Die stryd teen die “kus” van die dood
Die stryd teen die “kus” van die dood
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË
In die middel van die nag, terwyl jy vas aan die slaap is, kom hy al hoe nader. Hy maak jou nie wakker nie. Trouens, jy roer nie eers wanneer jy sy skadelike “kus” ontvang nie.
HIERDIE nagtelike indringer is ’n soort roofwants (Triatoma megista) wat in Suid-Amerika floreer. Die lang “kus” van hierdie insek kan tot 15 minute duur terwyl hy stadig jou bloed suig. Op sigself is die “kus” nie skadelik nie. Maar die ontlasting wat op jou vel agtergelaat word, kan ’n mikro-organisme bevat wat Trypanosoma cruzi, of kortweg T. cruzi, genoem word. As hierdie parasiet jou liggaam deur die oë, die mond of ’n oop wond binnedring, kan dit Amerikaanse tripanosomiase veroorsaak, wat beter bekend staan as Chagassiekte.
In sy akute stadium is ’n geswolle oog die kenmerkendste simptoom van Chagassiekte. Moegheid, koors, aptytverlies of diarree kan volg. Dan, ná ’n maand of twee, verdwyn die simptome gewoonlik—selfs sonder behandeling. Maar die ergste kom dalk nog. Ongeveer 10 tot 20 jaar ná infeksie kan die slagoffer hartprobleme ontwikkel, insluitende ritmeversteurings of selfs hartversaking. *
Na raming is tot 18 miljoen mense met Chagassiekte besmet, en ongeveer 50 000 sterf jaarliks daaraan. Nie alle slagoffers word self deur die insek gebyt nie. Party is byvoorbeeld kinders wat geborsvoed word en die siekte van ’n besmette moeder kry. ’n Swanger vrou kan die siekte selfs aan haar ongebore kind oordra of haar baba by geboorte besmet. Die siekte kan ook oorgedra word deur ’n bloedoortapping en deur ongekookte kos te eet wat met T. cruzi besmet is. *
Wat word gedoen om Chagassiekte te bestry? Insekdoders is al met welslae gebruik om die roofwantsbevolking onder beheer te hou. Maar dit is onaangenaam om die insekdoders in die huis te spuit, en dit moet elke ses maande herhaal word. Die Federale Universiteit van Rio de Janeiro het ’n alternatief ontwikkel—’n verf wat insekdoder bevat. Die produk is op 4 800 huise getoets. Die resultaat? Twee jaar later was 80 persent van hulle nog steeds insekvry! Navorsers het ook ontdek dat die blare van die Brasiliaanse cinamomo ’n nie-toksiese bioafbreekbare stof (Asadiraktien) bevat wat nie net besmette insekte genees nie, maar ook keer dat gesondes gashere word.
Hulp vir dié wat besmet is
Is daar enige hoop vir die miljoene mense wat Chagassiekte het? Ja. ’n Internasionale span wetenskaplikes probeer die geheime van die 10 000 gene van T. cruzi ontrafel. Dit sal dit dalk moontlik maak om diagnostiese toetse, entstowwe en doeltreffender geneesmiddels te ontwikkel.
In Julie 1997 het wetenskaplikes een van T. cruzi se belangrike proteïene op die ruimtetuig Columbia in die buitenste ruimte ingestuur sodat hulle die struktuur daarvan in mikroswaartekrag kon bestudeer. Dit is ’n belangrike stap om geneesmiddels te ontwikkel wat met die struktuur van T. cruzi ooreenstem. Die soeke na nuwe geneesmiddels is belangrik, want wanneer die siekte sy gevorderde stadiums bereik het, is daar tans geen doeltreffende geneesmiddels beskikbaar nie.Die Brasiliaanse bioloog Constança Britto het besef watter voordele vroeë behandeling inhou en die polimerase-kettingreaksie-toets ontwikkel, wat ’n diagnose binne twee dae moontlik maak. Maar ongelukkig weet baie nie eers dat hulle die siekte het wanneer dit in sy vroeë stadiums is nie.
Voorkoming is die sleutel
Ten slotte, watter voorsorgmaatreëls kan jy tref as jy in ’n gebied is waar die roofwants aangetref word?
▪ Probeer ’n muskietnet gebruik as jy in ’n klei- of grashuis slaap.
▪ Gebruik insekdoders. Dit verminder die gevaar dat die siekte oorgedra sal word.
▪ Herstel krake en barste in mure, aangesien dit broeiplekke vir die roofwants kan wees.
▪ Hou jou huis skoon; maak ook agter prente en meubels skoon.
▪ Sprei matrasse en komberse van tyd tot tyd in die son uit.
▪ Onthou dat diere—wild en mak—draers kan wees.
▪ As jy dink dat ’n insek ’n roofwants is, moet jy dit na die naaste gesondheidsentrum stuur vir ontleding.
[Voetnote]
^ par. 5 Simptome verskil van persoon tot persoon, en sommige daarvan is nie uniek aan Chagassiekte nie. Daarom word dit hier bloot as ’n oorsig behandel en is dit nie bedoel om as ’n basis vir ’n diagnose gebruik te word nie. Baie mense het geen simptome nie, tensy die siekte sy chroniese stadium bereik.
^ par. 6 Die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -Voorkoming sê dat die bloedvoorraad in sommige lande nie altyd vir Chagassiekte getoets word nie.
^ par. 10 Dokters gebruik nifurtimoks om T. cruzi te behandel, maar dit het dikwels ernstige newe-effekte.
[Venster op bladsy 13]
Die ontdekking van Chagassiekte
In 1909 het Carlos Chagas, ’n Brasiliaanse dokter, in Minas Gerais Staat, Brasilië, gewerk waar malaria die bou van ’n spoorweg belemmer het. Hy het baie pasiënte met simptome gesien wat verskil het van enige bekende siekte. Hy het ook opgemerk dat huise in die gebied gewemel het van ’n soort roofwants wat van bloed lewe. Toe Chagas die inhoud van die insek se ingewande ondersoek, het hy ’n nuwe protosoön ontdek. Hy het dit Trypanosoma cruzi genoem, ter ere van sy vriend, die wetenskaplike Oswaldo Cruz. Die nuwe siekte is gepas na Carlos Chagas vernoem as gevolg van die diep navorsing wat hy gedoen het, wat tot die ontdekking van hierdie siekte gelei het.
[Prent op bladsy 12, 13]
Roofwantse kom dikwels in huise op die platteland voor
[Erkenning]
Foto’s: PAHO/WHO/P. ALMASY