Antarktika—die laaste wildernis
Antarktika—die laaste wildernis
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
DELE van Antarktika kan so koud word, sê een skrywer, dat “’n staalstaaf waarskynlik soos glas sal breek as jy dit laat val, . . . en as jy ’n vis deur ’n gat in die ys optrek, sal dit binne vyf sekondes hard . . . gevries wees”. Weens die uiterste toestande en die betowerende, naakte prag—wat soms selfs pragtiger gemaak word deur asemrowende vertonings van die suiderlig—kan Antarktika as ’n ander wêreld aangesien word.
Maar Antarktika is beslis ’n deel van hierdie wêreld. Trouens, dit is al met ’n groot natuurlike laboratorium vergelyk waarin die aarde en sy atmosfeer sowel as aardwye omgewingsveranderinge bestudeer kan word, insluitende die veranderinge wat met menslike aktiwiteite verband hou. Dit is hierdie studies wat wetenskaplikes al hoe meer bekommerd maak. Hulle het kommerwekkende nuwe verskynsels in die Suidpoolstreek opgemerk, en hierdie verskynsels dui daarop dat alles nie pluis is nie. Maar kom ons kyk eers waarom Antarktika ’n unieke vasteland is.
In die eerste plek is Antarktika—die mees afgeleë vasteland in die wêreld—’n vasteland met baie teenstrydighede. Sy ongerepte prag is onbeskryflik, maar dit is ook uiters onherbergsaam. Dit is die winderigste, koudste plek op aarde, en tog is dit besonder delikaat en sensitief. Dit het minder neerslag as enige ander vasteland, maar sy ys maak 70 persent van die planeet se vars water uit. Aangesien Antarktika se yslaag gemiddeld 2 200 meter dik is, is dit die aarde se hoogste vasteland, met ’n gemiddelde hoogte van 2 300 meter bo seevlak. Dit is ook die aarde se vyfde grootste vasteland, en tog het Antarktika geen permanente bewoners wat groter is as ’n vlerklose muskietmuggie, wat ’n sentimeter groot is nie.
Soos om Mars te besoek!
Wanneer ’n mens dit in Antarktika se binneland waag, sien jy al hoe minder tekens van lewe, veral wanneer jy die gebiede bereik wat droë valleie genoem word. Hierdie poolwoestyne beslaan ongeveer 3 000 vierkante kilometer en is meestal hoog in die Transantarktiese Berge geleë—’n bergreeks wat oor die hele vasteland strek en op plekke meer as 4 300 meter hoog is. Yskoue stormwinde waai deur die droë valleie en raap gou enige sneeu op wat val. Wetenskaplikes meen dat hierdie valleie meer as enige ander plek op aarde met die oppervlak van Mars ooreenkom. Dit is gevolglik as ’n geskikte plek beskou om ruimtetoerusting te toets voordat daar met die Viking-sending na Mars begin is.
Maar daar is selfs lewe in die droë valleie! Binne-in poreuse rotse, in klein lugholtes, lewe uiters geharde soorte bakterieë, alge en swamme. Hulle lewe van die kleinste bietjie vog. Aan die buitekant bestaan hulle onaardse wêreld uit barre rotsformasies wat windkeie genoem word, met buitengewone vorms en ’n ryk glans omdat dit tallose eeue lank aan Antarktika se genadelose winde blootgestel is.
Benoem voordat dit ontdek is
Spekulasie oor ’n reusagtige suidelike landmassa strek ver terug tot die antieke Griekse filosowe. Aristoteles het byvoorbeeld beweer dat daar ’n suidelike vasteland moet wees om as ’n teenwig te dien vir die lande in die Noordelike Halfrond wat aan die mens bekend was. Die boek Antarctica—Great Stories From the Frozen Continent sê: “Aangesien die noordelike halfrond onder die sterrebeeld Arktos, die Beer, lê, het Aristoteles (384-322 vC) geredeneer dat die onbekende land in die
suide Antarktikos moet wees—met ander woorde, heeltemal die teenoorgestelde”—of die antipode. Antarktika is dus in werklikheid ’n naam gegee ongeveer 2 000 jaar voordat dit ontdek is!In 1772 het die Britse ontdekkingsreisiger kaptein James Cook suid gevaar op soek na hierdie vasteland wat vermoedelik in die suide geleë was. Hy het ’n wêreld binnegegaan van windverwaaide eilande en enorme ysberge, of “ys-eilande”, soos hy hulle genoem het. “Party van hulle”, het hy geskryf, was “ongeveer twee myl [3km] in omtrek en 60 voet [20m] hoog, maar die golwe was so groot en kragtig dat die see nogtans daaroor gebreek het”. Cook het doelgerig suid gevaar, en op 17 Januarie 1773 was sy skip, die Resolution, en die Adventure wat saam met hulle gevaar het, die eerste vaartuie waarvan ons weet wat die Suidpoolsirkel oorgesteek het. Cook het vasbeslote deur die pakys gevaar totdat hy uiteindelik vasgekeer was. “Ek kon suidwaarts niks anders as ys sien nie”, het hy in sy logboek geskryf. Hy was in werklikheid net 120 kilometer van Antarktika af toe hy omgedraai het.
Wie het Antarktika dus eerste gesien? Trouens, wie het eerste daar voet aan wal gesit? Tot vandag toe is niemand seker nie. Dit kon selfs walvis- of robbejagters gewees het, want toe Cook huis toe gegaan het, het sy verslae van ’n oorvloed robbe, pikkewyne en walvisse ’n stormloop van jagters na hierdie gebied tot gevolg gehad.
Bloed op die ys
Cook “het afgekom op wat waarskynlik die grootste groep wilde diere ter wêreld was, en hy was die eerste mens wat die bestaan daarvan aan die wêreld bekend gemaak het”, skryf Alan Moorehead in sy boek The Fatal Impact. “Vir die Antarktiese diere”, sê Moorehead, “het dit ’n slagting [tot gevolg] gehad.” Die boek Antarctica—Great Stories From the Frozen Continent sê: “Teen die einde van die agtiende eeu het robbejag in die suidelike halfrond soos ’n goudstormloop geword. Die onversadigbare vraag na pelse in China en Europa het gou al die robbejagvelde wat [vroeër] bekend was, uitgeput, sodat robbejagters gedwing is om nuwe gebiede met ongeskonde robbekolonies te soek.”
Nadat robbejagters hulle bron van inkomste so te sê uitgewis het, het walvisjagters die seë begin plunder. “Niemand sal ooit weet hoeveel walvisse en robbe in die suidelike oseaan doodgemaak is nie”, skryf Moorehead. “Was dit tienmiljoen of vyftigmiljoen? Syfers word betekenisloos; die slagting het voortgeduur totdat daar feitlik niks oor was om dood te maak nie.”
Maar deesdae beskerm internasionale wette alle Antarktiese flora en fauna. Daarbenewens maak die afwesigheid van landroofdiere sowel as die feit dat daar volop kos in die see is die Antarktiese kus ’n uiters ideale plek vir wilde diere om die somer deur te bring. Maar daar is tekens dat Antarktika deur ’n groter gevaar bedreig word, ’n gevaar wat moontlik buite die beheer van internasionale ooreenkomste is.
[Venster op bladsy 15]
TEENOORGESTELDE POLE
Hoewel daar ooreenkomste tussen die Noord- en Suidpool is, is hulle ligging nie die enigste opsig waarin hulle teenoorgesteldes van mekaar is nie. Kyk na die volgende.
Die onmiddellike Noordpoolstreek bestaan net uit ys en see, terwyl die Suidpool naby die middel van die aarde se vyfde grootste vasteland geleë is.
Die Noordpool word begrens deur Amerika, Asië en Europa, wat bewoonde landmassas is, terwyl Antarktika omring word deur ’n groot oseaan, trouens, die stormagtigste oseaan op die planeet.
Tienduisende families woon in die Noordpoolsirkel, wat ook die tuiste van duisende plante en diere is. Maar niemand noem Antarktika sy tuiste nie. Die enigste inheemse lewensvorme is alge, bakterieë, mosse, korsmosse, twee soorte blomplante en ’n paar soorte insekte.
“Antarktika is al die kloppende vasteland genoem”, sê die Encyclopædia Britannica, “weens die jaarlikse uitsetting en inkrimping van sy sekondêre ysbedekte kuslyn.” Die pakys groei tot 1 600 kilometer ver die see in. Hierdie uitsetting en inkrimping is ses keer soveel as dié van die Arktiese pakys, wat maak dat Antarktika ’n groter uitwerking op die aarde se weer het.
[Kaart op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
ATLANTIESE OSEAAN
INDIESE OSEAAN
STILLE OSEAAN
Drake- deurgang
James Ross- eiland
Larsen- ysbank
ANTARKTIESE SKIEREILAND
Ronne- ysbank
Vinson-massief(die hoogste berg, 4 897 meter)
Ross- ysbank
Berg Erebus (’n aktiewe vulkaan)
TRANSANTARKTIESE BERGE
Suidpool
Die laagste temperatuur wat nog op aarde gemeet is, was in Antarktika—minus 89,2 grade Celsius
0 500 km 500 myl
[Erkenning]
U.S. Geological Survey
[Prent op bladsy 16, 17]
Kenbandpikkewyne op ’n seldsame blou ysberg
[Erkenning]
© 2000 Mark J. Thomas/Dembinsky Photo Assoc., Inc.
[Prent op bladsy 17]
’n Bultrugwalvis
[Prent op bladsy 17]
Suidseeolifant
[Prent op bladsy 17]
By die Suidpool
[Erkenning]
Foto: Commander John Bortniak, NOAA Corps
[Prent op bladsy 17]
Die Ross-ysbank
[Erkenning]
Michael Van Woert, NOAA NESDIS, ORA