’n Verbasende keiser
’n Verbasende keiser
DIE grootste pikkewyn, die keiserpikkewyn, staan meer as ’n meter hoog en weeg tot 40 kilogram. Wanneer ander pikkewyne noord trek om weg te kom van Antarktika se meedoënlose, donker winter, trek keiserpikkewyne suid—na Antarktika toe! Waarom? Eienaardig genoeg, om te broei.
Wanneer die wyfiekeiserpikkewyn haar eier lê, skep die mannetjie dit gou van die ys af en hou dit op sy voete. Hy bêre dit dan onder sy broeibuidel—’n velplooi aan sy onderlyf. Dan kry die wyfie koers na die oop see om kos te soek. Gedurende die volgende 65 dae, in die slegste weer, broei die mannetjie die eier uit terwyl hy op sy liggaamsvet teer. Om hulle liggaamshitte te behou terwyl sneeustorms van tot 200 kilometer per uur om hulle woed, bondel hierdie slim voëls in groot groepe saam en maak hulle beurte om aan die buitekant met hulle rug na die wind toe te staan.
Met volmaakte tydsberekening broei die eier uit net wanneer die wyfie terugkom. Maar hoe vind sy haar maat tussen die duisende pikkewyne wat eenders lyk? Met ’n lied. Gedurende hulle aanvanklike hofmakery het die paar vir mekaar gesing en die ander een se lied in hulle geheue gebêre. Wanneer die wyfies terugkeer, sing die mannetjies en die wyfies uit volle bors. Mense sal heeltemal verwar word deur die rumoer, maar die keiserpikkewyn vind gou sy maat. Dan gee die brandmaer mannetjie die pas uitgebroeide kuiken teësinnig oor en waggel en gly hy op sy maag oor sowat 70 kilometer ys op soek na die oop see en kos.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
By courtesy of John R. Peiniger