoorsaam is.—Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4.
[Voetnoot]
^ par. 12 Sien die Ontwaak! van 8 September 1999, bladsye 5-10, vir ’n breedvoerige beskrywing van DNS.
[Venster op bladsy 22]
DIE “TAAL” VAN DNS
Die basiese eenhede, of “letters”, van die DNS-taal is chemiese komponente wat basisse genoem word. Daar is vier soorte basisse: timien, adenien, guanien en sitosien, wat gewoonlik tot T, A, G en C afgekort word. “Dink aan hierdie vier basisse as letters in ’n vierletter-alfabet”, sê die tydskrif National Geographic. “Net soos ons die letters van ons alfabet in betekenisvolle woorde rangskik, word die A’s, T’s, G’s en C’s waaruit ons gene bestaan in ‘woorde’ met drie letters gerangskik wat vir die komponente van die sel verstaanbaar is.” Die genetiese “woorde” vorm weer “sinne” wat vir die sel sê hoe om ’n sekere proteïen te vervaardig. Die volgorde waarin die DNS-letters saamgesnoer is, bepaal of die proteïen sal funksioneer as ’n ensiem wat jou help om jou aandete te verteer, ’n teenliggaampie wat ’n infeksie afweer of enige van die duisende proteïene wat in jou liggaam gevind word. Geen wonder dat die boek The Cell na die DNS verwys as “die basiese bloudruk van lewe” nie.
[Prent op bladsy 21]
Die punte van chromosome (wat gloei op die foto) maak dit vir selle moontlik om herhaaldelik te verdeel
[Erkenning]
Met vergunning van Geron Corporation