Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Jehovah, u het my gevind!”

“Jehovah, u het my gevind!”

“Jehovah, u het my gevind!”

Soos vertel deur Nelly Lenz

“Is julle Jehovah se Getuies?” het ek die twee mans gevra wat na ons huis toe gekom het. “Ja”, het hulle geantwoord. Ek het uitgeroep: “Ek ook!” Ek was net 13 jaar oud en het nooit na die vergaderinge by die Koninkryksaal gegaan nie. My ouers was nie Jehovah se Getuies nie. Waarom het ek dan gesê dat ek een is?

AS DIT nie vir Jehovah se Getuies was nie, sou ek dalk nooit gebore gewees het nie. My ma het swanger geraak met my terwyl sy in Montreal, Quebec, Kanada, gewoon het. Sy was net 17 jaar oud. Haar familie het groot druk op haar geplaas om ’n aborsie te hê. Sy het ingestem.

My ma het ’n dag verlof by die werk gevra om die aborsie te hê. Haar werkgewer, een van Jehovah se Getuies, het blykbaar uitgevind waarom my ma verlof wou hê. Sy het kortliks vir my ma vertel hoe kosbaar die gawe van lewe is (Psalm 139:13-16). Op pad na die kliniek het my ma nagedink oor wat haar werkgewer gesê het. Sy het besluit om nie die aborsie te hê nie. Nadat ek in 1964 gebore is, het my ma my in ’n weeshuis gesit.

My eerste kontak met Bybelwaarheid

Toe ek omtrent twee jaar oud was, het my ma en haar nuwe man my uit die weeshuis geneem. Terwyl ons in Sainte-Marguerite-du-Lac-Masson gewoon het, het hulle die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en gemeentelike vergaderinge bygewoon. Maar ons het kort daarna na Boisbriand getrek en my ouers het opgehou studeer.

’n Paar jaar later het hulle weer begin studeer. Ek het bygesit en gehoor wat gesê is oor die Bybel se hoop van ’n paradysaarde (Lukas 23:43). Ek het baie lief geword vir Jehovah.

Maar eendag het my ma vir my gesê dat hulle opgehou het om saam met die Getuies te studeer en dat ons nie meer na die Koninkryksaal toe sou gaan nie. Ek was aan die begin baie bly daaroor. Ek was ’n kind van agt, en die vergaderinge het vir my soms nogal lank gevoel. Maar daardie aand wou ek in gebed met Jehovah praat, en ek was bang dat hy dalk nie na my sou luister nie.

Die volgende Sondagmiddag het ek gesien dat ons bure, wat Jehovah se Getuies is, op pad is na hulle vergadering by die Koninkryksaal. Ek het begin huil en het God gevra: “Waarom kan hulle kinders na die vergaderinge toe gaan en ek nie?” Die woorde van Psalm 33:18 sou nietemin waar bewys word: “Kyk! Die oog van Jehovah is op dié wat hom vrees, op dié wat op sy liefderyke goedhartigheid wag.”

Terug by die Koninkryksaal

Ná drie weke het ek by ons bure gaan kuier en vir die ma, Lilianne, gesê dat ek die vergaderinge wil bywoon. Lilianne het verduidelik dat dit onmoontlik was omdat my ma niks met Jehovah se Getuies te doen wou hê nie. Maar ek het aanhou vra. Toe het sy my huis toe geneem en my ma gevra of ek saam met hulle kan gaan. Tot my verbasing het my ma ingestem. Sy het gesê dat die vergaderinge my goeie beginsels sou leer. Ek het dus elke Sondag vergadering toe gegaan.

Ek kon omtrent drie jaar lank die gemeentelike vergaderinge bywoon. Maar toe ek 11 geword het, is my ouers geskei, en ek en my ma het weggetrek. Ek het weer alle kontak met Jehovah se Getuies verloor.

’n Onverwagse ontmoeting

Eendag het ek op die trap voor ons huis gesit toe twee Getuies—Eddie Besson en Don Fisher—daar aangekom het en gevra het of my ouers tuis is. Toe ek sê dat hulle nie by die huis is nie, het die mans omgedraai om te loop. Maar ek het agter hulle aangehardloop, en ons het die gesprek gehad wat aan die begin beskryf is.

Dit is te verstane dat die twee mans verbaas was om te hoor dat ek my as een van Jehovah se Getuies identifiseer. Ek het my situasie verduidelik en hulle gesmeek om daardie aand terug te kom. Toe ek vir my ma sê dat die Getuies ons gaan besoek, het sy baie ontsteld geraak en gesê dat sy hulle nie in ons huis sou toelaat nie. Om die waarheid te sê, sy het beplan om uit te gaan voordat hulle kom. Ek was in trane en het my ma gesmeek om by die huis te bly. Net toe sy wou gaan, het die deurklokkie gelui, en daar was Eddie Besson. Stel jou voor hoe bly ek was toe my ma ’n Bybelstudie aanvaar!

Uiteindelik kon ek weer gemeentelike vergaderinge bywoon! Maar minder as ’n jaar later het my ma weer opgehou studeer. Hierdie keer het sy my verbied om enige kontak met die Getuies te hê en het sy al die publikasies van Jehovah se Getuies wat sy kon kry, weggegooi. Maar ek het dit reggekry om ’n Bybel, ’n liedereboek, twee Wagtoring-bundels, twee jaarboeke van Jehovah se Getuies en ’n boek met die titel Die waarheid wat lei tot die ewige lewe weg te steek. a Tydens my laaste studie het ek vir Eddie Besson gevra wat ek kan doen, aangesien ek so lief is vir Jehovah. Hy het my aangespoor om op my eie te studeer en dikwels te bid. Hy het my verseker dat Jehovah vir my sal sorg. Ek was maar 14 jaar oud.

Ek hou my eie “vergaderinge”

Van toe af het ek elke Sondag na my kamer toe gegaan en gemaak of ek by die vergadering is. Ek het die lied “Hou jou oog op die prys!” aan die begin en aan die einde gesing, want dit was die enigste Koninkrykslied wat ek kon onthou. Tot vandag toe kan ek nie hierdie lied sing sonder om te huil nie. Ek het ook ’n Wagtoring-artikel in die bundels wat ek gehad het, bestudeer. Ek het my “vergadering” met gebed afgesluit. Al het ek nie meer met die Getuies omgegaan nie, het ek gevoel dat Jehovah nog altyd naby my was.

Toe ek 17 geword het, het ek en my ma na Montreal getrek. Dit was moeilike jare, want ons huis was allesbehalwe ’n liefdevolle plek.

Gevind!

Eendag het my ma die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe by Jehovah se Getuies geneem. Toe ek by die huis kom, het ek dit op die tafel gesien en daardeur begin blaai. Toe ek sien dat dit God se naam, Jehovah, gebruik, het ek begin huil en stilletjies gebid: “Jehovah, u het my gevind!”

Ek moes eenvoudig met my Christenbroers en -susters kontak maak. Maar hoe? My ma het vir my gesê dat een van ons bure moontlik een van Jehovah se Getuies is. Daarom het ek op pad werk toe by ons buurman se huis aangegaan en die deurklokkie gelui. ’n Man het, half deur die slaap, die deur oopgemaak. Hoe verras was hy tog toe ek vir hom sê dat ek een van Jehovah se Getuies is en gedoop wil word! Hy het gereël dat ’n Christensuster met die naam Josée Miron die Bybel met my studeer. Maar my ma het weer begin om my Bybelstudie teë te staan. Sy het vir my gesê ek moet wag tot ek 18 jaar oud is voordat ek ’n Getuie kan word.

Gesinslewe, maar teen ’n prys

My werkgewer het opgelet dat die situasie by my huis besig was om agteruit te gaan. Hy het my dikwels genooi om oor naweke tyd saam met hom en sy vrou deur te bring. Aangesien ek lief is vir perde, het ons dikwels saam gaan perdry. Hulle was vir my soos ouers.

Eendag het my werkgewer vir my gesê dat hy en sy vrou baie lief is vir my en wil hê dat ek by hulle moet kom bly. Hy het vir my iets aangebied wat ek altyd wou hê—’n liefdevolle gesin. Maar daar was een voorwaarde—ek moes ophou om met Jehovah se Getuies te assosieer. Hulle het my ’n week gegee om hulle aanbod te oorweeg, maar ek het nie eens ’n dag nodig gehad nie. Ek het onmiddellik geantwoord. Jehovah het my nooit verlaat nie, en ek kon hom ook nie verlaat nie.

My diens aan God

Weens die moeilikheid by die huis het ek by my stiefpa gaan bly. Hy het my aangemoedig om aan te hou studeer, en ek is op 17 Desember 1983, toe ek 19 jaar oud was, gedoop. Ek was so bly om, op die dag wat ek gedoop is, vir Eddie Besson te sien. Toe kon hy geen twyfel meer hê dat ek een van Jehovah se Getuies is nie!

Maar nadat ek gedoop is, het my stiefpa se gesindheid verander. Wanneer hy my sien bid het, het hy altyd baie hard gepraat en my selfs met goed gegooi! Hy het ook daarop aangedring dat ek verder leer, wat dit vir my moeilik sou maak om my doelwit te bereik om ’n pionier, ’n voltydse evangeliedienaar, te word. Uiteindelik het hy my gevra om die huis te verlaat. Hy het my ’n tjek vir $100 gegee en gesê dat ek, die dag wanneer ek daardie tjek wissel, sou weet dat Jehovah nie vir my sorg nie.

Ek het op 1 September 1986 ’n pionier geword en het vandag nog daardie tjek—ek het dit nooit gewissel nie! Soms was dit moeilik om sonder ’n motor in ’n plattelandse gebied te pionier. Maar lede van die plaaslike gemeente het my ondersteun en was baie behulpsaam.

Mettertyd het ek ’n gawe Christenman met die naam Ruben Lenz ontmoet. Ons is in 1989 getroud. Ruben dien tans as ’n gemeentelike ouer man in Milton, Ontario, Kanada, waar ons sedert 2002 woon. Ons huwelik is een van die grootste seëninge wat ek van Jehovah ontvang het. Ek het in die voltydse diens gebly totdat ons in 1993 ons eerste kind, Erika, gehad het. Net meer as drie jaar later het ons ’n seun, Mika, gehad. Ná jare van eensaamheid het Jehovah God my met ’n gesin geseën wat hom net so liefhet soos ek.

Al was ek, terwyl ek grootgeword het, van tyd tot tyd afgesny van Jehovah se volk, het ek nooit opgehou om my hoop op God te vestig en vas te klou aan die hoop van die ewige lewe in die Paradys nie (Johannes 3:36). Hoe dankbaar is ek tog dat Jehovah my “gevind” het!

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 15]

Ek ry op my werkgewer se perd

[Prent op bladsy 15]

Nelly Lenz met haar man, Ruben, en hulle kinders, Erika en Mika