Van ons lesers
Van ons lesers
Heelal Ek wil julle graag bedank vir die artikels met inligting oor ons ontsagwekkende heelal, soos “Wat is anderkant die planete?” (22 Julie 1999) en “Die Rooiplaneet word weer besoek” (22 November 1999). Dit was baie interessant en het ons waardering vir ons Skepper vergroot.
M.A.T., Italië
Gloukoom Ek het julle brokkie “Gevaar van blindheid” in “Ons beskou die wêreld” (22 November 1999) gelees. Ses jaar gelede is daar vasgestel dat ek gloukoom het. Soos julle artikel sê, is daar moontlik baie mense met gloukoom wat nie pyn het nie. Maar ek het van tyd tot tyd kwaai pyn in my oë en ook hoofpyn, al gebruik ek elke dag oogdruppels. Sal party wat die artikel lees, nie miskien dink dat gloukoom altyd pynloos is nie?
H. M., Japan
Ons brokkie was nie ’n deeglike bespreking van hierdie ernstige siekte nie. Die artikel “Gloukoom—’n sluipende rower van gesigsvermoë!” in ons nommer van 8 Mei 1988 was vollediger, en dit het erken dat sommige pasiënte wel pyn het.—RED.
Vroeggebore baba Ek wil opreg dankie sê vir die artikel “Ons het geleer om in teëspoed op God te vertrou” (22 November 1999). Dit was oor die Major-gesin en hulle pragtige dogter JoAnn. My sussie se outisme is gediagnoseer toe sy twee was. Dit is moeilik en uitputtend om met haar siekte saam te leef, maar die Majors se ondervinding het ons groter waardering laat kry vir die belangrikheid om op Jehovah te vertrou, ongeag wat die lewe oor ons bring.
M. C., Verenigde State
Ons dogter is in 1992 gebore, dieselfde jaar as JoAnn. Sy het by geboorte net 700 gram geweeg! Dokters het voorgestel dat sy ’n bloedoortapping kry. Ons dokter het selfs gesê dat sy breinskade sou opdoen as ons haar nie ’n bloedoortapping gee nie. Maar ons het tot Jehovah gebid en kon standvastig bly. Vandag gaan sy skool en toon geen teken van breinskade nie.
C. H., Japan
Ek is ’n getroude vrou en moeder van drie kinders. Omdat my man werkloos is, het ons geen inkomste of mediese versekering nie. Maar die verhaal van JoAnn en haar gesin het my gehelp om die lewe een dag op ’n slag aan te pak (Matteus 6:34). Dankie dat julle my daaraan herinner het om nie op myself te vertrou nie, maar om op Jehovah te steun vir die krag om voort te gaan.
K. A., Verenigde State
Twintigste eeu Ek skryf oor die reeks “Die 20ste eeu—kritieke jare van verandering” (8 Desember 1999). Ek was beïndruk deur die duidelike inligting wat julle aangebied het oor die moeilike tye wat ons gedurende die 20ste eeu deurgemaak het. Ek kon ook sien hoe geweld die mensdom bietjie vir bietjie vernietig. Ek wens julle geluk met die wonderlike werk wat julle doen.
W. G., Puerto Rico
Avokado’s Ek het nou net die artikel “Die avokado—Voorwaar ’n veelsydige vrug!” klaar gelees (22 Desember 1999). Ek dink regtig baie mense sal hierdie artikel geniet. Ek het avokado’s begin eet toe ek nege maande oud was. Toe ek drie was, het ek geleer om guacamole te maak. Ek is nou tien. Aangesien die resep in julle artikel uie bevat, het ek aan die mense gedink wat glad nie uie kan eet nie. In my resep vir guacamole gebruik ek avokado’s, suurlemoensap, sout, rissiesous en fyngekapte knoffel.
N. E., Verenigde State
Dankie vir jou wenk!—RED.