Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is oormatige drinkery werklik so verkeerd?

Is oormatige drinkery werklik so verkeerd?

Die Bybel se beskouing

Is oormatige drinkery werklik so verkeerd?

DIE gawe dronkaard wat mense laat skater van die lag, is al jare lank ’n gewilde karakter op die verhoog en op die silwerdoek. Hoewel vermaaklikheidskunstenaars miskien net toneel speel, lig hulle soort humor die teenstrydige gesindheid toe wat baie mense teenoor strawwe drinkery het. Hoewel hulle dit as ’n swakheid beskou, voel hulle terselfdertyd dat dit eintlik maar heel onskadelik is.

Die werklikheid is natuurlik niks om oor te lag nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beskou alkoholmisbruik as een van die grootste gesondheidsgevare vir mense regoor die wêreld. Naas tabakverslawing veroorsaak alkoholmisbruik na bewering meer sterftes en siektes as die misbruik van enige ander gewoontevormende middel, en jaarliks kos dit die Amerikaanse ekonomie alleen meer as R1,3 biljoen.

Ten spyte van hierdie feite hou baie mense aan om die erns van oormatige drinkery te verklein. Hoewel hulle moontlik erken dat langtermynmisbruik skadelik is, is daar volgens hulle niks daarmee verkeerd om nou en dan te veel te drink nie. Onder jongmense in party wêrelddele is dit as ’t ware ’n oorgangsritus om dronk te word. En ondanks ernstige waarskuwings van gesondheidsorganisasies neem strawwe drinkery, wat gedefinieer word as die inname van vyf of meer drankies na mekaar, geweldig onder alle ouderdomsgroepe toe. Dit is dus verstaanbaar dat baie mense wonder of dit werklik so verkeerd is om te veel te drink. Wat sê die Bybel hieroor?

Wyn en sterk drank—gawes van God

Die Bybel bevat baie verwysings na wyn en sterk drank. Koning Salomo het geskryf: “Gaan, eet jou voedsel met blydskap en drink jou wyn met ’n goeie hart, want die ware God het reeds behae geskep in jou werke” (Prediker 9:7). Die psalmis het erken dat Jehovah God die Voorsiener is van “wyn wat die hart van die sterflike mens vrolik maak” (Psalm 104:14, 15). Dit is duidelik dat wyn een van die gawes van Jehovah aan die mensdom is.

Dit was klaarblyklik vir Jesus aanvaarbaar om wyn te drink. Trouens, sy eerste wonderwerk het behels dat hy by ’n huweliksfees water in goeie wyn verander (Johannes 2:3-10). Hy het wyn ook as ’n gepaste simbool van sy bloed gebruik toe hy die Here se Aandmaal ingestel het (Matteus 26:27-29). Die Bybel noem selfs wyn se medisinale waarde, want die apostel Paulus het Timoteus aangemoedig om ‘’n bietjie wyn ter wille van sy maag te gebruik’.—1 Timoteus 5:23; Lukas 10:34.

Matigheid is die sleutel

Let op dat Paulus net “’n bietjie wyn” aanbeveel het. Dit is duidelik dat die Bybel alle oormatige gebruik van alkohol afkeur. Joodse priesters kon matig drink wanneer hulle nie aan diens was nie. Maar hulle is verbied om enige alkohol te drink terwyl hulle hulle priesterlike pligte nagekom het (Levitikus 10:8-11). Baie jare later is eerste-eeuse Christene gewaarsku dat dronkaards “God se koninkryk nie sal beërf nie”.—1 Korintiërs 6:9, 10.

Verder het Paulus, toe hy vir Timoteus instruksies gegee het, gesê dat diegene wat die leiding in die gemeente neem, nie ‘dronk bakleiers’ mag wees nie of “hulle nie aan baie wyn [mag] oorgee nie” (1 Timoteus 3:3, 8). a Trouens, die Bybel beveel dat onberouvolle dronkaards uit die Christengemeente gesit moet word (1 Korintiërs 5:11-13). Soos die Skrif tereg sê: “Wyn is ’n spotter” (Spreuke 20:1). Die oormatige gebruik van alkohol kan die drinker se inhibisies verlaag en sy oordeel belemmer.

Waarom God se Woord oormatige drinkery veroordeel

Jehovah, ‘die een wat ons leer om onsself te bevoordeel’, weet dat ons uiteindelik onsself en ander seermaak wanneer ons enigiets misbruik (Jesaja 48:17, 18). Dit is waar wanneer dit by alkohol kom. God se Woord vra: “Wie het weë? Wie het ongerustheid? Wie het twiste? Wie het besorgdheid? Wie het wonde sonder rede? Wie het dofheid van oë?” Die antwoord: “Dié wat lank by die wyn bly, dié wat inkom om gemengde wyn te soek.”—Spreuke 23:29, 30.

Mense doen talle onbesonne en gevaarlike dinge terwyl hulle onder die invloed van alkohol is: hulle bestuur en stel sodoende hulleself en ander in gevaar, hulle raak te familiêr met iemand anders se huweliksmaat en doen verhoudings ernstige skade aan, hulle spraak en dade is dwaas of selfs pervers (Spreuke 23:33). Alkoholmisbruik is al tereg een van die skadelikste maatskaplike probleme genoem wat die mensdom vandag teister. Dit is geen wonder nie dat God waarsku: “Moenie onder die wynsuipers wees . . . nie”!—Spreuke 23:20.

In Galasiërs 5:19-21 sê Paulus dat dronkenskap en swelgerye “werke van die vlees” is, wat teenstrydig is met die vrugte van God se gees. Die oormatige gebruik van alkohol sal ’n mens se verhouding met God skaad. Dit is dus duidelik dat Christene enige oormatige gebruik van alkohol moet vermy.

[Voetnoot]

a Hierdie vereiste sal redelikerwys ook op ander Christene van toepassing wees, aangesien opsieners en bedieningsknegte voorbeelde vir die kudde moet wees wat hulle oordeel en gedrag betref en Jehovah se verhewe standaarde tot die beste van hulle vermoë moet naleef.