Van ons lesers
Van ons lesers
Sistiese fibrose Dankie vir die artikel “My lewe met sistiese fibrose” (22 Oktober 1999). Hoewel ek net 17 jaar oud is en nie enige ernstige gesondheidsprobleme het nie, het Jimmy Garatziotis se verhaal my diep geraak. Dit het my gehelp om oor baie dinge na te dink, onder andere hoe noodsaaklik dit is om te waardeer wat ’n mens het. Ondanks sy pynlike siekte is Jimmy nog steeds opgeruimd en het hy nog altyd sterk geloof in Jehovah se beloftes. Ek bid dat Jimmy en Deanne altyd die krag sal hê om hulle beproewinge die hoof te bied.
E. Z., Rusland
Bygelowe Ek is nie een van Jehovah se Getuies nie, maar ek lees julle publikasies al vir twee jaar. Ek wil julle bedank vir die reeks “Word jou lewe deur die noodlot beheer?” (8 Augustus 1999) en “Bygelowe—Waarom so gevaarlik?” (22 Oktober 1999). Ek was voorheen fatalisties en bygelowig weens die manier waarop ek grootgemaak is. Maar ek dink nou dat julle die waarheid verkondig oor die ware Christelike geloof.
N. D., Frankryk
Die artikels oor bygelowe het my aanstoot gegee. Ek is ’n toegewyde Rooms-Katoliek, en een van die artikels verwys na passasiers wat “die teken van die kruis” as ’n bygeloof maak. Katolieke doen dit as deel van hulle gebed vir ’n veilige reis. Dit is ’n vername voorskrif van ons geloof en kan beslis nie as ’n bygeloof beskou word nie.
S. W., Verenigde State
Dit kan nie ontken word dat baie die teken van die kruis maak sonder om aan godsdienstige toegewydheid te dink nie. Toe ’n Australiese voetbalspeler gevra is waarom hy die teken van die kruis op die veld gemaak het, het hy erken: “Dis seker maar net ’n soort bygeloof.” Dit is nie verbasend dat hierdie ritueel van die begin af ’n bygelowige betekenis gehad het nie. “The Catholic Encyclopedia” sê: “Van die vroegste tye af is dit gebruik in alle geestebeswerings en toordery as ’n wapen teen die geeste van die donker.”—RED.
Dwelms Ek wil julle bedank vir die reeks “Neem dwelms die wêreld oor?” (8 November 1999). My pa het hom deur sy vriende laat beïnvloed en is aan dwelms en alkohol verslaaf. Ons huis is nie ’n toevlug nie, maar ’n plek waar ek dikwels bedreig word. Ondanks alles sal ek nooit ophou om my ouers te nooi om die vreugdes te ervaar wat ’n mens geniet wanneer jy God aanbid nie.
M. L., Italië
Een keer per week kom ’n polisieman na ons skool toe en praat hy oor dinge soos dwelms en alkohol. Ek het besluit om hom die artikels oor dwelms te gee wanneer hy weer na ons klas toe kom. Dit het hom baie beïndruk, en hy het dele daarvan aan die klas gelees. Ons hele klas het by die artikels baat gevind!
C. D., Verenigde State
Gebreklike kind Die verhaal van Rosie Major, “Ons het geleer om in teëspoed op God te vertrou” (22 November 1999), het my diep getref. Ons het voorheen in die stad gewoon, maar ek het nie gehou van die manier waarop dit my oudste dogter beïnvloed het nie. Gevolglik het ons ’n plekkie op die platteland gekry. Alles het voor die wind gegaan totdat ek my werk met ’n jaarlikse inkomste van $56 000 (R363 000) verloor het. Hier is ons op die platteland met drie kinders en ’n verband om te betaal. Dit is werklik ’n stresvolle situasie! Maar nadat ek Rosie Major se verhaal gelees het, het my ekonomiese probleem so onbenullig gelyk dat ek skaam gevoel het. Daar is soveel mense daarbuite wat werklik God se hulp nodig het! Kan ek ’n intekening op Die Wagtoring en Ontwaak! kry?
M. F., Verenigde State
Ons was bly om aan hierdie leser se versoek te voldoen.—RED.