Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gemaak om vir ewig te leer

Gemaak om vir ewig te leer

Gemaak om vir ewig te leer

“In elkeen se kop is ’n kragtige, kompakte, doeltreffende orgaan, en hoe meer ons daaromtrent leer, hoe meer lyk dit of dit ’n onbeperkte vermoë het.”—TONY BUZAN EN TERENCE DIXON, WETENSKAPSKRYWERS.

HOEVEEL kan die mensebrein leer? Hierdie vraag fassineer en oorbluf navorsers nog steeds. In The Brain Book skryf Peter Russell: “Hoe meer ons omtrent die mensebrein leer, hoe verder oortref die vermoë en potensiaal daarvan vroeëre spekulasies.”

Ons brein het byvoorbeeld ’n ongelooflike vermoë om dinge te herroep. “Ons geheue is nie soos ’n houer wat geleidelik vol raak nie”, sê Russell, “dit is meer soos ’n boom waaruit hake groei waaraan ons ons herinneringe hang. Alles wat jy onthou, is nog ’n stel hake waaraan nuwe inligting gehang kan word. ’n Mens se geheue groei dus voortdurend. Hoe meer jy weet, hoe meer kan jy leer.” Dit bring ons terug by die vraag wat ons vroeër gevra het: Waarom het die mensebrein hierdie ontsaglike, onbenutte potensiaal?

Die evolusieteorie bied geen redelike antwoord hierop nie. Omdat die opvatting van die oorlewing van die sterkste so ’n belangrike deel daarvan uitmaak, laat evolusie denkende mense in die war oor waarom die mensebrein sy ontsaglike vermoë ontwikkel het. Ter toeligting: Waarom sou ’n mens ’n groot vragmotor bou as jy nooit meer as ’n graaf sand gaan verskuif nie?

Die Bybel gee ons egter ’n verfrissend eenvoudige maar logiese verduideliking hiervoor. Eerstens sê dit vir ons dat ons oorspronklike ouers—Adam en Eva—na God se beeld geskep is en dus in staat was om God se wonderlike eienskappe te weerspieël. Tweedens verduidelik dit dat hulle gemaak is om vir ewig te lewe—en dus vir ewig te leer (Genesis 1:27; 2:16, 17). Die mensebrein getuig van hierdie goddelike voorneme, al doen dit dit tans op onvolmaakte wyse weens die sonde wat oor die mensdom gebring is.—Romeine 5:12.

Maar God se oorspronklike voorneme met die aarde, naamlik dat dit met volmaakte, godvresende mense gevul moet word wat in ’n paradys lewe, sal verwesenlik word. Trouens, Jehovah het sy enigverwekte Seun, Jesus Christus, as ’n losprysoffer ten behoewe van ons gegee sodat ons die ewige lewe kan kry.—Matteus 20:28; Johannes 3:16.

Die allerbeste voedsel vir die verstand

Jehovah het ons ook sy geïnspireerde Woord, die Heilige Bybel, gegee (2 Timoteus 3:16; 2 Petrus 1:21). Omdat hierdie kosbare boek ’n produk van die heilige gees is, is dit glad nie ’n oordrywing om te sê dat dit die allerbeste verstandelike en geestelike voedsel vir die mens bevat nie (Psalm 19:7-10). Trouens, Jesus het self gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom.”—Matteus 4:4.

Hetsy jy oud of jonk is, sit dus gerus elke dag ’n bietjie tyd opsy om God se kosbare ‘woorde’ te lees. Diegene wat dit doen en toepas wat hulle leer, sal nou sowel as in die toekoms daarby baat vind. Ja, hulle kan die vooruitsig hê om vir ewig te lewe en te leer, net soos God hom oorspronklik voorgeneem het. Wat ’n wonderlike hoop is dit tog!—Prediker 3:11; Johannes 17:3.

[Prent op bladsy 11]

Die mensebrein is gemaak om vir ewig te leer, wat van God se voorneme getuig

[Prente op bladsy 12]

Die Bybel bevat die allerbeste voedsel vir jou verstand