Wonders en geheime van die diepsee
Wonders en geheime van die diepsee
BINNE-IN hulle klein duikboot die Alvin daal twee wetenskaplikes en hulle loods in die Stille Oseaan naby die kus van Ecuador af. Hulle bestemming? ’n Plek wat die Galápagos-skeur genoem word. Die Alvin, wat toegerus is met soekligte, ’n kamera en talle wetenskaplike instrumente, het 2 800 meter diep deur die water geduik na ’n wêreld van ewige nag wat nog nooit voorheen deur mense-oë gesien is nie.
Het jy al ooit gewonder wat in die berge, canyons en skeure onder die donker dieptes van die wêreld se oseane verberg lê? Indien wel, dan sal jy dit geniet om oor die ontdekkings te lees wat in 1977 begin het met die Alvin se baanbrekersduik wat hierbo gemeld is. Wat die bemanning gesien het, sal jou dalk verbaas; selfs vir hoogs opgeleide wetenskaplikes was dit soos om lewe op ’n ander planeet te sien.
Die doel van die Alvin se sending was om hidrotermiese bronne te vind—ondersese geisers wat strome verhitte water in die oseaan uitspu. Die Galápagos-skeur was ’n belowende ligging omdat dit deel uitmaak van ’n uiters vulkaniese ondersese skeur wat begrens word deur ’n komplekse, aardomsluitende ketting van bergreekse wat die midoseaniese rugstelsel genoem word. Hierdie kolossale stelsel is meer as 65 000 kilometer lank en vleg om die hele planeet soos die naat van ’n tennisbal. As die oseane verwyder moes word, sou dit “maklik die opvallendste kenmerk op die oppervlak van die planeet [wees], aangesien dit oor ’n groter gebied strek as al die groot landbergreekse saam”, skryf Jon Erickson in sy boek Marine Geology.
’n Baie belangrike kenmerk van die midoseaniese rugstelsel is dat dit in werklikheid ’n tweelingstelsel is—twee bergreekse wat parallel loop en 3 000 meter bo die seebodem uitrys. Tussen die reekse is die grootste klowe op aarde—canyons wat tot 20 kilometer wyd en 6 kilometer diep is—vier keer dieper as die Grand Canyon van Noord-Amerika! Op die bodem van hierdie klowe word skeursones aangetref waarin hewige vulkaniese aktiwiteit voorkom. Toe wetenskaplikes eers die Atlantiese deel van die rugstelsel bestudeer het, wat die Mid-Atlantiese Rug genoem word, was daar volgens hulle instrumente sulke hewige vulkaniese aktiwiteit “dat dit gelyk het of die aarde se ingewande uitkom”, sê Erickson.
Nadat hulle 90 minute lank geduik het, het die Alvin tot
net bokant die seebodem afgedaal, en die mans het die Alvin se soekligte aangeskakel. Die wetenskaplikes kon verskoon word as hulle gedink het dat hulle op ’n ander planeet was. In die lig het hulle ’n aantal glinsterende warmwateropeninge op die seebodem gesien, waar die water gewoonlik na aan vriespunt is. Naby die openinge het hulle iets ontdek wat selfs eienaardiger was—hele gemeenskappe van voorheen onbekende lewensvorme. Twee jaar later het navorsers aan boord die Alvin superverhitte openinge, wat rokers genoem word, langs die kus van Mexiko op die Oos-Pasifiese Styging ontdek. ’n Aantal van hierdie openinge het spookagtige skoorstene gevorm, waarvan party tot nege meter hoog was. Baie van dieselfde diere wat by die Galápagos-skeur gevind is, is ook hier gevind. In die volgende artikel sal ons hierdie verbasende lewensvorme en die wêreld van ongelooflike uiterstes wat hulle tuiste is van naderby ondersoek.[Foto-erkenning op bladsy 3]
VOORBLAD en bladsy 3: OAR/National Undersea Research Program