Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer sout ’n plaag word

Wanneer sout ’n plaag word

Wanneer sout ’n plaag word

Deur Ontwaak!-medewerker in Australië

SOUT is noodsaaklik vir mense- en dierelewe. Dit maak byna 1 persent van ons liggaam uit. Ons gebruik dit in kos, medisyne en veevoer. Trouens, die wêreld verbruik elke jaar sowat 190 miljoen ton sout. a Maar hierdie nuttige en oorvloedige stof word nou ’n plaag wat skadelik is vir van die wêreld se produktiefste landbougrond.

Die 15 persent van die wêreld se bewerkte grond wat besproei word, lewer ongeveer 40 persent van die wêreldwye voedselopbrengste. Ja, wanneer skynbaar onvrugbare grond besproei word, kan dit die grond laat bloei soos die spreekwoordelike narsing. Maar besproeiing kan veroorsaak dat soutoorblyfsels in die grond ophoop, wat geleidelike vergiftiging van die grond tot gevolg het. Oesopbrengste word reeds belemmer deur verbrakking van die helfte van die wêreld se besproeide grond. Trouens, ’n gebied wat meer as twee keer so groot soos Switserland is, gaan glo elke jaar verlore weens verbrakking en versuiping!

Daniel Hillel, ’n vername grondkundige, waarsku in sy boek Out of the Earth: “Al die vernietigende mensgemaakte plae wat ’n deurslaggewende rol in die ondergang van ou beskawings gespeel het, het sy spieëlbeeld in ons hedendaagse wêreld, . . . maar op ’n baie groter skaal.” Na bewering kos verbrakking die VSA se ekonomie jaarliks R33 miljard in oesverliese. Tog is daar min plekke op aarde waar hierdie mensgemaakte plaag ’n groter bedreiging inhou as in Australië.

Die wit dood

Die uitgestrekte koringlande van Wes-Australië verloor elke uur ’n gebied so groot soos ’n sokkerveld weens verbrakking. Dr. Tom Hatton van die Wetenskaplike en Industriële Navorsingsorganisasie van die Gemenebes (CSIRO) sê: “Dit is ongetwyfeld die grootste omgewingskrisis wat ons in die gesig staar.”

Die landbouhartland van Oos-Australië, wat as die Murray-Darling-bekken bekend staan, word veral deur verbrakking bedreig. Die bekken dek ’n gebied so groot soos Frankryk en Spanje saam, en dit beslaan driekwart van Australië se besproeide grond. Byna die helfte van Australië se totale landbouinkomste is van hierdie deel afkomstig. Die Murray- en Darlingrivier, die slagare wat hierdie landbouhartland van water voorsien, voed duisende vleigebiede en is ook die bron van drinkwater vir driemiljoen mense.

Ongelukkig word 2 000 vierkante kilometer van hierdie noodsaaklike grond reeds ernstig deur verbrakking aangetas, en wetenskaplikes skat dat nog 10 000 vierkante kilometer gedurende hierdie dekade in gevaar gestel sal word. Die soutgehalte neem toe in die Murray- en Darlingrivier sowel as hulle syriviere, en in party gebiede is die water ondrinkbaar. In die vrugbare landerye wat aan hierdie riviere grens, vorm daar soutbedekte, lewelose moerasse. Boere noem hierdie verskynsel die wit dood.

Maar meer as landbougrond is op die spel. Wetenskaplikes by die CSIRO waarsku dat tot ’n duisend Australiese plante en diere weens verbrakking met uitwissing bedreig word. En as dit so voortgaan, sal moontlik die helfte van die voëlspesies in die Murray-Darling-bekken binne die volgende 50 jaar reeds uitgesterf het. Kom ons kyk na die gebrek aan versiendheid wat tot hierdie omgewingskrisis aanleiding gegee het.

Waar die sout vandaan kom

Wetenskaplikes vermoed dat baie van Australië se sout van seemis afkomstig is, wat oor duisende jare landwaarts gevoer is. Die sout in die mis het as gevolg van reën in die grond beland. Volgens hulle is nog ’n bron die soutoorblyfsels van seë wat eens op ’n tyd dele van die vasteland bedek het. Reën het die sout deur die grondlae gespoel, en grondwatertafels het geleidelik onder die verbrakte ondergrond begin vorm.

Mettertyd het bloekombome en ander plantegroei die vasteland oordek, en hulle wortelstelsels het die aarde 30 tot 40 meter of meer binnegedring. Die plantegroei het die meeste van die reën wat op die grond val, opgeneem en dit na die oppervlak gepomp, waar dit deur die blare uitgewasem is. Dit het die grondwatertafels diep onder die grond gehou. Maar Europese boerderymetodes, wat voorspoed en vooruitgang vir Australië beteken het, het ook behels dat die plantegroei op uitgestrekte stroke land uitgekap moes word. Weens die grootskaalse verwydering van hierdie bome wat as pompe dien, asook die wydverspreide gebruik van besproeiing, het die watertafels gestyg. Gevolglik het sout wat lank diep onder die grond vasgekeer was, begin oplos en is dit al hoe nader aan die vrugbare bogrond gebring.

Oorsake van verbrakking

Beheerde vloedbesproeiing van gewasse verhoog produksie in die Murray-Darling-bekken. Maar terselfdertyd veroorsaak hierdie gebruik dat die grondwatertafels onder die landerye vinnig styg. Die brak grondwater sypel dan in die rivierstelsels in en besoedel die skoon water. Dit skep ’n ander probleem wat as rivierverbrakking bekend staan. Die brak rivierwater word dan teruggepomp om die landerye te besproei, en die probleem word uiteindelik ’n bose kringloop.

Maar die vorm van verbrakking wat selfs groter vernietiging veroorsaak, staan bekend as droëlandverbrakking. Oor die hele bekken het diepgewortelde bome plek gemaak vir weivelde en jaargewasse, waarvan die wortelstelsels die grond nie diep binnedring nie. Reënwater wat voorheen deur die bome geabsorbeer is, syfer deur tot dieper as die vlak van die wortels.

Gevolglik skat wetenskaplikes dat tussen 10 en 100 keer meer water nou in die grondwatertafel insypel as toe bome op die vlaktes gegroei het. Oor die afgelope honderd jaar het soveel ekstra water deurgesyfer dat watertafels onder die Murray-Darling-bekken op plekke tot 60 meter of meer gestyg het. Wanneer hierdie verbrakte watertafels binne ’n paar meter van die oppervlak kom, begin die boer se ellende.

Tekens van belemmerde groei kan nou gesien word in landerye wat voorheen vrugbaar was. Lank voordat soutbedekte kolle begin vorm, word verbrakte grondwater wat vlak onder die oppervlak is, deur verdamping boontoe gebring. Aanvanklik word die plante wat in hierdie grond groei, nie erg aangetas nie, maar namate meer sout opgetrek en in die bogrond gekonsentreer word, word die grond onvrugbaar.

Droëlandverbrakking raak meer as net die plaasgemeenskappe. Dit beskadig reeds party staatshoofweë en verkort hulle lewensduur met 75 persent. Dit beskadig ook geboue, loodgieterswerk en rioolstelsels in plattelandse dorpe regoor die Murray-Darling-bekken.

Is herstel moontlik?

Dit lyk of die meeste van hierdie verbrakte watertafels gedurende die volgende 50 tot 100 jaar sal aanhou styg. ’n Verslag sê dat teen die tyd dat ’n baba wat vandag gebore word, 30 jaar oud is, ’n gebied so groot soos die staat Victoria—wat ongeveer so groot soos Groot Brittanje is—verwoes sal wees. Wat is nodig om hierdie vernietigende situasie om te keer?

“As ons die ekosisteme gesond en die land vrugbaar wil hou, moet ons die bestuur asook die gebruik van die [Murray-Darling-]bekken se hulpbronne ingrypend verander”, sê ’n regeringsverslag. “Aansienlike koste sal aangegaan moet word . . . Maar hierdie koste is minimaal in vergelyking met die onvermydelike koste—op ekonomiese, omgewings- en sosiale gebied—as huidige bestuurspraktyke nie verander word nie.”

As bome op groot skaal aangeplant word, sal dit die skade begin omkeer, maar op die oomblik word dit nie as ’n winsgewende opsie beskou nie. ’n Wetenskaplike verslag het gesê: “Ons kan nie terugkeer na toestande soos dit oorspronklik was nie. In baie gevalle sal vooruitgang [deur bome aan te plant] baie stadig geskied, indien enigsins.”

Intussen word boere aangemoedig om gewasse met dieper wortelstelsels te plant of om oor te skakel na gewasse wat teen sout bestand is. Party entrepreneurs myn selfs die sout wat hulle plase verwoes het en maak ’n bestaan hieruit. Ander beplan om damme met brakwater te gebruik om met seevis en garnale te boer en selfs seewier kommersieel te kweek.

Hierdie verskynsel is nie uniek aan Australië nie. Tensy daar binnekort groot veranderinge plaasvind, sal die Griekse filosoof Plato se beskrywing van die eertydse Griekeland soos ’n onheilsprofesie wees wat bewaarheid word: “Wat nou oorbly van die eens vrugbare land, is soos die geraamte van ’n siek man, met al die vet en sagte vlees wat weggeteer het en net die kaal raamwerk wat oorbly.”

[Voetnoot]

a Die algemeenste vorm van sout is natriumchloried. Ander belangrike soute is kaliumchloried en ammoniumnitraat.

[Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

MURRAY-DARLING-BEKKEN

[Erkenning]

Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prente op bladsy 25]

Soutoorblyfsels aan ’n dooie boom in die middel van ’n versuipte landery

Wanneer sout in die bogrond ophoop, gaan landerye wat voorheen vrugbaar was, tot niet

[Erkenning]

© CSIRO Land and Water

[Prente op bladsy 26]

Eerste tekens van die plaag—onvrugbare kolle op vrugbare landerye

Sout wat na die oppervlak opgetrek word, maak plantegroei dood

Die uitwerking van verbrakking op voorheen produktiewe plase

Die uiteindelike gevolge van stygende grondwatertafels

[Erkenning]

Alle foto’s: © CSIRO Land and Water