Ons beskou die wêreld
Ons beskou die wêreld
Vernietigende skoonheid
Die waterhiasint is ’n waterplant wat ’n pragtige pers blom dra. Die hiasint is ’n paar dekades gelede na die Victoria-meer in Afrika gebring en het so vinnig vermeerder dat dit nou 2 000 vierkante kilometer van die meer se oppervlak bedek. Die lewensbelangrike vissersbedryf wat miljoene mense in die aangrensende lande Kenia, Tanzanië en Uganda van voedsel voorsien, word daardeur ontwrig. Dit het ernstige probleme vir Uganda se water- en hidroëlektriese aanlegte veroorsaak deur die pype te verstop wat die water voorsien. Dit is ook ’n ideale omgewing vir muskiete, slakke en slange, met die gevolg dat daar ’n toename in slangbyte en gevalle van malaria en skistosomiase (bilharzia) is. Hoewel kewers wat net hiasinte eet daarheen gebring is, kon hulle nog tot dusver nie met die plant se ontsettende toename byhou nie. Vissersgemeenskappe het duisende tonne van die onkruid met die hand begin uithaal. Maar dit was net ’n tydelike oplossing. Die Wêreldbank is betrokke by ’n multimiljoenrandprojek om die meer skoon te maak.
Geveerde fossiel ’n vervalsing
National Geographic het gesê dat ’n fossiel wat in die Liaoning-provinsie, China, gevind is “in werklikheid ’n ontbrekende skakel is in die komplekse ketting wat dinosourusse en voëls met mekaar verbind”. Die fossiel, wat Archaeoraptor liaoningensis genoem is, het glo die stert van ’n dinosourus gehad en die bors en skouers van ’n voël. Maar nou begin wetenskaplikes besef dat “hulle deur ’n stukkie fossielfoppery om die bos gelei is”, berig Science News. Paleontoloë wat die fossiel ondersoek het, het agterdogtig geraak toe hulle agterkom dat die bene wat die stert aan die liggaam heg weg was en dat daar skynbaar aan die rotsblad gewerk is. Philip Currie, van die Koninklike Tyrrell-museum van Paleontologie in Drumheller, Alberta, Kanada, vermoed dat iemand “die waarde van Archaeoraptor wou vergroot deur die een deel van ’n dinosourus se stert aan ’n voëlfossiel te voeg”, sê die berig.
‘Skietgevegte’ onder die water
Dit lyk soos ’n cowboyprent: Die twee cowboys staan regoor mekaar, hulle wapens gelaai en oorgehaal. Nadat die eerste een geskiet en teruggetree het, korrel die ander een en skiet. Maar wanneer pistoolgarnale veg, kry niemand seer nie, want hulle bly altyd op ’n veilige afstand van mekaar. Die tydskrif Der Spiegel berig egter dat die straal water wat hulle uit hulle regterknyper spuit nie altyd onskadelik is nie. Die waterpistool word ook gebruik om prooi soos wurms, krappe en klein vissies bewusteloos of dood te maak. Die straal water, wat voortgebring word deur die knyper baie hard toe te klap, is selfs sterk genoeg om die glaswand van ’n akwarium te breek. As ’n pistoolgarnaal sy wapen verloor, skiet die klein ‘vegter’ links deurdat sy linkerknyper in ’n nuwe pistool ontwikkel, terwyl ’n nuwe gewone knyper aan die vorige skiethand groei.
Lewende Boeddha ingehuldig
“Chinese owerhede het toesig gehou oor die inhuldiging van ’n 2-jarige seuntjie as ’n belangrike ‘lewende Boeddha’ in die Tibettaanse geloof”, berig The New York Times. Die seuntjie, Soinam Poengkog, is uit 670 seuntjies gekies om die sewende Reting Lama te wees. Die monnike wat die lama kies, het glo die voorspellingskuns gebruik om hom te kies. “Maar dit is te betwyfel of die meeste Tibettaanse mense en monnike die seun se egtheid gaan aanvaar”, sê die koerant. Waarom? Omdat die Dalai Lama, die vernaamste godsdiensleier in Tibet, vroeër sy eie keuse vir die Reting Lama bekend gemaak het. Vroeër het die Reting Lamas as heersers opgetree wanneer die Dalai Lamas afwesig was.
Besoedelende afgode
Dit is ’n algemene gebruik onder Hindoes om afgode ná ’n godsdienstige vakansiedag in die naaste watermassa te dompel. Dit was nie ’n omgewingsprobleem toe afgode geverf is met verf wat van blom- of plantaardige kleurstof gemaak is nie. Maar toe vervaardigers verwe begin gebruik het wat van swaar metale en kankerverwekkende stowwe gemaak is, was daar ernstige waterbesoedeling in party dele van Indië nadat duisende afgode in strome en mere gegooi is. Om waterbesoedeling te probeer bekamp, het die inwoners van een dorp honderde afgode
bymekaargemaak en hulle na ’n groot stuk grond geneem waar hulle die afgode in stukke gebreek het. Die tydskrif Down to Earth stel voor dat dit oral in Indië gedoen word en dat vervaardigers van afgode weer tradisionele kleurstowwe begin gebruik en nie sintetiese verf nie. “Andersins”, sê die tydskrif, “sal die riviere wat die Hindoes aanbid moontlik vergiftig word deur die gode wat hulle aanbid.”Wêreldwye opname onder jongmense
’n Opname onder meer as 4 300 jongmense tussen 12 en 24 jaar toon dat vandag se jongmense agting het vir tradisionele waardes soos betroubaarheid, hoflikheid en harde werk, berig The Globe and Mail. Volgens die Angus Reid-groep, wat jongmense in 11 lande ondervra het, het 95 persent gesê dat dit die belangrikste is ‘om jou woord te hou’. “Om hoflik te wees teenoor ander”, is deur 92 persent as die tweede belangrikste genoem, en 83 persent van die ondervraagdes het “harde werk” as baie belangrik beskou. Al het “byna agt uit 10 gedink dat dit belangrik is om ’n lewenslange maat te hê”, het net 56 persent gedink dat dit belangrik is om te trou. Verbasend genoeg het net 31 persent gedink dat dit belangrik is “om baie ryk te wees”. Die bevindinge toon ook dat net 45 persent “positief voel oor die 21ste eeu”.
Feite oor webtuistes
Die Wêreldwye Web is ’n ontsaglike rekenaarnetwerk wat miljoene rekenaars in die hele wêreld met mekaar verbind. Inktomi, ’n maatskappy wat Internetprogrammatuur ontwikkel, het die Web vier maande lank ondersoek en geklassifiseer om uit te vind hoe uitgebreid dit is. Wat was die uitslag? Daar is meer as ’n miljard afsonderlike webblaaie! Engels was verreweg die algemeenste taal op die Web. Dit word 86 persent van die tyd gebruik. Frans verskyn in net oor die 2 persent van alle dokumente op die Web, en 0,5 persent is in Nederlands.
Giftige medisyne?
Mediese foute veroorsaak jaarliks die dood van enigiets tussen 44 000 en 98 000 Amerikaners in hospitale, berig die Instituut van Geneeskunde. Die probleem is blykbaar die gevolg van administratiewe foute in hospitale, klinieke en apteke. Aptekers sukkel byvoorbeeld dikwels om voorskrifte te berei weens dokters se swak handskrif. Het die dokter tien milligram of tien mikrogram voorgeskryf? Die probleem word vererger deur die feit dat baie geneesmiddels name het wat dieselfde klink, wat verwarring onder dokters, verpleegsters, aptekers en pasiënte veroorsaak. Die Instituut van Geneeskunde het daarop aangedring dat daar binne vyf jaar ’n vermindering van 50 persent in mediese foute moet wees.
Die Internet en bejaardes
Elektroniese pos is blykbaar goed vir bejaardes wat in inrigtings woon. “Deskundiges sê dat inwoners van verpleeginrigtings, selfs dié wat baie swak is, gou leer om rekenaars te gebruik en hulle lewe kan opkikker deur e-pos en die Internet te gebruik”, sê The New York Times. “Mense wat die tegnologie onder die knie kry, bou vertroue op wat na ander aspekte van hulle lewe uitbrei, en baie is trots dat hulle hulle mede-inwoners kan help om hierdie vaardighede aan te leer.” E-pos stel die bejaardes nie net in staat om met familielede wat ver van hulle af woon, gesondheidswerkers en ou vriende in aanraking te kom nie, maar dit help ook om die hulpeloosheid, verveeldheid en eensaamheid te beveg wat mense tref wat in verpleeginrigtings of rolstoele is weens siekte en ouderdom. Hulle skep moed en depressie neem af. Party bejaardes neem selfs deel aan opvoedkundige programme op die Internet, wat hulle in staat stel om hulle kennis en wysheid aan toekomstige geslagte beskikbaar te stel. Maar ’n paar veranderinge is nodig. Dit sluit toetsborde in wat makliker is om te gebruik, asook ’n manier om die letters groter te maak.
Mensgemaakte voedseltekorte
“Rampe wat deur die mens veroorsaak word, soos burgerlike onrus en ekonomiese krisisse, het ’n groter uitwerking op voedseltekorte as natuurrampe”, berig die Voedsel- en Landbou-Organisasie van die Verenigde Nasies (VLO). Dr. Hartwig de Haen, die assistentdirekteur-generaal van die VLO, het gesê: “In 1984 het mensgemaakte rampe maar tot ongeveer tien persent van die totale noodgevalle bygedra. Nou is dit meer as 50 persent.” Daar word geskat dat 52 miljoen mense in 35 lande honger ly. Die verslag voeg by: “Dit is die grootste aantal mense wat weens ’n ernstige voedseltekort ly sedert ’n droogte Afrika suid van die Sahara in 1984 getref het.”