Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die pragtigste woudbewoner”

“Die pragtigste woudbewoner”

“Die pragtigste woudbewoner”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SWEDE

EK HET hom een dag in Junie vir die eerste keer gesien—“die pragtigste woudbewoner”, soos party mense hom hier noem. Dit is die grootgrysuil, of die Laplandse uil, soos hy soms genoem word.

Hierdie pragtige reuse-uil woon in dele van Finland en noordelike Swede sowel as verder oos in Siberië, Alaska en Kanada. Hy is sku en moeilik om op te spoor as jy nie weet waar sy nes is nie. As jy eers sy nes gekry het, sal jy ook vind dat die uil glad nie bang is nie.

Ek bestudeer die jagter

Ek het die Laplandse uil met sy buitengewone merke bestudeer terwyl hy kos gesoek het. Hy het skielik van ’n tak af opgevlieg en ’n muis probeer vang. Het hy sy prooi gekry? O, ja! Ek kon die knaagdiertjie duidelik in sy kloue sien hang toe hy opgestyg het in ’n stadige, indrukwekkende vlug, met sy groot vlerke wat 1,4 meter van vlerkpunt tot vlerkpunt strek.

Die Laplandse uil broei nie elke jaar soos baie ander uile nie. Hierdie groot uil eet net klein knaagdiertjies, en party jare wanneer daar min kos is, broei hulle glad nie. In ander jare, wanneer daar baie kos is, kan daar vier of meer kuikens in elke nes wees.

Sy kies ’n maat

Lente is paartyd vir uile, en die wyfie kies haar maat versigtig, hoewel die belangrikste oorweging vir haar nie sy voorkoms is nie—’n ander benadering as dié van sommige van die vroulike geslag onder die mense. Volgens studies deur party voëlkykers moet die mannetjie bewys dat hy ’n goeie jagter is. Voor enige planne gemaak word vir ’n gesin, moet hy eers die wyfie van kos voorsien.

As daar baie muise beskikbaar is en die mannetjie ’n goeie “broodwinner” is, laat die kos wat hy vir die wyfie gee haar gewig aansit. Hierdie toename in gewig is ’n teken vir haar liggaam wat toon hoeveel eiers sy moet lê.

Die mannetjie is nou geheel en al verantwoordelik vir die jagwerk, wat baie energie verg. Die klaende geroep van die wyfie spoor hom aan, want al haar energie word gebruik om eiers te lê en dit te versorg.

Op soek na die nes

Ek het die pragtige mannetjie deur my verkyker dopgehou terwyl hy gereeld met sy prooi bo my verbygevlieg het. Uiteindelik kon ek vasstel waar die nes is. Laplandse uile bou nie hulle eie neste nie, maar neem dikwels neste van ander roofvoëls oor wat in die woud woon. As daar nie ’n nes is nie, woon die uil sommer in ’n dooie boomstomp.

In die nes het ek twee donserige kuikens gekry wat die wêreld om hulle met groot oë aangestaar het. Met ’n klaende geroep het hulle hulle honger ogies na hulle ma gedraai, wat daar naby gesit het. Dit sou gevaarlik wees om op hierdie stadium te na aan die kleintjies te kom. As die wyfie voel dat haar kleintjies bedreig word, sal sy stilletjies op die indringer neerswiep en hom met naaldskerp kloue aanval. Dit is dus belangrik om versigtig te wees en uile op ’n eerbiedige afstand dop te hou.

Die kuikens word gevoer en geleer

Toe die mannetjie by die nes kom, het hy met sy snawel die prooi uit sy kloue geneem en die muis vir een van die kleintjies gegee. Wanneer die een kuiken gevoer word, gaan die een wat volgende aan die beurt sal kom vreeslik te kere.

Nadat een van die kleintjies sy kos geëet het, ondergaan hy ’n byna komiese gedragsverandering. Sy gesiggie, wat tot op daardie oomblik helder wakker gelyk het, verander skielik, en die kuiken lyk of hy dronk is! Al sy energie word gebruik om die kos te verteer, en kort voor lank gaan lê hy op ’n hoop en lyk net soos ’n hopie sagte, donserige vere. Maar sy boetie langs hom het al hoe meer opgewonde geraak en het nou al amper herstel van die bedwelmende uitwerking van sy laaste maaltyd.

Dit gaan so tot middel-Junie. Teen daardie tyd sal die kleintjies vier weke oud wees en kan hulle uit hulle nes uit fladder, gelok deur hulle ma se geroep. Aan die begin klim hulle heel rats in die bome rond. Roofdiere is daar nie soveel van ’n bedreiging soos op die grond nie.

Mettertyd gebruik die kuikens hulle vlerke wanneer hulle tussen die takke rondbeweeg, en so oefen hulle om te vlieg. Ná ’n ruk leer hulle hulleself vlieg en jag. Hulle lyk ook anders, sodat hulle ook ‘pragtige woudbewoners’ genoem kan word.

[Foto-erkennings op bladsy 18]

© Joe McDonald

© Michael S. Quinton

[Foto-erkennings op bladsy 19]

© Michael S. Quinton

© Michael S. Quinton