Ons beskou die wêreld
Ons beskou die wêreld
Die oorsaak van verkeersknope
Het jy al ooit gewonder waarom jy skielik teen ’n normale spoed kan ry nadat jy ’n ruk lank in stop-ry-verkeer was, sonder dat jy ’n rede vir die vertraging kan sien? “Daar is empiriese oorsake van probleme soos verkeer wat amper tot stilstand kom, al is daar geen ongeluk of ongelyke padoppervlak in sig nie”, sê The Wall Street Journal. “Motors beweeg op min of meer dieselfde manier as wat molekules in ’n gas beweeg.” Al ry hulle net ’n kort rukkie stadiger, bring dit “’n drukgolf” voort wat agtertoe beweeg en veroorsaak dat motors wat ver agter is, amper tot stilstand kom. “Volgens een skatting
het driekwart van verkeersknope geen sigbare oorsaak nie”, sê die koerant. “Die oorsaak het ure gelede gekom en gegaan, maar die gevolge duur nog voort.” Wanneer daar nog betreklik min verkeer in ’n stad is, sal dit dalk help as jy ’n ander roete kies om verkeersknope te vermy. Maar namate die strate vol word en ander bestuurders dieselfde doen, “is dit net so onwaarskynlik dat jy die vinnigste pad sal kies as dat jy die vinnigste tou by die betaalpunte in ’n kruidenierswinkel sal kies”, sê die artikel. “Ontspanne bestuurders vaar in werklikheid beter as bestuurders wat naarstig na die vinnigste roete soek.”Vroeë nikotienverslawing
“Die eerste trek aan ’n sigaret kan genoeg wees om ’n jong tiener te verslaaf”, berig die Kanadese koerant die National Post. “Die buitengewone bevindings is in stryd met die heersende beskouing dat nikotienverslawing ’n stadige proses is wat eers plaasvind nadat ’n mens etlike jare lank ’n strawwe roker was.” In ’n studie van 1 200 tieners oor ’n tydperk van ongeveer ses jaar het navorsers gevind dat “fisiese verslawing ’n baie sterker invloed as portuurdwang het, selfs onder dié wat net af en toe rook”, het die koerant gesê. Volgens die studie “verskyn simptome van nikotienafhanklikheid by talle jong tabakgebruikers ná hulle eerste blootstelling aan nikotien, maar voordat hulle daagliks begin rook”. Die navorsers sê dat antirookveldtogte aangepas moet word om jongmense te help om nie net die druk te weerstaan om te rook nie, maar ook om dié wat al gerook het, te help om nikotienafhanklikheid te oorkom.
Is silwerskoon te skoon?
Baie mense geniet ’n lang, warm bad of stort aan die einde van elke dag. Maar “dit kan baie velprobleme veroorsaak as ’n mens jou te veel was”, waarsku die Australiese koerant The Daily Telegraph. “Mense stort te dikwels en te lank en gebruik die verkeerde produkte op hulle vel.” Die dermatoloog dr. Megan Andrews verduidelik: “Ons hou almal daarvan om silwerskoon te voel, maar wanneer ons so voel, beteken dit dat die vel beskadig is . . . Mense voel goed maar rig skade aan.” Waarom? Want as jy jou te veel was, sal jy jou vel van sy “natuurlike olies stroop, die beskermende laag mikro-organismes beskadig en die liggaam se grootste orgaan vatbaar maak vir krakies en letsels”, sê die koerant, en dit meld dat jy in droë winterweer “veral daarop moet let”. Andrews beveel aan dat mense net een keer per dag vinnig moet stort.
Nadelige raad
“Die meeste dorpe in Bangladesj en Wes-Bengale [Indië] het tot die 1970’s óf vlak putte gegrawe óf water uit poele of riviere geskep—en het gereeld aan cholera, disenterie en ander watergedraagde siektes gely”, sê The Guardian Weekly. “Toe het die VN mense aangeraai om diep boorgate in die waterdraers (baie poreuse en deurdringbare waterhoudende rotslae) te sink om skoon, patogeenvrye water te kry.” Tot 20 miljoen boorgate is in Bangladesj, Viëtnam, Laos, Birma (nou Mianmar), Thailand, Nepal, China, Pakistan, Kambodja en Wes-Bengale, Indië, gesink. Baie van die boorgate het egter arseenhoudende afsetttings diep onder die oppervlak bereik. Die gevolg is dat arseenvergiftiging op so ’n groot skaal voorgekom het dat die Wêreldgesondheidsorganisasie dit “die wêreld se grootste massavergiftiging van ’n bevolking in die geskiedenis” noem. Sowat 150 miljoen mense het gedurende die afgelope twee dekades die vergiftigde water gedrink. In Bangladesj alleen is daar al 15 000 ernstige gevalle van arseenvergiftiging. Plaaslike groepe, regerings en die VN oorweeg die opsies, maar ’n praktiese oplossing om die situasie reg te stel, moet nog gevind word.
Waarskuwing oor kinderselfmoord
“Tagtig persent van die kinders wat selfmoord pleeg of wat probeer om selfmoord te pleeg, sê of skryf dae of maande voor die tyd dat hulle dit gaan doen”, berig die koerant Milenio van Mexiko-stad. Die hoofredes waarom kinders nie meer wil lewe nie, is mishandeling (fisies, emosioneel of mondeling), seksuele molestering, gesinsverbrokkeling en skoolverwante probleme. Volgens José Luis Vázquez, ’n psigiatriese spesialis by die Mexikaanse Instituut vir Maatskaplike Sorg, het die dood in televisieprogramme, rolprente, videospeletjies en boeke so alledaags geword dat kinders ’n wanbegrip van die waarde van die lewe het. Hy sê verder dat 15 uit elke 100 kinders tussen die ouderdomme van agt en tien selfmoordgedagtes het en dat 5 persent van hulle selfmoord pleeg. Die koerant beveel aan dat ’n mens moet ag gee wanneer kinders van selfmoord praat en dit nie net moet afmaak as afpersing of ’n poging om aandag te kry nie. Dit voeg by: “Ouers moet tyd saam met hulle kinders deurbring, met hulle speel, die kommunikasiekanale oophou en deurentyd liefde aan hulle betoon.”
Woede is sleg vir jou
Volgens Valentina D’Urso, ’n dosent in sielkunde aan die Universiteit van Padua in Italië, “kom woede al hoe meer in ons samelewing voor, maar dit het ’n negatiewe uitwerking op die liggaam”. Die spiere trek saam, die hartklop en asemhaling word vinniger en die hele liggaam raak gespanne. Woede kan ook iemand se redeneervermoë belemmer en maak dat hy minder beheer oor sy optrede het. “Ons moet daaraan gewoond raak om op gevaarsituasies bedag te wees . . . Ons moet kalm bly en dadelik sê ‘ek stem nie saam nie’, dan sal ons ’n baie beter lewe lei”, sê D’Urso.
Dokters onder druk
Die Kanadese Mediese Vereniging het onlangs ’n opname onder 2 251 dokters regoor die land gedoen en “gevind dat 45,7 persent van hulle in ’n gevorderde stadium van uitbranding is, wat gekenmerk word deur emosionele uitputting, sinisme en ’n gevoel dat hulle onbekwaam is in hulle werk”, sê die koerant Vancouver Sun. Volgens dr. Paul Farnan, koördineerder van Brits-Columbië se Ondersteuningsprogram vir Dokters, is faktore wat bydra tot die druk waaronder baie dokters verkeer onder meer die probleme wat hulle ondervind om plaasvervangers te kry wanneer hulle met vakansie wil gaan, ’n veeleisende rooster wanneer hulle op roep is en te veel papierwerk. Dr. Farnan moedig gespanne dokters aan om ’n meer gebalanseerde lewe te lei deur tyd saam met hulle gesin deur te bring en betrokke te raak by bedrywighede wat emosionele en geestelike bevrediging meebring.